VOORBLADONDERWERP | GOD SE GROOTSTE GESKENK—SAL JY DIT AANVAAR?
’n Geskenk soos geen ander nie
DIE bootvormige potloodskerpmaker in Jordan se hand lyk dalk heel gewoon. Maar dit is een van sy kosbaarste besittings. “Russell, ’n bejaarde familievriend, het dit vir my gegee toe ek nog baie klein was”, verduidelik Jordan. Ná Russell se dood het Jordan uitgevind dat Russell ’n belangrike rol gespeel het in die lewe van Jordan se oupa en die lewe van sy ouers. Hy het hulle gedurende moeilike tye bygestaan. “Noudat ek meer oor Russell weet, is hierdie klein geskenkie vir my waardevoller as ooit tevore”, sê Jordan.
Soos Jordan se ondervinding toon, kan dit vir party mense lyk asof ’n geskenk geen of min waarde het. Maar vir die persoon wat die geskenk ontvang en waardeer, kan dit kosbaar, selfs van onskatbare waarde, wees. Die Bybel beskryf ’n geskenk wat van onskatbare waarde is met die volgende welbekende woorde: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
’n Geskenk wat vir ons die ewige lewe kan beteken! Is daar enige geskenk wat waardevoller is? Al besef party mense nie hoe waardevol hierdie geskenk is nie, beskou ware Christene dit as “kosbaar” (Psalm 49:8; 1 Petrus 1:18, 19). Waarom het God dan die lewe van sy Seun as ’n geskenk vir die mensdom geoffer?
Die apostel Paulus verduidelik: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde en die dood [het] só tot alle mense deurgedring” (Romeine 5:12). Die eerste mens, Adam, het gesondig deur willens en wetens aan God ongehoorsaam te wees, en daarom is hy met die dood gestraf. Deur Adam is die dood aan al sy nakomelinge—die hele mensdom—oorgedra.
“Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). Om die mensdom van die veroordeling van die dood te bevry, het God sy Seun, Jesus Christus, na die aarde toe gestuur om sy volmaakte lewe vir die wêreld op te offer. Op grond van hierdie offerande, wat as “die losprys” bekend staan, sal almal wat geloof in Jesus toon, die ewige lewe hê.—Romeine 3:24.
Aangaande al die seëninge wat God deur Jesus Christus aan Sy aanbidders bied, sê Paulus: “Ons dank God vir sy onbeskryflike vrye gawe” (2 Korintiërs 9:15). Ja, die losprys is so wonderlik dat dit vir ons onmoontlik is om dit ten volle te beskryf. Maar waarom is die losprys, uit al die goeie gawes wat God aan die mensdom gee, veral besonders? Hoe verskil dit van enige van God se ander geskenke?a En hoe moet ons daarop reageer? Ons nooi jou om die volgende twee artikels te lees om die Bybel se antwoorde op hierdie vrae te vind.
a Jesus het gewillig “vir ons van sy siel afstand gedoen” (1 Johannes 3:16). Maar aangesien hierdie offerande deel van God se voorneme was, sal hierdie artikels fokus op God se rol as die Voorsiener van die losprys.