Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 4/1 bl. 23-26
  • Moenie deur die sonde verhard word nie!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moenie deur die sonde verhard word nie!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe sonde ’n mens verhard
  • Wanneer sonde ’n persoon verhard
  • Vermy die sonde se strik
  • Sonde
    Redenering uit die Skrif
  • Wat was die eerste sonde?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wanneer daar nie meer sonde is nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Wat is die onvergeeflike sonde?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 4/1 bl. 23-26

Moenie deur die sonde verhard word nie!

SY WAS gewild by haar Christenbroers en -susters. Sy was vriendelik en innemend, en sy en haar intelligente dogtertjie was altyd saam in velddiens en by vergaderinge. Maar toe ontvang die gemeente se ouere manne berigte dat sy by haar werk onbeskaamd rook​—reg voor ander Getuies! Toe sy met hierdie beskuldiging gekonfronteer is, het sy erken dat sy rook en haar aan hoerery skuldig gemaak het, en kalm gesê: “Ek dink nie dat ek op hierdie tydstip in die waarheid wil wees nie.” Sonde het haar verhard.

In Hebreërs 3:13 het die apostel Paulus gewaarsku dat ’n mens “deur die verleiding [“bedrieglike krag”, NW] van die sonde verhard” kan word. Dit was die geval met ons eerste ouers, Adam en Eva. Toe Adam voor stok gekry is vir sy ongehoorsaamheid, het hy hierdie traak-my-nieagtige verskoning gemaak: “Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet.” Hoe het Adam tog verander sedert daardie dag toe hy by die eerste aanblik van sy pragtige bruid beweeg is om te sê: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees.” Nou was Eva “die vrou wat U gegee het om by my te wees”. Eva het die slang flouhartig geblameer.​—Genesis 2:23; 3:1-13.

Nog ’n man wat onherstelbaar deur die sonde verhard is, was Judas Iskariot. Hy moes aanvanklik ’n goeie hart gehad het, anders sou Jesus hom nie as ’n apostel gekies het nie. Maar nadat Jesus hom by een geleentheid tereggewys het, het Judas gegrief gevoel en planne beraam om sy Meester te verraai (Mattheüs 26:6-16). Toe Jesus onthul het dat een van die 12 hom sou verraai, het Judas, die toonbeeld van onskuld, gevra: “Is dit miskien ek?” (Mattheüs 26:25). Slegs ’n opsetlike sondaar kon so ’n onbeskaamde huigelary volhou. En toe die soldate Jesus in hegtenis kom neem het, het Judas, van alle dinge, daardie antieke blyk van hartlikheid en vriendskap​—die kus—​as die herkenningsteken gekies. “Judas”, het Jesus gevra, “verraai jy die Seun van die mens met ’n kus?”​—Lukas 22:48.

Hoe sonde ’n mens verhard

Hoe kry sonde so ’n houvas op ’n persoon? In Hebreërs 3:7-11 toon Paulus hoe die sonde van ongelowigheid die nasie Israel besmet het. Paulus haal Psalm 95:7-11 daar aan en sê: “Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, waar julle vaders My versoek het, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het. Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie, sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie.”

Die geleentheid wat aanleiding gegee het tot “die verbittering” het plaasgevind by ’n plek wat Meriba sowel as Massa genoem is (Psalm 95:8). Kort na hulle wonderdadige bevryding uit Egipte het die volk daar “met Moses rusie gemaak en gesê: ‘Gee jy vir ons water om te drink!’” (Exodus 17:2, NAV). Onthou, hulle het reeds tien verwoestende plae oor Egipte sien kom, die bruisende waters van die Rooi See in twee sien verdeel en manna uit die hemel sien val. En tog het ‘hulle met die hart gedwaal’. Hulle was gans te behep met hulle eie selfsugtige begeertes om na te dink oor Jehovah se werke. Hulle het dus nie ‘God se weë leer ken’ en vertroue opgebou dat Jehovah onder enige omstandighede vir hulle kon sorg nie. “Gee jy vir ons water!” het hulle geëis, asof die God wat die see gekloof het magteloos was. Geen wonder dan dat hulle later verkies het om die slegte gerugte te glo van tien vreesagtige verkenners wat die Beloofde Land bespied het nie (Numeri 13:32-14:4). As gevolg van sulke troueloosheid het Jehovah gesê: “Hulle sal in my rus nie ingaan nie.”​—Psalm 95:11.

Paulus het ’n les hieruit getrek en gewaarsku: “Pas op, broeders, dat daar in niemand van julle ooit ’n goddelose, ongelowige hart ontwikkel, deurdat hy hom terug trek van die lewende God nie, maar bly mekaar elke dag vermaan, solank dit ‘Vandag’ genoem word, sodat niemand van julle verhard word deur die bedrieglike krag van die sonde nie” (Hebreërs 3:12, 13, NW). Die “sonde” van die Israeliete was ongeloof. (Kyk Hebreërs 3:19; vergelyk 12:1.) Dit het veroorsaak dat hulle hulle ‘terugtrek van die lewende God’, alle vertroue in Jehovah verloor, ondanks al die wonderwerke wat hy verrig het. ’n Val tot sedelike wangedrag was onvermydelik.

Ongeloof kan ’n Christen vandag eweneens ‘met sy hart laat dwaal’, voor die hart se natuurlike neigings laat swig. “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9, 10). Verkeerde gedagtes en begeertes begin die hart vul en sit ’n dodelike kettingreaksie aan die gang. “Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”​—Jakobus 1:14, 15.

Wanneer sonde ’n persoon verhard

Een man het groot voorregte as ’n ouere man geniet, hoewel hy sy skuld as ’n hoereerder slim weggesteek het. Selfs nadat hy getroud is, het hy sy onsedelike lewenswyse voortgesit. En tog was dit nie vir hom moeilik om die skyn van onskuld te bewaar en selfs op geregtelike komitees te dien en ander te oordeel nie. Sonde het hom begin verhard. Hy het weldra selfs aan die grondleerstellings van die Bybel begin twyfel. Toe hy uiteindelik gedwing is om sy sonde te bely, kon hy slegs sy skouers optrek en sê: “Wat maak dit tog nou saak?”

’n Skynheilige weg kan jou gewete ongevoelig maak asof dit met ’n brandyster “gebrandmerk is” (1 Timotheüs 4:2). Spreuke lig dit toe deur te sê: “So is die weg van ’n vrou wat owerspel bedryf; sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het geen sonde gedoen nie” (Spreuke 30:20). Die verstokte sondaar dink selfs: “God vergeet dit; Hy verberg sy aangesig” (Psalm 10:11). En hoe langer ’n persoon in sonde volhard, hoe groter gevaar loop hy dat sy hart “ongevoelig soos vet” sal word (Psalm 119:70). Een jeugdige het erken: “Die eerste keer dat ek my aan hoerery skuldig gemaak het, het ek vreeslik skuldig gevoel. Maar daarna het dit elke keer makliker geword totdat dit my glad nie meer gepla het nie.”

Die hart soek inderdaad na maniere om die oortreding te rasionaliseer. Na een jongman en sy vriendin hulle aan hoerery skuldig gemaak het, het hy haar gekeer om vir hulp na die ouere manne te gaan deur te sê: “Ons gaan tog trou! En jy weet, die Bybel sê dat wanneer twee persone besluit dat hulle vir mekaar bedoel is hulle feitlik getroud is in Jehovah se oë.” Watter selfsugtige, misleidende redenasie tog! Ongelukkig het sonde ’n gewoonte geword en dit het tot moord​—aborsie—​gelei! Die jongmeisie het later erken: “Jy begin werklik verhard, en jy begin dink dat jy jouself kan teregwys.” ’n Jongman vir wie hoerery eweneens ’n gewoonte geword het, erken: “Dit is soos ’n alkoholis wat sê: ‘Ek kan enige tyd stop as ek wil. Laat ek net nog een drankie maak.’ Jy stel dus voortdurend uit om na die ouere manne te gaan.” Die sondaar word so gekonfyt daarin om ander te bedrieg dat hy homself begin bedrieg. “Want hy het te glad jeens homself gehandel in sy eie oë om sy dwaling te ontdek ten einde dit te haat.”​—Psalm 36:2, NW.

Vermy die sonde se strik

Aangesien ’n Christen “met die hart glo”, moet hy sy bes doen om dit te bewaak (Romeine 10:10; Spreuke 4:23). Gebed, vergaderinge en persoonlike studie help ons om ons hart met opbouende gedagtes te vul. Slegte gedagtes sal weliswaar van tyd tot tyd by ons opkom. Maar wanneer dit gebeur, kan ons eenvoudig weier om daaroor te dink. Ons moet Jehovah onmiddellik in gebed nader wanneer ons in die versoeking kom om verkeerd te doen (Psalm 55:23). En ‘laat hoerery en allerhande onreinheid of hebsug onder ons selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam’ (Efesiërs 5:3). Sodoende word die kettingreaksie wat ‘sonde baar’ en die dood voortbring in die kiem gesmoor.

Onthou ook dat die genieting van sonde slegs “’n tyd lank” duur (Hebreërs 11:25). Môre​—oormôre ‘sal jou sonde jou uitvind’ en sal jy die bitter gevolge moet dra (Numeri 32:23). Vra jou af: ‘Wil ek werklik deur die sonde verhard word? Hoewel dit nou miskien genotvol is, hoe sal dit my op die lange duur raak?’

Maar gestel ’n persoon vind weldra dat sonde ’n gewoonte geword het. Wat dan? Moenie dink dat jy vir die sonde kan “vergoed” deur ’n kragtige poging in die Christenbedrywigheid aan te wend nie. “Die offers van God is ’n gebroke gees”, het die berouvolle koning Dawid gesê (Psalm 51:19). Die Bybel se raad aan geestelik siek persone is: Gaan na die ouere manne! (Jakobus 5:14, 15). Hierdie ryp manne sal alles in hulle vermoë doen om ’n siek persoon tot geestelike gesondheid te herstel. Dit is soos die Bybel sê: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spreuke 28:13). Nadat hy uiteindelik sy sonde aan die ouere manne bely het, het een man gesê: “Dit was asof ’n groot gewig van my skouers afgerol het.”​—Vergelyk Psalm 32:1-5.

Namate hierdie wêreld al hoe goddeloser word, sal dit vir ’n Christen ’n selfs groter uitdaging word om sy onkreukbaarheid te handhaaf. Maar onthou: “Hoewel ’n sondaar miskien honderd maal kwaad doen en ’n lang tyd bly soos hy verkies . . . dit sal goed afloop vir diegene wat die ware God vrees” (Prediker 8:12, NW). Vrees Jehovah God dus! Hy sal jou help om nie deur die sonde verhard te word nie.

[Prent op bladsy 24]

Die Israeliete het ’n verharde gesindheid geopenbaar toe hulle water van Moses geëis het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel