Insig in die nuus
Katolieke en die doop
’n Toenemende aantal volwassenes word deur die Rooms-Katolieke Kerk in Frankryk gedoop, berig Le Monde, ’n Franse koerant. Trouens, die koerant beweer dat “die syfer gedurende die afgelope vier jaar verdubbel het”. Meer as 4 000 Franse volwassenes wat gedoopte Katolieke wil word, het hulle ingeskryf vir ’n voorbereidende kursus. Twee derdes is vroue tussen die ouderdom van 20 en 40 jaar. ’n Kwart is nie Franse burgers nie.
Voorbereiding vir grootdoop kan egter twee of drie jaar in beslag neem. Priester Guy Cordonnier, wat vir die voordoopklasse in die Versaillesgebied verantwoordelik is, het gesê: “Dit is nie genoeg om te sê dat jy in God glo om gedoop te word nie. Dit is noodsaaklik om te leer hoe om in ’n gemeenskap te lewe.”
Grootdoop is natuurlik nie nuut nie. Jesus self is gedoop toe hy 30 jaar oud was. Dat doop meer as blote geloof in God vereis, is ook nie nuut nie. Jesus se bevel aan sy volgelinge was om ‘dissipels te maak en hulle te doop’ en ‘hulle te leer’ om sy bevele te onderhou.—Mattheüs 28:19, 20.
Die Katolieke Kerk se standpunt oor grootdoop is egter ’n paradoks, aangesien die kerk reeds eeue lank kinderdoop beoefen. Kerkowerhede sê dat dit twee jaar of meer neem om ’n volwassene vir doop voor te berei, en tog hou hulle vol dat kinderdoop gepas is. Hulle beweer dat die doop kinders van erfsonde reinig, maar die apostel Johannes het geskryf: “Die bloed van Jesus . . . reinig ons van die sonde” (1 Johannes 1:7). Hoe kan babas gedoop word as hulle nie geloof in God en in Christus se vergote bloed kan beoefen nie?
Woorde wat nooit gehoor word nie
Byna die helfte van die 3 800 vroue wat deur ’n Japannese versekeringsmaatskappy ondervra is, “het jare laas die woorde ‘Ek is lief vir jou’ van hulle mans gehoor”, berig The Daily Yomiuri. Die persentasie vroue wat nie hierdie woorde hoor nie, neem toe namate hulle ouer word, en van die in hulle vyftigerjare het ’n verstommende 82 persent gesê dat hulle nooit hierdie woorde van hulle mans hoor nie. Slegs 10 persent van die vroue in hulle twintigerjare hoor hulle mans hierdie woorde elke dag sê.
In wyse koning Salomo se liefdesverhaal van ’n herder en ’n pragtige boeremeisie van die eertydse stad Sunem het die seun die meisie se hart verower deur “liefdesbetuigings” (Hooglied 1:2, NW). Is liefdesbetuigings nog steeds nodig nadat ’n man sy vrou se hart verower het? Ja! Die Bybel vermaan: “Manne, julle moet jul eie vroue [bly] liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.”—Efesiërs 5:25, vgl. NW.
Die nag toe Jesus verraai is, het hy herhaaldelik sy liefde vir sy dissipels uitgespreek (Johannes 13:34; 14:19-21; 15:9, 10, 12). ’n Man moet besef dat sy vrou verseker wil word van sy liefde. Mans moet ook onthou dat Christus ‘homself vir die gemeente oorgegee het’. Hy het dus sy liefde deur woorde sowel as dade betuig. Dit is gewis goed vir mans om die voorbeeld van Christus na te volg.