Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 2/1 bl. 4-7
  • Pas Bybelbeginsels toe—dis die voortrefliker weg

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pas Bybelbeginsels toe—dis die voortrefliker weg
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • In die gesinskring
  • Onderdanigheid—In watter mate?
  • Geniet voordele deur Bybelbeginsels toe te pas
  • Handhaaf vrede in julle huisgesin
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Hoe teokratiese onderdanigheid ons help
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Wat godvrugtige onderworpenheid van ons vereis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Wat beteken onderdanigheid in die huwelik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 2/1 bl. 4-7

Pas Bybelbeginsels toe—dis die voortrefliker weg

“KOENGSJI, koengsji ta tsai!” (Geluk, mag jy ryk word!) Hierdie gebruiklike Chinese Nuwejaarswens plaas die klem op materiële sukses wat wêreldwyd so algemeen is. Ten einde ’n mens se vermoë om ryk te word te vergroot, kan geleerdheid so hoog geag word dat dit feitlik ’n voorwerp van aanbidding word. In baie Oosterse lande is dit dikwels vir die ouers van die grootste belang hoe om hulle kinders in die beste kindertuin te kry sodat hulle dan in die beste laerskool kan kom, en later in die beste kollege of universiteit. In Westerse lande gaan party eweneens op in die strewe na rykdom en die gemaklike lewenswyse wat daarmee gepaard gaan.

Hoe vergelyk hierdie gebruiklike beheptheid met materiële strewes met Bybelbeginsels? “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang”, waarsku die apostel Paulus. Hy sê voorts: “Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Timotheüs 6:9, 10). Waar dit wys op ’n feit wat so dikwels duidelik is wanneer mense materiële doelwitte hulle grootste belang in die lewe maak, sê Prediker 5:9: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs.”

Hoe dikwels gebeur dit tog dat man en vrou albei hard werk om al die luukse van die lewe te bekom, maar dan vind dat hulle so besig is dat hulle nooit tuis is om daardie besittings te geniet nie! Paulus het daarenteen die volgende gesê net voordat hy voormelde waarskuwing tot Timotheüs gerig het: “Die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ’n groot wins. . . . as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees” (1 Timotheüs 6:6, 8). En Spreuke 28:20 (NW) voeg hierdie gedagte by: “’n Man van getroue dade sal baie seëninge verkry, maar hy wat hom haas om rykdom te verwerf, sal nie onskuldig bly nie.” Hoe tragies is dit tog om te sien hoe andersins vriendelike, gasvrye mense die hoë beginsels van eerlikheid, waardigheid en etiese gedrag prysgee in hulle strewe om immer groter rykdom te verkry!

In die gesinskring

Dit is die gebruik onder sommige stamme en volke om te verwag dat hulle kinders—veral hulle dogters, wat uiteindelik die huis sal verlaat om te trou—moet gaan werk en elke maand ’n bedrag huis toe stuur om hulle kinderlike liefde te toon en hulle ouers te vergoed omdat dié hulle grootgemaak het. In een gesin van Jehovah se Getuies het die dogter byvoorbeeld vir haar ouers gesê dat sy graag na ’n stad wou verhuis om ’n pionier (voltydse bedienares) te word. Stel jou voor hoe teleurgesteld sy was toe haar ouers vir haar sê dat hulle wil hê sy moet gaan werk sodat sy elke maand ’n bedrag huis toe kan stuur om hulle te help! Nee, hulle was nie materieel behoeftig nie. Die beginsel dat kinders vir bejaarde, siek of behoeftige ouers moet sorg, was dus nie in hierdie geval ter sprake nie (Mattheüs 15:4-6; 1 Timotheüs 5:8). Dit was bloot die gebruik van hulle stam dat kinders moet help om rykdom vir die gesin op te gaar. Hoewel dit dikwels nodig is weens ’n gebrek aan maatskaplike voorsienings, is hierdie gebruik gevolg bloot om die skyn in die gemeenskap te bewaar of omdat die ouers besmet was met die heersende begeerte om te “fa tsai”.

Toe die vader hierdie saak met ’n Christen- ouere man bespreek het, is hy aangespoor om te kyk wat ’n aantal tekste sê en dan sy besluit te neem. Een van die tekste wat onder sy aandag gebring is, is 2 Korinthiërs 12:14 waar Paulus hierdie beginsel stel: “Want dit is nie die kinders wat vir die ouers moet opgaar nie, maar die ouers vir die kinders.” Nadat die ouers hierdie en ander Bybelbeginsels oorweeg het, het hulle hulle besluit geneem. Hoe verheug was die dogter tog nie om die toestemming—en selfs finansiële hulp—te kry om ’n gewone pionier te word nie!

Onderdanigheid—In watter mate?

Nog ’n terrein waarop plaaslike gebruike en heersende gesindhede dikwels met Bybelbeginsels bots, is die kwessie van onderdanigheid. In sommige lande is dit die gebruik om volslae onderdanigheid aan ouers en ander owerhede se gesag op alle lewensterreine te vereis. In sulke lande is dit nie buitengewoon dat manne van 40 jaar of selfs ouer weier om enige lektuur te lees van ’n geloof wat van hulle ouers s’n verskil of om enige groot besluit te neem sonder om eers hulle ouers te raadpleeg uit vrees dat hulle hul ouers sal mishaag nie. Maar in sulke lande word dit algemener dat jongmense heeltemal in opstand kom teen hulle ouers. Die Bybel met sy gebalanseerde beskouing van sake help ons om albei uiterstes te vermy. Die beginsel van betreklike onderdanigheid aan menslike gesag word duidelik gestel in Handelinge 4:19 en 5:29. Let ook op hoe Paulus kinders aanspoor om aan hulle ouers gehoorsaam te wees, en tog toon hy dat dit nie sonder beperkings is nie wanneer hy sê: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder—dit is die eerste gebod met ’n belofte.”—Efesiërs 6:1-3.

Nog ’n Bybelbeginsel wat bepaal in watter mate ’n mens aan jou ouers onderdanig is, is die een in verband met die onderdanigheid van ’n vrou aan haar man. “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou”, het die apostel Paulus geskryf. Hy het toe op daardie beginsel uitgebrei deur aan te haal wat Jehovah gesê het nadat die eerste mensehuwelik voltrek is: “Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word.”—Efesiërs 5:22-31.

Maar wat van die situasie wat in baie lande bestaan waar die seun voortgaan om na sy troue in sy ouers se huis te woon? Die Bybel toon dat aanbidders van Jehovah dit dikwels gedoen het, ten minste in voorchristelike tye. Onder sulke omstandighede het die vader van die huis die patriargale gesinshoof gebly, maar vrouens moes aan hulle eie mans onderdanig wees. In sommige lande verloop sake egter dikwels so dat die skoonmoeder die skoondogter se hoof is. Dit maak dit vir die seun moeiliker om die beginsel van eggenoothoofskap ten volle toe te pas en vir sy vrou om waarlik aan haar man onderdanig te wees. Die seun sal nietemin eerbied vir sy ouers moet balanseer met die noodsaaklikheid om die hoof van sy eie huisgesin te wees as hy wil hê dat Jehovah die derde string moet wees in die simboliese ‘driedubbele lyn wat nie gou verbreek word nie’.—Prediker 4:12.

In sommige lande ontstaan daar ’n selfs moeiliker situasie wanneer ’n man introu in ’n gesin waarin daar geen manlike erfgenaam is nie. Die volgende geval illustreer die verknorsing van talle sulke mans wanneer hulle later in die lewe Bybelbeginsels leer en probeer toepas. ’n Jong Katolieke man het in ’n Katolieke gesin ingetrou. Hy het uit die staanspoor gevind dat die gesin op hom neersien en dat hy weinig meer as ’n onbetaalde werker was van wie daar verwag is om kinders te verwek sodat die familienaam kon voortbestaan. Soos dit die gebruik in so ’n reëling is, moes hy van sy eie naam afstand doen sodat sy kinders as die erfgename van die familie-eiendom beskou kon word. Toe hy die beginsel van gesinshoofskap leer ken en probeer toepas het, het sy vrou soos die res van die familie gereageer: ‘Jy het niks tot hierdie familie bygedra nie, en daarom het jy geen seggenskap in hoe dinge gedoen word nie!’

Hoewel nie al sulke huwelike sulke uiterste gevalle soos hierdie bepaalde geval is nie, kan ’n mens geredelik sien dat waar so ’n gebruik algemeen is en onderdanigheid van die man verwag word, daar probleme sal ontstaan wanneer Bybelbeginsels in verband met hoofskap toegepas word. Dit word baie moeilik vir ’n Christeneggenoot om sy liefdevolle hoofskap oor sy eie gesin uit te oefen en net so moeilik vir die vrou om met ‘diepe eerbied’ aan haar man onderdanig te wees in plaas van aan haar ouers onder wie se dak hulle heel waarskynlik steeds woon.—Efesiërs 5:33, NW.

Nog ’n voorbeeld van hoe Bybelbeginsels met plaaslike gebruike kan bots, staan in verband met die gebruik dat ouers hulle kinders se huwelike reël. Vir Christenkinders met ongelowige ouers skep dit dikwels ’n groot probleem, aangesien ouers meen dat hulle gefaal het as hulle kinders nie teen ’n sekere ouderdom getroud is nie. Groot druk, wat slae kan insluit, word dus uitgeoefen om die kinders, veral meisies, te dwing om te trou. Wanneer daar ’n tekort aan geskikte Christenmaats is, sal die ongelowige ouers feitlik geen steen onaangeroer laat om ’n huwelik te reël nie, terwyl die Christen die beginsel in gedagte hou dat hy of sy “net in die Here” mag trou.—1 Korinthiërs 7:39; Deuteronomium 7:3, 4.

Geniet voordele deur Bybelbeginsels toe te pas

Die uitsonderlike prag van Bybelbeginsels is dat hulle die lewe kan verbeter van enigeen wat hulle wil toepas, ongeag waar hy woon. Hulle is konsekwent en bind gesinne hegter saam. Hulle maak mense eerliker, maak van hulle beter mans en vaders, beter vrouens en moeders, beter kinders, beter werknemers. Hulle kan die probleme oplos wat veroorsaak word deur botsende plaaslike gebruike en ’n mens help om die beginsels gebalanseerd toe te pas wat nie regstreeks met God se wil vir die mens bots nie, maar dit moontlik moeiliker maak om jou na daardie wil te skik. Hoe kan dit gedoen word?

Eerstens, net soos die Christene in Thessalonika gedoen het, moet jy die feit aanvaar dat die Bybel werklik “die woord van God” is. Dit beteken dat ’n mens besef dat dit waarlik wysheid uit die hoogste Bron is. Tweedens, jy moet jou daarop toelê om te leer wat daardie “woord van God” tot jou voordeel sê. Leer om die beginsels en wette van God te isoleer wanneer jy die Bybellees en bestudeer. En jy moet, as ’n derde stap, toelaat dat daardie woord ‘in jou werk’ (1 Thessalonicense 2:13), Dit behels noue omgang met die gemeentes van God se volk wat nou in oor die 200 lande en eilande geleë is. Dít is wat die wêreldwye broederskap van Jehovah se Getuies gemaak het wat dit is—’n broederskap in daad en nie net in naam nie.

Jehovah se volk stel allereers belang in eenheid met God deur toe te laat dat Bybelbeginsels hulle lewe beheers. Met watter gevolge? Ware en duursame eenheid met ander wat ook in eendrag met God is, asook gemoedsrus wat ’n mens onderskraag in alle situasies wat in hierdie teenswoordige stelsel bestaan (Filippense 4:6, 7). Sulke eenheid en ’n intieme verhouding met God en met mekaar is ’n positiewe hulp om nou die lewensgehalte te verbeter en het die belofte van die ewige lewe in God se regverdige nuwe stelsel waar alle dinge eindelik ten volle aan God se wil onderwerp sal word.—1 Timotheüs 4:8; 1 Korinthiërs 15:28.

[Prente op bladsy 7]

Aanvaar die Bybel as “die woord van God”

Lê jou daarop toe om te leer wat God se Woord tot jou voordeel sê

Laat daardie Woord toe om ‘in jou te werk’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel