Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 5/22 bl. 8-10
  • Jy kan heilsame vermaak vind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan heilsame vermaak vind
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wees selektief
  • Ouers se rol
  • Geniet ander bedrywighede
  • Hoe om heilsame vermaak te kies
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Kies vermaak wat Jehovah gelukkig maak
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Hoe om vermaak te kies
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Wees wys in jou keuse van vermaak
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2019
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 5/22 bl. 8-10

Jy kan heilsame vermaak vind

DIE Bybel veroordeel nie die genot wat met vermaak gepaardgaan nie, en dit sê ook nie dat ontspanning ’n verkwisting van tyd is nie. Inteendeel, Prediker 3:4 sê dat daar “’n tyd [is] om te lag” en “’n tyd om van vreugde rond te spring”.a God se volk in eertydse Israel het verskillende vorme van vermaak geniet, onder andere musiek, dans en speletjies. Jesus self het ’n groot huweliksfees en, by ’n ander geleentheid, “’n groot onthaal” bygewoon (Lukas 5:29; Johannes 2:1, 2). Die Bybel is dus nie teen plesier gekant nie.

Maar aangesien baie van vandag se vermaak gedrag verheerlik wat God mishaag, ontstaan die vraag: Wat kan jy doen om te verseker dat die standaarde waarvolgens jy vermaak kies heilsaam bly?

Wees selektief

Christene sal deur Bybelbeginsels gelei wil word wanneer hulle hulle vermaak kies. Die psalmis Dawid het byvoorbeeld geskryf: “Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet” (Psalm 11:5). En Paulus het aan die Kolossense geskryf: “Maak dus julle liggaamsdele wat op die aarde is dood wat betref hoerery, onreinheid, geslagslus, skadelike begeertes en hebsug . . . Verwyder . . . al hierdie dinge van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies.”—Kolossense 3:5, 8.

Dit is duidelik dat baie van die vermaak wat vandag beskikbaar is hierdie geïnspireerde raad skend. ‘Maar ek sal nooit die dinge doen wat ek op die skerm sien nie’, maak party dalk beswaar. Dit is miskien so. Maar selfs as jou vermaak nie toon watter soort persoon jy gaan word nie, openbaar dit dalk iets oor die soort persoon wat jy alreeds is. Dit kan byvoorbeeld toon of jy onder diegene is wat “geweld liefhet” of wat met ‘hoerery, geslagslus, hebsug en onwelvoeglike praatjies’ behep is en of jy onder diegene is wat waarlik ‘die kwaad haat’.—Psalm 97:10.

Paulus het aan die Filippense geskryf: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug daar ook al is en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.”—Filippense 4:8.

Maar beteken hierdie teks dat elke rolprent, boek of TV-program waarin ’n verhaal oor die een of ander onregverdigheid, miskien ’n misdaad, handel outomaties sleg is? Of word alle komedies uitgesluit omdat hulle nie “van ernstige belang” is nie? Nee, want die konteks toon dat Paulus nie vermaak bespreek het nie, maar die oordenkinge van die hart, wat toegespits moet wees op dinge wat Jehovah behaag (Psalm 19:15). Wat Paulus gesê het, kan ons nietemin help wanneer ons vermaak kies. Deur gebruik te maak van die beginsel in Filippense 4:8 kan ons ons afvra: ‘Gee my keuse van vermaak daartoe aanleiding dat ek oor dinge dink wat nie kuis is nie?’ Indien wel, dan moet ons aanpassings maak.

Maar wanneer Christene vermaak kies, moet hulle ‘hulle redelikheid aan alle mense bekend laat word’ (Filippense 4:5). Daar is natuurlik uiterstes in vermaak wat vir ware Christene beslis ongepas is. Buiten dit moet elkeen die saak noukeurig oorweeg en besluite neem wat hom met ’n skoon gewete voor God en die mens sal laat (1 Korintiërs 10:31-33; 1 Petrus 3:21). Dit sal verkeerd wees om ander oor kleinighede te oordeel of om eiemagtige reëls neer te lê wat voorskryf wat ander moet doen.b—Romeine 14:4; 1 Korintiërs 4:6.

Ouers se rol

Ouers speel ’n kritieke rol wat vermaak betref. Paulus het geskryf: “Ja, as iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). Ouers het dus ’n verpligting om nie net materieel nie, maar ook geestelik en emosioneel vir gesinslede te sorg. Dit sal insluit dat hulle vir heilsame ontspanning voorsiening moet maak.—Spreuke 24:27, NW.

Soms word hierdie faset van die gesinslewe verwaarloos. “Ongelukkig”, sê ’n sendeling in Nigerië, “meen sommige ouers dat ontspanning ’n verkwisting van tyd is. Gevolglik word party kinders aan hulleself oorgelaat, en hulle vind die verkeerde soort vriende en die verkeerde soort pret.” Ouers, moenie toelaat dat dit gebeur nie! Maak seker dat julle kinders heilsame ontspanning geniet wat hulle werklik verkwik.

Maar ons moet versigtig wees. Christene moet nie soos baie mense van vandag word wat “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” is nie (2 Timoteus 3:1-4). Ja, vermaak moet op sy plek gehou word. Dit moet ons verkwik—nie ons lewe oorheers nie. Kinders sowel as volwassenes het dus nie net die regte soort vermaak nodig nie, maar ook die regte hoeveelheid daarvan.—Efesiërs 5:15, 16.

Geniet ander bedrywighede

Baie van die gewilde vermaak leer mense om eerder passief as aktief te wees. Neem televisie as voorbeeld. Die boek What to Do After You Turn Off the TV sê: “Die blote aard van [televisie] leer ons om passief te wees: Vermaak, en selfs onderrigting, word iets wat ons moeiteloos ontvang, dit is nie ons aktiewe skepping nie.” Daar is natuurlik plek vir selfs passiewe vermaak. Maar as dit te veel van ’n mens se vrye tyd in beslag neem, ontneem dit jou van opwindende geleenthede.

Die skrywer Jerry Mander, wat sê dat hy “’n lid van die pre-TV-generasie” is, beskryf die tye van verveeldheid wat hy af en toe in sy kinderdae ondervind het: “Dit het met ’n angstigheid gepaardgegaan”, sê hy. “Dit was uiters onaangenaam, so onaangenaam dat ek uiteindelik besluit het om op te tree—om iets te doen. Ek het ’n vriend gebel, buitentoe gegaan. Ek het met ’n bal gaan speel. Ek het gelees. Ek het iets gedoen. Wanneer ek terugkyk, beskou ek daardie tyd van verveeldheid, waarin ek ‘niks gehad het om te doen nie’, as die desperate situasie waaruit skeppende bedrywighede voortspruit.” Vandag, sê Mander, gebruik kinders die TV as ’n kitsoplossing vir verveeldheid. “Die TV elimineer die angstigheid sowel as die kreatiwiteit wat daaruit mag voortvloei”, voeg hy by.

Baie het dus ontdek dat bedrywighede wat eerder deelname vereis as passiwiteit lonender kan wees as wat hulle gedink het. Sommige het gevind dat dit hulle genot verskaf om hardop saam met ander te lees. Ander beoefen stokperdjies, soos om ’n musiekinstrument te bespeel of ’n prent te skilder. Dan is daar geleenthede om heilsame gesellighede te reël (Lukas 14:12-14).c Buitelugontspanning hou ook voordele in. ’n Ontwaak!-medewerker in Swede berig: “Party gesinne gaan kamp of gaan vang vis, of gaan op uitstappies in die woud, gaan roei in kano’s, gaan stap in die berge, ensovoorts. Die kinders geniet dit terdeë.”

Die teenwoordigheid van verderflike elemente in vermaak moet ons nie verbaas nie. Die apostel Paulus het geskryf dat mense van die nasies “in die nutteloosheid van hulle verstand wandel” (Efesiërs 4:17). Ons kan dus tereg verwag dat baie van die dinge wat hulle vermaaklik vind “die werke van die vlees” sal bevredig (Galasiërs 5:19-21). Christene kan hulleself egter oplei om goeie besluite te neem met betrekking tot die gehalte en hoeveelheid van hulle vermaak. Hulle kan ontspanning ook ’n gesinsaangeleentheid maak en kan selfs nuwe bedrywighede op die proef stel wat verkwikkend sal wees en jare lank nog met vreugde onthou sal word. Ja, jy kan heilsame vermaak vind!

[Voetnote]

a Ander vorme van die Hebreeuse woord wat met “om te lag”, vertaal word, kan weergegee word met “om te speel”, “om ’n bietjie te vermaak”, “om te vier” of “om pret te hê”.

b Sien die Ontwaak! se nommers van 22 Julie 1978, bladsye 12-16, en 8 Desember 1995, bladsye 6-8, vir meer inligting.

c Sien Die Wagtoring van 15 Augustus 1992, bladsye 15-20, en 1 Oktober 1996, bladsye 18-19, vir skriftuurlike riglyne oor gesellighede.

[Prente op bladsy 9]

Heilsame ontspanning kan lonend wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel