Die Bybel se beskouing
Vermy spraak wat seermaak
“Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking voort. Dit is nie gepas, my broers, dat hierdie dinge so aanhou gebeur nie.”—JAKOBUS 3:10.
DIE vermoë om te praat, is ’n unieke eienskap wat ons van diere onderskei. Ongelukkig misbruik party mense hierdie gawe. Beledigings, vloekery, godslasterlike taal en vuil, onwelvoeglike spraak kan seermaak—partykeer meer as fisiese beserings. “Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke”, sê die Bybel.—Spreuke 12:18.
Al hoe meer mense verval in die gewoonte om te vloek en te swets. Skole berig dat vuil taal onder kinders toeneem. Party mense beweer egter dat kwetsende woorde voordelig kan wees wanneer dit as ’n emosionele uitlaatklep gebruik word. ’n Student van die staatswetenskap het geskryf: “Vuil taal moet gebruik word as jy jou sterk wil uitdruk, wanneer jou gewone woordeskat nie die intensiteit van jou gevoelens kan oordra nie.” Moet Christene kwetsende woorde so ligtelik opneem? Hoe voel God hieroor?
Verafsku onwelvoeglike skertsery
Onwelvoeglike taal is nie iets nuuts nie. Sal dit jou verbaas om uit te vind dat mense in die dae van die apostels, amper 2 000 jaar gelede, onwelvoeglike taal gebruik het? Dit lyk byvoorbeeld of party in die gemeente in Kolosse onwelvoeglikhede gebruik het wanneer hulle kwaad was. Hulle het dit moontlik gedoen om ander aan te val of hulle opsetlik seer te maak, miskien as vergelding. Net so gebruik baie mense vandag onwelvoeglike taal wanneer hulle woedeuitbarstings het. Daarom is Paulus se brief aan die Kolossense ook op ons dag van toepassing. Paulus het geskryf: “Verwyder . . . nou al hierdie dinge van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies uit julle mond” (Kolossense 3:8). Dit is duidelik dat Christene aangespoor word om woedeuitbarstings en onwelvoeglike taal wat so dikwels met woede gepaardgaan, te vermy.
Baie gebruik weliswaar onwelvoeglikhede sonder dat hulle bedoel om ander aan te val of seer te maak. Mense gebruik onwelvoeglike taal waarskynlik in die meeste gevalle baie maklik. Vuil taal word dus ’n diepgewortelde deel van alledaagse spraak. Party vind dit selfs moeilik om te kommunikeer sonder om vloekwoorde te gebruik. Dikwels word onwelvoeglike taal selfs gebruik om mense te laat lag. Maar moet sulke onwelvoeglike skertsery as ’n minder ernstige, aanvaarbaarder oortreding beskou word? Kom ons kyk.
Onwelvoeglike skertsery is skokkende taal wat bedoel is om ander te vermaak. Vandag is onwelvoeglike skertsery meestal seksgeoriënteerd. En baie wat hulleself as ordentlike mense beskou, vind sulke taal vermaaklik (Romeine 1:28-32). Dit is dus nie verbasend nie dat talle professionele komediante hulle grappe op natuurlike sowel as onnatuurlike seksuele gedrag baseer. Baie rolprente sowel as televisie- en radioprogramme bevat onwelvoeglike skertsery.
Die Bybel laat ons nie in die donker wanneer dit by onwelvoeglike skertsery kom nie. Die apostel Paulus het aan die Christene in Efese geskryf: “Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder julle genoem word nie, net soos dit heilige mense betaam; ook nie skandelike gedrag of dwase praatjies of onwelvoeglike skertsery nie, dinge wat nie betaamlik is nie” (Efesiërs 5:3, 4). Dit is duidelik dat God onwelvoeglike taal, ongeag wat die bedoeling daarvan is, aanstootlik vind. Dit is verkeerd. Dit is spraak wat seermaak.
Krenkende woorde wat God mishaag
Kwetsende spraak sluit beslis baie meer in as onwelvoeglike taal. Beledigings, sarkasme, bespotting en skerp kritiek kan diep seermaak. Daar moet erken word dat ons almal met ons tong sondig, veral in hierdie wêreld waar sarkasme en kwaadsprekery so algemeen is (Jakobus 3:2). Nogtans moet ware Christene smadende taalgebruik nooit ligtelik opneem nie. Die Bybel toon duidelik dat Jehovah God alle spraak wat seermaak, afkeur.
Die Bybelboek Tweede Konings vertel ons byvoorbeeld van ’n groep seuns wat die profeet Elisa met hulle gespot geteister het. Die verslag sê dat hulle “hom begin bespot” en “aanhoudend vir hom gesê [het]: ‘Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop!’” Jehovah, wat die harte van hierdie jongmense kon lees en hulle kwaadwillige bedoelings kon sien, het hierdie mondelinge teistering baie ernstig beskou. Die verslag sê dat God 42 seuns weens hulle smadende taal gedood het.—2 Konings 2:23, 24.
Die volk Israel “het voortdurend die boodskappers van die ware God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete die spot gedryf, totdat die woede van Jehovah teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing was nie” (2 Kronieke 36:16). Hoewel God se woede hoofsaaklik weens sy volk se afgodiese en ongehoorsame weg opgekom het, is dit opmerkenswaardig dat die Bybel spesifiek melding maak van die mondelinge teistering wat God se profete verduur het. Dit beklemtoon dat God sulke gedrag onomwonde afkeur.
Gevolglik vermaan die Bybel Christene: “Moenie ’n ouer man skerp kritiseer nie” (1 Timoteus 5:1). Hierdie beginsel kan toegepas word op ons handelinge met almal. Die Bybel spoor ons aan “om van niemand kwaad te spreek nie, om nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê”.—Titus 3:2.
Hou jou lippe in toom
Soms is die drang om iemand mondelings aan te val moeilik om te weerstaan. Wanneer ’n mens te na gekom is, voel jy dalk geregverdig om die oortreder—in sy gesig of agter sy rug—met wrede, bitsige woorde terug te betaal. Christene moet nietemin hierdie drang weerstaan. Spreuke 10:19 sê: “In die oorvloed van woorde ontbreek die oortreding nie, maar wie sy lippe in toom hou, tree verstandig op.”
God se engele stel ’n goeie voorbeeld. Hulle is bewus van al die verkeerde dinge wat die mensdom doen. Hoewel die engele groter in sterkte en krag is as die mens, bring hulle “uit respek vir Jehovah” nie met smadende woorde ’n beskuldiging teen hulle in nie (2 Petrus 2:11). Omdat die engele weet dat God geheel en al bewus is van almal se oortredinge en ten volle in staat is om dinge reg te stel, hou hulle hulle lippe in toom. Migael, die hoof van al die engele, het hom nie eens teen die Duiwel met smadende woorde uitgespreek nie.—Judas 9.
Christene probeer om die engele na te volg. Hulle volg die Bybel se vermaning: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. Verskaf goeie dinge voor die oë van alle mense. Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense. Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah.’”—Romeine 12:17-19.
Dit is interessant dat selfs ons stemtoon en stemsterkte ons woorde kwetsend kan laat klink. Dit is nie ongewoon dat mans en vrouens mekaar seermaak wanneer hulle op mekaar skreeu nie. Baie ouers skreeu dikwels op hulle kinders. Maar ons hoef nie te skreeu om ons gevoelens uit te druk nie. Die Bybel spoor ons aan: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word” (Efesiërs 4:31). Die Bybel sê ook “’n slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal”.—2 Timoteus 2:24.
Woorde wat genees
Aangesien smadende en onwelvoeglike taal aan die orde van die dag is, moet Christene ’n strategie hê om hierdie skadelike invloed te weerstaan. Die Bybel voorsien ’n goeie strategie, naamlik dat ons ons naaste moet liefhê (Matteus 7:12; Lukas 10:27). Opregte besorgdheid en liefde vir ons naaste sal ons beweeg om altyd woorde te gebruik wat genees. Die Bybel sê: “Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel.”—Efesiërs 4:29.
As ons God se Woord in ons verstand inplant, sal dit ons ook help om spraak wat seermaak, te vermy. Deur die Heilige Skrif te lees en daaroor te peins, kan ons ‘alle vuilheid aflê’ (Jakobus 1:21). Ja, die Woord van God kan ons verstand genees.