Die Bybelse beskouing
Maak dit saak wat jy glo?
“DIE MENS VERKIES OM TE GLO WAT HY WIL HÊ WAAR MOET WEES.” —FRANCIS BACON, 1561-1626, ENGELSE ESSAYIS EN STAATSMAN.
WAT godsdiensleerstellings betref, voel baie mense dat dit nie werklik saak maak wat jy glo nie, solank jy opreg glo dat ‘daar Iemand daar bo is’ en jou naaste liefhet. Party kyk dalk na die botsende idees wat godsdiensgroepe verkondig aangaande God, sy voorneme en die manier waarop ons hom moet aanbid, en kom dan tot die gevolgtrekking dat die verskille bloot oppervlakkig is, soos verskillende klerestyle wat deur dieselfde man gedra word. Hulle meen dalk selfs dat diegene wat ’n groot geskil van sulke verskille maak die gees van ware Christelikheid heeltemal gemis het.
Die Skrif erken dat nie alle besprekings van godsdiensleringe die moeite werd is nie. In sy geïnspireerde briewe aan Timoteus het die apostel Paulus byvoorbeeld van mense gepraat wat “heftige redetwiste oor nietighede” aangehits het. Paulus het hulle as “verstandelik siek ten opsigte van twisvrae en debatte oor woorde” beskryf (1 Timoteus 6:4, 5). Hy het Timoteus die opdrag gegee om ‘dwase en dom twisvrae af te wys’, en om die gemeentes te leer om “nie oor woorde te baklei nie, iets wat hoegenaamd geen nut het nie” (2 Timoteus 2:14, 23). Baie godsdiensdebatte in ons tyd het by hierdie beskrywing gepas en was ’n sinlose mors van tyd.
Maar beteken dit dat alle besprekings van godsdiensopvattings sinloos is? Wel, ons sal nie heeltemal ophou om klere te dra net omdat party klere ongeskik is om gedra te word nie, of hoe? Waarom sou ons dan die hele onderwerp van godsdiensopvattings as onbelangrik laat vaar net omdat party leerstellige vrae nie ons oorweging werd is nie? Die verband van Paulus se woorde wat hierbo aangehaal is, toon dat hy die kwessie van leerstellings as lewensbelangrik beskou het. Hy het herhaaldelik gewaarsku dat valse leringe tot gevolg kan hê dat ’n mens van die geloof weggelei word, en hy het Timoteus die opdrag gegee om ‘sekere persone te beveel om nie ’n ander leer te verkondig nie’ (1 Timoteus 1:3-7; 4:1; 6:3-5; 2 Timoteus 2:14-18, 23-26; 4:3, 4). Hy sou sekerlik nie sulke sterk woorde gebruik het tensy dit belangrik was wat daardie eerste-eeuse Christene geglo het nie.
Waarom dan die raad om leerstellige vrae af te wys? Dit is omdat sekere mense in Paulus se dag—wat hy as “verdorwe van verstand en van die waarheid beroof” beskryf het—leerstellige kwessies geopper het met die uitsluitlike doel om die geloof van ander te ondermyn (1 Timoteus 6:5). Dit was slegs met betrekking tot die vrae wat deur daardie verdorwe mense geopper is wat Paulus Timoteus aangeraai het om besprekings oor godsdiensopvattings te vermy.
Het opvattings ’n invloed op gedrag?
Maar party twyfel dalk aan die uitwerking wat godsdiensopvattings het op die soort mense wat ons word—ons persoonlike eienskappe en gedrag. Hulle beskou opvattings en gedrag dalk as twee afsonderlike en nie-verwante sake, soos ’n baadjie en ’n broek wat gemeng en gepas kan word volgens die draer se voorkeur. In die Bybel is opvattings en gedrag egter meer soos ’n pak wat net as ’n stel kom wat by mekaar pas.
Die Bybel openbaar ’n direkte verband tussen wat ons glo en die soort mense wat ons word. Die eiegeregtige Fariseërs van Jesus se tyd is ’n voorbeeld van mense wie se verkeerde opvattings ’n invloed op gedrag gehad het (Matteus 23:1-33; Lukas 18:9-14). Aan die ander kant vermaan Kolossense 3:10: “Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis nuut gemaak word na die beeld van die Een wat dit geskep het.” Let op dat die krag om ’n godvrugtige lewe te lei met die besit van juiste kennis van God verbind word.
Die Griekse term wat met “juiste kennis” vertaal word en 20 keer in die Christelike Griekse Geskrifte voorkom, verwys na presiese, juiste of volledige kennis. Die Griekse geleerde Nathanael Culverwel beskryf dit as die proses “om beter vertroud te raak met iets waarvan ek vroeër geweet het; ’n presieser beskouing van ’n voorwerp wat ek vroeër verlangs gesien het”. ’n Christen moet dus, net soos ’n juwelier ’n kosbare edelsteen ondersoek om sy eienskappe en waarde te bepaal, God se Woord ondersoek sodat hy tot presiese, juiste en volledige kennis kan kom van die God wat hy dien. Dit sluit in dat ’n mens God se persoonlikheid, sy voornemens, sy standaarde en al die leringe leer ken waaruit “die patroon van gesonde woorde” bestaan—iets heeltemal anders as om bloot te glo dat ‘daar Iemand daar bo is’.—2 Timoteus 1:13.
’n Voorbeeld van die soort vrug wat ’n gevolg is wanneer ’n mens God slegs verlangs ken, is opgeteken in die eerste hoofstuk van die geïnspireerde brief aan die Romeine. In daardie hoofstuk word daar verwys na sekere mense wat, “hoewel hulle God geken het, . . . dit nie goedgevind het om God in juiste kennis te hou nie”. Die apostel Paulus vertel ons wat die gevolge van hulle verkeerde opvattings was: “God [het] hulle aan ’n afgekeurde geestestoestand oorgegee, om die dinge te doen wat nie gepas is nie, want hulle was vervul met alle onregverdigheid, goddeloosheid, hebsug, slegtheid, vol afguns, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid, fluisteraars, kwaadsprekers, haters van God, onbeskaamd, hoogmoedig, aanmatigend, uitvinders van skadelike dinge, ongehoorsaam aan ouers, sonder begrip, ontrou aan ooreenkomste, sonder natuurlike geneentheid, onbarmhartig.”—Romeine 1:21, 28-31.
Die opvattings van daardie mense het ongetwyfeld hulle vermoë om Christelike lewens te lei, direk beïnvloed. Vandag kan opvattings en gedrag eweneens met ’n naatlose kledingstuk vergelyk word wat onskeibaar saamgeweef is. Daarom is dit noodsaaklik dat almal wat God se guns wil verkry, seker maak dat hulle godsdiensopvattings werklik waar is en geheel en al op God se Woord gebaseer is. Want ‘God se wil is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom’.—1 Timoteus 2:4.
[Prent op bladsy 25]
Die Fariseër se eiegeregtigheid het sy opvattings weerspieël