Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 4/15 bl. 26-28
  • “Staan vas”—Moenie struikel nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Staan vas”—Moenie struikel nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vervolging kan ons laat struikel
  • Teleurstellings kan geloof verswak
  • Selfveroordeling kan vernietigend wees
  • Moenie bly lê nie
  • Waar staan jy?
  • Niks kan die regverdiges laat struikel nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Sal jy struikel as gevolg van Jesus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Pas op dat jy nie jouself en ander laat struikel nie
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2018
  • Vir diegene wat Jehovah liefhet, “is daar geen struikelblok nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 4/15 bl. 26-28

“Staan vas”—Moenie struikel nie

DIE grootste geskil waarvoor die mens vandag staan, is dié van universele soewereiniteit. Jehovah nooi ons om in hierdie saak standpunt in te neem deur ons aan sy aangestelde Koning, Christus Jesus, te onderwerp. Dit is dringend nodig om op sy uitnodiging te reageer, en net in die afgelope vyf jaar het meer as ’n miljoen mense daaraan gehoor gegee. Maar hulle het gevind dat om standpunt in te neem meer behels as ’n eenmalige besluit om Jehovah te dien. Dit moet met ’n lewenslange toewyding gepaard gaan. Sal ons ons standpunt handhaaf wanneer ons probleme begin ondervind? Of sal ons geleidelik verswak nadat ons aanvanklik ‘vasgestaan’ het?—1 Korinthiërs 16:13, NW; Hebreërs 2:1.

As jy gevind het dat die Christelike lewenswyse nie maklik is nie, kan jy jou troos in die wete dat dit vir Jesus Christus ook nie maklik was nie. Ja, selfs God se eniggebore Seun moes om krag bid sodat hy sy standpunt kon handhaaf, veral toe hy sy allergrootste toets genader het. Stel jou voor hoe hy in die tuin van Getsemane ernstig gebid het: “Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van my weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil” (Markus 14:36). Hy het geweet dat die dinge wat voorgelê het moeilik was. Hy was veral bewus van die feit dat sy Vader se naam geraak sou word. Gevolglik was die enigste volmaakte man op aarde nie skaam om hulp te vra nie.

Wanneer ons probleme begin ondervind, het ons dieselfde bron van krag wat Jesus gehad het. Ons kan tot Jehovah om hulp bid sodat ons nie struikel of val nie. Maar watter soort gevare kan ons laat struikel? As ons hulle kan identifiseer en ons vooraf daarop voorberei, kan dit ons help om nie te struikel nie.

Vervolging kan ons laat struikel

Die Bybel waarsku: “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Timotheüs 3:12). Vervolging kan ons laat struikel, en dit kom in vele vorme (Markus 4:17). Dit kan ’n geregtelike verbod—wat die gevaar van gevangesetting en selfs die dood inhou—gepeupelgeweld, daaglikse geloofondermynende teenstand van ’n gedetermineerde, opponerende huweliksmaat of voortdurende spottery van skoolmaats wees.

Dit is moeilik om vervolging te verduur, maar ons word gewaarsku dat dit wel in die een of ander vorm sal voorkom. Ons kan derhalwe nou reeds ons geloof versterk en leer om op Jehovah se krag te steun sodat ons met behulp van daardie krag sal kan volhard wanneer die tyd kom (1 Petrus 4:13, 14; 5:6-11). Struikelblokke is egter dikwels subtieler as die wrede aanslag van vervolging.

Teleurstellings kan geloof verswak

Wie onthou nie die gevoel van verplettering toe ons as kinders gedink het dat ons in die steek gelaat is nie? Onthou jy die keer toe Pa die gesin iets spesiaals beloof het en toe om die een of ander rede van plan verander het? Of die keer toe hy jou dieretuin toe sou neem en dit op die laaste oomblik moes kanselleer? Hoe teleurgesteld was jy tog!

Volwasse Christene kan ook teleurgestel word, en dit het al tot geestelike skipbreuk gelei. Party het hulle hoop gestel op ’n datum waarop hulle seker was Armageddon sou kom. Toe niks op daardie dag gebeur het nie, het hulle gevoel asof hulle in die steek gelaat is. Ander is teleurgestel toe hulle nie ’n voorreg gekry het waarop hulle gehoop het nie. Daarbenewens kan mense jou teleurstel. Een 18-jarige meisie het vir haar ouers gesê dat sy so teleurgesteld was oor die gedrag van party van die jong mans in die gemeente—en die feit dat hulle ouers hulle nie gedissiplineer het nie—dat sy niks meer met die waarheid te doen wil hê nie.

Dit is weliswaar verstaanbaar dat mense in sulke omstandighede teleurgesteld sal wees, maar moet dit die teleurgesteldes laat struikel en hulle hulle verhouding met Jehovah laat verloor? Stel jou voor hoe teleurgesteld Jesus was toe sy apostels bly twis het oor wie die grootste onder hulle is en sodoende ’n ambisieuse gesindheid geopenbaar het (Lukas 9:46; 22:24). Stel jou ook voor hoe teleurgesteld Job was toe die drie vriende wat veronderstel was om hom te help teen hom gedraai en sy getrouheid begin betwyfel het! (Job 22:5-10). Maar Jesus en Job het nie gestruikel nie.

Alle mense is swak; gevolglik sal dit onredelik wees om toe te laat dat ander se swakhede ons verhouding met Jehovah skaad (Psalm 51:7). Die onvolmaaktheid van party moet ons nie verblind vir die wonderlike werk wat Jehovah doen terwyl hy alles “onder een hoof in Christus . . . verenig” nie (Efesiërs 1:9, 10). Jy moet in gedagte hou dat Jehovah onvolmaakte, gevalle mense soos ons insamel, mense wat dissipline en loutering nodig het om sterk te word (Psalm 130:3). Ons vyand is nie ons onvolmaakte Christenbroer nie, maar Satan, wat ons wil verslind as hy kan. As ons hom “teëstaan, standvastig in die geloof”, sal hy dit nie regkry nie (1 Petrus 5:8, 9). As ons sulke geloof het, sal ons beslis “nie teleurgestel word nie”.—Romeine 9:33, NW.

Selfveroordeling kan vernietigend wees

Party het hulle verhouding met Jehovah God verloor weens ’n gevoel van onwaardigheid. Hulle is bewus van hulle eie swakhede en tekortkominge en kom tot die slotsom dat Jehovah nooit hulle diens sal aanvaar nie. Hulle dink dat dit vir mense soos hulle huigelagtig is om te beweer dat hulle Getuies van Jehovah is. Het jy jou al ooit só kras geoordeel? Indien wel, moet jy teen sulke gevoelens veg.

Voel jy onwaardig om Jehovah te dien? Dan moet jy jou afvra: ‘Is daar enigiemand wat hierdie groot voorreg waardig is?’ Alle Christene het ’n voortdurende stryd teen hulle eie onvolmaakthede. Selfs die apostel Paulus het gekla: “As ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig” (Romeine 7:21). Was Paulus ’n huigelaar omdat hy soms verkeerde dinge gedoen het? Nee. ’n Huigelaar is iemand wat voorgee dat hy iets is wat hy nie is nie. Kan enigiemand sê dat ons ’n valse indruk probeer skep as ons probeer doen wat reg is, maar soms ten spyte van ons pogings ’n fout begaan? Natuurlik nie.

Die Bybel spoor ons aan om ons ‘met die nuwe persoonlikheid te beklee’ (Efesiërs 4:24, NW). Maar beteken dit dat ons al die eienskappe van die ou persoonlikheid verloor? Nee. In sy brief aan die Kolossense het Paulus gesê dat die nuwe persoonlikheid “vernuwe” word deur juiste kennis (Kolossense 3:9, 10, NW). Die woord “vernuwe” impliseer ’n voortdurende handeling. Dit is dus ’n voortgesette proses om ons persoonlikheid te verander. Daarom is dit nie verbasend dat ons soms gebreke in onsself sal sien nie.

Dit beteken natuurlik nie dat ons die erns van sonde moet geringag nie, en dit beteken ook nie dat ons nie hoef te probeer om versoeking te weerstaan en dat ons net kan aanneem dat Jehovah ons outomaties sal vergewe nie. Maar dit help ons om nie onredelik krities teenoor onsself te wees nie. En dit maak ons nog liewer vir Jehovah omdat hy Christus se losprysoffer voorsien het sodat ons Hom ondanks ons inherent sondige aard kan dien.

Die apostel Johannes het ’n gebalanseerde beskouing van die saak gegee toe hy gesê het: “Ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie.” Maar toe het hy realisties bygevoeg: “En as iemand [weens menslike onvolmaaktheid] gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus” (1 Johannes 2:1). Pleks van uitermate selfveroordelend te wees, laat hierdie begrip van ons toestand en die hulp wat Jehovah voorsien het, ons Paulus se woorde beaam: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!”—Romeine 7:25.

Moenie bly lê nie

Jesus het ’n streng waarskuwing gegee aan enigiemand wat iemand anders dalk laat struikel: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see” (Mattheüs 18:6). Maar wat van die een wat gestruikel het? Iemand of die een of ander omstandigheid het ons moontlik laat struikel, maar behoort ons onsself te verskoon en te sê: “Wel, dit is nie my skuld nie, nou gaan ek Jehovah nie meer dien nie”?

Dink aan hierdie illustrasie. Het jy al ooit op ’n stuk ys gegly of oor ’n trappie gestruikel? Jy het dit waarskynlik glad nie verwag nie. Dit is verstaanbaar dat jy plat op die grond beland het. Maar wat het jy toe gedoen? Het jy gesê: “Dit is nie my skuld dat ek hier lê nie. Dit is die ys [of die trappie] se skuld. Nou gaan ek nie weer opstaan nie”? Jy het waarskynlik opgestaan en so vinnig moontlik weggeloop van die toneel waar jy so in die verleentheid gekom het.

Sal dit nie ook in geestelike sake geld nie? As die een of ander omstandigheid of mede-Christen ons aanstoot gegee het, is dit ’n ernstige probleem waarvan ons werk moet maak. Maar word ons situasie nie al hoe meer ons eie skuld as ons bly lê en aanhou om iemand anders vir ons probleem te blameer nie?

As ons gestruikel het, is die ouere manne en ander ryp persone in die gemeente gelukkig alte gewillig om te help (Galasiërs 6:1). En Jehovah self gee krag aan mense wat hom ondanks moeilikhede wil dien (Filippense 4:13). Ons moet dus altyd bereid wees om hulp te vra as dit lyk of iets ons ferm standpunt vir Jehovah en sy Koninkryk gaan ondermyn. Sodoende sal ons nie toelaat dat Satan ’n oorwinning behaal omdat ons struikel en bly lê nie.

Waar staan jy?

Toegewyde knegte van God kom daagliks voor geskille te staan wat hulle toegewydheid aan Jehovah toets. Ongeag waarmee hulle te kampe het, hulle moet hulle standpunt aan die kant van Jehovah se Messiaanse Koning inneem. Die magtige heersers van hierdie aarde het hulle standpunt “teen die HERE en teen sy Gesalfde” ingeneem. Wat ’n voorreg het ons tog om aan sy kant standpunt in te neem!—Psalm 2:2.

Ons kan egter nie alleen teen die invloed van hierdie hele wêreldstelsel staande bly nie; gevolglik word ons getroos deur Jesus se belofte dat hy “tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” met sy gemeente sal wees (Mattheüs 28:20, NW). Hy sal ons ondersteun. Daarbenewens word ons baie gehelp as ons na aan Jehovah bly en op hom staatmaak vir ondersteuning. As ons ons tot sy Woord wend, kan ons krag daaruit put. Wanneer ons voel dat ons nie meer kan voortgaan nie, nooi Psalm 55:23 ons om ‘ons sorg op die HERE te werp, en Hý sal ons onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie’. Ja, die Bybel spoor alle lede van God se volk aan om ‘vas te staan in die geloof’—en nie te struikel nie.—1 Korinthiërs 16:13, NW.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel