Sing lofliedere tot Jehovah
“Ek wil sing tot eer van [Jehovah], want Hy is hoog verhewe.”—EXODUS 15:1.
1. Watter kenmerke en eienskappe van Jehovah gee ons rede om hom te loof?
PSALM 150 gee 13 keer die bevel dat Jehovah of Jah geloof moet word. Die laaste vers roep uit: “Laat alles wat asem het Jah loof. Loof Jah!” (NW). As Jehovah se Getuies weet ons dat Jehovah ons lof verdien. Hy is die Universele Soewerein, die Allerhoogste, die Koning van die eeue, ons Skepper, ons Weldoener. Hy is in baie opsigte sonder weerga, uniek, onvergelyklik. Hy is alwetend, almagtig, volmaak in geregtigheid en die verpersoonliking van liefde. Hy oortref enigiemand anders in goedheid; hy is lojaal (Lukas 18:19; Openbaring 15:3, 4, vgl. NW). Verdien hy ons lof? Baie beslis!
2. Watter redes het ons om ons waardering teenoor Jehovah te betuig?
2 Jehovah verdien nie net ons aanbidding en ons lof nie, maar ook ons waardering en dank vir alles wat hy al vir ons gedoen het. Hy is die Gewer van “elke goeie gif en elke volmaakte gawe” (Jakobus 1:17). Hy is die Fontein, die Bron, van alle lewe (Psalm 36:10). Alles wat ons as lede van die menseras geniet, kom van hom af, want hy is ons Grootse Skepper (Jesaja 42:5). Hy is ook die Gewer van al die geestelike seëninge wat ons deur sy gees, sy organisasie en sy Woord ontvang. Ons ontvang vergifnis van sonde op grond daarvan dat hy sy Seun as ons losprys voorsien het (Johannes 3:16). Ons het die Koninkrykshoop van ‘nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid sal woon’ (2 Petrus 3:13). Ons het goeie assosiasie met mede-Christene (Romeine 1:11, 12). Ons geniet die eer en die seëninge daarvan om sy Getuies te wees (Jesaja 43:10-12). En ons het die kosbare voorreg van gebed (Mattheüs 6:9-13). Ons het waarlik baie redes om ons dank teenoor Jehovah te betuig!
Maniere waarop ons Jehovah kan loof
3. Op watter verskillende maniere kan ons Jehovah loof en ons dankbaarheid teenoor hom betuig?
3 Hoe kan ons, as Jehovah se toegewyde knegte, hom loof en ons dankbaarheid toon? Ons kan dit doen deur aan die Christelike bediening deel te neem—deur van huis tot huis te getuig, herbesoeke te doen, Bybelstudies te hou en aan die straatgetuieniswerk deel te neem. Ons kan hom ook loof deur informeel te getuig wanneer die geleentheid hom ook al voordoen. Dan kan ons Jehovah ook deur ons onberispelike gedrag loof en selfs deur ons netjiese en beskeie kleredrag en persoonsversorging. Jehovah se Getuies het al dikwels lof ontvang omdat hulle ’n goeie voorbeeld hierin stel. Wat meer is, ons kan Jehovah deur gebed loof en dank.—Sien 1 Kronieke 29:10-13.
4. Wat is een van die mooiste maniere waarop ons ons liefdevolle hemelse Vader kan loof?
4 Een van die mooiste maniere waarop ons ons liefdevolle hemelse Vader verder kan loof, is deur hom en sy deugde met melodieuse Koninkryksliedere te verheerlik. Baie musici en komponiste is dit eens dat die mensestem die pragtigste musiekinstrument is. Die meesters van klassieke musiek het daarna gestrewe om operas te skryf omdat dit soveel bevrediging verskaf om na die mensestem in sang te luister.
5. Waarom moet ons die sing van Koninkryksliedere ernstig opneem?
5 Hoe moet Jehovah dit tog nie geniet om te hoor hoe mense sing nie, veral as hulle lof- en dankliedere sing! Daarom moet ons die sing van Koninkryksliedere by ons verskillende vergaderinge—gemeentelike vergaderinge, kringbyeenkomste, spesiale byeenkomsdae, streekbyeenkomste en internasionale byeenkomste—beslis ernstig opneem. Ons liedereboek is vol melodieë wat waarlik pragtig is; dit is al dikwels deur buitestanders geprys omdat dit so mooi is. Hoe meer ons uit die hart saamsing wanneer Koninkryksliedere gesing word, des te meer vreugde verskaf ons ander en bevoordeel ons onsself.
Die sing van lofliedere tot Jehovah in Bybeltye
6. Hoe het die Israeliete hulle dankbaarheid vir hulle verlossing by die Rooi See betuig?
6 God se Woord sê vir ons dat Moses en die res van die Israeliete triomfantlik gesing het toe hulle by die Rooi See van Farao se leër verlos is. Hulle lied het met hierdie woorde begin: “Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp. Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem” (Exodus 15:1, 2). Ons kan ons die geesdrif en vreugde van die Israeliete goed voorstel toe hulle daardie woorde ná hulle wonderdadige verlossing gesing het!
7. Watter ander merkwaardige voorbeelde van die Israeliete wat Jehovah met sang loof, is in die Hebreeuse Geskrifte opgeteken?
7 In 1 Kronieke 16:1, 4-36 lees ons dat Jehovah deur sang en die speel van musiekinstrumente geloof is toe Dawid die Ark na Jerusalem toe gebring het. Dit was ’n waarlik vreugdevolle geleentheid. Toe koning Salomo die tempel in Jerusalem toegewy het, is Jehovah ook deur sang met begeleiding op musiekinstrumente geloof. Ons lees in 2 Kronieke 5:13, 14: “Toe die trompetblasers en die sangers almal saam eenstemmig begin om die HERE te prys en te loof, en net toe hulle die stem verhef met die trompette en met die simbale en met die musiekinstrumente, en met: Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!—is die huis, die huis van die HERE, vervul met ’n wolk. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God vervul.” Wat toon dit? Dat Jehovah na hierdie melodieuse lof geluister het en ook dat dit hom behaag het, soos die bonatuurlike wolk getoon het. Later het twee kore gesing toe die mure van Jerusalem in die dae van Nehemia ingewy is.—Nehemia 12:27-42.
8. Wat toon dat die Israeliete sang ernstig opgeneem het?
8 Trouens, sang was so ’n belangrike deel van aanbidding by die tempel dat 4 000 Leviete vir musikale diens afgesonder is (1 Kronieke 23:4, 5). Hulle sou die sangers begelei. Musiek, veral sangers, het ’n belangrike rol in aanbidding gespeel, nie noodwendig om die gewigtiger sake van die Wet in te skerp nie, maar om die regte gees vir aanbidding te skep. Dit het die Israeliete gehelp om Jehovah met geesdrif te aanbid. Let op al die voorbereiding en aandag aan besonderhede wat hieraan gewy is: “Hulle getal saam met hulle broers wat geoefend was in die gesang tot eer van die HERE, almal meesters, was tweehonderd-agt-en-tagtig” (1 Kronieke 25:7). Let op hoe ernstig hulle die sang tot lof van Jehovah opgeneem het. Hulle was geoefend in sang en was meesters!
9. Hoe word sang in die Christelike Griekse Geskrifte beklemtoon?
9 Wat was die geval in die eerste eeu van ons gewone jaartelling? Die nag toe Jesus verraai is en hy soveel belangrike dinge op die hart gehad het, het hy dit steeds nodig geag om sy Pasgaviering en die instelling van die herdenking van sy dood met lofsang tot Jehovah af te sluit (Mattheüs 26:30). Ons lees ook dat Paulus en Silas, nadat hulle geslaan en in die gevangenis gewerp is, ‘omtrent middernag gebid en lofliedere tot eer van God gesing het; en die gevangenes het na hulle geluister’.—Handelinge 16:25.
Lofliedere—’n belangrike deel van ons aanbidding
10. Watter bevele gee God se Woord ten opsigte van lofsange tot hom?
10 Meen jy dalk dat die sing van Koninkryksliedere vir jou nie belangrik genoeg is om van ganser harte saam te sing nie? Behoort jy nie, as dit die geval is, weer oor die saak na te dink met die oog op die belangrikheid wat Jehovah God en Jesus Christus aan die sing van lofliedere heg nie? God se Woord is immers vol bevele om Jehovah te loof en lofliedere tot hom te sing! Ons lees byvoorbeeld in Jesaja 42:10: “Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af—julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan.”—Sien ook Psalm 96:1; 98:1.
11. Watter vermaning het die apostel Paulus ons ten opsigte van sang gegee?
11 Die apostel Paulus het geweet dat sang ons kan opbeur, en daarom het hy ons twee keer in verband hiermee vermaan. Ons lees in Efesiërs 5:18, 19: “Word voortdurend met gees vervul, en spreek tot mekaar met psalms en lofliedere tot God en geestelike liedere, en sing en begelei julleself met musiek in julle hart tot Jehovah” (NW). En in Kolossense 3:16 lees ons: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.”
12. Watter voorbeelde het ons van ons liedere wat ons help om mekaar te onderrig en te vermaan?
12 Let op dat Paulus in albei gevalle herhaaldelik van sang praat wanneer hy van ‘psalms, lofliedere tot God, geestelike liedere en sing met musiek in julle hart’ melding maak. Hy het sy opmerkings aan die Kolossense begin deur te sê dat ons mekaar só kan “leer en vermaan”. En ons doen dit beslis, soos ons uit die titels van ons liedere kan sien—“Heel die skepping, loof Jehovah!” (nommer 5), “Wees standvastig, onbeweeglik!” (nommer 10), “Verbly jou in die Koninkrykshoop!” (nommer 16), “Vrees hulle nie!” (nommer 27), “Loof Jehovah ons God!” (nommer 100), om maar ’n paar voorbeelde te noem.
13. Hoe het “die getroue en verstandige dienskneg” getoon watter belangrike deel sang van ons aanbidding uitmaak?
13 In ooreenstemming met hierdie bevele het “die getroue en verstandige dienskneg” gereël dat ons vergaderinge—gemeentelike vergaderinge, kringbyeenkomste, spesiale byeenkomsdae, streekbyeenkomste en internasionale byeenkomste—met die sing van Koninkryksliedere begin en afsluit (Mattheüs 24:45). Daarbenewens word liedere aangegee wat op ander tye gedurende hierdie vergaderinge gesing moet word. Aangesien ons vergaderinge gewoonlik met die sing van ’n Koninkrykslied begin, moet ons sorg dat ons betyds kom—vroeg genoeg om aan daardie deel van ons aanbidding deel te neem. En aangesien die vergaderinge met sang afgesluit word, moet ons bly vir die slotlied en die gebed wat direk daarop volg.
14. Watter voorbeelde het ons van gepaste liedere wat vir ons programme gekies word?
14 Die liedere by ons vergaderinge word sorgvuldig gekies om met die program ooreen te stem. By die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkomste in 1993 is lied nommer 191, “Kry die waarheid lief”, wat Christene aanmoedig om teen Satan, die wêreld en die gevalle vlees te stry, direk ná die drie toesprake gesing wat oor hierdie drie vyande gehandel het. Lied nommer 164, “Kinders—kosbare gawes van God”, wat baie raad vir ouers bevat, het insgelyks direk op ’n toespraak gevolg wat ouers se plig beklemtoon het om hulle kinders op te lei. Lied nommer 70, “Wees soos Jeremia”, het ’n reeks toesprake voorafgegaan wat op Jeremia se profesieë gegrond was. En lied nommer 156, “Ek wil”—’n lied wat baie diensgeoriënteerd is—het ná ’n simposium oor verskeie aspekte van ons Koninkryksbediening gevolg. Dieselfde sorg word aan die dag gelê wanneer liedere vir die Wagtoring-studie, die Diensvergadering en die Teokratiese Bedieningskool gekies word. Dit is dus vanselfsprekend dat ouere manne, wanneer hulle ’n openbare toespraak hou en sê watter openingslied gebruik moet word, ’n lied moet kies wat by die tema van hulle toespraak pas.
15. Hoe kan die vergaderingvoorsitter die waardering vergroot vir die lied wat gesing gaan word?
15 Wanneer die voorsitter die lied aankondig wat gesing gaan word, kan hy groter waardering vir die lied opbou deur die titel of tema daarvan te meld. Ons sing nie nommers nie, maar wel skriftuurlike temas. Dit sal die gemeente ook help om groter waardering vir die lied te hê as die teks wat onder die titel verskyn, genoem word. Dit sal ook in orde wees om ’n paar opmerkings te maak soos dat almal hulle sang by die stemming van die lied moet aanpas.
Toon waardering vir Jehovah se goedheid deur te sing
16. Hoe kan ons ons sang by die stemming van ons liedere aanpas?
16 Aangesien die woorde van ons Koninkryksliedere baie betekenisvol is, moet ons op die woorde konsentreer wanneer ons hulle sing. Ons moet ons sang by die stemming van elke lied aanpas. Sommige, soos dié wat oor liefde, ’n vrug van die gees handel, is gevoelvol (Galasiërs 5:22). Ons sing hulle met intensiteit en hartlikheid. Ander is vreugdevol, en ons moet hulle met blydskap probeer sing. Ander weer is kragtige marsliedere, en hulle moet met entoesiasme en sterk oortuiging gesing word. In ons Teokratiese Bedieningskool word ons aangeraai dat ons aanbiedinge met hartlikheid en gevoel sowel as entoesiasme gepaard moet gaan. Dit is selfs belangriker om hartlikheid, gevoel en entoesiasme te toon wanneer ons sing.
17. (a) Watter bestrawwing wat die ontroue Israeliete ontvang het, wil ons tog nie ten opsigte van ons sang ontvang nie? (b) Wat is die resultate as ons die raad in ons liedere ernstig opneem?
17 As ons ons Koninkryksliedere sing maar aan ander dinge dink en nie die betekenis van die woorde ten volle waardeer nie, sal ons in ’n mate soos die ontroue Israeliete wees, wat tereggewys is omdat hulle God met hulle lippe geloof het terwyl hulle hart ver van hom af was, nie waar nie? (Mattheüs 15:8). Ons wil tog nie so bestraf word oor die manier waarop ons Koninkryksliedere sing nie, wil ons? As ons ons Koninkryksliedere sing soos ons moet, sal ons nie net onsself nie, maar ook diegene om ons, die jongmense inkluis, aanspoor. Ja, as almal wat by ons Koninkryksale sing die raad in hierdie liedere ernstig opneem, sal dit ’n kragtige aansporing wees om ywerig in die bediening te wees en die strikke van die sonde te vermy.
18. Watter uitwerking het die sing van Koninkryksliedere op ’n sekere vrou gehad?
18 Buitestanders word keer op keer beïndruk deur die manier waarop ons Koninkryksliedere sing. Die volgende het eenkeer in Die Wagtoring verskyn: “Dat [ons] sang ook kan dien om mense tot ’n kennis van Jehovah God te bring, is getoon deur die ondervinding van ’n vrou wat in 1973 by die ‘Goddelike Oorwinning’-Byeenkoms in die Yankee-stadion, in die stad New York, gedoop is. Sy het op haar eie ’n plaaslike Koninkryksaal vir die eerste keer besoek en vir albei vergaderinge gebly. Toe die gemeente . . . ‘Hou julle oog op die prys!’ sing, het die woorde sowel as die manier waarop hulle gesing is so ’n indruk op haar gemaak dat sy besluit het dat dit die plek is waar sy wou wees. Daarna het sy een van die Getuies genader en gevra om ’n Bybelstudie met haar te hou en het [sy] vordering gemaak totdat sy ’n Christengetuie van Jehovah geword het.”
19. Hoe word ons ten slotte aangemoedig om ons Koninkryksliedere van ganser harte te sing?
19 By die meeste van ons vergaderinge is daar betreklik min geleenthede vir die gehoor om aan hulle gevoelens en waardering uiting te gee. Maar ons almal kan toon hoe ons oor Jehovah se goedheid voel deur Koninkryksliedere uit volle bors saam te sing. Bowendien is ons in ’n opgeruimde stemming wanneer ons saam vergader, nie waar nie? Ons moet dus lus voel om te sing! (Jakobus 5:13). Waarlik, hoe meer ons Jehovah se goedheid en sy onverdiende goedhartigheid waardeer, des te meer sal ons van ganser harte lofliedere tot sy eer sing.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat is twee basiese redes waarom ons Jehovah loof?
◻ Op watter verskillende maniere kan ons Jehovah loof?
◻ Wat is een van die mooiste maniere waarop ons Jehovah kan loof?
◻ Watter skriftuurlike voorbeelde het ons van waar Jehovah met sang geloof is?
◻ Hoe kan ons ons Koninkryksliedere sing soos ons moet?
[Venster op bladsy 11]
Geniet daardie liedere!
Sommige vind dit blykbaar ’n bietjie moeilik om ’n paar van die nuwe liedere te leer. Maar daar moet genoem word dat sommige gemeentes geen groot probleem ondervind het om die meeste van hierdie liedere te sing nie. Al wat dalk nodig is, is ’n bietjie meer oefening om dít te leer wat aanvanklik onbekend lyk. Wanneer die gemeente eers hierdie liedere ken, waardeer hulle dit dikwels meer as dié wat maklik was om te leer. Dan kan almal in die gemeente dit met vertroue sing. Ja, hulle kan daardie liedere geniet!
[Venster op bladsy 12]
Sing Koninkryksliedere tydens gesellighede
Koninkryksliedere hoef nie net by die Koninkryksaal gesing te word nie. Paulus en Silas het lofliedere tot Jehovah gesing terwyl hulle in die gevangenis was (Handelinge 16:25). En die dissipel Jakobus het gesê: “Is iemand opgeruimd? Laat hom lofliedere tot God sing” (Jakobus 5:13, voetnoot in NW). Almal is opgeruimd tydens gesellighede. Sing dus gerus Koninkryksliedere. Dit kan veral genotvol wees as daar met klavier- of ghitaarbegeleiding gesing word. Anders is daar die bande met klaviermusiek van ons Koninkryksliedere; baie Getuiegesinne het hierdie kassetalbum. Hulle dien nie net as goeie begeleiding vir sang nie, maar hulle is ook uitstekend vir pragtige agtergrondmusiek.
[Prent op bladsy 8, 9]
Nadat Israel by die Rooi See verlos is, het hulle met sang aan hulle vreugde uiting gegee
[Prent op bladsy 10]
Vreugdevolle sang maak vandag deel van Christelike aanbidding uit