Dien lojaal saam met Jehovah se organisasie
“Teenoor iemand wat lojaal is, sal u lojaal optree.”—2 SAMUEL 22:26, NW.
1, 2. Wat is ’n paar voorbeelde van lojaliteit wat ons almal in die gemeente kan sien?
LAAT een aand berei ’n ouer man ’n toespraak vir ’n Christelike vergadering voor. Hy sou graag wou ophou en ontspan, maar hy hou aan werk en soek na skriftuurlike voorbeelde en illustrasies wat die hart sal bereik en die kudde sal aanmoedig. Die aand van die vergadering is daar ’n moeë ouerpaar in daardie selfde gemeente wat graag ’n aand by die huis sou wou deurbring, maar hulle kry hulle kinders geduldig gereed en gaan na die vergadering. Ná die vergadering bespreek ’n groep Christene die ouer man se deel. ’n Suster kom in die versoeking om te sê dat dieselfde broer haar eenkeer seergemaak het, maar sy praat eerder geesdriftig oor een van die punte wat hy gemeld het. Sien jy wat hierdie voorbeelde in gemeen het?
2 Ja, dit is lojaliteit. Die ouer man is lojaal besig om die kudde van God te dien; die ouers woon lojaal gemeentelike vergaderinge by; die suster ondersteun lojaal die ouer manne (Hebreërs 10:24, 25; 13:17; 1 Petrus 5:2). Ja, in alle aspekte van die lewe sien ons dat God se volk vasbeslote is om lojaal saam met Jehovah se organisasie te dien.
3. Waarom is dit so belangrik dat ons lojaal teenoor Jehovah se aardse organisasie bly?
3 Wanneer Jehovah op hierdie verdorwe wêreld neerkyk, sien hy baie min lojaliteit (Miga 7:2, vgl. NW). Hoe moet dit sy hart tog nie verbly wanneer hy die lojaliteit van sy volk sien nie! Ja, selfs jóú lojaliteit verbly hom. Maar dit maak Satan, die oorspronklike opstandeling, woedend en dit bewys dat hy ’n leuenaar is (Spreuke 27:11; Johannes 8:44). Jy moet verwag dat Satan jou lojaliteit teenoor Jehovah en Sy aardse organisasie sal probeer ondermyn. Kom ons kyk na ’n paar maniere waarop Satan dit doen. Sodoende sal ons beter kan sien hoe ons tot die einde toe lojaal kan bly.—2 Korintiërs 2:11.
Ons lojaliteit kan ondermyn word as ons ons op onvolmaakthede toespits
4. (a) Waarom is dit maklik om ’n negatiewe beskouing van diegene in gesagsposisies te hê? (b) Hoe het Korag getoon dat hy dislojaal teenoor Jehovah se organisasie was?
4 Wanneer ’n broer ’n verantwoordelike posisie beklee, word dit dalk makliker om sy foute raak te sien. Hoe maklik is dit tog om fout te vind met ‘’n strooihalm in ons broer se oog terwyl ons die balk in ons eie oog ignoreer’! (Matteus 7:1-5). Maar om oor ander se foute te bly dink, kan tot dislojaliteit lei. Beskou ter toeligting die verskil tussen Korag en Dawid. Korag het baie verantwoordelikhede gehad, en hy was waarskynlik jare lank lojaal, maar hy het eersugtig geword. Hy het gebelg begin raak oor die gesag van Moses en Aäron, sy neefs. Hoewel Moses die sagmoedigste van alle mense was, het Korag klaarblyklik met kritiese oë na hom begin kyk. Hy het waarskynlik foute in Moses gesien. Maar daardie foute het nie Korag se dislojaliteit teenoor Jehovah se organisasie geregverdig nie. Hy is uit die vergadering verdelg.—Numeri 12:3; 16:11, 31-33.
5. Waarom kon Dawid in die versoeking gekom het om teen Saul in opstand te kom?
5 In teenstelling hiermee was daar Dawid wat onder koning Saul gedien het. Saul, wat eens ’n goeie koning was, het in werklikheid goddeloos geword. Dawid het geloof, volharding en selfs ’n mate van vindingrykheid nodig gehad om jaloerse Saul se aanvalle te oorleef. Toe Dawid egter ’n kans gehad het om weerwraak op hom te neem, het hy gesê dat dit “ondenkbaar, uit Jehovah se standpunt,” was dat hy dislojaal optree teenoor iemand wat deur Jehovah gesalf is.—1 Samuel 26:11, NW.
6. Wat moet ons nooit doen nie, selfs al sien ons swakhede en foute in die ouer manne?
6 Gestel dit lyk of party van dié wat die leiding onder ons neem ’n oordeelsfout begaan, ongevoelige woorde uiter of blykbaar partydigheid toon. Sal ons oor hulle kla en miskien tot ’n kritiese gees in die gemeente bydra? Sal ons uit protes van die Christelike vergaderinge wegbly? Beslis nie! Soos Dawid, sal ons nooit toelaat dat die foute van ander ons dislojaal teenoor Jehovah en sy organisasie laat word nie!—Psalm 119:165.
7. Wat is party van die verdorwe gebruike wat ontwikkel het met betrekking tot die tempel in Jerusalem, en hoe het Jesus hieroor gevoel?
7 Die grootste voorbeeld van ’n mens wat lojaal was, is Jesus Christus, wat profeties beskryf word as die een ‘wat lojaal teenoor Jehovah is’ (Psalm 16:10, NW). Die verdorwe misbruik van die tempel in Jerusalem het dit seker ’n uitdaging gemaak om lojaal te wees. Jesus het geweet dat die hoëpriester se werk en die offerandes sy eie bediening en offerdood voorafgeskadu het, en hy het geweet hoe belangrik dit vir mense was om hieruit te leer. Hy was dus vol regverdige verontwaardiging toe hy sien dat die tempel “’n rowerspelonk” geword het. Met godgegewe gesag het hy twee maal stappe gedoen om dit te reinig.a—Matteus 21:12, 13; Johannes 2:15-17.
8. (a) Hoe het Jesus lojaliteit teenoor die tempelreëling getoon? (b) Hoe kan ons toon dat ons dit waardeer om Jehovah saam met sy rein organisasie te aanbid?
8 Jesus het nogtans die tempelreëling lojaal ondersteun. Van kindsbeen af het hy die feeste by die tempel bygewoon en dikwels daar onderrig. Hy het selfs die tempelbelasting betaal—hoewel hy nie werklik verplig was om dit te doen nie (Matteus 17:24-27). Jesus het die arm weduwee geprys omdat sy “haar hele lewensonderhoud” in die tempelskatkis gegooi het. Kort daarna het Jehovah daardie tempel vir goed verwerp. Maar Jesus was tot op daardie tydstip lojaal daaraan (Markus 12:41-44; Matteus 23:38). God se hedendaagse aardse organisasie is ver verhewe bo die Joodse stelsel met sy tempel. Dit is weliswaar nie volmaak nie; daarom word aanpassings soms gemaak. Maar dit is ook nie deurtrek van verdorwenheid nie, en Jehovah God is nie van plan om dit te vervang nie. Ons moet nooit toelaat dat enige onvolmaakthede wat ons daarin sien ons verbitter of ons ’n kritiese, negatiewe gees laat aanneem nie. Laat ons eerder die lojaliteit van Jesus Christus navolg.—1 Petrus 2:21.
Ons eie onvolmaakthede
9, 10. (a) Hoe buit Satan se stelsel van dinge ons onvolmaakthede uit sodat dit ons tot dislojale gedrag verlok? (b) Wat moet iemand wat ’n ernstige sonde gepleeg het, doen?
9 Satan probeer ook dislojaliteit bevorder deur ons onvolmaakthede uit te buit. Sy stelsel van dinge buit ons swakhede uit deur ons in die versoeking te bring om te doen wat verkeerd in Jehovah se oë is. Ongelukkig swig duisende elke jaar voor onsedelikheid. Party vererger hierdie dislojaliteit deur ’n dubbele lewe te lei en in ’n weg van verkeerde dade te volhard terwyl hulle voorgee dat hulle getroue Christene is. In reaksie op artikels in die reeks “Jongmense vra . . .” in die Ontwaak! wat oor hierdie onderwerp gehandel het, het ’n jong vrou geskryf: “Die artikels was my lewensverhaal.” Sy het in die geheim vriendskappe aangeknoop met jongmense wat geen liefde vir Jehovah gehad het nie. Die gevolg? Sy skryf: “Ek het baie laag gedaal, en ek het my aan onsedelikheid skuldig gemaak en moes tereggewys word. My verhouding met Jehovah is geskaad, en ek het die vertroue van my ouers en die ouer manne verloor.”b
10 Hierdie jong vrou het hulp van die ouer manne ontvang en tot lojale diens aan Jehovah teruggekeer. Dit is egter tragies dat baie mense erger gevolge ly, en party mense keer nooit terug na die kudde nie. Hoeveel beter is dit tog om lojaal te wees en versoekings in hierdie goddelose wêreld te weerstaan! Slaan ag op die waarskuwings in Die Wagtoring en Ontwaak! oor dinge soos wêreldse omgang en verderflike vermaak. Mag jy jou nooit aan dislojale gedrag skuldig maak nie. Maar as dit wel gebeur, moet jy nie voorgee wat jy nie is nie (Psalm 26:4, vgl. NW). Kry eerder hulp. Dit is waarvoor Christenouers en -ouer manne daar is.—Jakobus 5:14.
11. Waarom sou dit verkeerd wees om onsself as hopeloos sleg te beskou, en watter Bybelse presedent kan ons help om ons beskouing reg te stel?
11 Ons onvolmaakthede kan vir ons ’n gevaar van ’n ander aard inhou. Party wat dislojaal opgetree het, hou op om Jehovah te probeer behaag. Onthou dat Dawid baie ernstige sondes gepleeg het. Tog het Jehovah Dawid lank ná sy dood as ’n getroue kneg onthou (Hebreërs 11:32; 12:1). Waarom? Omdat hy nooit opgehou het om Jehovah te probeer behaag nie. Spreuke 24:16 sê: “Sewe maal val die regverdige en staan weer op.” Dit ly geen twyfel nie, as ons geringe sondes doen—ja herhaaldelik—weens die een of ander swakheid waarteen ons stry, kan ons nog steeds regverdig in Jehovah se oë wees as ons aanhou ‘opstaan’—dit wil sê, as ons opreg berou toon en weer ’n weg van lojale diens begin volg.—Vergelyk 2 Korintiërs 2:7.
Pas op vir subtiele vorme van dislojaliteit!
12. Hoe het ’n onbuigsame, wettiese beskouing in die geval van die Fariseërs tot dislojaliteit gelei?
12 Dislojaliteit kom ook in subtieler vorme voor. Dit kan selfs die skyn van lojaliteit aanneem! Byvoorbeeld, die Fariseërs van Jesus se dag het waarskynlik gedink dat hulle besonder lojaal is.c Maar hulle het nie die verskil gesien tussen ’n lojale persoon en ’n ontoegeeflike aanhanger van mensgemaakte reëls nie, want hulle was onbuigsaam en uiters veroordelend. (Vergelyk Prediker 7:16.) Hierin was hulle eintlik dislojaal—teenoor die volk wat hulle veronderstel was om te dien, teenoor die gees van die Wet wat hulle beweer het hulle mense leer en teenoor Jehovah self. Jesus was daarenteen lojaal teenoor die gees van die Wet, wat op liefde gegrond was. Hy het mense sodoende opgebou en aangemoedig, net soos die Messiaanse profesieë voorspel het.—Jesaja 42:3; 50:4; 61:1, 2.
13. (a) Hoe kan Christenouers dislojaal wees? (b) Waarom moet ouers dit vermy om te streng, krities of negatief te wees wanneer hulle hulle kinders dissiplineer?
13 Christene met ’n mate van gesag vind grootliks baat by Jesus se voorbeeld in hierdie opsig. Lojale ouers weet byvoorbeeld dat hulle hulle kinders moet dissiplineer (Spreuke 13:24). Tog sorg hulle dat hulle hulle kinders nie vertoorn deur uiters streng dissipline wat in woede gegee word of deur ’n voortdurende stortvloed van kritiek nie. Kinders wat voel dat hulle nooit hulle ouers tevrede kan stel nie of wat voel dat hulle ouers se aanbidding hulle blykbaar net negatief en krities maak, kan heel moontlik mismoedig word en as gevolg daarvan uiteindelik vervreemd van die ware godsdiens raak.—Kolossense 3:21.
14. Hoe kan Christenherders toon dat hulle lojaal is teenoor die kudde wat hulle dien?
14 Christen- ouer manne en reisende opsieners skenk eweneens aandag aan probleme en gevare waarvoor die kudde te staan kom. As lojale herders gee hulle raad wanneer nodig nadat hulle hulle eers van al die feite vergewis het, en hulle baseer wat hulle sê sorgvuldig op die Bybel en die Genootskap se publikasies (Psalm 119:105; Spreuke 18:13). Hulle weet ook dat die skape op hulle staatmaak om geestelik opgebou en gevoed te word. Hulle probeer dus Jesus Christus, die Voortreflike Herder, navolg. Hulle dien die skape lojaal week na week tydens Christelike vergaderinge—hulle breek hulle nie af nie, maar bou hulle eerder op en versterk hulle geloof.—Matteus 20:28; Efesiërs 4:11, 12; Hebreërs 13:20, 21.
15. Hoe het sommige in die eerste eeu getoon dat hulle misplaaste lojaliteit het?
15 Nog ’n subtiele vorm van dislojaliteit is misplaaste lojaliteit. Ware lojaliteit in die Bybelse sin laat vir ons geen ruimte om enige trou voor ons lojaliteit teenoor Jehovah God te stel nie. Baie Jode in die eerste eeu het hardnekkig vasgehou aan die Mosaïese Wet en die Joodse stelsel van dinge. Maar Jehovah se tyd het aangebreek om sy seën van daardie opstandige nasie weg te neem en dit aan die nasie van geestelike Israel te gee. Slegs ’n klein groepie was lojaal teenoor Jehovah en het hulle by hierdie belangrike verandering aangepas. Selfs onder ware Christene was daar sommige Judaïseerders wat nou maar eenmaal wou terugkeer tot daardie “swak en armsalige elementêre dinge” van die Mosaïese Wet, wat in Christus vervul is.—Galasiërs 4:9; 5:6-12; Filippense 3:2, 3.
16. Hoe reageer lojale knegte van Jehovah op aanpassings?
16 Daarenteen het Jehovah se volk in hedendaagse tye bewys dat hulle deur tye van verandering lojaal bly. Namate die lig van geopenbaarde waarheid steeds helderder word, word aanpassings gemaak (Spreuke 4:18). “Die getroue en verstandige slaaf” het ons onlangs gehelp om ons begrip te verbeter van die woord “geslag” wat in Matteus 24:34 gebruik word en van die tydsberekening van die oordeel van “die skape” en “die bokke” wat in Matteus 25:31-46 gemeld word, sowel as van ons beskouing oor sekere soorte burgerlike diens (Matteus 24:45). Sommige afvalliges sou ongetwyfeld verheug gewees het as baie van Jehovah se Getuies onversetlik by die vorige begrip van hierdie onderwerpe gebly het en geweier het om vooruitgang te maak. Niks van die aard het gebeur nie. Waarom nie? Jehovah se volk is lojaal.
17. Hoe kan geliefdes soms ons lojaliteit op die proef stel?
17 Die kwessie van misplaaste lojaliteit kan ons egter persoonlik raak. Wanneer ’n goeie vriend of selfs ’n gesinslid ’n weg kies wat Bybelbeginsels skend, voel ons dalk dat ons lojaliteit verdeel word. Dit is natuurlik om lojaal teenoor gesinslede te voel. Maar ons moet nooit ons trou aan hulle voor ons lojaliteit teenoor Jehovah stel nie! (Vergelyk 1 Samuel 23:16-18.) Ons sal ook nie oortreders help om ’n ernstige sonde geheim te hou of vir hulle kant kies teen ouer manne wat hulle “in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp” nie (Galasiërs 6:1). As ons dit sou doen, sal ons dislojaal wees teenoor Jehovah, sy organisasie en ’n geliefde. Om tussen ’n sondaar en die dissipline wat hy nodig het te staan, beteken op stuk van sake eintlik dat ons verhinder dat ’n blyk van Jehovah se liefde hom bereik (Hebreërs 12:5-7). Hou ook in gedagte dat ‘die wonde deur een wat liefhet opreg bedoel is’ (Spreuke 27:6). Reguit, liefdevolle raad wat op God se Woord gebaseer is, kan ’n geliefde wat oortree het, in sy eer krenk, maar dit kan op die lange duur sy lewe red!
Lojaliteit deurstaan vervolging
18, 19. (a) Wat wou Agab van Nabot hê, en waarom het Nabot geweier? (b) Was dit vir Nabot die moeite werd om lojaal te wees? Verduidelik.
18 Soms val Satan ons lojaliteit direk aan. Beskou die geval van Nabot. Toe koning Agab druk op hom uitgeoefen het om sy wingerd te verkoop, het hy geantwoord: “Dit is vir my ondenkbaar, uit Jehovah se standpunt, om die erfbesitting van my voorvaders aan u te gee” (1 Konings 21:3, NW). Nabot was nie hardkoppig nie; hy was lojaal. Die Mosaïese Wet het beveel dat ’n Israeliet sy erfgrond vir ewig en altyd nie mag verkoop nie (Levitikus 25:23-28). Nabot het beslis geweet dat hierdie wrede koning hom om die lewe kon bring, want Agab het reeds sy vrou, Isebel, baie van Jehovah se profete laat doodmaak! Tog het Nabot standvastig gebly.—1 Konings 18:4.
19 Vir lojaliteit moet ’n mens soms iets inboet. Met die hulp van ’n paar “deugniete” het Isebel Nabot valslik beskuldig van ’n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Gevolglik is hy en sy seuns tereggestel (1 Konings 21:7-16; 2 Konings 9:26). Beteken dit dat Nabot se lojaliteit onvanpas was? Nee! Nabot is een van die talle lojale manne en vroue wat tans in Jehovah se geheue “lewe” en veilig in die graf slaap tot die tyd van die opstanding.—Lukas 20:38; Handelinge 24:15.
20. Hoe kan hoop ons help om ons lojaliteit te handhaaf?
20 Dieselfde belofte dien as ’n waarborg vir Jehovah se lojale knegte van vandag. Ons weet dat ons lojaliteit ons duur te staan kan kom in hierdie wêreld. Jesus Christus het vir sy lojaliteit met sy lewe betaal, en hy het vir sy volgelinge gesê dat hulle geensins beter behandel sou word nie (Johannes 15:20). Soos sy toekomshoop hom onderskraag het, so onderskraag ons s’n ons (Hebreërs 12:2). Sodoende kan ons alle vorme van vervolging lojaal verduur.
21. Watter waarborg gee Jehovah vir sy lojales?
21 Daar is weliswaar betreklik min van ons vandag wat sulke direkte aanvalle op ons lojaliteit verduur. Maar God se volk sal heel moontlik voor meer vervolging te staan kom voor die einde kom. Hoe kan ons verseker dat ons ons lojaliteit sal handhaaf? Deur nóú lojaal te bly. Jehovah het vir ons ’n wonderlike opdrag gegee—om aangaande sy Koninkryk te getuig en ander daarvan te leer. Laat ons lojaal met hierdie lewensbelangrike werk besig bly (1 Korintiërs 15:58). As ons weier om toe te laat dat menslike onvolmaakthede ons lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie ondermyn en as ons oppas vir subtiele vorme van dislojaliteit soos misplaaste lojaliteit, sal ons beter voorbereid wees indien ons lojaliteit in groter mate op die proef gestel word. Hoe dit ook al sy, ons kan altyd daarvan verseker wees dat Jehovah onwrikbare lojaliteit teenoor sy lojale knegte toon (2 Samuel 22:26, NW). Ja, hy sal sy lojales bewaar!—Psalm 97:10, NW.
[Voetnote]
a Jesus was moedig om so ’n winsgewende handelsbedryf aan te val. Volgens een geskiedskrywer moes die tempelbelasting met ’n spesifieke antieke Joodse muntstuk betaal word. Baie besoekers aan die tempel sou dus hulle geld moes wissel om die belasting te betaal. Die geldwisselaars is toegelaat om ’n vasgestelde bedrag vir die uitruiling te vra, en dit het groot somme geld opgelewer.
b Sien die Ontwaak! van 22 Desember 1993, 8 Januarie 1994 en 22 Januarie 1994.
c Hulle broederskap het sy oorsprong by die Chassidim gehad, ’n groep wat eeue tevore ontstaan het om Griekse invloed te bestry. Die Chassidim het hulle naam gevorm van die Hebreeuse woord chasi·dhimʹ, wat “lojales” of “vromes” beteken. Miskien het hulle gedink dat tekste wat van Jehovah se “lojales” praat op die een of ander spesiale manier op hulle van toepassing is (Psalm 50:5, NW). Hulle, en die Fariseërs ná hulle, was fanatiese, selfbenoemde verdedigers van die letter van die Wet.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe kan ons voorkom dat die onvolmaakthede van ander daartoe lei dat ons dislojaal is?
◻ Op watter maniere kan ons eie onvolmaakthede ons dislojaal laat optree?
◻ Hoe kan ons die neiging weerstaan om misplaaste lojaliteite te hê?
◻ Wat sal ons help om ons lojaliteit selfs in tye van vervolging te handhaaf?
[Venster op bladsy 9]
Dien lojaal by Bethel
“Laat alles welvoeglik en volgens reëling geskied.” Die apostel Paulus het dit geskryf (1 Korintiërs 14:40). Paulus het geweet dat “reëling”, oftewel organisasie, nodig sou wees vir ’n gemeente om te funksioneer. Vandag moet ouer manne eweneens besluite neem oor praktiese sake, soos die toewysing van gemeentelede na verskillende boekstudiegroepe, reëlings vir velddiens en toesig oor die dekking van gebied. Sulke reëlings kan soms ons lojaliteit op die proef stel. Dit is nie bevele wat deur God geïnspireer is nie, en dit kan nie by almal se voorkeure pas nie.
Vind jy dat dit soms ’n uitdaging is om lojaal te wees aan party van die praktiese reëlings wat in die Christengemeente getref word? Indien wel, sal jy moontlik die voorbeeld van Bethel nuttig vind. Die naam Bethel, ’n Hebreeuse woord wat “huis van God” beteken, is aan al 104 takkantore van die Wagtoringgenootskap gegee, met inbegrip van die hoofkwartier in die VSA.d Die vrywilligers wat by die Bethelkomplekse woon en werk, wil hê dat hierdie plekke eerbied en ontsag vir Jehovah moet weerspieël. Dit vereis lojaliteit van almal.
Besoekers aan Bethel praat dikwels oor die ordelikheid en sindelikheid wat hulle daar sien. Die werkers is georganiseerd en gelukkig; hulle spraak en maniere en selfs hulle voorkoms weerspieël hulle ryp, Bybelopgeleide Christelike gewetens. Alle lede van ’n Bethelgesin is lojaal aan die standaarde van God se Woord.
Daarbenewens voorsien die Bestuursliggaam hulle van ’n handleiding met die titel Dwelling Together in Unity, waarin praktiese reëlings wat nodig is om so ’n groot gesin goed te laat saam werk mooi uiteengesit word (Psalm 133:1). Dit bespreek byvoorbeeld dinge soos huisvesting, maaltye, higiëne, kleredrag en persoonsversorging en dergelike sake. Lede van die Bethelgesin ondersteun sulke reëlings lojaal en bly daarby, selfs wanneer dit dalk nie volgens hulle persoonlike voorkeure is nie. Hulle beskou nie hierdie handleiding as ’n klomp streng reëls en regulasies nie, maar as ’n stel nuttige riglyne wat bedoel is om eenheid en harmonie te bevorder. Opsieners handhaaf hierdie Bybelse prosedures lojaal, en hulle gebruik dit op ’n positiewe manier om die Bethelgesin op te bou en aan te moedig om voort te gaan met hulle heilige Betheldiens.
d Hierdie fabrieke, kantore en woonkomplekse vorm nie God se groot geestelike tempel, of huis nie. God se geestelike tempel is sy reëling vir rein aanbidding (Miga 4:1). As sodanig is dit nie beperk tot enige fisiese gebou op die aarde nie.
[Venster op bladsy 10]
Die lojale persoon en die wettiese persoon
Reeds in 1916 het die Encyclopædia of Religion and Ethics gesê dat “hierdie onderskeid tussen die lojale en die wettiese persoon te alle tye en op alle plekke gevind kan word”. Dit het verduidelik: “Daar is die wettiese persoon wat doen wat hy gesê word om te doen en geen wette oortree nie; hy bly trou aan die woord wat geskryf is en gelees kan word. Daar is die lojale persoon wat dit doen maar op . . . wie staatgemaak kan word om meer te doen, wat hom met hart en siel op sy plig toelê, wat sy gees in ooreenstemming bring met die gees van die doel wat bereik moet word.” Later het hierdie selfde publikasie gesê: “Om lojaal te wees, behels veel meer as om wetsgehoorsaam te wees. . . . Die lojale persoon word van die wetsgehoorsame persoon onderskei as iemand wat met sy hele hart en verstand dien . . . Hy veroorloof hom geen moedswillige sondes van bedryf, versuim of onkunde nie.”