Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • fy hfst. 12 bl. 142-152
  • Jy kan probleme te bowe kom wat ’n gesin skade berokken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan probleme te bowe kom wat ’n gesin skade berokken
  • Die geheim van gesinsgeluk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE SKADE WAT DEUR ALKOHOLISME VEROORSAAK WORD
  • WAT KAN DIE GESIN DOEN?
  • SKADE WAT DEUR GESINSGEWELD VEROORSAAK WORD
  • HOE GESINSGEWELD VERMY KAN WORD
  • MOET ONS SKEI OF BYMEKAAR BLY?
  • SKADELIKE PROBLEME KOM TOT ’N EINDE
  • Een van my ouers is ’n alkoholis—Hoe kan ek daarmee saamleef?
    Ontwaak!—1992
  • Hoe kan die gesin help?
    Ontwaak!—1992
  • Hulp vir volwasse kinders van alkoholiste
    Ontwaak!—1992
  • “’n Antwoord op my gebed”
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Die geheim van gesinsgeluk
fy hfst. 12 bl. 142-152

HOOFSTUK TWAALF

Jy kan probleme te bowe kom wat ’n gesin skade berokken

1. Watter verborge probleme bestaan daar in party gesinne?

DIE ou motor is so pas gewas en gepolitoer. Vir verbygangers lyk dit blink, amper nuut. Maar onder die oppervlak is vernietigende roes besig om die bakwerk van die voertuig weg te vreet. Dit is dieselfde met party gesinne. Hoewel alles op die oog af goed lyk, verberg glimlaggende gesigte vrees en pyn. Agter geslote deure is vernietigende elemente besig om die gesinsvrede te ondermyn. Alkoholisme en geweld is twee probleme wat hierdie uitwerking op ’n gesin kan hê.

DIE SKADE WAT DEUR ALKOHOLISME VEROORSAAK WORD

2. (a) Wat is die Bybel se beskouing oor die gebruik van alkohol? (b) Wat is alkoholisme?

2 Die Bybel veroordeel nie die matige gebruik van alkohol nie, maar dit veroordeel wel dronkenskap (Spreuke 23:20, 21; 1 Korintiërs 6:9, 10; 1 Timoteus 5:23; Titus 2:2, 3). Alkoholisme behels egter meer as dronkenskap; dit is ’n chroniese beheptheid met alkohol en ’n gebrek aan selfbeheersing wat die gebruik daarvan betref. Alkoholiste kan volwassenes wees. Hulle kan ongelukkig ook jongmense wees.

3, 4. Verduidelik watter uitwerking alkoholisme op die alkoholis se huweliksmaat en op die kinders het.

3 Die Bybel het lank gelede reeds getoon dat alkoholmisbruik gesinsvrede kan ontwrig (Deuteronomium 21:18-21). Die vernietigende uitwerking van alkoholisme raak die hele gesin. Die vrou doen moontlik alles in haar vermoë om die alkoholis se drinkery te keer of om sy onvoorspelbare gedrag te verduur.a Sy probeer die drank wegsteek, dit weggooi, sy geld wegsteek en ’n beroep doen op sy liefde vir die gesin, vir die lewe, selfs vir God—maar die alkoholis drink steeds. Namate haar pogings om sy drinkery te beheer herhaaldelik faal, voel sy gefrustreerd en onbevoeg om te help. Sy begin dalk ly as gevolg van vrees, woede, skuldgevoelens, senuweeagtigheid, bekommernis en ’n gebrek aan selfrespek.

4 Kinders spring nie die gevolge van ’n ouer se alkoholisme vry nie. Party word fisies aangerand. Ander word seksueel gemolesteer. Hulle blameer hulleself dalk vir ’n ouer se alkoholisme. Hulle vermoë om ander te vertrou, word dikwels verpletter deur die alkoholis se inkonsekwente gedrag. Omdat die kinders nie maklik kan praat oor wat by die huis gebeur nie, leer hulle dalk om hulle gevoelens te onderdruk, dikwels met nadelige fisiese gevolge (Spreuke 17:22). Sulke kinders sal dalk selfs as volwassenes hierdie gebrek aan selfvertroue of selfrespek hê.

WAT KAN DIE GESIN DOEN?

5. Hoe kan alkoholisme hanteer word, en waarom is dit moeilik?

5 Hoewel baie gesaghebbendes sê dat alkoholisme nie genees kan word nie, stem die meeste saam dat ’n mate van herstel moontlik is deur ’n program van geheelonthouding te volg. (Vergelyk Matteus 5:29.) Maar om ’n alkoholis te oorreed om hulp te aanvaar, is makliker gesê as gedaan, aangesien hy gewoonlik ontken dat hy ’n probleem het. Wanneer gesinslede egter iets doen aan die uitwerking wat die alkoholisme op húlle gehad het, sal die alkoholis dalk begin besef dat hy ’n probleem het. ’n Geneesheer wat al baie alkoholiste en hulle gesinne gehelp het, het gesê: “Ek dink die belangrikste ding is dat die gesin eenvoudig op die bes moontlike manier met hulle lewe voortgaan. Die alkoholis kom al hoe meer voor die feit te staan dat daar ’n groot kontras tussen hom en die res van die gesin bestaan.”

6. Wat is die beste bron van raad vir gesinne waar ’n gesinslid ’n alkoholis is?

6 As daar ’n alkoholis in julle gesin is, kan die Bybel se geïnspireerde raad julle help om op die bes moontlike manier te lewe (Jesaja 48:17; 2 Timoteus 3:16, 17). Beskou ’n paar beginsels wat gesinne gehelp het om teen alkoholisme opgewasse te wees.

7. Wie is daarvoor verantwoordelik as ’n gesinslid ’n alkoholis is?

7 Hou op om al die skuld te dra. Die Bybel sê: “Elkeen sal sy eie vrag dra”, en dat ‘elkeen van ons vir homself aan God rekenskap sal gee’ (Galasiërs 6:5; Romeine 14:12). Die alkoholis probeer dalk sê dat gesinslede die oorsaak van sy probleem is. Hy sê dalk byvoorbeeld: “As julle my beter behandel het, sou ek nie drink nie.” As dit lyk of ander met hom saamstem, moedig hulle hom net aan om verder te drink. Maar al is ons die slagoffers van omstandighede of van ander mense, is ons almal—ook alkoholiste—aanspreeklik vir ons dade.—Vergelyk Filippense 2:12.

8. Wat is party maniere waarop die alkoholis gehelp kan word om die gevolge van sy probleem te dra?

8 Moenie dink dat jy die alkoholis altyd teen die gevolge van sy drinkery moet beskerm nie. ’n Bybelspreuk oor iemand wat woedend is, kan ewe goed op die alkoholis van toepassing wees: “As jy hom een keer help, sal jy dit elke keer weer moet doen” (Spreuke 19:19, NAV). Laat die alkoholis die gevolge van sy drinkery dra. Laat hom skoonmaak waar hy gemors het of sy werkgewer bel die oggend ná sy drinkery.

Prent op bladsy 146

Christen- ouer manne kan ’n groot bron van hulp wees om gesinsprobleme op te los

9, 10. Waarom moet die gesinne van alkoholiste hulp aanvaar, en wie se hulp moet hulle in die besonder vra?

9 Aanvaar hulp van ander. Spreuke 17:17 sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (NW). Wanneer daar ’n alkoholis in julle gesin is, is daar beslis benoudheid. Julle het hulp nodig. Moenie huiwer om op ‘ware metgeselle’ vir ondersteuning te vertrou nie (Spreuke 18:24). As jy met ander praat wat die probleem verstaan of wat al voor ’n soortgelyke situasie te staan gekom het, kan hulle jou dalk praktiese wenke gee oor wat om te doen en wat om nie te doen nie. Maar handhaaf jou balans. Praat met diegene wat jy vertrou, diegene wat jou “geheim” sal bewaar.—Spreuke 11:13.

10 Leer om Christen- ouer manne te vertrou. Die ouer manne in die Christengemeente kan ’n groot bron van hulp wees. Hierdie ervare manne is vertroud met God se Woord en beskik oor die ondervinding om die beginsels daarin toe te pas. Hulle kan “wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” (Jesaja 32:2). Christen- ouer manne beskerm nie net die gemeente as ’n geheel teen skadelike invloede nie, maar hulle vertroos, verkwik en toon persoonlike belangstelling in persone wat probleme het. Maak ten volle van hulle hulp gebruik.

11, 12. Wie voorsien die grootste hulp aan gesinne van alkoholiste, en hoe word daardie ondersteuning gebied?

11 Vertrou bowenal op Jehovah vir krag. Die Bybel gee ons hierdie hartverblydende versekering: “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Psalm 34:19). As jy gebroke van hart of verslae van gees voel weens die druk om saam met ’n gesinslid te lewe wat ’n alkoholis is, moet jy onthou dat ‘Jehovah naby is’. Hy verstaan hoe moeilik jou gesinsomstandighede is.—1 Petrus 5:6, 7.

12 As jy glo wat Jehovah in sy Woord sê, kan dit jou help om jou sorge die hoof te bied (Psalm 130:3, 4; Matteus 6:25-34; 1 Johannes 3:19, 20). As jy God se Woord bestudeer en volgens die beginsels daarin lewe, stel dit jou in staat om die hulp van God se heilige gees te ontvang, wat jou kan toerus met “krag wat bo die normale is” om van dag tot dag voort te gaan.—2 Korintiërs 4:7.b

13. Wat is ’n tweede probleem wat baie gesinne skade berokken?

13 Die misbruik van alkohol kan tot nog ’n probleem lei wat baie gesinne skade berokken—gesinsgeweld.

SKADE WAT DEUR GESINSGEWELD VEROORSAAK WORD

14. Wanneer het gesinsgeweld begin, en wat is vandag die toedrag van sake?

14 Die eerste daad van geweld in die mensegeskiedenis was ’n geval van gesinsgeweld waarby twee broers, Kain en Abel, betrokke was (Genesis 4:8). Van toe af is die mensdom met allerhande vorme van gesinsgeweld geteister. Daar is mans wat hulle vrouens slaan, vrouens wat hulle mans aanval, ouers wat hulle kindertjies wreed slaan en volwasse kinders wat hulle bejaarde ouers mishandel.

15. Watter emosionele uitwerking het gesinsgeweld op gesinslede?

15 Die skade wat deur gesinsgeweld veroorsaak word, sluit baie meer as net die liggaamlike littekens in. Een mishandelde vrou het gesê: “Jy voel ontsettend skuldig en skaam. Die meeste oggende wil jy net in die bed bly, en jy hoop dat dit bloot ’n slegte droom was.” Kinders wat gesinsgeweld sien of ondervind, sal moontlik self gewelddadig wees wanneer hulle grootword en hulle eie gesin het.

16, 17. Wat is emosionele mishandeling, en watter uitwerking het dit op gesinslede?

16 Gesinsgeweld is nie net tot fisiese mishandeling beperk nie. Die aanval bestaan dikwels uit woorde. Spreuke 12:18 sê: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke.” Hierdie “swaardsteke”, wat ’n kenmerk van gesinsgeweld is, sluit in uitskellery en skreeuery, asook aanhoudende kritiek, vernederende beledigings en dreigemente van fisiese geweld. Die wonde van emosionele geweld is onsigbaar en ander sien dit dikwels nie.

17 Dit is veral ’n hartseer situasie as ’n kind emosioneel afgetakel word—die voortdurende kritisering en verkleinering van ’n kind se vermoëns, intelligensie of waarde as persoon. Sulke skeltaal kan die gees van ’n kind vernietig. Alle kinders het weliswaar dissipline nodig. Maar die Bybel vermaan vaders: “Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.”—Kolossense 3:21.

HOE GESINSGEWELD VERMY KAN WORD

Prent op bladsy 151

Christenhuweliksmaats wat mekaar liefhet en respekteer, sal gou optree om probleme uit die weg te ruim

18. Waar ontstaan gesinsgeweld, en wat is volgens die Bybel die manier om dit te beëindig?

18 Gesinsgeweld ontstaan in die hart en verstand; die manier waarop ons optree, spruit uit ons denkwyse voort (Jakobus 1:14, 15). Om ’n einde aan die geweld te maak, moet die persoon wat sy gesin mishandel sy denkwyse verander (Romeine 12:2). Is dit moontlik? Ja. God se Woord het die krag om mense te verander. Dit kan selfs “sterk verskanste” afbrekende sienswyses uitroei (2 Korintiërs 10:4; Hebreërs 4:12). Juiste kennis van die Bybel kan help om so ’n algehele verandering in mense teweeg te bring dat daar van hulle gesê kan word dat hulle hulle met ’n nuwe persoonlikheid beklee.—Efesiërs 4:22-24; Kolossense 3:8-10.

19. Hoe moet ’n Christen sy of haar huweliksmaat beskou en behandel?

19 Jou beskouing van jou huweliksmaat. God se Woord sê: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief” (Efesiërs 5:28). Die Bybel sê ook dat ’n man aan sy vrou ‘eer moet toeken as ’n swakker vat’ (1 Petrus 3:7). Vrouens word vermaan “om hulle mans lief te hê” en “diep respek” vir hulle te hê (Titus 2:4; Efesiërs 5:33). ’n Godvresende man kan nouliks in alle eerlikheid sê dat hy sy vrou werklik eer as hy haar fisies of met woorde aanval. En geen vrou wat op haar man skreeu, op sarkastiese wyse met hom praat of hom gedurig uitskel, kan sê dat sy hom waarlik liefhet en respekteer nie.

20. Voor wie is ouers vir hulle kinders verantwoordelik, en waarom moet ouers nie onrealistiese verwagtinge van hulle kinders koester nie?

20 Die regte beskouing van kinders. Kinders verdien hulle ouers se liefde en aandag—ja, hulle het dit nodig. God se Woord noem kinders “’n erfdeel van die HERE” en “’n beloning” (Psalm 127:3). Ouers is voor Jehovah verantwoordelik om na hierdie erfdeel om te sien. Die Bybel praat van “die eienskappe van ’n klein kindjie” en die “dwaasheid” van die kinderdae (1 Korintiërs 13:11; Spreuke 22:15, NW). Ouers moenie verbaas wees as hulle dwaasheid in hulle kinders opmerk nie. Kinders is nie volwassenes nie. Ouers moenie meer van hulle kind vereis as wat hulle ouderdom, familieagtergrond en vermoë toelaat nie.—Sien Genesis 33:12-14.

21. Wat is die godvrugtige manier waarop bejaarde ouers beskou en behandel moet word?

21 Jou beskouing van bejaarde ouers. Levitikus 19:32 sê: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer.” God se Wet het mense dus aangemoedig om respek en hoë agting vir bejaardes te hê. Dit bied dalk ’n uitdaging wanneer dit lyk asof ’n bejaarde ouer te veeleisend is of wanneer hy of sy siek is en moontlik nie vinnig beweeg of dink nie. Kinders word nogtans daaraan herinner om “’n verskuldigde vergoeding aan hulle ouers . . . te bly betaal” (1 Timoteus 5:4). Dit sal beteken dat jy hulle met waardigheid en respek sal behandel en miskien selfs finansieel na hulle sal omsien. As ons ons bejaarde ouers fisies of andersins mishandel, is dit lynreg in stryd met wat die Bybel sê ons moet doen.

22. Wat is ’n noodsaaklike eienskap om gesinsgeweld te vermy, en hoe kan dit beoefen word?

22 Kweek selfbeheersing aan. Spreuke 29:11 sê: “’n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar ’n wyse bring dit eindelik tot bedaring.” Hoe kan jy jou gees beheers? Pleks van frustrasie in jou te laat opbou, moet jy vinnig optree om probleme wat ontstaan uit die weg te ruim (Efesiërs 4:26, 27). Loop maar liewer as jy voel dat jy jou selfbeheersing begin verloor. Vra God se heilige gees om selfbeheersing in jou voort te bring (Galasiërs 5:22, 23). As jy ’n entjie gaan stap of die een of ander liggaamlike oefening doen, kan dit jou help om jou emosies in toom te hou (Spreuke 17:14, 27, NW). Probeer om ‘lankmoedig’ te wees.—Spreuke 14:29.

MOET ONS SKEI OF BYMEKAAR BLY?

23. Wat kan gebeur as ’n lid van die Christengemeente herhaaldelik en onberouvol aan gewelddadige vlae van toorn toegee, onder andere miskien fisiese mishandeling van sy gesin?

23 Onder die werke wat deur God veroordeel word, noem die Bybel “vyandskappe, twis, . . . vlae van toorn” en sê dat “dié wat sulke dinge beoefen God se koninkryk nie sal beërf nie” (Galasiërs 5:19-21). Enigiemand wat dus sê dat hy ’n Christen is maar herhaaldelik en onberouvol aan gewelddadige vlae van toorn toegee, onder andere miskien fisiese mishandeling van sy vrou en kinders, kan uit die Christengemeente gesit word. (Vergelyk 2 Johannes 9, 10.) Sodoende word die gemeente rein gehou van mense wat hulle gesinne mishandel.—1 Korintiërs 5:6, 7; Galasiërs 5:9.

24. (a) Wat besluit huweliksmaats wat mishandel word dalk om te doen? (b) Hoe kan besorgde vriende en ouer manne iemand wat mishandel word, ondersteun, maar wat moet hulle nie doen nie?

24 Wat van Christene wat tans deur ’n huweliksmaat mishandel word wat geen tekens van verandering toon nie? Party het om die een of ander rede besluit om by die huweliksmaat te bly wat hulle mishandel. Ander het besluit om hulle huweliksmaat te verlaat, aangesien hulle meen dat hulle fisiese, geestes- en geestelike gesondheid—moontlik selfs hulle lewe—in gevaar is. Wat ’n slagoffer van gesinsgeweld besluit om in hierdie omstandighede te doen, is ’n persoonlike besluit voor Jehovah (1 Korintiërs 7:10, 11). Welmenende vriende, familielede of Christen- ouer manne wil dalk graag hulp en raad gee, maar hulle moet nie druk op ’n slagoffer uitoefen om op ’n spesifieke manier op te tree nie. Dit is ’n besluit wat hy of sy self moet neem.—Romeine 14:4; Galasiërs 6:5.

SKADELIKE PROBLEME KOM TOT ’N EINDE

25. Wat is Jehovah se voorneme vir die gesin?

25 Toe Jehovah Adam en Eva in die huwelik verbind het, was dit nooit sy voorneme dat gesinne deur skadelike probleme soos alkoholisme of geweld ondermyn moes word nie (Efesiërs 3:14, 15). Die gesin moes ’n plek wees waar liefde en vrede sou floreer en waar daar in elke gesinslid se verstandelike, emosionele en geestelike behoeftes voorsien sou word. Maar ná die ontstaan van sonde het gesinslewe vinnig agteruitgegaan.—Vergelyk Prediker 8:9.

26. Watter toekoms is daar vir diegene wat in ooreenstemming met Jehovah se vereistes probeer lewe?

26 Gelukkig het Jehovah nie sy voorneme vir die gesin laat vaar nie. Hy belowe dat hy ’n vreedsame nuwe wêreld gaan inlei waarin mense “veilig [sal] woon sonder dat iemand hulle verskrik” (Esegiël 34:28). Dan sal alkoholisme, gesinsgeweld en al die ander probleme wat hedendaagse gesinne skade berokken tot die verlede behoort. Mense sal glimlag, nie om vrees en pyn te verberg nie, maar omdat hulle hulle “verlustig oor groot vrede”.—Psalm 37:11.

a Hoewel ons na die alkoholis verwys as ’n man, is die beginsels hierin ook van toepassing as die alkoholis ’n vrou is.

b In party lande is daar sentrums vir behandeling, hospitale en herstelprogramme wat daarin spesialiseer om alkoholiste en hulle gesinne te help. Of jy van hierdie hulp gebruik maak of nie is ’n persoonlike keuse. Die Wagtoringgenootskap staan nie enige besondere behandeling voor nie. Wanneer ’n mens hulp soek, moet jy egter versigtig wees dat jy nie by bedrywighede betrokke raak wat jou skriftuurlike beginsels in gevaar kan stel nie.

HOE KAN HIERDIE BYBELBEGINSELS . . . GESINNE HELP OM PROBLEME TE VOORKOM WAT ERNSTIGE SKADE KAN BEROKKEN?

Jehovah veroordeel die misbruik van alkohol.—Spreuke 23:20, 21.

Elke individu is vir sy dade verantwoordelik.—Romeine 14:12.

Sonder selfbeheersing kan ons God nie op aanneemlike wyse dien nie.—Spreuke 29:11.

Ware Christene eer hulle bejaarde ouers.—Levitikus 19:32.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel