Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 12/15 bl. 3-7
  • Waarom moet jy jou onkreukbaarheid handhaaf?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moet jy jou onkreukbaarheid handhaaf?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is onkreukbaarheid?
  • Sal jy vashou aan jou onkreukbaarheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Behou jou onkreukbaarheid!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Wandel in die weg van onkreukbaarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Verbly Jehovah se hart deur onkreukbaarheid te handhaaf!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 12/15 bl. 3-7

Waarom moet jy jou onkreukbaarheid handhaaf?

“Oordeel my, o Jehovah, . . . volgens my onkreukbaarheid.”—PS. 7:8.

1, 2. Wat is ’n paar algemene situasies wat ’n Christen se onkreukbaarheid op die proef stel?

STEL jou drie situasies voor: ’n Seun word deur ’n paar van sy skoolmaats getreiter. Hulle probeer hom uitlok om sy humeur te verloor, miskien om te vloek of te baklei. Sal hy teen hulle uitvaar, of sal hy hom bedwing en wegloop? ’n Man is alleen by die huis en doen navorsing op die Internet. ’n Venster wat ’n verdorwe webwerf adverteer, verskyn op sy rekenaarskerm. Sal hy in die versoeking kom om na daardie webwerf te gaan, of sal hy seker maak dat hy dit vermy? Terwyl ’n Christenvrou en ’n groepie ander gesels, raak die gesprek negatief en ontaard dit in skadelike skinderpraatjies oor ’n suster in die gemeente. Sal sy daaraan deelneem, of sal sy die onderwerp probeer verander?

2 Hoewel hierdie situasies baie uiteenlopend is, het hulle iets in gemeen. Al drie hou verband met die stryd om as ’n Christen onkreukbaarheid te handhaaf. Hou jy jou onkreukbaarheid in gedagte wanneer dit kom by jou bekommernisse, behoeftes en doelwitte in die lewe? Mense dink elke dag aan hulle voorkoms, hulle gesondheid, die probleme om ’n bestaan te maak, die goeie en slegte tye in hulle vriendskappe, miskien selfs aan romantiese verhoudings. Ons skenk dalk baie aandag aan hierdie dinge. Maar wat is in die besonder vir Jehovah belangrik wanneer hy ons hart deurvors? (Ps. 139:23, 24). Ons onkreukbaarheid.

3. Watter voorreg gee Jehovah ons, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Jehovah, die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk”, het elkeen van ons ’n verskeidenheid gawes gegee (Jak. 1:17). Ons het gawes soos ’n liggaam, ’n verstand, ’n mate van gesondheid en verskillende vermoëns aan hom te danke (1 Kor. 4:7). Maar Jehovah dwing ons nie bloot om onkreukbaarheid te openbaar nie. Hy laat ons self kies of ons hierdie eienskap sal aankweek (Deut. 30:19). Ons moet dus ondersoek wat onkreukbaarheid is. Ons sal ook drie redes bespreek waarom hierdie eienskap so uiters belangrik is.

Wat is onkreukbaarheid?

4. Wat behels onkreukbaarheid, en wat kan ons uit Jehovah se wet oor diereoffers leer?

4 Baie mense het net ’n vae idee van wat onkreukbaarheid is. Wanneer politici byvoorbeeld oor hulle onkreukbaarheid spog, verwys hulle in baie gevalle blykbaar na eerlikheid. Hierdie eienskap is belangrik, maar dit is net deel van onkreukbaarheid. Onkreukbaarheid, soos dit in die Bybel gebruik word, behels sedelike volkomenheid, regskapenheid. Die Hebreeuse woorde wat verband hou met “onkreukbaarheid”, kom van ’n grondwoord wat gesond, volkome of sonder gebrek beteken. Een van hierdie woorde word gebruik met betrekking tot die offerandes wat aan Jehovah gebring moes word. ’n Diereoffer het slegs sy goedkeuring geniet as dit sonder gebrek, of volkome, was. (Lees Levitikus 22:19, 20.) Jehovah het diegene wat sy voorskrif geïgnoreer het deur kreupel, siek of blinde diere as offerandes te bring, streng veroordeel.—Mal. 1:6-8.

5, 6. (a) Watter voorbeelde toon dat ons dikwels dinge wat volkome, of volledig, is, waardeer? (b) Beteken onkreukbaarheid volmaaktheid wanneer dit by onvolmaakte mense kom? Verduidelik.

5 Dit is nie iets vreemds om dinge wat volkome, of volledig, is, te soek en te waardeer nie. Byvoorbeeld, stel jou ’n boekversamelaar voor wat ná ’n lang soektog ’n kosbare boek vind en dan uitvind dat ’n aantal baie belangrike bladsye weg is. Teleurgesteld sit hy dit dalk terug op die rak. Of stel jou ’n vrou voor wat op die strand loop en skulpe optel wat deur die golwe uitgespoel word. Die verskeidenheid en prag van hierdie skeppingswerke bekoor haar, en sy buk elke nou en dan om een te bekyk. Watter skulpe hou sy? Dié wat heel, onbeskadig, is. Net so soek God mense wat hierdie eienskap van volkomenheid, of volledigheid, het.—2 Kron. 16:9.

6 Maar jy wonder dalk of onkreukbaarheid volmaaktheid vereis. Omdat ons deur sonde en onvolmaaktheid beskadig is, dink ons dalk dat ons in sekere mate soos ’n onvolledige boek of ’n beskadigde skulp is. Is dit hoe jy soms voel? Wees verseker dat Jehovah nie van ons verwag om in absolute sin volmaak te wees nie. Hy verwag nooit meer van ons as wat ons kan doen nie (Ps. 103:14; Jak. 3:2).a Hy verwag nietemin dat ons onkreukbaarheid handhaaf. Is daar dan ’n verskil tussen volmaaktheid en onkreukbaarheid? Ja. Ter toeligting: ’n Jong man is lief vir ’n jong vrou met wie hy gaan trou. Dit sal dwaas van hom wees om te verwag dat sy volmaak moet wees. Maar dit sal verstandig van hom wees om te verwag dat sy hom heelhartig moet liefhê, dit wil sê om net vir hom romantiese liefde te hê. So ook is Jehovah “’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis” (Eks. 20:5). Hy verwag nie dat ons volmaak moet wees nie, maar dat ons hom heelhartig moet liefhê, hom alleen moet aanbid.

7, 8. (a) Watter voorbeeld het Jesus aangaande onkreukbaarheid gestel? (b) Wat is die ware betekenis van onkreukbaarheid in die skriftuurlike sin?

7 Dit laat ons dalk dink aan Jesus se antwoord toe hy gevra is watter wet die belangrikste is. (Lees Markus 12:28-30.) Jesus het nie net die antwoord gegee nie; hy het dit uitgeleef. Hy het die voortreflikste voorbeeld daarin gestel om Jehovah met sy hele verstand, hart, siel en al sy krag lief te hê. Hy het getoon dat onkreukbaarheid nie bloot deur woorde geopenbaar word nie, maar deur positiewe dade wat uit suiwer beweegredes voortspruit. As ons onkreukbaarheid wil handhaaf, moet ons Jesus se voetstappe volg.—1 Pet. 2:21.

8 Hier is dan die ware betekenis van ons onkreukbaarheid in die skriftuurlike sin: heelhartige toegewydheid aan een hemelse Persoon, Jehovah God, en aan sy geopenbaarde wil en voorneme. Om onkreukbaarheid te handhaaf, beteken dat ons in ons daaglikse lewe bowenal daarna sal streef om Jehovah God te behaag. Ons prioriteite in die lewe sal sy prioriteite weerspieël. Kom ons bespreek drie redes waarom dit so belangrik is.

9. Hoe hou ons persoonlike onkreukbaarheid verband met die geskil oor universele soewereiniteit?

9 Jehovah se soewereiniteit hang nie af van ons onkreukbaarheid nie. Sy soewereiniteit is regverdig, ewig en universeel. Dit sal altyd so wees, ongeag wat enige skepsel sê of doen. Maar God se soewereiniteit is erg belaster in die hemel en op die aarde. Sy heerskappy moet dus voor alle intelligente skepsele geregverdig word—as reg, regverdig en liefdevol bevestig word. As Jehovah se Getuies is dit vir ons ’n genot om oor God se universele soewereiniteit te praat met enigiemand wat sal luister. Maar hoe kan ons ons standpunt ten opsigte van die geskil inneem? Hoe toon ons dat ons Jehovah as ons Soewerein kies? Deur onkreukbaarheid te handhaaf.

10. Watter aantyging het Satan aangaande die onkreukbaarheid van mense gemaak, en hoe wil jy graag daarop reageer?

10 Kyk hoe jou onkreukbaarheid hierby betrokke is. Satan het in werklikheid beweer dat geen mens God se soewereiniteit sal verdedig nie, dat niemand Jehovah uit onselfsugtige liefde sal dien nie. Voor ’n groot menigte geesskepsele het die Duiwel vir Jehovah gesê: “Vel vir vel, en alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel” (Job 2:4). Let daarop dat Satan nie hierdie aantyging tot die regverdige man Job beperk het nie, maar dit as ’n algemene reël op die mensdom toegepas het. Die Bybel noem Satan gevolglik “die beskuldiger van ons broers” (Op. 12:10). Hy tart Jehovah met die bewering dat Christene—jy inkluis—nie getrou sal bly nie. Satan beweer dat jy Jehovah sal versaak om jou lewe te red. Hoe voel jy oor sulke aantygings teen jou? Sal jy nie die geleentheid verwelkom om te bewys dat Satan ’n leuenaar is nie? Dit is presies wat jy kan doen deur jou onkreukbaarheid te handhaaf.

11, 12. (a) Watter voorbeelde lig toe hoe ons besluite in alledaagse sake verband hou met die geskil rakende persoonlike onkreukbaarheid? (b) Waarom is dit ’n voorreg om onkreukbaarheid te handhaaf?

11 Die geskil rakende jou onkreukbaarheid maak jou daaglikse gedrag en keuses dus baie belangrik. Dink weer aan die drie situasies wat ons vroeër gemeld het. Watter weg sal van onkreukbaarheid getuig? Vir die seun wat deur sy skoolmaats getreiter word, is die versoeking baie groot om teen hulle uit te vaar, maar hy onthou hierdie vermaning: “Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah’” (Rom. 12:19). Hy loop weg. Die man wat die Internet gebruik, kan na seksueel prikkelende materiaal kyk, maar hy dink aan die beginsel agter Job se woorde: “’n Verbond het ek met my oë gesluit. Hoe sou ek dan kon ag gee op ’n maagd?” (Job 31:1). Die man weier eweneens om sy oë op onsmaaklike beelde te laat rus en vermy sulke materiaal soos gif. Die vrou wat in ’n groep gesels waar sy moontlik ’n skadelike skinderstorie sal hoor, bly stil, want sy onthou die raad: “Laat elkeen van ons sy naaste behaag in wat goed is vir sy opbouing” (Rom. 15:2). Die skinderstorie wat sy kan herhaal, is nie opbouend nie. Dit sal nie haar Christensuster in ’n goeie lig stel nie; en dit sal ook nie haar Vader behaag nie. Sy bedwing dus haar tong en verander die onderwerp.

12 In elkeen van hierdie gevalle maak die Christen ’n keuse wat in werklikheid sê: ‘Jehovah is my Heerser. Ek sal probeer doen wat hom in hierdie saak behaag.’ Beskou jy jou persoonlike keuses en besluite in hierdie lig? Dan sal jy werklik die hartverblydende woorde in Spreuke 27:11 kan naleef: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.” Wat ’n voorreg het ons tog om God se hart bly te maak! Is dit nie die moeite werd om alles in ons vermoë te doen om ons onkreukbaarheid te handhaaf nie?

13. Hoe toon die woorde van Job en Dawid dat onkreukbaarheid die grondslag is waarop Jehovah ons oordeel?

13 Ons sien dat onkreukbaarheid ons in staat stel om ons standpunt vir Jehovah se soewereiniteit in te neem. Dit is derhalwe die grondslag waarop God ons kan oordeel. Job het hierdie waarheid goed verstaan. (Lees Job 31:6.) Job het geweet dat God alle mense op “’n akkurate weegskaal” weeg deur Sy volmaakte standaard van geregtigheid te gebruik om ons onkreukbaarheid te meet. Dawid het eweneens gesê: “Jehovah sal die vonnis oor die volke vel. Oordeel my, o Jehovah, volgens my regverdigheid en volgens my onkreukbaarheid in my. . . . En God, wat regverdig is, toets die hart en niere” (Ps. 7:8, 9). Ons weet dat God tot diep in die innerlike mens, die figuurlike “hart en niere”, kan sien. Maar ons moet ook onthou waarna hy soek. Soos Dawid gesê het, Jehovah oordeel ons volgens ons onkreukbaarheid.

14. Waarom moet ons nooit aanneem dat ons onvolmaakte, sondige natuur ons verhinder om onkreukbaarheid te handhaaf nie?

14 Stel jou voor dat Jehovah God vandag die miljarde harte van die mensdom deursoek (1 Kron. 28:9). Hoe dikwels vind hy iemand wat Christelike onkreukbaarheid handhaaf? Redelik selde! Ons moet egter nie aanneem dat ons te onvolmaak is om onkreukbaarheid te handhaaf nie. Inteendeel, ons het goeie rede om, soos Dawid en Job, die vertroue te hê dat Jehovah sal vind dat ons onkreukbaarheid handhaaf, al is ons ook hoe onvolmaak. Onthou, volmaaktheid verseker nie dat ons onkreukbaarheid sal handhaaf nie. Net drie volmaakte mense het op hierdie aarde gewandel, en twee, Adam en Eva, het nie onkreukbaarheid gehandhaaf nie. Nogtans het miljoene onvolmaakte mense daarin geslaag om dit te doen. Jy kan ook.

15. Hoe het Dawid getoon dat onkreukbaarheid noodsaaklik is vir ons hoop vir die toekoms?

15 Omdat onkreukbaarheid die grondslag is waarop Jehovah ons oordeel, is dit noodsaaklik vir ons hoop vir die toekoms. Dawid het geweet dat dit die geval is. (Lees Psalm 41:12.) Hy het die hoop gekoester om God se guns vir ewig te geniet. Soos ware Christene van vandag, het Dawid gehoop om vir ewig te lewe en steeds nader aan Jehovah God te kom terwyl hy Hom dien. Dawid het besef dat hy sy onkreukbaarheid sou moes handhaaf as hy die vervulling van hierdie hoop wou sien. Jehovah onderskraag, onderrig, lei en seën ons eweneens wanneer ons ons onkreukbaarheid handhaaf.

16, 17. (a) Waarom is jy vasbeslote om altyd vas te hou aan jou onkreukbaarheid? (b) Watter vrae sal die volgende artikel bespreek?

16 Hoop is noodsaaklik vir ons om nou gelukkig te wees. Dit kan ons die vreugde verskaf wat ons nodig het om moeilike tye te verduur. Hoop kan ook ons denke beskerm. Onthou, die Bybel vergelyk hoop met ’n helm (1 Tess. 5:8). Soos ’n helm ’n soldaat se kop in ’n geveg beskerm, beskerm hoop ons verstand teen die negatiewe, pessimistiese denke wat Satan in hierdie sterwende ou wêreld bevorder. Die lewe is inderdaad ellendig wanneer ons geen hoop het nie. Ons moet onsself eerlik ondersoek en noukeurig let op die toestand van ons eie onkreukbaarheid en die hoop wat daarmee verband hou. Moenie vergeet dat jy, deur onkreukbaarheid te handhaaf, Jehovah se soewereiniteit ondersteun en jou kosbare hoop vir die toekoms bewaar nie. Mag jy altyd vashou aan jou onkreukbaarheid!

17 Aangesien onkreukbaarheid so belangrik is, moet ons nog ’n paar vrae ondersoek. Hoe bou ons onkreukbaarheid op? Hoe kan ons dit handhaaf? En wat kan gedoen word as iemand dit ’n ruk lank nie gehandhaaf het nie? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.

[Voetnoot]

a Jesus het wel gesê: “Julle moet dan volmaak wees, soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matt. 5:48). Hy het klaarblyklik besef dat selfs onvolmaakte mense in relatiewe sin volkome, of volmaak, kan wees. Ons kan die gebod om ander ruimhartig lief te hê, nakom en God sodoende behaag. Jehovah is egter volmaak in die absolute sin. Wanneer die woord “onkreukbaarheid” op hom toegepas word, sluit dit ook volmaaktheid in.—Ps. 18:30.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat is onkreukbaarheid?

• Hoe hou onkreukbaarheid verband met die geskil oor universele soewereiniteit?

• Hoe voorsien onkreukbaarheid ’n grondslag vir ons hoop?

[Prente op bladsy 5]

In ons daaglikse lewe word ons onkreukbaarheid dikwels op die proef gestel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel