Waardeer die “gawes in die vorm van mense”
‘Julle moet respek hê vir dié wat hard werk onder julle en hulle weens hulle werk meer as buitengewone agting betoon in liefde.’—1 TESSALONISENSE 5:12, 13.
1. Watter krag het dit om te gee volgens Handelinge 20:35? Lig toe.
“DIT verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Kan jy onthou wanneer laas hierdie woorde van Jesus in jou geval waar bewys is? Miskien was dit toe jy ’n geskenk gegee het aan iemand vir wie jy baie lief is. Jy het dit met groot sorg gekies, want jy wou hê dit moet iets spesiaals vir jou geliefde wees. Die blydskap op jou geliefde se gesig—hoe warm het dit tog jou hart laat klop! Wanneer ’n mens met die regte beweegrede gee, is dit ’n blyk van liefde, en die betoning van liefde het die krag om ons gelukkig te maak.
2, 3. (a) Waarom kan daar gesê word dat niemand gelukkiger as Jehovah is nie, en hoe kan die voorsiening van “gawes in die vorm van mense” sy hart verbly? (b) Wat sal ons nie met ’n gawe van God wil doen nie?
2 Is daar dus enigiemand wat gelukkiger kan wees as Jehovah, die Gewer van “elke goeie gawe”? (Jakobus 1:17; 1 Timoteus 1:11). Hy gee elke gawe uit liefde (1 Johannes 4:8). Dit is beslis waar van die gawe wat God deur Christus aan die gemeente gegee het—die “gawes in die vorm van mense” (Efesiërs 4:8). Die voorsiening van ouer manne om vir die kudde te sorg, is ’n bewys van God se innige liefde vir sy volk. Hierdie manne word versigtig gekies—hulle moet aan skriftuurlike vereistes voldoen (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9). Hulle weet dat hulle ‘die kudde met teerheid moet behandel’, want dan sal die skape rede hê om dankbaar te wees vir sulke liefdevolle herders (Handelinge 20:29; Psalm 100:3). Wanneer Jehovah sien dat sy skape se harte met sulke waardering gevul is, verbly dit ongetwyfeld sy hart!—Spreuke 27:11.
3 Ons wil beslis nie ’n gawe van God minag nie; ons wil ook nie ondankbaar vir sy gawes wees nie. Twee vrae ontstaan dus: Hoe moet ouer manne hulle rol in die gemeente beskou? En hoe kan die res van die kudde toon dat hulle die “gawes in die vorm van mense” waardeer?
‘Ons is julle medewerkers’
4, 5. (a) Waarmee vergelyk Paulus die gemeente, en waarom is dit ’n gepaste illustrasie? (b) Wat toon Paulus se illustrasie oor hoe ons mekaar moet beskou en behandel?
4 Jehovah het ’n mate van gesag in die gemeente aan die “gawes in die vorm van mense” toevertrou. Ouer manne wil natuurlik nie misbruik maak van hulle gesag nie, maar hulle weet dat dit baie maklik vir onvolmaakte mense is om dit te doen. Hoe moet hulle dus hulleself sien in verhouding tot die res van die kudde? Beskou die illustrasie wat deur die apostel Paulus gebruik is. Nadat hy bespreek het waarom die “gawes in die vorm van mense” voorsien is, het Paulus geskryf: “Laat ons . . . deur liefde in alle dinge opgroei in hom wat die hoof is, Christus. Uit hom bevorder die hele liggaam die groei van die liggaam vir sy eie opbouing in liefde, deurdat dit harmonies saamgeheg is en tot samewerking gebring word deur middel van elke gewrig wat gee wat nodig is, volgens die werking van elke onderskeie lid in die regte mate” (Efesiërs 4:15, 16). Paulus het derhalwe die gemeente, waaronder ouer manne en ander lede, met ’n menseliggaam vergelyk. Waarom is dit ’n gepaste illustrasie?
5 ’n Menseliggaam bestaan uit baie verskillende lede maar het net een hoof. Maar nie een deel van die liggaam—nie ’n spier, nie ’n senuwee, nie ’n aar—is nutteloos nie. Elke lid is kosbaar en dra by tot die gesondheid en goeie voorkoms van die hele liggaam. Die gemeente bestaan eweneens uit baie verskillende lede, maar elke lid—hetsy jonk of oud, sterk of swak—kan iets bydra tot die algehele geestelike gesondheid en goeie voorkoms van die gemeente (1 Korintiërs 12:14-26). Niemand moet voel dat hy te onbelangrik is om ’n verskil te maak nie. Maar aan die ander kant moet niemand verhewe voel nie, want ons almal—herders sowel as skape—is deel van die liggaam, en daar is net een hoof, Christus. Paulus skilder dus ’n mooi beeld van die liefde, sorg en respek wat ons vir mekaar moet hê. As ouer manne dit in gedagte hou, sal dit hulle help om ’n nederige, gebalanseerde beskouing van hulle rol in die gemeente te hê.
6. Hoe het Paulus ’n nederige gees aan die dag gelê al het hy gesag as ’n apostel gehad?
6 Hierdie “gawes in die vorm van mense” probeer nie die lewe of geloof van hulle medegelowiges beheer nie. Al het Paulus gesag as ’n apostel gehad, het hy nederig vir die Korintiërs gesê: “Nie dat ons die meesters oor julle geloof is nie, maar ons is medewerkers vir julle vreugde, want dit is deur julle geloof dat julle staan” (2 Korintiërs 1:24). Paulus wou nie die geloof en lewe van sy broers beheer nie. Hy het dit in werklikheid nie nodig geag nie, want hy het vertroue uitgespreek dat hulle reeds getroue manne en vroue was wat in Jehovah se organisasie was omdat hulle wou doen wat reg is. Toe Paulus derhalwe van homself en sy reisgenoot Timoteus gepraat het, het hy as ’t ware gesê: ‘Dit is ons werk om saam met julle te werk en God met vreugde te dien’ (2 Korintiërs 1:1). Wat ’n nederige gees!
7. Wat besef nederige ouer manne omtrent hulle rol in die gemeente, en watter vertroue het hulle in hulle medewerkers?
7 “Gawes in die vorm van mense” het vandag dieselfde werk. Hulle is ‘medewerkers vir ons vreugde’. Nederige ouer manne besef dat dit nie hulle taak is om te besluit hoeveel ander in God se diens kan doen nie. Hulle weet dat hulle ander kan aanmoedig om hulle bediening uit te brei of te verbeter, maar dat diens aan God uit ’n gewillige hart moet kom. (Vergelyk 2 Korintiërs 9:7.) Hulle is vol vertroue dat hulle medewerkers hulle bes sal doen as hulle vreugdevol is. Dit is dus hulle opregte begeerte om hulle broers te help om ‘Jehovah met blydskap te dien’.—Psalm 100:2.
Help almal om met vreugde te dien
8. Wat is ’n paar maniere waarop ouer manne hulle broers kan help om Jehovah met vreugde te dien?
8 Ouer manne, hoe kan julle julle broers help om met vreugde te dien? Julle kan hulle deur julle voorbeeld aanspoor (1 Petrus 5:3). Laat julle ywer en vreugde in die bediening duidelik wees, en dit sal ander dalk aanspoor om julle voorbeeld na te volg. Prys ander vir hulle heelhartige pogings (Efesiërs 4:29). Dit help ander om te voel dat hulle nuttig en nodig is as hulle hartlik en opreg geprys word. Dit moedig die skape aan om hulle bes in God se diens te wil doen. Vermy ongunstige vergelykings (Galasiërs 6:4). Sulke vergelykings is gewoonlik meer ontmoedigend as wat dit ander motiveer om te verbeter. Daarbenewens is Jehovah se skape individue—met verskillende omstandighede en vermoëns. Spreek vertroue in jou broers uit, soos Paulus gedoen het. Die liefde “glo alles”, en daarom sal dit goed wees as ons glo dat ons broers God liefhet en hom wil behaag (1 Korintiërs 13:7). Wanneer julle ‘eer aan ander betoon’, bring julle die beste in hulle na vore (Romeine 12:10). Wees verseker dat die meeste skape hulle bes in God se diens sal doen as hulle aangemoedig en verkwik word en dat hulle vreugde uit daardie diens sal put.—Matteus 11:28-30.
9. Watter beskouing van mede- ouer manne sal elke ouer man help om met vreugde te dien?
9 As jy jouself nederig as ’n ‘medewerker’ beskou, sal dit jou help om met vreugde te dien en die unieke gawes van jou mede- ouer manne te waardeer. Elke ouer man het sy eie begaafdhede en vermoëns wat hy kan gebruik tot voordeel van die gemeente (1 Petrus 4:10). Die een is moontlik uitstekend in onderrigting. ’n Ander ouer man is dalk ’n baie goeie organiseerder. Nog een is moontlik besonder genaakbaar weens sy hartlikheid en medelye. Feit is dat geen ouer man elke gawe in dieselfde mate het nie. Beteken dit dat een ouer man beter as ’n ander is omdat hy ’n sekere gawe—sê byvoorbeeld die gawe van onderrigting—het? Hoegenaamd nie! (1 Korintiërs 4:7). Daarenteen is daar geen rede om iemand anders sy gawe te misgun of om onbevoeg te voel wanneer ’n ander ouer man weens sy vermoë geprys word nie. Onthou, jy het self ook gawes wat Jehovah in jou sien. En hy kan jou help om daardie gawes te ontwikkel en dit tot voordeel van jou broers te gebruik.—Filippense 4:13.
‘Wees gehoorsaam en wees onderdanig’
10. Waarom is dit net gepas dat ons waardering vir die “gawes in die vorm van mense” uitspreek?
10 Wanneer ons ’n geskenk, of gawe, ontvang, is dit net gepas dat ons waardering daarvoor uitspreek. “Betoon julle dankbaar”, sê Kolossense 3:15. Wat dan van die “gawes in die vorm van mense”, die kosbare gawe wat Jehovah aan ons gegee het? Ons is natuurlik veral dankbaar teenoor Jehovah, die milddadige Gewer van gawes. Maar wat dan van die “gawes in die vorm van mense”? Hoe kan ons toon dat ons hulle waardeer?
11. (a) Hoe kan ons ons waardering vir die “gawes in die vorm van mense” toon? (b) Wat beteken die uitdrukkings “wees gehoorsaam” en “wees onderdanig”?
11 Ons kan ons waardering vir die “gawes in die vorm van mense” toon deur geredelik ag te slaan op hulle Bybelse raad en besluite. Die Bybel raai ons aan: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siele as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees” (Hebreërs 13:17). Let op dat ons nie net “gehoorsaam” nie, maar ook “onderdanig” moet wees aan dié wat die leiding neem. Die Griekse woord vir “wees onderdanig” beteken letterlik “om toe te gee onder”. In ’n kommentaar oor die uitdrukkings “wees gehoorsaam” en “wees onderdanig” sê die Bybelgeleerde R. C. H. Lenski: “Iemand is gehoorsaam wanneer hy saamstem met wat daar vir hom gesê is om te doen en hy daarvan oortuig is dat dit reg en voordelig is; iemand gee toe . . . wanneer hy van mening verskil.” Wanneer ons die riglyne van dié wat die leiding neem, verstaan en daarmee saamstem, is dit dalk maklik om gehoorsaam te wees. Maar gestel ons verstaan nie die rede vir ’n sekere besluit nie?
12. Waarom moet ons onderdanig, of toegewend, wees selfs wanneer ons nie heeltemal die rede vir ’n sekere besluit verstaan nie?
12 Dít is wanneer ons dalk onderdanig, of toegewend, sal moet wees. Waarom? In die eerste plek omdat ons moet vertrou dat hierdie geestelik bekwame manne ons belange op die hart dra. Hulle weet per slot van rekening dat hulle rekenskap aan Jehovah moet gee van die skape wat aan hulle sorg toevertrou is (Jakobus 3:1). Daarbenewens sal dit goed wees as ons in gedagte hou dat ons moontlik nie al die vertroulike feite ken wat hulle tot ’n ingeligte besluit laat kom het nie.—Spreuke 18:13.
13. Wat kan ons help om onderdanig te wees wat die regterlike beslissings van die ouer manne betref?
13 Hoe kan ons onderdanig wees wanneer dit by regterlike beslissings kom? Dit kan weliswaar moeilik wees, veral as daar besluit is om iemand vir wie ons lief is—’n familielid of ’n intieme vriend—uit die gemeente te sit. Hier is dit weer eens die beste om toe te gee aan die oordeel van die “gawes in die vorm van mense”. Hulle is in staat om meer objektief as ons te wees, en hulle is moontlik bewus van meer feite. Dit is dikwels nie maklik vir hierdie broers om sulke besluite te neem nie; dit is ’n ernstige verantwoordelikheid om ‘vir Jehovah reg te spreek’ (2 Kronieke 19:6). Hulle doen alles in hulle vermoë om barmhartig te wees, want hulle hou in gedagte dat God “vergewensgesind” is (Psalm 86:5). Maar hulle moet ook die gemeente rein hou, en die Bybel beveel dat hulle onberouvolle oortreders uitsit (1 Korintiërs 5:11-13). In baie gevalle aanvaar die oortreder self die besluit. Die dissipline is dalk net wat hy nodig het om tot besinning te kom. As ons, sy geliefdes, onderdanig is wat die besluit betref, kan ons hom dalk daardeur help om by die dissipline baat te vind.—Hebreërs 12:11.
‘Betoon aan hulle meer as buitengewone agting’
14, 15. (a) Waarom verdien die ouer manne ons agting volgens 1 Tessalonisense 5:12, 13? (b) Waarom kan daar gesê word dat die ouer manne ‘hard werk onder ons’?
14 Ons kan ook ons waardering vir die “gawes in die vorm van mense” bewys deur aan hulle agting te betoon. Paulus het aan die gemeente in Tessalonika geskryf en die lede daarvan vermaan: ‘Julle moet respek hê vir dié wat hard werk onder julle en onder julle die leiding gee in die Here en julle ernstig vermaan; en hulle weens hulle werk meer as buitengewone agting te betoon in liefde’ (1 Tessalonisense 5:12, 13). “Dié wat hard werk”—beskryf dit nie die toegewyde ouer manne wat hulle onselfsugtig uitgiet ten behoewe van ons nie? Dink ’n oomblik na oor die swaar vrag wat hierdie dierbare broers dra.
15 Hulle is in baie gevalle gesinsmanne wat sekulêre werk moet doen om vir hulle gesinne te sorg (1 Timoteus 5:8). As die ouer man kinders het, het hulle hulle vader se tyd en aandag nodig. Hy moet hulle dalk met hulle skoolwerk help sowel as tyd opsy sit vir heilsame ontspanning sodat hulle van hulle jeugdige energie ontslae kan raak (Prediker 3:1, 4). Bowenal voorsien hy in die geestelike behoeftes van sy gesin deur gereeld ’n gesinsbybelstudie te hou, saam met hulle in die veldbediening te werk en hulle na Christelike vergaderinge te neem (Deuteronomium 6:4-7; Efesiërs 6:4). Ons moet nie vergeet nie dat ouer manne ook nog ander pligte het benewens hierdie verantwoordelikhede wat die meeste van ons het: om vergaderingdele voor te berei, herdersbesoeke te doen, na die geestelike welsyn van die gemeente om te sien en, wanneer nodig, regterlike sake te hanteer. Party het ekstra verantwoordelikhede in verband met kringbyeenkomste, streekbyeenkomste, Koninkryksaalkonstruksie en Hospitaalskakelkomitees. Waarlik, hierdie broers ‘werk hard’!
16. Beskryf maniere waarop ons agting vir die ouer manne kan toon.
16 Hoe kan ons aan hulle agting betoon? ’n Bybelspreuk sê: “Hoe goed is ’n woord op sy tyd!” (Spreuke 15:23; 25:11). Woorde van opregte waardering en aanmoediging kan dus vir hulle toon dat ons nie hulle harde werk as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons moet ook redelik wees in wat ons van hulle verwag. Aan die een kant moet ons die vrymoedigheid hê om hulle hulp te vra. Daar sal dalk tye wees wanneer ‘ons hart ineenkrimp van pyn’ en ons skriftuurlike aanmoediging, leiding of raad nodig het van diegene wat “bekwaam” is om God se Woord “te onderrig” (Psalm 55:4, NW; 1 Timoteus 3:2). Terselfdertyd moet ons onthou dat ’n ouer man net ’n beperkte hoeveelheid tyd aan ons kan afstaan, want hy kan nie die behoeftes van sy eie gesin of van ander in die gemeente verwaarloos nie. Aangesien ons “meegevoel” met hierdie hardwerkende broers het, sal ons nie onredelike eise aan hulle wil stel nie (1 Petrus 3:8). Laat ons eerder waardering toon vir elke bietjie tyd en aandag wat hulle redelikerwys aan ons kan afstaan.—Filippense 4:5.
17, 18. Watter opofferinge maak baie vrouens wie se mans ouer manne is, en hoe kan ons bewys dat ons nie die opofferinge van hierdie getroue susters as vanselfsprekend aanvaar nie?
17 Wat van die ouer manne se vrouens? Verdien hulle nie ook ons waardering nie? Hulle deel immers hulle mans met die gemeente. Dit vereis dikwels dat hulle opofferinge moet maak. Soms moet ouer manne in die aand na gemeentelike sake omsien—tyd wat hulle andersins met hulle gesin kon deurgebring het. In baie gemeentes maak getroue Christenvrouens gewillig sulke opofferinge sodat hulle mans vir Jehovah se skape kan sorg.—Vergelyk 2 Korintiërs 12:15.
18 Hoe kan ons bewys dat ons die opofferinge van hierdie getroue Christensusters nie as vanselfsprekend aanvaar nie? Ongetwyfeld deur nie onredelike eise aan hulle mans te stel nie. Maar ons moet ook nie die krag van eenvoudige woorde van waardering vergeet nie. Spreuke 16:24 sê: “Vriendelike woorde is soos ’n heuningkoek: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente.” Beskou ’n ondervinding. Na afloop van ’n Christelike vergadering het ’n egpaar ’n ouer man genader en gevra om met hom oor hulle tienderjarige seun te praat. Terwyl die ouer man met die egpaar gesels het, het sy vrou geduldig gewag. Ná die gesprek het die moeder na die ouer man se vrou gegaan en gesê: “Ek wil jou bedank vir die tyd wat jou man afgestaan het om my gesin te help.” Daardie eenvoudige, mooi woorde van waardering het werklik die hart van die ouer man se vrou geraak.
19. (a) Watter oogmerke vervul ouer manne as ’n groep getrou? (b) Wat moet ons almal vasbeslote wees om te doen?
19 Die voorsiening van ouer manne om vir die skape te sorg, is een van Jehovah se ‘goeie gawes’ (Jakobus 1:17). Nee, hierdie manne is nie volmaak nie; hulle maak foute, soos ons almal (1 Konings 8:46). Maar as ’n groep doen ouer manne in die gemeentes regoor die wêreld getrou wat Jehovah van hulle verwag—naamlik om die kudde reg te help, op te bou, te verenig en te beskerm. Mag elke ouer man hom voorneem om aan te hou om met teerheid vir Jehovah se skape te sorg, en sodoende bewys dat hy ’n gawe, of ’n seën, vir sy broers is. En laat ons almal vasbeslote wees om ons waardering vir die “gawes in die vorm van mense” te toon deur gehoorsaam en onderdanig aan hulle te wees en deur aan hulle agting vir hulle harde werk te betoon. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah liefdevol manne voorsien het wat as ’t ware vir sy skape sê: ‘Dit is ons werk om julle te help om God met vreugde te dien’!
Hoe sou jy antwoord?
◻ Waarom kan die gemeente tereg met ’n liggaam vergelyk word?
◻ Hoe kan ouer manne hulle broers help om Jehovah met vreugde te dien?
◻ Waarom moet ons nie net gehoorsaam nie, maar ook onderdanig wees aan dié wat die leiding neem?
◻ Op watter maniere kan ons agting vir die ouer manne betoon?
[Prent op bladsy 16]
Ouer manne, prys ander vir hulle heelhartige pogings
[Prent op bladsy 17]
Deur hulle ywerige voorbeeld in die bediening kan ouer manne hulle gesinslede en ander help om met vreugde te dien
[Prente op bladsy 18]
Ons waardeer ons hardwerkende ouer manne!