Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 8/15 bl. 18-23
  • Openbaar “elke soort goedheid”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Openbaar “elke soort goedheid”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Hou aan om goed te doen”
  • Neem ander in ag
  • ‘Wees barmhartig’
  • Vrygewig en gasvry
  • Praat die waarheid
  • Kweek goedheid aan
  • Hou aan om goedheid aan die dag te lê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Die verbasende omvang van God se goedheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • “Hoe groot is sy goedheid tog!”
    Kom nader aan Jehovah
  • Die oorvloedige goedheid van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 8/15 bl. 18-23

Openbaar “elke soort goedheid”

“Die vrug van die lig bestaan uit elke soort goedheid.”—EFESIËRS 5:9, NW.

1, 2. Watter twee groepe bestaan al sedert die ou tyd, en hoe verskil hulle situasies vandag?

NÁ DIE opstand in Eden, ongeveer sesduisend jaar gelede, en weer ná die Vloed van Noag se dag, het die mensdom verdeel in twee groepe, of organisasies: diegene wat daarna gestreef het om Jehovah te dien in die een groep en diegene wat Satan gevolg het in die ander groep. Bestaan hierdie organisasies nog? Beslis! Die profeet Jesaja het melding gemaak van hierdie twee groepe en voorspel wat hulle toestand in ons tyd sou wees: “Kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóu sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.”—Jesaja 60:1, 2.

2 Ja, die verskil tussen hierdie twee organisasies is so groot soos die verskil tussen die duisternis en die lig. En net soos ’n ligstraal ’n man sal lok wat in die donkerte verdwaal het, so het die lig van Jehovah wat in hierdie donker wêreld skyn miljoene regskapenes na God se organisasie gelok. Soos Jesaja verder gesê het: “Nasies [ander skape] sal trek na jou lig, en konings [gesalfde Koninkrykserfgename] na jou stralende opgang.”—Jesaja 60:3.

3. Op watter maniere weerspieël Christene die heerlikheid van Jehovah?

3 Hoe weerspieël Jehovah se volk die heerlikheid van Jehovah? In die eerste plek verkondig hulle die goeie nuus van God se opgerigte, hemelse Koninkryk (Markus 13:10, NW). Maar hulle volg ook Jehovah, die vernaamste voorbeeld van goedheid, na en lok derhalwe deur hulle gedrag sagmoediges na die lig (Efesiërs 5:1). Paulus het gesê: “Vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in verband met die Here. Hou aan om as kinders van die lig te wandel.” Hy het verder gesê: “Die vrug van die lig bestaan uit elke soort goedheid en regverdigheid en waarheid. Hou aan om julle te vergewis van wat die Here welgevallig is, en moenie meer saam met hulle deel hê aan die onvrugbare werke wat tot die duisternis behoort nie” (Efesiërs 5:8-11, NW). Wat het Paulus bedoel met “elke soort goedheid”?

4. Wat is goedheid, en hoe word dit in ’n Christen gesien?

4 Soos ons vorige artikel getoon het, is goedheid die eienskap of toestand van sedelike voortreflikheid, deugsaamheid. Jesus het gesê dat net Jehovah volkome goed is (Markus 10:18). ’n Christen kan Jehovah nietemin navolg deur goedheid, wat ’n vrug van die gees is, aan te kweek (Galasiërs 5:22, NW). Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words lewer kommentaar oor a·ga·thosʹ, die Griekse woord vir “goed”, en sê: “[Dit] beskryf dít wat nuttige resultate meebring, omdat die aard of samestelling daarvan goed is.” ’n Christen wat goedheid aankweek, sal derhalwe goed wees en goed doen. (Vergelyk Deuteronomium 12:28.) Hy sal ook dinge vermy wat in stryd met goedheid is, dit wil sê, “die onvrugbare werke wat tot die duisternis behoort”. Die verskillende maniere waarop ’n Christen goedheid in sy gedrag kan openbaar, is die ‘soorte goedheid’ waarna Paulus verwys het. Wat is party hiervan?

“Hou aan om goed te doen”

5. Wat is een soort goedheid, en waarom moet ’n Christen dit aankweek?

5 Paulus het van een soort goedheid in sy brief aan die Romeine gepraat. Hy het onderwerping aan “die hoër owerhede” bespreek en gesê: “Wil jy dan geen vrees vir die owerheid hê nie? Hou aan om goed te doen, en jy sal lof van hom hê.” Die “goed” waarvan hy praat, is gehoorsaamheid aan die wette en reëlings van sekulêre owerhede. Waarom moet ’n Christen aan hulle onderworpe wees? Om onnodige konflik met die owerhede te vermy, wat straf tot gevolg sal hê en—nog belangriker—om ’n rein gewete voor God te behou (Romeine 13:1-7, vgl. NW). Hoewel ’n Christen allereers aan Jehovah gehoorsaam is, ‘eer hy die koning’ deur nie in opstand te kom teen owerhede wat deur Jehovah God toegelaat word om te bestaan nie (1 Petrus 2:13-17). Op hierdie manier is Christene goeie bure, goeie burgers en goeie voorbeelde.

Neem ander in ag

6. (a) Wat is ’n ander aspek van goedheid? (b) Aan wie moet ons volgens die Bybel agting betoon?

6 Jehovah openbaar sy goedheid deur vir al die bewoners van die aarde ‘van die hemel reën en vrugbare tye’ te gee. Dit bring mee dat ons ‘met voedsel en vrolikheid vervul’ word en toon dat hy ’n God is wat ander waarlik in ag neem (Handelinge 14:17). Ons kan hom in hierdie opsig navolg deur ander in klein en groot dinge in ag te neem. Wie kan ons veral in ag neem? Paulus maak spesifiek melding van die ouere manne, “die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan”. Hy maan Christene om hulle “in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk” te betoon (1 Thessalonicense 5:12, 13). Hoe kan ons dit doen? Deur hulle ons volle samewerking te gee—Soos om byvoorbeeld te help met noodsaaklike werk in die Koninkryksaal. Hoewel ons altyd die vrymoedigheid moet hê om die ouere manne om hulp te nader wanneer dit nodig is, moet ons nie onredelike eise stel nie. Ons probeer eerder om die las van hierdie hardwerkende herders op alle moontlike maniere ligter te maak, aangesien baie van hulle, benewens hulle gemeentelike pligte, ook gesinsverantwoordelikhede het.

7. Op watter maniere kan ons bejaardes in ag neem?

7 Ons moet bejaardes ook in ag neem. ’n Spesifieke gebod van die Mosaïese Wet was: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die HERE” (Levitikus 19:32). Hoe kan ons hulle in ag neem? Jonger mense kan aanbied om hulle met hulle inkopies of ander takies te help. Die ouere manne kan bejaardes in ag neem deur uit te vind of enigeen hulp nodig het om by die vergaderinge te kom. By byeenkomste moet jong, energieke mense dit vermy om aan bejaardes wat stadiger beweeg te stamp in ’n ongeduldige poging om by hulle verby te kom, en hulle sal geduldig wees as dit ’n bejaarde lank neem om te gaan sit of voedsel te kry.

8. Hoe kan ons ’n ander verdienstelike groep wat in die Bybel uitgesonder word, in ag neem?

8 Die psalmis meld ’n ander groep wat ons in ag moet neem: “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme” (Psalm 41:2). Dit is dalk maklik om ’n vername of ’n ryk persoon in ag te neem, maar wat van die geringes of die armes? Die Bybelskrywer Jakobus het aangedui dat dit ’n toets van ons regverdigheid en Christelike liefde is om hulle met net soveel agting te bejeën. Mag ons hierdie toets slaag deur bedagsaam te wees teenoor almal ongeag wat hulle omstandighede is.—Filippense 2:3, 4; Jakobus 2:2-4, 8, 9.

‘Wees barmhartig’

9, 10. Waarom moet Christene barmhartig wees, en hoe kan hierdie soort goedheid aan ander bewys word?

9 ’n Ander soort goedheid kan gesien word in party van Jesus se gelykenisse. In een van hulle het Jesus vertel van ’n Samaritaan wat op ’n man afgekom het wat beroof en kwaai geslaan is en op die pad laat lê is. ’n Leviet en ’n priester het by die beseerde man verbygeloop en geweier om hom te help. Maar die Samaritaan het gestop en hom gehelp en meer gedoen as wat redelikerwys van hom verwag sou word. Die verhaal word dikwels in Engels die gelykenis van die Goeie Samaritaan genoem. Watter soort goedheid het die Samaritaan geopenbaar? Barmhartigheid. Toe Jesus sy luisteraar gevra het watter een bewys het dat hy die naaste van die gewonde man was, is daar tereg geantwoord: “Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het.”—Lukas 10:37.

10 Barmhartige Christene volg Jehovah na, van wie Moses aan die Israeliete gesê het: “Die HERE jou God is ’n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie” (Deuteronomium 4:31). Jesus het getoon hoe God se barmhartigheid ons behoort te raak: “Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is” (Lukas 6:36). Hoe kan ons barmhartigheid betoon? Soos Jesus se gelykenis getoon het, is een manier om bereid te wees om ons medemens te help, selfs as dit gevaar of ongerief inhou. ’n Goeie mens sal nie sy broer se lyding ignoreer as hy in ’n posisie is om iets daaromtrent te doen nie.—Jakobus 2:15, 16.

11, 12. Wat beteken barmhartigheid ook volgens Jesus se gelykenis van die diensknegte, en hoe kan ons dit vandag openbaar?

11 ’n Ander gelykenis van Jesus het getoon dat barmhartige goedheid ook beteken dat ons bereid moet wees om ander te vergewe. Hy het vertel van ’n dienskneg wat sy heer tienduisend talente geskuld het. Omdat hy dit nie kon betaal nie, het die dienskneg om barmhartigheid gesmeek, en sy heer het hom daardie skuld van 60 000 000 denarii goedhartig vergewe. Maar die dienskneg het weggegaan en ’n ander dienskneg gevind wat hom net honderd denarii geskuld het. Die dienskneg wat vergifnis ontvang het, het die skuldenaar geen barmhartigheid betoon nie en hom in die gevangenis gegooi totdat hy kon betaal. Dit is duidelik dat die onbarmhartige dienskneg nie ’n goeie man was nie, en toe die heer hoor wat gebeur het, het hy met hom afgereken.—Mattheüs 18:23-35.

12 Ons is in ’n soortgelyke situasie as daardie dienskneg wat vergifnis ontvang het. Op grond van Jesus se offerande het Jehovah ons ’n groot sondeskuld vergewe. Ons moet dan sekerlik bereid wees om ander te vergewe. Jesus het gesê ons moet bereid wees om “tot sewe-en-sewentig maal toe” te vergewe, dit wil sê, daar is geen perke nie (Mattheüs 5:7; 6:12, 14, 15; 18:21, 22, vgl. NW). ’n Barmhartige Christen sal derhalwe nie ’n wrok koester nie. Hy sal nie haatdraend wees of weier om met ’n mede-Christen te praat vanweë kwade gevoelens nie. So ’n gebrek aan barmhartigheid is nie ’n kenmerk van Christelike goedheid nie.

Vrygewig en gasvry

13. Wat sluit goedheid nog in?

13 Goedheid word ook geopenbaar deur vrygewigheid en gasvryheid. By een geleentheid het ’n jong man na Jesus gekom vir raad. Hy het gesê: “Goeie meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” Jesus het vir hom gesê dat hy God se gebooie altyd moet onderhou. Ja, gehoorsaamheid aan Jehovah se bevele is ’n aspek van goedheid. Die jong man het gedink dat hy dit reeds so goed moontlik gedoen het. Dit was duidelik dat sy naaste hom as ’n goeie mens beskou het; tog het hy gemeen dat hy iets kortkom. Jesus het dus gesê: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My” (Mattheüs 19:16-22). Die jong man het bedroef weggegaan. Hy was baie ryk. As hy Jesus se raad gevolg het, sou hy getoon het dat hy nie materialisties is nie. En hy sou ’n goeie daad van waarlik onselfsugtige vrygewigheid gedoen het.

14. Watter goeie raad het Jehovah sowel as Jesus oor vrygewigheid gegee?

14 Jehovah het die Israeliete aangemoedig om vrygewig te wees. Ons lees byvoorbeeld: “Jy moet aan [jou armoedige naaste] gewillig gee, en jou hart moet nie bedroef wees as jy aan hom gee nie; want ter wille hiervan sal die HERE jou God jou seën in al jou werk en in alles waar jy jou hand aan slaan” (Deuteronomium 15:10; Spreuke 11:25, NW). Jesus Christus het persoonlik vrygewigheid aangemoedig: “Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee” (Lukas 6:38). Daarbenewens was Jesus self baie vrygewig. By een geleentheid het hy tyd ingeruim om ’n bietjie te rus. Skares het uitgevind waar hy was en na hom toe gekom. Jesus het ruimhartig sy rus verbeur en hard gewerk ten behoewe van die skare. Later het hy buitengewone gasvryheid betoon deur kos aan daardie groot skare te voorsien.—Markus 6:30-44.

15. Hoe het Jesus se dissipels ’n uitstekende voorbeeld gestel in die betoning van vrygewigheid?

15 Baie van Jesus se dissipels was gehoorsaam aan die raad van Jehovah en van Jesus, en hulle was besonder vrygewig en gasvry. Toe die Christengemeente nog in sy kinderskoene gestaan het, het ’n groot aantal van diegene wat gekom het om Pinkster in 33 G.J. te vier die prediking van die apostels gehoor en gelowiges geword. Hulle het ná die fees aangebly om meer te leer en hulle lewensmiddele het min geraak. Plaaslike gelowiges het gevolglik hulle eiendom verkoop en die geld bygedra om hulle nuwe broers te help sodat hulle beter in die geloof gevestig kon raak. Watter vrygewigheid!—Handelinge 4:32-35; sien ook Handelinge 16:15; Romeine 15:26.

16. Noem ’n paar van die maniere waarop ons vandag gasvry en vrygewig kan wees.

16 Vandag word ’n soortgelyke Christelike vrygewigheid gesien wanneer Christene tyd en geld afstaan aan hulle plaaslike gemeentes en aan die wêreldwye predikingswerk. Dit kan gesien word wanneer hulle broers te hulp snel wat weens natuurrampe of oorlog swaarkry. Dit word weerspieël wanneer daar na die kringopsiener omgesien word tydens sy gereelde besoek. Of wanneer “vaderlose seuns” (en vaderlose meisies) gulhartig genooi word om saam met ander Christengesinne aan ontspanning en gesinsbybelstudies deel te neem, is dit ook gasvryheid, ’n blyk van Christelike goedheid.—Psalm 68:5, NW.

Praat die waarheid

17. Waarom is waarheidliewendheid vandag ’n uitdaging?

17 Toe Paulus die vrug van die lig beskryf het, het hy goedheid met regverdigheid en waarheid geassosieer, en dit sal korrek wees om te sê dat waarheidliewendheid nog ’n soort goedheid is. Goeie mense vertel nie leuens nie. Dit is nietemin vandag—wanneer leuens so algemeen voorkom—’n besondere uitdaging om die waarheid te vertel. Baie mense vertel leuens wanneer hulle hulle belastingopgawe invul. Werknemers vertel leuens oor die werk wat hulle doen. Studente kul in hulle lesse en eksamens. Sakemanne vertel leuens wanneer hulle transaksies aangaan. Kinders vertel leuens om straf vry te spring. Kwaadwillige skinderaars skend ander se reputasie deur leuens.

18. Hoe beskou Jehovah leuenaars?

18 Leuens is vir Jehovah verfoeilik. Een van die ‘sewe dinge’ wat hy haat, is “’n leuenagtige tong” en “een wat as valse getuie leuens uitstrooi” (Spreuke 6:16-19). “Al die leuenaars” word gemeld saam met die vreesagtiges, die moordenaars en die hoereerders, wat geen deel in God se nuwe wêreld sal hê nie (Openbaring 21:8). Daarbenewens deel die spreuk ons mee: “Wie in sy opregtheid wandel, vrees die HERE; maar hy wat verkeerd is in sy weë, verag Hom” (Spreuke 14:2). ’n Leuenaar se weë is verkeerd. Gevolglik lewer ’n leuenaar bewys dat hy Jehovah verag. Wat ’n verskriklike gedagte! Laat ons altyd die waarheid vertel, selfs as dit tot gevolg het dat ons getugtig word of finansieel skade ly (Spreuke 16:6, vgl. NW; Efesiërs 4:25). Diegene wat die waarheid vertel, volg Jehovah, “die God van waarheid”, na.—Psalm 31:5, NW.

Kweek goedheid aan

19. Wat word soms in die wêreld gesien wat die Skepper tot eer strek?

19 Dit is net ’n paar van die ‘soorte’ goedheid wat ’n Christen moet aankweek. Dit is waar dat mense in die wêreld in ’n mate goedheid openbaar. Party is byvoorbeeld gasvry en ander is barmhartig. Trouens, die gelykenis van die Goeie Samaritaan was so merkwaardig omdat Jesus vertel het van ’n nie-Joodse man wat barmhartigheid getoon het toe ouere manne in die Joodse gemeente dit nie gedoen het nie. Dit strek inderdaad die mens se Skepper tot eer dat sulke eienskappe nog van nature in sommige mense voorkom, selfs ná sesduisend jaar van onvolmaaktheid.

20, 21. (a) Waarom verskil Christelike goedheid van enige goedheid wat ons dalk in mense in die wêreld sien? (b) Hoe kan ’n Christen goedheid aankweek, en waarom moet ons gretig wees om dit te doen?

20 Nogtans is goedheid vir Christene meer as net ’n eienskap wat hulle dalk het of nie het nie. Dit is ’n eienskap wat hulle in al sy aspekte moet aankweek, aangesien hulle navolgers van God moet wees. Hoe is dit moontlik? Die Bybel deel ons mee dat ons goedheid kan leer. “Leer my goedheid”, het die psalmis tot God gebid. Hoe? Hy het verder gesê: “Want in u gebooie het ek geloof beoefen.” Hy het bygevoeg: “U is goed en doen goed. Leer my u voorskrifte.”—Psalm 119:66, 68, NW.

21 Ja, as ons Jehovah se gebooie leer en aan hulle gehoorsaam is, sal ons goedheid aankweek. Onthou altyd dat goedheid ’n vrug van die gees is. As ons na Jehovah se gees soek deur gebed, assosiasie met ons Christenbroers en deur Bybelstudie sal ons gewis gehelp word om hierdie eienskap aan te kweek. Daarbenewens het goedheid krag. Dit kan die kwaad oorwin (Romeine 12:21). Hoe noodsaaklik is dit dan dat ons aan almal, veral aan ons Christenbroers, goed doen (Galasiërs 6:10). As ons dit doen, sal ons onder diegene tel wat die “heerlikheid, eer en vrede” geniet wat belowe word aan “elkeen wat goed doen”.—Romeine 2:6-11.

Wat is jou antwoord?

◻ Hoe kan ons aanhou om goed te doen ten opsigte van die hoër owerhede?

◻ Watter verdienstelike groep moet ons onder andere in ag neem?

◻ Op watter maniere word barmhartigheid geopenbaar?

◻ Watter dade van vrygewigheid en gasvryheid is vandag kenmerkend van Christene?

◻ Hoe kan goedheid aangekweek word?

[Prent op bladsy 20]

Om ander in ag te neem, is ’n aspek van goedheid

[Prent op bladsy 23]

Jesus het hom as die Groot Onderwyser ruimhartig ten behoewe van ander ingespan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel