Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/09 bl. 6-9
  • Hulp van ‘die God van vertroosting’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulp van ‘die God van vertroosting’
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Depressie—vir ewig iets van die verlede!
  • Vertroosting vir dié wat aan depressie ly
    Vertroosting vir dié wat aan depressie ly
  • Kan die Bybel my help as ek terneergedruk is?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wen die stryd teen depressie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Help terneergedruktes om hul vreugde te herwin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 7/09 bl. 6-9

Hulp van ‘die God van vertroosting’

KONING DAWID was ’n man wat groot angs ervaar het en baie “verontrustende gedagtes” gehad het. Tog het hy nooit getwyfel dat die Skepper ons in elke opsig verstaan nie. “O Jehovah, u het my deurvors, en u ken my”, het hy geskryf. “U het my sit en my opstaan te wete gekom. U het van ver af op my gedagte gelet. Want daar is nog geen woord op my tong nie, maar kyk! o Jehovah, u weet dit reeds alles.”—Psalm 139:1, 2, 4, 23.

Ons kan ook seker wees dat ons Skepper ons verstaan, asook die verlammende uitwerking wat depressie op ons onvolmaakte verstand en liggaam kan hê. Hy weet wat depressie veroorsaak en wat die beste manier is waarop ons dit onder huidige omstandighede die hoof kan bied. Daarbenewens het hy getoon hoe hy depressie vir ewig gaan genees. Daar is niemand beter om ons te help nie as ons medelydende “God, wat diegene wat depressief is, vertroos en bemoedig en verkwik en opbeur”.—2 Korintiërs 7:6, The Amplified Bible.

Maar depressielyers wonder dalk hoe God hulle kan help wanneer hulle ontstellende emosies ervaar.

Is God toeganklik vir diegene wat depressief is?

God is so na aan sy depressiewe knegte dat hy as ’t ware woon by die “verbryselde en nederige van gees, om die gees van die nederiges te laat herlewe en om die hart van die verbryseldes te laat herlewe” (Jesaja 57:15). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat “Jehovah . . . naby die gebrokenes van hart [is]; en die verbryseldes van gees red”!—Psalm 34:18.

Hoe kan depressielyers by God vertroosting vind?

God se aanbidders kan die “Hoorder van die gebed” enige tyd van die dag nader, en hy kan ons help om ontstellende gevoelens en omstandighede die hoof te bied (Psalm 65:2). Die Bybel spoor ons aan om ons hart voor hom uit te stort: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”—Filippense 4:6, 7.

Sê nou gevoelens van onwaardigheid laat ons dink dat ons gebede nie gehoor word nie?

Depressie kan ons tot die gevolgtrekking laat kom dat ons pogings om God te behaag, onvoldoende is. Ons hemelse Vader is egter bewus van ons brose emosies en is “gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:14). Selfs as “ons hart ons veroordeel”, kan ons “ons hart oorreed” dat “God . . . groter [is] as ons hart en [alles] weet” (1 Johannes 3:19, 20, voetnoot in NW). Jy kan dus in jou gebede uitdrukkings gebruik wat jy in Bybelgedeeltes soos Psalm 9:9, 10; 10:12, 14, 17 en 25:17 kan vind.

Sê nou ons is te ontsteld om ons gevoelens in woorde uit te druk?

Moenie moed verloor wanneer pynlike emosies jou so oorweldig dat dit moeilik is om jou rasioneel uit te druk nie! Hou aan om “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting” te nader in die wete dat hy jou gevoelens en behoeftes verstaan (2 Korintiërs 1:3). Maria, wat vroeër in hierdie reeks gemeld is, sê: “Soms, wanneer ek baie verward voel, weet ek nie waaroor om te bid nie. Maar ek weet dat God my verstaan en my help.”

Hoe verhoor God ons gebede?

Die Bybel gee nie te kenne dat God al ons probleme nou wegneem nie. Maar God gee ons wel die krag om “alles”—ook depressie—te verduur (Filippense 4:13). “Toe ek aan depressie begin ly het”, erken Martina, “het ek Jehovah in gebed gevra om my onmiddellik gesond te maak omdat ek gedink het dat ek dit nie langer sou kon verduur nie. Nou is ek tevrede om elke dag vir krag te bid.”

Die Skrif is ’n onontbeerlike bron van geestelike krag om geteisterdes te help om depressie te verduur. Sarah, wat al 35 jaar lank ’n stryd teen depressie voer, het die praktiese waarde van daaglikse Bybellees persoonlik ondervind. Sy vertel: “Ek waardeer werklik wat dokters vir my gedoen het. Maar bowenal besef ek die geestelike en praktiese waarde daarvan om God se Woord te lees. Ek het ’n gewoonte daarvan gemaak om dit te lees.”

Depressie—vir ewig iets van die verlede!

Toe Jesus Christus op aarde was, het hy sy godgegewe krag om pynlike siektes te genees, geopenbaar. Jesus wou graag verligting bring aan mense wat aan ernstige siektes gely het. Wat meer is, hy weet self hoe pynlik ontstellende emosies is. Die nag voordat hy ’n pynlike dood sou sterf, het “Christus smekinge en ook bedes met sterk uitroepe en trane aan die Een opgedra wat hom uit die dood kon red” (Hebreërs 5:7). Al was dit vir Jesus destyds baie moeilik, vind ons nou daarby baat omdat “hy dié wat op die proef gestel word, te hulp [kan] kom”.—Hebreërs 2:18; 1 Johannes 2:1, 2.

Die Bybel openbaar dat dit God se voorneme is om al die angswekkende toestande te verwyder wat tot depressie bydra. Hy belowe: “Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde; en die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie. Maar verheug julle en wees vir ewig bly oor wat ek skep” (Jesaja 65:17, 18). Die “nuwe hemele”, God se Koninkryk, sal die “nuwe aarde”, ’n regverdige mensegemeenskap op aarde, tot volmaakte fisiese, emosionele en geestelike gesondheid herstel. Alle siektes sal vir ewig uit die weg geruim word.

“Ek het u naam uitgeroep, o Jehovah, uit die onderste kuil. U moet my stem hoor. Moenie u oor verberg vir my verligting, vir my hulpgeroep nie. U het nader gekom op die dag dat ek u bly aanroep het. U het gesê: ‘Moenie bang wees nie.’”​—Klaagliedere 3:55-57

‘PRAAT VERTROOSTEND MET DIE TERNEERGEDRUKTES’

[Prent op bladsy 7]

Wanneer Barbara se depressie en gevoelens van waardeloosheid te veel vir haar word, bel sy en haar man vir Gerard, ’n vriend van die gesin wat ’n Christenopsiener is. Hy luister altyd geduldig terwyl Barbara onbeheerbaar huil en dieselfde pynlike gedagtes herhaal waaroor sy al vantevore gepraat het.

Gerard het geleer om te luister sonder om haar te veroordeel, met haar te stry of haar tereg te wys (Jakobus 1:19). Hy het geleer om die Bybel se raad toe te pas om ‘vertroostend met die terneergedruktes te praat’ (1 Tessalonisense 5:14). Hy verseker Barbara geduldig dat sy vir Jehovah God, haar familie en haar vriende baie kosbaar is. Gewoonlik lees hy een of twee vertroostende Skrifgedeeltes, al het hy dit al vantevore vir haar gelees. Dan bied hy elke keer aan om saam met haar en haar man oor die telefoon te bid, iets wat hulle altyd baie vertroostend vind.—Jakobus 5:14, 15.

Gerard is terdeë bewus daarvan dat hy nie ’n opgeleide dokter is nie, en hy probeer nooit om die rol van Barbara se dokters oor te neem nie. Hy vul egter wel haar mediese behandeling aan met iets wat min dokters bied—vertroostende tekste en gebede.

Om ‘vertroostend met die terneergedruktes te praat’

Jy kan sê: “Ek wou jou net laat weet dat ek aan jou dink. Ek weet jy voel nie altyd baie goed nie. Hoe gaan dit deesdae?”

Onthou: Wees opreg en luister met empatie, selfs as die depressiewe persoon dieselfde dinge sê wat hy of sy al vantevore gesê het.

Jy kan sê: “Ek is verbaas oor hoeveel jy kan doen (of “Ek is beïndruk met die Christelike eienskappe wat jy aan die dag lê”) ten spyte van jou gesondheidsprobleme. Selfs al wens jy jy kon meer doen, Jehovah is lief vir jou en waardeer jou, en ons ook.”

Onthou: Toon medelye en wees liefdevol.

Jy kan sê: “Ek het op hierdie bemoedigende teks afgekom.” Of “Ek het aan jou gedink toe ek weer een van my gunsteling-Bybelverse gelees het.” Lees dan die vers of haal dit aan.

Onthou: Vermy ’n prekerige stemtoon.

Vertroosting uit die Skrif

Lorraine word versterk deur Jehovah se belofte in Jesaja 41:10: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.”

Álvaro sê dat die woorde van Psalm 34:4, 6 hom dikwels vertroos: “Ek het Jehovah geraadpleeg, en hy het my geantwoord, en uit al my verskrikkinge het hy my verlos. Hierdie geteisterde het geroep, en Jehovah het gehoor. En uit al sy benoudhede het Hy hom gered.”

Naoja sê dat dit hom altyd vertroos om Psalm 40:1, 2 te lees: “Ek het vurig gehoop op Jehovah, en daarom het hy sy oor tot my geneig en my hulpgeroep gehoor. . . . Hy het my voetstappe stewig gevestig.”

Psalm 147:3 verseker Naoko altyd dat Jehovah ‘die gebrokenes van hart genees, en hulle pynlike plekke verbind’.

Jesus se woorde in Lukas 12:6, 7 help Eliz om op Jehovah se sorg te vertrou: “Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie? Tog word nie een van hulle voor God vergeet nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie vrees nie; julle is meer werd as baie mossies.”

Ander Bybelverse:

  • Psalm 39:12: “Hoor tog my gebed, o Jehovah, en luister tog na my hulpgeroep. Moenie stilbly by my trane nie.”

  • 2 Korintiërs 7:6: God “vertroos dié wat depressief is”.—“New American Standard Bible”.

  • 1 Petrus 5:7: “[Werp] al julle sorge op [God], want hy sorg vir julle.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel