Help terneergedruktes om hul vreugde te herwin
EPAFRODITUS, ’n eerste-eeuse Christendissipel, was terneergedruk. Hy is gestuur om na die behoeftes van die apostel Paulus, wat in die gevangenis was, om te sien, maar het ernstig siek geword. Hoewel Epafroditus herstel het, was hy terneergedruk omdat sy tuisgemeente, wat hom na Rome gestuur het, “gehoor het dat hy siek was” (Filippense 2:25, 26). Hy wou hulle gerusstel, maar omdat hy so ver weg was, het dit hom terneergedruk gemaak. Hy het waarskynlik ook gedink dat hulle hom as ’n mislukkeling beskou het. Hoe kon hy gehelp word om sy vreugde te herwin?
Epafroditus is met ’n brief van die apostel Paulus na sy tuiste in Filippi teruggestuur. Daarin het Paulus opdrag aan die gemeente gegee: “Ontvang hom dan in die Here met alle blydskap en hou sulke manne in eer [‘ag hulle dierbaar’, NW]” (Filippense 2:27-30). Christene in Filippi is aangemoedig om Epafroditus op ’n liefdevolle wyse te ontvang, ’n wyse wat sou pas by die broederskap wat die Christengemeente kenmerk. Hulle vertroostende woorde sou aan hom toon dat hy baie bemind is, ja, ‘dierbaar geag word’. Hierdie blymoedige sorgsaamheid sou baie help om sy terneergedruktheid te verlig.
Hierdie voorbeeld toon dat hoewel die meeste Christene hulle ‘in die Here verbly’, sommige onder hulle aan verskeie vorme van terneergedruktheid ly (Filippense 4:4). Kwaai depressie is ’n ernstige emosionele siekte wat al tot selfmoord gelei het. Chemiese reaksies in die brein en ander fisiese faktore is met tye daarby betrokke. Nogtans kan depressie dikwels deur oordeelkundige hulp van ander verlig word. Paulus het dus vermaan: “Spreek bemoedigend tot die terneergedrukte siele” (1 Thessalonicense 5:14, NW). Gemeentes van Jehovah se Getuies behoort dus blymoedig emosionele ondersteuning aan terneergedruktes te verleen. Hierdie verantwoordelikheid is al in 1903 deur die hedendaagse Christenorganisasie besef, want The Watch Tower het destyds van terneergedruktes, of flouhartiges, gesê: “Flouhartiges en swakkes sal hulp, ondersteuning en aanmoediging nodig hê.” Maar hoe kan jy terneergedruktes help?
Eerstens kan jy die terneergedrukte moontlik help om die “bekommernis” in sy hart te onthul as jy “medelydend” is. Daarna kan jou “vriendelike woord” hom dalk help om op te vrolik (1 Petrus 3:8; Spreuke 12:25). Dit kan groot verligting bring as jy hom net vryelik laat praat en hom jou besorgdheid laat aanvoel. “Ek het ’n paar vriende gehad aan wie ek werklik my hart kon uitstort”, het Mary, ’n ongetroude Christin wat met depressie gesukkel het, verduidelik. “Ek het iemand nodig gehad wat kon luister.” Dit kan baie beteken om iemand te hê met wie jy jou diepste gedagtes oor die beproewinge van die lewe kan deel.
Meer is egter nodig as om net te luister en oppervlakkige raad te gee, soos: “Hou die blink kant bo” of “Wees net positief”. Sulke opmerkings kan ’n gebrek aan empatie verraai en heeltemal onvanpas wees wanneer ’n ander terneergedruk is, net soos Spreuke 25:20 aandui deur te sê: “Soos een wat ’n kleed uittrek op ’n koue dag, . . . so is een wat ’n bedroefde hart met liedere verwelkom.” Optimistiese maar onrealistiese aanmerkings kan die terneergedrukte persoon selfs meer verontrus laat voel. Waarom? Omdat sulke pogings nie tot die oorsake van sy terneergedruktheid deurdring nie.
Versterk met woorde
Iemand wat ernstig terneergedruk is, voel nie net hartseer nie, maar moontlik ook nutteloos en wanhopig. Die Griekse woord wat met “terneergedrukte siele” vertaal word, beteken letterlik “mense met min siel”. Een Griekse geleerde definieer die woord as volg: “Een wat onder soveel moeilikheid gebuk gaan dat sy moed hom begewe.” Hy het dus geen emosionele krag oor nie en sy gevoel van eiewaarde het ’n knou gekry.—Vergelyk Spreuke 17:22.
Die aartsvader Job het gesê: “Ek sou julle kon versterk met my mond” (Job 16:5). Die Hebreeuse woord vir “versterk” word gebruik om te beskryf hoe die tempel deur boureparasies ‘sterk gemaak’ is (Jesaja 41:10; Nahum 2:1; 2 Kronieke 24:13, NW). Jou woorde moet die terneergedrukte se gevoel van eiewaarde vaardig, as ’t ware steen vir steen, herbou. Om dit te doen, moet jy ’n beroep op sy “denkvermoëns” doen (Romeine 12:1, NW). Die 1903-nommer van The Watch Tower wat vroeër aangehaal is, het aangaande terneergedruktes gesê: “Weens hulle lae . . . gevoel van eiewaarde moet hulle ’n bietjie op die voorgrond gestoot word om hulle ware talente na vore te bring; vir hulle eie aanmoediging en tot seën van die hele huishouding van die geloof.”
Die Bybelse voorbeeld van Elkana en sy terneergedrukte vrou, Hanna, lig toe hoe jy, soos Job, ander met woorde kan versterk. Elkana het twee vrouens gehad. Een van hulle, Peninna, het ’n paar kinders gehad, maar Hanna was onvrugbaar. Hanna het haarself waarskynlik as nutteloos beskou. (Vergelyk Genesis 30:1.) Asof hierdie las nie swaar genoeg was nie, het Peninna haar geterg totdat sy begin huil het en haar aptyt verloor het. Hoewel Elkana nie geweet het dat sy so ontsteld was nie, het hy, toe hy haar toestand sien, gevra: “Hanna, waarom ween jy? en waarom eet jy nie? en waarom is jou hart bedroef?”—1 Samuel 1:1-8.
Elkana se liefdevolle vrae was nie beskuldigend nie en het Hanna die geleentheid gegee om haar gevoelens in woorde uit te druk. Of sy geantwoord het of nie, sy is gehelp om te ontleed waarom sy waarskynlik nutteloos gevoel het. Net so kan ’n terneergedrukte ook sê: ‘Ek is net ’n slegte mens.’ Jy kan moontlik vra: ‘Waarom voel jy so?’ Luister dan aandagtig terwyl hy sy hart aan jou uitstort.—Vergelyk Spreuke 20:5.
Elkana het Hanna toe hierdie baie bemoedigende vraag gevra: “Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie?” Hanna is herinner aan hoe lief hy haar ten spyte van haar onvrugbaarheid het. Hy het haar as kosbaar beskou, en sy kon dus tot dié slotsom kom: ‘Wel, ek is tog nie so nutteloos nie. Ek het regtig my man se innige liefde!’ Sy woorde het Hanna versterk, want sy het begin eet en na die tempel gegaan.—1 Samuel 1:8, 9.
Elkana was spesifiek en het sy vrou se aandag gevestig op ’n geldige rede om beter oor haarself te voel. Diegene wat terneergedruktes wil help, moet dus soortgelyk te werk gaan. ’n Christin genaamd Naomi het byvoorbeeld die volgende gesê oor wat haar gehelp het om haar vreugde te herwin: “Sommige gemeentelede het die manier geprys waarop ek my seun grootgemaak het, die manier waarop ek huisgehou het en selfs die manier waarop ek myself, ten spyte van my depressie, versorg het. Hierdie aanmoediging het soveel beteken!” Ja, verdiende lof help ’n terneergedrukte om sy of haar goeie eienskappe raak te sien en om hom- of haarself na regte waarde te skat.
Waarom probeer jy nie om jou vrou in ooreenstemming met die woorde van Spreuke 31:28, 29 op te bou as sy terneergedruk is nie? Daar lees ons: “Haar man . . . prys haar: Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal.” Maar dalk aanvaar ’n terneergedrukte vrou nie so ’n skatting van haar waarde nie, want sy voel miskien ’n mislukking omdat sy nie so goed na huishoudelike take kan omsien as wat sy dink sy moet nie. Maar jy kan haar dalk oortuig dat jou lof nie net leë vleitaal is nie deur haar te herinner aan die vrou wat sy innerlik is en aan hoe sy was voordat sy terneergedruk geword het. Jy kan moontlik ook erken dat dít wat sy nou doen uiterste inspanning verg. Jy kan sê: ‘Ek weet wat dit jou gekos het om dit te doen. Hoe prysenswaardig is dit tog van jou om soveel moeite te doen!’ Dit is noodsaaklik om die goedkeuring te ontvang van ’n mens se huweliksmaat en kinders, diegene wat jou die beste ken, om weer ’n gevoel van eiewaarde te kan opbou.—Vergelyk 1 Korinthiërs 7:33, 34.
Bybelvoorbeelde kan gebruik word om ’n neerslagtige persoon te laat sien watter veranderinge in sy denkwyse moontlik nodig is. Dalk is iemand byvoorbeeld te sensitief oor ander se beskouings. Jy kan die voorbeeld van Epafroditus bespreek en vra: ‘Waarom dink jy het hy neerslagtig geword toe hy uitgevind het dat sy tuisgemeente van sy siekte gehoor het? Was hy werklik ’n mislukkeling? Waarom het Paulus gesê dat hulle hom dierbaar moet ag? Het Epafroditus se werklike waarde as persoon van sy diensvoorreg afgehang?’ Sulke vrae kan die terneergedrukte Christen help om die voorbeeld op homself toe te pas en te besef dat hy nie ’n mislukkeling is nie.
“Ondersteun die swakkes”
Die Bybel maan: “Ondersteun die swakkes” (1 Thessalonicense 5:14). Nog ’n voordeel van die ware godsdiens is die netwerk van Christenvriende wat praktiese sorg kan voorsien. Ware vriende is diegene wat ‘gebore word met die oog op die nood’, en hulle staan ’n terneergedrukte deur dik en dun by (Spreuke 17:17). Toe die apostel Paulus “neerslagtig” gevoel en ‘sorge van binne’ gehad het, is hy “deur die koms van Titus” opgebeur (2 Korinthiërs 7:5, 6, NAV). Net so sal terneergedruktes hartlike besoeke en telefoonoproepe op gepaste tye waarskynlik innig waardeer. Jy kan aanbied om praktiese hulp te verleen, soos om takies te verrig, met die huiswerk te help, ensovoorts.a ’n Christin genaamd Maria sê: “Toe ek depressief was, het ’n vriendin verskeie kere aan my geskryf en altyd aanmoedigende tekste ingesluit. Ek het die brief oor en oor gelees en gehuil terwyl ek dit gelees het. Sulke briewe was soos goud vir my.”
Nadat Paulus die gemeente aangemoedig het om “die terneergedrukte siele” te help, sê hy: “Wees lankmoedig teenoor almal. Sorg dat niemand ’n ander kwaad vir kwaad vergeld nie” (1 Thessalonicense 5:14, 15, vgl. NW). Geduld is noodsaaklik, want ’n terneergedrukte persoon se woorde kan, soos Job s’n, “onbedagsaam” wees as gevolg van sy verstandelike kwelling, negatiewe denke en uitputting weens te min slaap (Job 6:2, 3). Rachelle, ’n Christin wie se moeder ernstig depressief geraak het, het gesê: “Moeder het dikwels iets haatliks gesê. Die meeste kere het ek myself probeer herinner aan die soort persoon wat Moeder werklik is—liefdevol, vriendelik en vrygewig. Ek het uitgevind dat depressiewe mense baie dinge sê wat hulle nie bedoel nie. Die ergste wat ’n mens kan doen, is om hulle met gelyke munt vir kwaai woorde of dade te betaal.”
Sommige ryp Christinne is moontlik in ’n besonder goeie posisie om verligting te bring aan ander vroue wat emosionele lyding verduur. (Vergelyk 1 Timotheüs 5:9, 10.) Hierdie bekwame Christinne kan hulle dit ten doel stel om by gepaste geleenthede vertroostend met sulkes te praat. Soms is dit meer gepas dat ryp Christensusters eerder as broers ’n vrou verder help. Christen- ouere manne kan toesien dat die terneergedruktes die nodige sorg ontvang deur die nodige reëlings te tref en dit behoorlik te kontroleer.
Ouere manne met ’n opgeleide tong
Veral geestelike herders moet “kennis en insig” hê sodat hulle kan “weet hoe om met die vermoeide te praat om hom aan te moedig” (Jeremia 3:15, NW; Jesaja 50:4, Beck). Indien ’n ouere man egter nie versigtig is nie, kan hy, sonder dat hy dit bedoel, ’n depressiewe persoon slegter laat voel. Byvoorbeeld, Job se drie vriende het kwansuis gegaan om “hom hul deelneming te betuig en hom te troos”. Maar hulle woorde, wat gebaseer was op ’n verkeerde siening van Job se haglike toestand, het hom “verbrysel” pleks van vertroos.—Job 2:11; 8:1, 5, 6; 11:1, 13-19; 19:2.
Verskeie artikels in Wagtoringpublikasies sit rigsnoere uiteen wat gevolg kan word wanneer individue raad gegee word.b Die meeste ouere manne het sulke materiaal toegepas. Tog was daar gevalle waar onbedagsame woorde deur ouere manne—op ’n persoonlike vlak of in toesprake—groot skade aangerig het. Ouere manne moet dus nie met ‘onverskillige woorde, soos swaardsteke, spreek nie’, maar met die ‘genesende tong van die wyse’ (Spreuke 12:18). ’n Ouere man se woorde kan strelend wees as hy voor die tyd oor die moontlike uitwerking van sy opmerkings nadink. Ouere manne, wees dus gou om te luister en stadig om gevolgtrekkings te maak as julle nie oor al die besonderhede beskik nie.—Spreuke 18:13.
Wanneer ouere manne opreg belangstel in terneergedruktes, voel sulke persone dat hulle bemind is en waardeer word. Sulke onselfsugtige besorgdheid kan hierdie individue beweeg om enige ontmoedigende opmerkings oor te sien (Jakobus 3:2). Terneergedruktes word dikwels deur ’n skuldgevoel oorweldig, en ouere manne kan hulle help om ’n gebalanseerde beskouing van sake te kry. Selfs wanneer ’n ernstige sonde gepleeg is, kan die geestelike sorg wat deur die ouere manne voorsien word, help om ‘wat uit lit is, gesond te maak’.—Hebreërs 12:13.
Wanneer terneergedruktes meen dat hulle gebede kragteloos is, kan ouere manne saam met hulle en vir hulle bid. Ouere manne kan hierdie individue met strelende geestelike woorde ‘salf’ deur Bybelse artikels oor depressie saam met hulle te lees (Jakobus 5:14, 15). Ouere manne kan ’n terneergedrukte ook help om skriftuurlike stappe te doen om enige persoonlike verskille wat hy of sy met iemand het op te los indien dit ’n probleem is. (Vergelyk Mattheüs 5:23, 24; 18:15-17.) Sulke konflikte, veral dié in die gesin, is dikwels die oorsaak van terneergedruktheid.
’n Mens moet besef dat genesing tyd neem. Selfs Elkana se liefdevolle pogings het Hanna se terneergedruktheid nie dadelik verlig nie. Haar eie gebede sowel as gerusstelling deur die hoëpriester het uiteindelik verligting gebring (1 Samuel 1:12-18). Wees gevolglik geduldig as daar ’n stadige reaksie is. Natuurlik is ouere manne oor die algemeen nie dokters nie en kan hulle vind dat hulle pogings in sommige gevalle beperk is. Hulle, asook lede van die depressiewe persoon se gesin, sal hom moontlik moet aanmoedig om professionele hulp te soek. Indien dit nodig is, kan ouere manne of gesinslede dit aan ’n professionele persoon duidelik stel hoe belangrik dit is om die depressiewe persoon se godsdiensoortuigings te respekteer.
Tot God se nuwe wêreld hier is, sal niemand volmaakte fisiese, verstandelike of emosionele gesondheid geniet nie. Intussen kan ’n Christen wat sy vreugde weens depressie verloor krag kry, nie net van die Christengemeente nie, maar ook van ons hemelse Vader “wat die neerslagtiges opbeur”.—2 Korinthiërs 7:6, NAV.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Die stryd om depressie te bowe te kom—hoe ander kan help” in Ontwaak! van 8 November 1987, bladsye 12-16.
b Sien die artikels “’n Opgeleide tong—‘om die vermoeides te bemoedig’” in Die Wagtoring van 15 Augustus 1982, en “‘Geestelike woorde’ vir diegene met geesteskwellinge” in die nommer van 15 November 1988.
[Venster op bladsy 29]
HOE OM VERTROOSTEND TE SPREEK
□ LUISTER AANDAGTIG—Met oordeelkundige vrae kan jy die gevoelens in die persoon se hart “uitskep”. Wees gou om te luister en stadig om enige gevolgtrekkings te maak voordat jy oor al die besonderhede beskik.—Spreuke 20:5; 18:13.
□ TOON EMPATIE—‘Medelye’ moet met “ontferming” gekoppel word terwyl jy jou emosioneel met die terneergedrukte probeer vereenselwig. “Ween met die wat ween.”—1 Petrus 3:8; Romeine 12:15.
□ WEES LANKMOEDIG—Verskeie besprekings is dalk nodig, wees dus geduldig. Ignoreer ‘onbedagsame’ woorde wat moontlik uit die terneergedrukte se frustrasie voortspruit.—Job 6:3.
□ VERSTERK MET WOORDE—Help die depressiewe persoon om sy of haar goeie eienskappe raak te sien. Wees spesifiek as jy die persoon loof. Wys dat probleme, slegte ondervindinge in die verlede of tekortkominge nie ’n mens se persoonlike waarde bepaal nie. Verduidelik waarom God vir hom of haar lief is en omgee.—Job 16:5.