Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 12/1 bl. 21-23
  • “Dinge wat ons verwagtinge versterk”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Dinge wat ons verwagtinge versterk”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoë verwagtinge
  • ’n Nuwe tuiste vir die Gilead-Sendingskool
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Meer sendelinge vir die wêreldoes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Gileadskool—Floreer nog ná 50 jaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Gilead se 84ste klas het aan die verwagtings voldoen!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 12/1 bl. 21-23

“Dinge wat ons verwagtinge versterk”

DIT was ’n warm Sondagoggend, 10 September, toe 4 155 in die pragtige Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Jersey City, New Jersey, bymekaargekom het vir die graduering van die 87ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Saam met die 24 studente en hulle genooide gaste was lede van die Bethelgesin van Brooklyn en die Genootskap se plase teenwoordig.

Albert Schroeder, wat as voorsitter vir die dag gedien het, het die gehoor stiptelik om 10:00 vm. verwelkom. Na ’n openingslied het John Barr ’n gebed gedoen. Albei broers is lede van die Bestuursliggaam. Broer Schroeder het ’n kort karakterskets van die klas gegee en opgemerk dat die gegradueerdes “bereid was om ’n deel te hê in die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies wat nou in 210 lande gedoen word”. Hy het toe sewe sprekers voorgestel.

Robert Wallen, wat in die Uitvoerende Kantoor by die Brooklynhoofkwartier werk, het sy tema “Julle moet mekaar vurig liefhê” op 1 Petrus 4:8 gebaseer. Hy het gesê dat sendelinge mekaar moet help, en aangesien al die studente in hierdie klas getroud was, het hy sy kommentare veral tot getroude pare gerig. “’n Vrou moet haar man liefhê, selfs al leer sy ’n vreemde taal vinniger as hy”, het hy vermaan. “Sy moet begrip en medelye toon. Sy moet hom ook probeer verstaan wanneer hy sy weeklikse kookdag het!” (Elke sendeling word gewoonlik ’n gereelde dag aangewys waarop hulle die dag se maaltye vir almal in die sendinghuis moet voorberei.) Die spreker het toe die frustrasies en humoristiese ondervindinge van sommige mans beskryf wanneer hulle leer kook, soos die ondervinding van die man wat koeksoda in plaas van bakpoeier gebruik het. Broer Wallen het ook daarop gewys dat die man “bewus moet wees van sy vrou se behoeftes”, aangesien gemeenteverantwoordelikhede soveel van die man se tyd in beslag neem. Hy het aan die mans sowel as die vrouens gesê: “Wees altyd bemoedigend; moenie negatiewe opmerkings maak nie, selfs nie teenoor mekaar nie. Moenie julleself afsonder nie. En wanneer julle foute maak, moet julle dit erken.”

Die volgende spreker, Daniel Sydlik, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die tema “Hou die vuur van God se gees lewend” gekies wat op 1 Thessalonicense 5:19 gebaseer was. “Vuur kan warm maak en ook vernietig” het hy gesê. “Soms moedig sendelinge aan en soms intimideer hulle. ’n Ou man in Afrika het eenkeer gesê: ‘Blaas saggies’, soos wanneer jy ’n vonkie wil laat opvlam! Toon respek wanneer jy oor die dinge praat wat jy dalk in jou toewysing sal vind—oop straatriole, vlieë, raserige verkeer, ’n nuwe land, ’n vreemde geloof. Jy vang meer vlieë met heuning as met asyn. Leer om ‘saggies te blaas’ en hou die vuur van Jehovah se gees lewend.”

Toe is die tema “Werp jou met ywer en versigtigheid in jou toewysing” deur Kenneth Flodin, opsiener van die Bethelhuis by Watchtower Farms, ontwikkel. Aangesien die Gileadskool nou by Watchtower Farms geleë is, het al die gegradueerdes broer Flodin goed geken. In sy toespraak is twee aspekte ontwikkel waar ’n mens versigtig moet wees: (1) materialisme en (2) negatiewe gesprekke en ’n negatiewe denkwyse. “Vermy selfsug en wees selfopofferend” was die raad. “Sien uit na geriewe en mooi dinge in die nuwe wêreld; moet hulle nie nou najaag nie”, het hy gesê. Die spreker het Numeri 13:28, 32 aangehaal om die studente te help om negatiwiteit te vermy. “Partykeer”, het hy gesê, “sien mense dieselfde ding, en sommige sal ’n negatiewe beskouing en ander ’n positiewe beskouing hê. Vertrou op Jehovah soos Kaleb van ouds. Vertel vir ander van jou positiewe gedagtes. En wanneer jy vind dat ’n gesprek ’n negatiewe wending neem, moet jy die onderwerp verander om negatiewe gedagtes te vermy.”

Lloyd Barry, ’n lid van die Bestuursliggaam en self ’n voormalige sendeling, het praktiese raad gegee. “Liefde, vreugde, en vrede is noodsaaklike eienskappe vir nuwe sendelinge”, het hy gesê. “Julle sal bewus wees van die swakhede van ander in julle sendinghuis, maar moet veral aandag gee aan julle eie swakhede.” Hy het sy vroeë dae in Japan herroep toe die sendelinge dit geniet het om elke dag vis te eet, maar toe het nuwe sendelinge gekom wat allergies was vir vis. Die spyskaart is dus uit liefde vir die nuwelinge verander. Hy het ook gemaan: “Behou jou sin vir humor; laat die son nooit oor enige van jou probleme sak nie. Behou die vrede in die huis, en jy sal gelukkig wees in jou lewe as sendeling.”—Efesiërs 4:26.

Jack Redford, een van die Gileadinstrukteurs het toe oor die onderwerp “Jehovah sal jou opleiding voltooi”, gepraat en sy opmerkings op 1 Petrus 5:10 gebaseer. Hy het gesê: “Jehovah kan jou oplei deur omstandighede toe te laat wat moeilik is om te verwerk. Hy kan jou oplei soos hy die apostels opgelei het om persoonlikheidskonflikte te verwerk. Moenie moed opgee wanneer daar meningsverskille is nie. Wees gewillig om aanpassings in jou persoonlikheid te maak. Trots kan dit moeilik maak, maar nederigheid maak dit moontlik. Leer om aanpasbaar te wees. Jehovah sal jou ook oplei om met ander oor die weg te kom. Jy ‘moet net nie let op al die woorde wat die mense oor jou spreek nie’” (Prediker 7:21, 22). Vervolging dien ook as opleiding. Sendelinge wat vervolging verduur het, is gelukkig en is nie spyt daaroor nie, net bly dat hulle deur vervolging opgelei kon word.

Ulysses Glass, ’n ander instrukteur, het sy laaste boodskap aan die gegradueerdes gerig. Hy het die aandag gevestig op Efesiërs 4:1-3 en die klas geprys omdat hulle die verenigende eienskappe wat daarin beskryf word, getoon het en hulle aangemoedig om daarmee aan te hou, en gesê: “Vrede is ’n bindmiddel en dit is noodsaaklik vir eenheid.” Hy het toe Efesiërs 4:4-6 gelees en bespreek hoe ontsagwekkend God se gees is en almal daaraan herinner dat “Jehovah die Bron van alle dinamiese energie is. Ons behoort ontsag vir hom te toon; dit is vreeslik om in sy hande te val.”—Hebreërs 10:31.

Hoë verwagtinge

Almal het toe met lewendige belangstelling geluister na Theodore Jaracz, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, wat oor die hooftema “Dinge wat ons verwagtinge versterk”, gepraat het. Hy het oor 1 Korinthiërs 2:9 geredeneer en gesê: “Hierdie vers bespreek nie materiële dinge nie, want die volgende vers, 1 Korinthiërs 2:10, praat van ‘die diep dinge van God’. Dit behels ‘God se wysheid’ met betrekking tot die ‘verborgenheid’, sy ‘verborge wysheid’ wat van buite hierdie sonnestelsel, ja, van God self gekom het” (1 Korinthiërs 2:7, NW). Die gehoor is toe na Jesaja 64:4 verwys wat ’n herinnering was om op God en die dinge wat hy voorberei het ‘te wag’.

En watter verwagtinge hét God se volk tog nie! Broer Jaracz het op die volgende gewys: “In 1919 was daar die val van Babilon die Grote; in 1922 die opwindende vermaning om ‘die Koning en die Koninkryk te adverteer’, om die opgerigte Koninkryk wêreldwyd te verkondig; in 1935 het God se volk die betekenis van die ‘groot menigte’ in Openbaring 7:9 verstaan; in 1943 het hulle gesien hoe die Gileadskool begin om sendelinge na die uithoeke van die aarde te stuur; vandag, in 1989, het julle gegradueerdes die voorreg om in julle toewysings hierdie goeie dinge aan mense te vertel wat gretig is om te hoor.”

Nadat die diplomas toegeken is, het een van die studente ’n hartroerende brief van waardering van die klas gelees.

Lon Schilling, koördineerder van die Watchtower Farms-komitee, het die middag ’n verkorte Wagtoring-studie gehou. Die studente het toe ’n genotvolle musiekprogram aangebied en party van hulle velddiensondervindinge opgevoer. Hierna het plaaslike verkondigers ’n tydige drama “Hoe om Satan se slinkse dade die hoof te bied”, opgevoer. Nadat die gelukkige menigte na onderhoude met ses van die nuwe gegradueerdes geluister het, het hulle ten slotte ’n lied gesing en hulle blymoedig met die 96-jarige president van die Gileadskool, Frederick Franz, in die gebed verenig.

[Venster op bladsy 23]

KLASSTATISTIEK

Aantal lande verteenwoordig: 5

Aantal lande waarheen gestuur: 10

Aantal getroude paartjies: 12

Aantal studente: 24

Gemiddelde ouderdom: 30,9

Gemiddelde jare in die waarheid: 13,4

Gemiddelde jare in voltydse bediening: 9,2

[Prent op bladsy 23]

87ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Heindel, E.; Andrews, D.; Casavant, D.; Montanez, E.; Nale, P.; Koukaras, S. (2) Miell, T.; Heithaus, M.; Melton, T.; Hagberg, N.; Kettinen, M. (3) Kettinen, L.; Andrews, W.; Koukaras, E.; McCollough, S.; Melton, G.; McCollough, J. (4) Heindel, W.; Casavant, G.; Miell, G.; Montanez, J.; Nale, M.; Hagberg, I.; Heithaus, K.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel