Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 7/15 bl. 14-19
  • Streef jy deug na?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Streef jy deug na?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hy het deug nagestreef
  • Hulle het deugsaam gebly
  • Streef vandag deug na
  • Bly op jou hoede!
  • Die rol van studie en bepeinsing
  • Deug en assosiasie
  • Hou aan om deug na te streef
  • Hoe kan ons deug by ons geloof voeg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoe ons deugsaamheid kan aankweek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Waarom deugsaamheid aankweek?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Behou deug in ’n verdorwe wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 7/15 bl. 14-19

Streef jy deug na?

“Watter deug daar ook al is en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.”—FILIPPENSE 4:8.

1. Wat is verdorwenheid, en waarom het dit nie Jehovah se aanbidding besmet nie?

VERDORWENHEID is sedeloosheid of korrupsie. Die wêreld waarin ons lewe, is deurtrek daarvan (Efesiërs 2:1-3). Maar Jehovah God sal nie toelaat dat sy rein aanbidding besmet word nie. Christelike publikasies, vergaderinge, kring- en streekbyeenkomste gee ons tydige waarskuwings teen onregverdige gedrag. Ons ontvang betroubare skriftuurlike hulp om ‘vas te hou aan wat goed is’ (Romeine 12:9). As ’n organisasie streef Jehovah se Getuies dus daarna om rein, deugsaam, te wees. Maar wat van ons as individue? Trouens, streef jy deug na?

2. Wat is deug, en waarom is inspanning nodig om deugsaam te bly?

2 Deug is sedelike voortreflikheid, goedheid, korrekte optrede en denke. Dit is nie ’n passiewe eienskap nie, maar is ’n aktiewe, positiewe eienskap. Deug behels meer as om sonde te vermy; dit beteken dat ’n mens nastreef wat goed is (1 Timoteus 6:11). Die apostel Petrus het mede-Christene aangespoor: ‘Voeg by julle geloof deug.’ Hoe? Deur “in reaksie [op God se kosbare beloftes] alle ywerige inspanning by te dra” (2 Petrus 1:5). As gevolg van ons sondige natuur verg dit ware inspanning om deugsaam te bly. Tog het godvresende individue in die verlede dit gedoen, selfs ten spyte van ontsaglike struikelblokke.

Hy het deug nagestreef

3. Aan watter goddelose dade het koning Agas hom skuldig gemaak?

3 Die Skrif bevat talle verslae van mense wat deug nagestreef het. Dink byvoorbeeld aan deugsame Hiskia. Sy vader, koning Agas van Juda was klaarblyklik ’n aanbidder van Molog. “Twintig jaar was Agas oud toe hy koning geword het, en sestien jaar het hy in Jerusalem geregeer en nie gedoen wat reg was in die oë van die HERE sy God soos sy vader Dawid nie. Maar hy het gewandel in die weg van die konings van Israel; ja, hy het selfs sy seun deur die vuur laat deurgaan volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdryf het. Hy het ook geoffer en rook laat opgaan op die hoogtes en op die heuwels en onder elke groen boom” (2 Konings 16:2-4). Party beweer dat “deur die vuur laat deurgaan” op die een of ander soort reinigingsritueel dui en nie op menseofferandes nie. Die boek Molech—A God of Human Sacrifice in the Old Testament, deur John Day, sê egter: “Daar is getuienis in klassieke en Puniese [Karthaagse] bronne, asook argeologiese getuienis, van die bestaan van menseofferandes . . . in die Kanaänitiese wêreld, en dus is daar geen rede om die Ou Testament se verwysings [na menseofferandes] in twyfel te trek nie.” Daarbenewens sê 2 Kronieke 28:3 spesifiek dat Agas “sy seuns met vuur verbrand” het. (Vergelyk Deuteronomium 12:31; Psalm 106:37, 38.) Watter goddelose dade!

4. Hoe het Hiskia hom in ’n verdorwe milieu gedra?

4 Hoe het Hiskia in hierdie verdorwe milieu gevaar? Die 119de Psalm is van belang, want party glo dat Hiskia dit gekomponeer het terwyl hy nog ’n prins was (Psalm 119:46, 99, 100). Sy omstandighede word dus moontlik deur hierdie woorde beskryf: “Al sit vorste en beraadslaag teen my—u kneg oordink u insettinge. My siel drup weg van kommer” (Psalm 119:23, 28). Omdat Hiskia deur beoefenaars van valse godsdiens omring was, het hy moontlik die skyf van bespotting deur lede van die koninklike hof geword, soseer dat dit vir hom moeilik was om te slaap. Hy het nietemin deug nagestreef en mettertyd het hy koning geword, en “hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE . . . Hy het op die HERE, die God van Israel, vertrou.”—2 Konings 18:1-5.

Hulle het deugsaam gebly

5. Voor watter beproewinge het Daniël en sy drie metgeselle te staan gekom?

5 Daniël en sy drie Hebreeuse metgeselle, genaamd Hananja, Misael en Asarja, was ook voorbeeldig wat deug betref. Hulle is met geweld uit hulle tuisland geneem en na Babilon weggevoer. Die vier jeugdiges het Babiloniese name gekry—Beltsasar, Sadrag, Mesag en Abednego. Hulle is “die spys van die koning” aangebied, wat kossoorte ingesluit het wat deur God se Wet verbied is. Daarbenewens moes hulle ’n opleidingskursus van drie jaar volg wat op “die skrif en die taal van die Chaldeërs” betrekking gehad het. Dit het meer behels as om bloot ’n ander taal te leer, want die term “Chaldeërs” dui hier waarskynlik op die geleerde klas. Hierdie Hebreeuse jeugdiges is dus aan verwronge Babiloniese leringe blootgestel.—Daniël 1:1-7.

6. Waarom kan ons sê dat Daniël deug nagestreef het?

6 Ten spyte van geweldige druk om soos die mense om hulle te word, het Daniël en sy drie metgeselle deug bo verdorwenheid gekies. Daniël 1:21 sê: “Daniël was daar tot die eerste jaar van koning Kores.” Ja, Daniël het meer as 80 jaar as ’n deugsame kneg van Jehovah daar gedien—gedurende die opkoms en ondergang van verskeie magtige konings. Hy het getrou aan God gebly ondanks die knoeiery en komplotte van korrupte regeringsamptenare en die seksuele verdorwenheid waarvan die Babiloniese godsdiens deurtrek was. Daniel het aangehou om deug na te streef.

7. Wat kan ons leer uit die weg wat Daniël en sy drie metgeselle gevolg het?

7 Ons kan baie leer by godvresende Daniël en sy metgeselle. Hulle het deug nagestreef en geweier om die Babiloniese kultuur aan te neem. Hoewel hulle Babiloniese name gekry het, het hulle nooit hulle identiteit as Jehovah se knegte verloor nie. Sowat 70 jaar later het die Babiloniese koning immers vir Daniël op sy Hebreeuse naam genoem! (Daniël 5:13). Deur sy hele lang lewe het Daniël geweier om selfs wat geringe sake betref sy beginsels prys te gee. As ’n jong persoon het hy “hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning” nie (Daniël 1:8). Hierdie beginselvaste standpunt wat Daniël en sy drie metgeselle ingeneem het, het hulle ongetwyfeld versterk om die lewensgevaarlike beproewinge te deurstaan waarvoor hulle later te staan gekom het.—Daniël hoofstukke 3 en 6.

Streef vandag deug na

8. Hoe kan jong Christene voorkom dat hulle in Satan se wêreld opgeneem word?

8 Soos Daniël en sy drie metgeselle laat God se volk vandag nie toe dat hulle in Satan se goddelose wêreld opgeneem word nie (1 Johannes 5:19). As jy ’n jong Christen is, ondervind jy dalk kwaai druk van jou portuurs om hulle uiterste smaak in kleredrag, persoonsversorging en musiek na te boots. Pleks van elke nuwe gier of styl te volg, moet jy eerder standvastig wees en nie toelaat dat jy ‘na hierdie stelsel van dinge gevorm word’ nie (Romeine 12:2). ‘Verwerp goddeloosheid en wêreldse begeertes en lewe met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid’ (Titus 2:11, 12). Die belangrike ding is nie die goedkeuring van jou portuurs nie, maar dié van Jehovah.—Spreuke 12:2.

9. Met watter druk kan Christene in die sakewêreld te kampe hê, en hoe moet hulle hulle gedra?

9 Volwasse Christene het ook met druk te kampe en moet deugsaam wees. Christene wat sakemanne is, kom dalk in die versoeking om twyfelagtige sakegebruike te volg of om regeringsregulasies en belastingwette te ignoreer. Maar ongeag hoe mededingers in die sakebedryf of werksmaats optree, ‘ons wil ons in alles eerlik gedra’ (Hebreërs 13:18). Die Skrif verplig ons om eerlik en regverdig teenoor werkgewers, werknemers, klante en sekulêre regerings te wees (Deuteronomium 25:13-16; Matteus 5:37; Romeine 13:1; 1 Timoteus 5:18; Titus 2:9, 10). Laat ons ook daarna streef om ordelik in ons sakeaangeleenthede te wees. Ons kan dikwels misverstande voorkom deur akkuraat boek te hou en ooreenkomste op skrif te stel.

Bly op jou hoede!

10. Waarom is dit nodig om ‘op ons hoede te bly’ wat ons keuse van musiek betref?

10 Psalm 119:9 (NW) beklemtoon nog ’n aspek daarvan om deugsaam in God se oë te bly. Die psalmis het gesing: “Hoe sal ’n jong man sy pad reinig? Deur op sy hoede te bly ooreenkomstig u woord.” Een van Satan se doeltreffendste wapens is musiek, wat die krag het om emosies op te wek. Ongelukkig het party Christene nie ‘op hulle hoede gebly’ wat musiek betref nie, en hulle vind dat hulle tot uiterste vorms daarvan, soos rap en heavy metal, aangetrek word. Party redeneer moontlik dat sulke musiek hulle geen kwaad doen nie of dat hulle nie na die woorde luister nie. Ander sê dat hulle eenvoudig sterk polsende musiek of die klank van harde ghitare geniet. Maar vir Christene is die saak nie of iets genotvol is of nie. Hulle is daaroor besorg of dit “vir die Here aanneemlik” is (Efesiërs 5:10). Heavy metal- en rap-musiek bevorder oor die algemeen verdorwenhede soos vloektaal, hoerery en selfs Satanisme—dinge wat beslis nie onder God se volk tuishoort nie (Efesiërs 5:3).a Ons almal, oud en jonk, sal goed doen as ons oor hierdie vraag nadink: Streef ek deug of verdorwenheid na deur my keuse van musiek?

11. Hoe kan ’n Christen op sy hoede bly wat televisieprogramme, video’s en rolprente betref?

11 Baie televisieprogramme, video’s en rolprente bevorder verdorwenheid. Volgens een vooraanstaande deskundige op die gebied van geestesgesondheid maak ‘hedonisme, seksualiteit, geweld, hebsug en selfsug’ die vernaamste deel uit van die meeste rolprente wat vandag vervaardig word. Om op ons hoede te bly, behels derhalwe dat ons selektief moet wees in dit waarna ons besluit om te kyk. Die psalmis het gebid: “Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie” (Psalm 119:37). ’n Jong Christen met die naam Joseph het hierdie beginsel toegepas. Toe ’n sekere rolprent eksplisiete sekstonele en geweld begin vertoon het, het hy die rolprentteater verlaat. Was hy verleë om dit te doen? “Glad nie”, sê Joseph. “Ek het eerstens aan Jehovah gedink en aan hoe om hom te behaag.”

Die rol van studie en bepeinsing

12. Waarom is persoonlike studie en bepeinsing nodig om deug na te streef?

12 Dit is nie genoeg om slegte dinge te vermy nie. Om deug na te streef, behels ook die bestudering en bepeinsing van die goeie dinge wat in God se Woord opgeteken is sodat ons die regverdige beginsels daarvan in ons lewe kan toepas. “Hoe lief het ek u wet”! het die psalmis uitgeroep. “Dit is my bepeinsing die hele dag” (Psalm 119:97). Is persoonlike studie van die Bybel en Christelike publikasies deel van jou weeklikse rooster? Dit kan weliswaar ’n uitdaging wees om tyd opsy te sit vir ’n ywerige studie van God se Woord en die biddende bepeinsing daarvan. Maar dit is dikwels moontlik om tyd uit te koop van ander bedrywighede (Efesiërs 5:15, 16). Miskien sal die vroeë oggendure vir jou ’n goeie tyd wees om te bid, te studeer en te peins.—Vergelyk Psalm 119:147.

13, 14. (a) Waarom is bepeinsing van onskatbare waarde? (b) Die bepeinsing van watter tekste kan ons help om geslagsonsedelikheid te verafsku?

13 Bepeinsing is van onskatbare waarde, want dit help ons om te onthou wat ons leer. Nog belangriker, dit kan help om God se beskouing van sake by ons in te skerp. Ter toeligting: Dit is een ding om te weet dat God hoerery verbied, maar iets heel anders om te ‘verafsku wat goddeloos is en vas te hou aan wat goed is’ (Romeine 12:9). Ons kan in werklikheid Jehovah se beskouing oor geslagsonsedelikheid deel deur oor sleuteltekste in die Bybel te peins, soos Kolossense 3:5 wat ons aanspoor: “Maak dus julle liggaamsdele wat op die aarde is dood wat betref hoerery, onreinheid, geslagslus, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodery is.” Vra jou af: ‘Watter soort geslagslus moet ek doodmaak? Wat moet ek vermy wat onrein begeertes kan opwek? Is daar veranderinge wat ek moet aanbring in my gedrag teenoor lede van die ander geslag?’—Vergelyk 1 Timoteus 5:1, 2.

14 Paulus spoor Christene aan om hulle te onthou van hoerery en om selfbeheersing aan die dag te lê sodat “niemand so ver gaan dat hy sy broer skade berokken of inbreuk maak op sy regte” nie (1 Tessalonisense 4:3-7). Vra jou af: ‘Waarom is hoerery so skadelik? Watter skade sal ek myself of iemand anders berokken as ek in hierdie verband sondig? Hoe sal ek geestelik, emosioneel en fisies daardeur geraak word? Wat van individue in die gemeente wat God se wet oortree het en onberouvol was? Wat was die uiteinde van hulle gedrag?’ Ons sal ’n dieper haat verkry vir wat in God se oë verkeerd is as ons ter harte neem wat die Skrif oor sulke gedrag sê (Exodus 20:14; 1 Korintiërs 5:11-13; 6:9, 10; Galasiërs 5:19-21; Openbaring 21:8). Paulus sê dat ’n hoereerder ‘nie ’n mens verontagsaam nie, maar God’ (1 Tessalonisense 4:8). Watter ware Christen sal sy hemelse Vader wil verontagsaam?

Deug en assosiasie

15. Watter rol speel assosiasie in ons nastrewing van deug?

15 Nog ’n hulpmiddel om deugsaam te bly, is goeie assosiasie. Die psalmis het gesing: “Ek is ’n metgesel van almal wat U [Jehovah] vrees, en van die wat u bevele onderhou” (Psalm 119:63). Ons het die heilsame assosiasie nodig wat by Christelike vergaderinge voorsien word (Hebreërs 10:24, 25). As ons ons afsonder, kan ons denkwyse selfsugtig word en kan verdorwenheid ons maklik beïnvloed (Spreuke 18:1). Hartlike Christelike assosiasie kan ons egter versterk in ons voorneme om deugsaam te bly. Ons moet natuurlik ook teen slegte assosiasie waak. Ons kan vriendelik teenoor bure, werksmaats en medeleerlinge wees. Maar as ons werklik in wysheid wandel, sal ons nie te geheg raak aan diegene wat nie Christelike deug nastreef nie.—Vergelyk Kolossense 4:5.

16. Hoe kan die toepassing van 1 Korintiërs 15:33 ons help om vandag deug na te streef?

16 Paulus het geskryf: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.” Toe hy hierdie stelling gemaak het, het hy gelowiges gewaarsku dat hulle hulle geloof kon verloor as hulle met voorgewende Christene assosieer wat die skriftuurlike leerstelling van die opstanding verwerp het. Die beginsel agter Paulus se waarskuwing is op ons assosiasie buite sowel as binne die gemeente van toepassing (1 Korintiërs 15:12, 33). Ons wil natuurlik nie ons geestelike broers en susters vermy omdat hulle nie saamstem met die een of ander suiwer persoonlike beskouing wat ons huldig nie (Matteus 7:4, 5; Romeine 14:1-12). Ons moet nietemin versigtig wees as sommige in die gemeente hulle aan twyfelagtige gedrag skuldig maak of ’n verbitterde of klaerige gesindheid openbaar (2 Timoteus 2:20-22). Dit is verstandig om na aan diegene te bly met wie ons “’n uitwisseling van aanmoediging” kan geniet (Romeine 1:11, 12). Dit sal ons help om ’n deugsame weg na te streef en op “die pad van die lewe” te bly.—Psalm 16:11.

Hou aan om deug na te streef

17. Watter ramp het die Israeliete volgens Numeri hoofstuk 25 getref, en watter les leer ons daaruit?

17 Kort voordat die Israeliete die Beloofde Land in besit geneem het, het duisende van hulle gekies om verdorwenheid na te streef—en rampspoed het hulle getref (Numeri hoofstuk 25). Vandag staan Jehovah se volk op die drumpel van die regverdige nuwe wêreld. Diegene wat aanhou om hierdie wêreld se verdorwenhede te verwerp, sal die geseënde voorreg hê om dit binne te gaan. As onvolmaakte mense het ons dalk verkeerde neigings, maar God kan ons help om die regverdige leiding van sy heilige gees te volg (Galasiërs 5:16; 1 Tessalonisense 4:3, 4). Laat ons derhalwe ag gee op Josua se vermaning aan Israel: “Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid” (Josua 24:14). Eerbiedige vrees om Jehovah te mishaag, sal ons help om ’n deugsame weg na te streef.

18. Wat moet alle Christene vasbeslote wees om te doen wat verdorwenheid en deug betref?

18 As dit jou hartsbegeerte is om God te behaag, moet jy vasbeslote wees om ag te slaan op Paulus se vermaning: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug daar ook al is en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.” Wat sal die gevolg wees as jy dit doen? Paulus het gesê: “Beoefen dit; en die God van vrede sal met [jou] wees” (Filippense 4:8, 9). Ja, met Jehovah se hulp kan jy verdorwenheid verwerp en deug nastreef.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 15 April 1993, bladsye 19-24, en die reeks “Jongmense vra . . . ” in die Ontwaak! van 8 Februarie, 22 Februarie en 22 Maart 1993 en 22 November 1996.

Punte ter hersiening

◻ Wat is nodig om deug na te streef?

◻ Onder watter omstandighede het Hiskia, Daniël en die drie Hebreërs deugsaam gebly?

◻ Hoe kan ons soos Daniël wees en Satan se liste weerstaan?

◻ Waarom moet Christene op hulle hoede bly wat vermaak betref?

◻ Watter rol speel studie, bepeinsing en assosiasie in die nastrewing van deug?

[Prent op bladsy 15]

Jong Hiskia het deug nagestreef selfs al was hy deur aanbidders van Molog omring

[Prente op bladsy 17]

Christene moet op hulle hoede bly wat vermaak betref

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel