Hoofstuk 17
‘Siele wat doodgemaak is’, word beloon
1. In watter tydperk lewe ons, en watter bewyse is daar hiervan?
GOD se Koninkryk regeer! Die Ruiter van die wit perd staan op die punt om sy oorwinning te voltooi! Die rooi perd, die swart perd en die vaal perd galop oor die aarde! Jesus se eie profesieë oor sy koninklike teenwoordigheid word onteenseglik vervul (Matteus, hoofstukke 24, 25; Markus, hoofstuk 13; Lukas, hoofstuk 21). Ja, ons lewe in die laaste dae van hierdie stelsel van dinge (2 Timoteus 3:1-5). Laat ons dan noukeurig aandag skenk terwyl die Lam, Jesus Christus, die vyfde seël van daardie boekrol oopbreek. Watter verdere openbaring gaan hom nou voor ons ontvou?
2. (a) Wat het Johannes gesien toe die vyfde seël oopgemaak is? (b) Waarom moet dit ons nie verbaas om van ’n simboliese offeraltaar in die hemel te lees nie?
2 Johannes beskryf ’n hartroerende toneel: “En toe hy die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van dié wat doodgemaak is weens die woord van God en weens die getuieniswerk wat hulle gehad het” (Openbaring 6:9). Wat is dit? ’n Offeraltaar in die hemel? Ja! Dit is die eerste keer dat Johannes ’n altaar meld. Hy het egter alreeds beskrywings gegee van Jehovah op Sy troon, die omringende gerubs, die glasagtige see, die vuurlampe en die 24 ouderlinge wat reukwerk dra—alles dinge wat ooreenstem met kenmerke van die aardse tabernakel, Jehovah se heiligdom in Israel (Eksodus 25:17, 18; 40:24-27, 30-32; 1 Kronieke 24:4). Moet dit ons dan verbaas om ook ’n simboliese offeraltaar in die hemel aan te tref?—Eksodus 40:29.
3. (a) Hoe is siele by die eertydse Joodse tabernakel ‘aan die voet van die altaar’ uitgegiet? (b) Waarom het Johannes die siele van getuies wat doodgemaak is, onder ’n simboliese altaar in die hemel gesien?
3 Onder hierdie altaar is “die siele . . . van dié wat doodgemaak is weens die woord van God en weens die getuieniswerk wat hulle gehad het”. Wat beteken dit? Dit kan nie onstoflike siele—soos dié waaraan die heidense Grieke geglo het—wees nie (Genesis 2:7; Esegiël 18:4). Johannes weet eerder dat die siel, of lewe, deur die bloed gesimboliseer word, en wanneer die priesters by die eertydse Joodse tabernakel ’n offerdier geslag het, het hulle die bloed “rondom op die altaar” gesprinkel of dit “aan die voet van die brandofferaltaar” uitgegiet (Levitikus 3:2, 8, 13; 4:7; 17:6, 11, 12). Die dier se siel het dus ten nouste verband gehou met die offeraltaar. Maar waarom sou die siele, of bloed, van hierdie spesifieke knegte van God onder ’n simboliese altaar in die hemel gesien word? Omdat hulle dood as ’n offerdood beskou word.
4. In watter sin is die dood van geesverwekte Christene ’n offerdood?
4 Ja, almal wat as geesseuns van God verwek word, sterf ’n offerdood. Weens die rol wat hulle in Jehovah se hemelse Koninkryk gaan speel, is dit God se wil dat hulle afsien van enige hoop op ewige lewe op die aarde, ja, dat hulle dit opoffer. In hierdie opsig onderwerp hulle hulle aan ’n offerdood ter wille van Jehovah se soewereiniteit. (Filippense 3:8-11; vergelyk 2:17.) Dit geld in ’n baie werklike sin vir dié wat Johannes onder die altaar gesien het. Hulle is gesalfdes wat in hulle dag weens hulle ywerige bediening ter verdediging van Jehovah se Woord en soewereiniteit ’n marteldood gesterf het. Hulle ‘siele is doodgemaak weens die woord van God en weens die getuieniswerk [mar·tu·riʹan] wat hulle gehad het’.
5. Hoe roep die siele van getroues om wraak al is hulle dood?
5 Die scenario ontvou hom verder: “En hulle het met ’n harde stem uitgeroep en gesê: ‘Tot wanneer, Soewereine Heer, heilig en waaragtig, weerhou u u daarvan om te oordeel en ons bloed te wreek op dié wat op die aarde woon?’” (Openbaring 6:10). Hoe kan hulle siele, of bloed, om wraak roep as die Bybel toon dat die dooies van niks bewus is nie? (Prediker 9:5). Wel, het regverdige Abel se bloed nie uitgeroep nadat Kain hom vermoor het nie? Jehovah het toe vir Kain gesê: “Wat het jy gedoen? Luister! Jou broer se bloed roep van die grond af na my toe uit” (Genesis 4:10, 11; Hebreërs 12:24). Abel se bloed het nie letterlik woorde geuiter nie. Abel het eerder as ’n onskuldige slagoffer gesterf, en geregtigheid het uitgeroep dat sy moordenaar gestraf moet word. Hierdie Christenmartelaars is in dieselfde sin onskuldig, en hulle moet in geregtigheid gewreek word (Lukas 18:7, 8). Die uitroep om wraak is hard omdat derduisende op hierdie manier gesterf het.—Vergelyk Jeremia 15:15, 16.
6. Watter vergieting van onskuldige bloed is in 607 v.G.J. gewreek?
6 Die situasie kan ook vergelyk word met dié in afvallige Juda toe koning Manasse in 716 v.G.J. die troon bestyg het. Hy het baie onskuldige bloed vergiet en het waarskynlik die profeet Jesaja “in stukke gesaag” (Hebreërs 11:37; 2 Konings 21:16). Hoewel Manasse later berou getoon en hom bekeer het, het daardie bloedskuld gebly. In 607 v.G.J., toe die Babiloniërs die koninkryk van Juda verwoes het, “het [dit] net op bevel van Jehovah oor Juda gekom, om dit onder sy oë uit te verwyder weens die sondes van Manasse, volgens alles wat hy gedoen het; en ook weens die onskuldige bloed wat hy vergiet het, sodat hy Jerusalem met onskuldige bloed gevul het, en Jehovah wou nie vergifnis skenk nie”.—2 Konings 24:3, 4.
7. Wie is hoofsaaklik skuldig aan die vergieting van “die bloed van die heiliges”?
7 Soos in Bybeltye is baie van die persone wat God se getuies doodgemaak het, vandag lankal dood. Maar die organisasie wat hulle marteldood veroorsaak het, is nog steeds baie lewendig en vol bloedskuld. Dit is Satan se aardse organisasie, sy aardse saad. ’n Prominente deel daarvan is Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens.a Sy word beskryf as “dronk . . . van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus”. Ja, “in haar is die bloed van profete en van heiliges gevind, en van almal wat op die aarde doodgemaak is” (Openbaring 17:5, 6; 18:24; Efesiërs 4:11; 1 Korintiërs 12:28). Watter ontsaglike bloedskuld! Solank Babilon die Grote bestaan, sal die bloed van haar slagoffers om geregtigheid roep.—Openbaring 19:1, 2.
8. (a) Watter voorbeelde van marteldood was daar in Johannes se leeftyd? (b) Watter vervolging is deur Romeinse keisers aangestig?
8 Johannes was self ’n ooggetuie van mense wat in die eerste eeu ’n marteldood gesterf het toe die wrede Slang en sy aardse saad teen die groeiende gemeente van gesalfde Christene oorlog gevoer het. Johannes het gesien hoe ons Here aan ’n paal gehang is en het ontkom toe Stefanus, sy eie broer Jakobus, sowel as Petrus, Paulus en ander intieme metgeselle, vermoor is (Johannes 19:26, 27; 21:15, 18, 19; Handelinge 7:59, 60; 8:2; 12:2; 2 Timoteus 1:1; 4:6, 7). In 64 G.J. het die Romeinse keiser Nero, in ’n poging om ’n gerug teë te werk dat hy die stad afgebrand het, die skuld daarvoor op die Christene gepak. Die geskiedskrywer Tacitus berig: “Hulle [Christene] is op spottende maniere doodgemaak; party is met dierevelle bedek en dan deur honde verskeur, party is [aan pale gehang],b party is as fakkels gebrand om die nag te verlig.” ’n Verdere vlaag van vervolging onder keiser Domitianus (81-96 G.J.) het tot gevolg gehad dat Johannes na die eiland Patmos verban is. Soos Jesus gesê het: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg.”—Johannes 15:20; Matteus 10:22.
9. (a) Watter meesterstuk van misleiding het Satan teen die vierde eeu v.G.J. voortgebring, en waarvan is dit die vernaamste deel? (b) Hoe het party heersers in die Christendom Jehovah se Getuies gedurende die Eerste en Tweede Wêreldoorlog behandel?
9 Teen die vierde eeu G.J. het daardie ou slang, Satan die Duiwel, sy meesterstuk van misleiding voortgebring, die afvallige godsdiens van die Christendom—’n Babiloniese stelsel wat onder ’n “Christelike” skyn verbloem is. Dit is die vernaamste deel van die saad van die Slang en het tot ’n mag der menigte teenstrydige sektes ontwikkel. Soos eertydse ontroue Juda dra die Christendom groot bloedskuld weens haar intense betrokkenheid by beide kante van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog. Party politieke heersers in die Christendom het hierdie oorloë selfs gebruik as ’n voorwendsel om gesalfde knegte van God dood te maak. In ’n verslag oor Hitler se vervolging van Jehovah se Getuies het ’n resensie van Friedrich Zipfel se boek Kirchenkampf in Deutschland (Kerkestryd in Duitsland) gesê: “’n Derde van hulle [die Getuies] het omgekom, hetsy deur teregstelling, ander gewelddade, honger, siekte of slawearbeid. Die felheid van hierdie onderwerping was ongeëwenaard en was die gevolg van onwrikbare geloof wat nie met die Nasionaal-Sosialistiese ideologie versoen kon word nie.” Daar kan inderdaad van die Christendom, met inbegrip van sy priesterdom, gesê word: “Aan jou some [is] die bloedmerke van die siele van die onskuldige armes gevind.”—Jeremia 2:34.c
10. Watter vervolging het jong mans, lede van die groot menigte, in baie lande verduur?
10 Sedert 1935 het getroue jong mans, lede van die groot menigte, in baie lande die ergste van die vervolging verduur (Openbaring 7:9). Selfs toe die Tweede Wêreldoorlog in Europa ten einde geloop het, is 14 jong Getuies van Jehovah in een dorp alleen tereggestel deurdat hulle opgehang is. Hulle misdaad? Weiering om te “leer om oorlog te voer” (Jesaja 2:4). Jong mans in die Ooste en in Afrika is onlangs nog weens dieselfde geskil doodgeslaan of deur ’n vuurpeloton tereggestel. Hierdie jong martelaars, waardige ondersteuners van Jesus se gesalfde broers, sal beslis in die beloofde nuwe aarde opgewek word.—2 Petrus 3:13; vergelyk Psalm 110:3; Matteus 25:34-40; Lukas 20:37, 38.
’n Wit kleed
11. In watter sin ontvang gesalfde Christene wat ’n marteldood gesterf het, “’n wit kleed”?
11 Nadat die apostel Paulus van die geloof van eertydse handhawers van onkreukbaarheid vertel het, het hy gesê: “En tog het hulle almal, hoewel hulle deur hulle geloof getuienis aangaande hulleself ontvang het, nie die vervulling van die belofte verkry nie, aangesien God iets beters vir ons vooruitgesien het, sodat hulle nie sonder ons tot volmaaktheid gebring sou word nie” (Hebreërs 11:39, 40). Wat is hierdie “iets beters” wat Paulus en ander gesalfde Christene verwag? Johannes sien dit hier in ’n visioen: “En ’n wit kleed is vir elkeen van hulle gegee; en vir hulle is gesê om nog ’n klein rukkie te rus, totdat ook hulle medeslawe en hulle broers wat weldra net soos hulle ook doodgemaak gaan word, voltallig is” (Openbaring 6:11). Die feit dat hulle “’n wit kleed” ontvang, hou verband met hulle opstanding as onsterflike geesskepsele. Hulle lê nie meer onder die altaar as siele wat doodgemaak is nie, maar hulle word opgewek om deel uit te maak van die groep van 24 ouderlinge wat voor die hemelse troon van God aanbid. Daar het hulle self trone gekry, wat toon dat hulle koninklike voorregte ontvang het. En hulle is “geklee in wit boklere”, wat aandui dat hulle regverdig bevind is, waardig om ’n geëerde plek voor Jehovah in daardie hemelse hof te hê. Dit is ook ter vervulling van Jesus se belofte aan getroue gesalfde Christene in die gemeente in Sardis: “Hy wat oorwin, sal so geklee word in wit boklere.”—Openbaring 3:5; 4:4; 1 Petrus 1:4.
12. In watter sin “rus” verrese gesalfdes “nog ’n klein rukkie”, en tot wanneer?
12 Al die getuienis dui daarop dat hierdie hemelse opstanding in 1918 begin het, nadat Jesus in 1914 op die troon geplaas is en uitgery het om sy koninklike oorwinning te begin deur die hemele van Satan en sy demone te reinig. En tog word daar vir daardie verrese gesalfdes gesê “om nog ’n klein rukkie te rus, totdat ook hulle medeslawe . . . voltallig is”. Die lede van die Johannes-klas wat nog op die aarde is, moet hulle onkreukbaarheid tydens beproewing en vervolging bewys, en party van hulle sal moontlik nog doodgemaak word. Maar uiteindelik sal al die regverdige bloed wat deur Babilon die Grote en haar politieke minnaars vergiet is, gewreek word. Intussen is die verresenes ongetwyfeld besig met hemelse pligte. Hulle rus, nie deur in salige onaktiwiteit te ontspan nie, maar in die sin dat hulle geduldig wag op die dag van Jehovah se wraak (Jesaja 34:8; Romeine 12:19). Hulle rus sal eindig wanneer hulle sien hoe valse godsdiens vernietig word en hulle, as “geroepenes en uitverkorenes en getroues”, saam met die Here Jesus Christus oordeel voltrek aan alle ander dele van Satan se goddelose saad hier op die aarde.—Openbaring 2:26, 27; 17:14; Romeine 16:20.
‘Dié wat dood is, sal eerste opstaan’
13, 14. (a) Wanneer begin die hemelse opstanding volgens die apostel Paulus, en wie word opgewek? (b) Wanneer word die gesalfdes wat tot in die dag van die Here behoue bly, na die hemel opgewek?
13 Die insig wat die oopmaak van die vyfde seël ons gee, strook heeltemal met ander tekste wat met die hemelse opstanding verband hou. Die apostel Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Want dít sê ons vir julle deur Jehovah se woord, dat ons, die lewendes wat tot die teenwoordigheid van die Here bly lewe, die ontslapenes hoegenaamd nie sal voorgaan nie; want die Here self sal uit die hemel neerdaal met ’n gebiedende roep, met ’n aartsengel se stem en met God se trompet, en dié wat dood is in eenheid met Christus, sal eerste opstaan. Daarna sal ons, die lewendes wat oorbly, saam met hulle in wolke weggeruk word om die Here in die lug te ontmoet; en so sal ons altyd by die Here wees.”—1 Tessalonisense 4:15-17.
14 Wat ’n aangrypende verhaal vertel hierdie verse tog! Jesus se gesalfde broers wat tot in Jesus se teenwoordigheid behoue bly, dit wil sê wat nog gedurende sy teenwoordigheid op die aarde lewe, word na die hemel voorgegaan deur dié wat reeds gesterf het. Hierdie knegte, wat dood is in eenheid met Christus, staan eerste op. Jesus daal neer, dit wil sê vestig sy aandag op hulle, en wek hulle tot geeslewe op, waardeur hy hulle “’n wit kleed” gee. Daarna voltooi dié wat nog as mense lewe, hulle aardse loopbaan, en baie van hulle sterf gewelddadig weens die optrede van teenstanders. Maar hulle slaap nie in die dood soos hulle voorgangers nie. Hulle word eerder, wanneer hulle sterf, oombliklik verander—“in ’n oogwink”—en na die hemel weggeruk om by Jesus en medelede van die liggaam van Christus te wees. (1 Korintiërs 15:50-52; vergelyk Openbaring 14:13.) Die opstanding van gesalfde Christene begin dus kort nadat die vier ruiters van die Apokalips met hulle rit begin.
15. (a) Watter goeie nuus het die oopmaak van die vyfde seël voorsien? (b) Hoe bereik die rit van die Oorwinnaar op die wit perd ’n hoogtepunt?
15 Die oopmaak van hierdie vyfde seël van die boekrol het goeie nuus voorsien oor gesalfde handhawers van onkreukbaarheid wat oorwin het en tot in die dood getrou was. Maar dit voorsien geen goeie nuus vir Satan en sy saad nie. Die rit van die Oorwinnaar op die wit perd gaan onstuitbaar voort en bereik ’n hoogtepunt in ’n tyd van afrekening vir die wêreld wat ‘in die mag van die bose lê’ (1 Johannes 5:19). Dit word duidelik gemaak wanneer die Lam die sesde seël oopmaak.
[Voetnote]
a Die identiteit van Babilon die Grote word in Hoofstuk 33 breedvoerig bespreek.
b Vergelyk NW, bladsy 1577, bylae 5C, “Torture Stake”.
c Breedvoeriger bewys van godsdiens se bloedskuld word in Hoofstuk 36 gelewer.
[Venster op bladsy 102]
‘Siele wat doodgemaak is’
McClintock en Strong se Cyclopedia haal John Jortin, ’n 18de-eeuse Engelse Protestant, die seun van Franse Hugenote, soos volg aan: “Waar vervolging begin, eindig Christelikheid . . . Dit was nadat die Christelike godsdiens as die godsdiens van die [Romeinse] ryk gevestig is, en nadat rykdom en eer aan sy geestelikes verleen is, dat die afgryslike euwel van vervolging reusekrag verkry en sy vernietigende invloed op die godsdiens van die Evangelie uitgeoefen het.”
[Prent op bladsy 103]
“En ’n wit kleed is vir elkeen van hulle gegee”