Hoofstuk 30
“Babilon die Grote het geval!”
1. Wat kondig die tweede engel aan, en wie is Babilon die Grote?
DIT is die uur van God se oordeel! Luister dan na die goddelike boodskap: “En ’n ander, ’n tweede engel, het gevolg en gesê: ‘Sy het geval! Babilon die Grote het geval, sy wat al die nasies van die wyn van die toorn van haar hoerery laat drink het!’” (Openbaring 14:8). Vir die eerste keer, maar nie die laaste nie, vestig Openbaring die aandag op Babilon die Grote. Later sal hoofstuk 17 haar as ’n wellustige hoer beskryf. Wie is sy? Sy is, soos ons sal sien, ’n wêreldwye ryk, sy is godsdienstig en sy is Satan se valse stelsel wat hy gebruik om teen die saad van God se vrou te stry (Openbaring 12:17). Babilon die Grote is die hele wêreldryk van valse godsdiens. Sy sluit alle godsdienste in wat die godsdiensleringe en -gebruike van eertydse Babilon aanhang en wat sy gees openbaar.
2. (a) Hoe is Babiloniese godsdiens na alle dele van die aarde verstrooi? (b) Wat is die prominentste deel van Babilon die Grote, en wanneer het dit as ’n magtige organisasie verskyn?
2 Dit was in Babilon, meer as 4 000 jaar gelede, dat Jehovah die tale van die voornemende bouers van die Toring van Babel verwar het. Die verskillende taalgroepe is na die uithoeke van die aarde verstrooi, en hulle het die afvallige opvattings en gebruike wat vandag nog die grondslag van die meeste godsdienste vorm, met hulle saamgeneem (Genesis 11:1-9). Babilon die Grote is die godsdiensdeel van Satan se organisasie. (Vergelyk Johannes 8:43-47.) Vandag is haar prominentste deel die afvallige Christendom, wat in die vierde eeu ná Christus as ’n magtige, wettelose organisasie verskyn het, met geloofsbelydenisse en vormlike gebruike wat nie van die Bybel nie, maar hoofsaaklik van Babiloniese godsdiens afkomstig is.—2 Tessalonisense 2:3-12.
3. Hoe kan daar gesê word dat Babilon die Grote geval het?
3 Jy vra moontlik: ‘Aangesien godsdiens nog steeds ’n groot invloed op die aarde uitoefen, waarom kondig die engel aan dat Babilon die Grote geval het?’ Wel, wat het ná 539 v.G.J. gebeur toe eertydse Babilon geval het? Israel is bevry om na sy vaderland terug te keer en ware aanbidding daar te herstel! Die herstel van geestelike Israel in 1919 tot luisterryke geestelike voorspoed, wat vandag nog voortduur en uitbrei, is dus ’n bewys dat Babilon die Grote in daardie jaar geval het. Sy het nie meer die mag om God se volk te beperk nie. Bowendien het sy groot probleme in haar eie geledere. Sedert 1919 is haar korrupsie, oneerlikheid en onsedelikheid wyd en syd blootgelê. In die grootste deel van Europa gaan min mense nog kerk toe, en in party sosialistiese lande word godsdiens as “die opium van die volk” beskou. Babilon die Grote is tot skande gemaak in die oë van alle liefhebbers van God se Woord van waarheid en wag nou as ’t ware in die dodesel dat Jehovah se regverdige oordeel aan haar voltrek word.
Babilon se skandelike val
4-6. Hoe het “Babilon die Grote . . . al die nasies van die wyn van die toorn van haar hoerery laat drink”?
4 Laat ons die omringende omstandighede van Babilon die Grote se skandelike val van naderby ondersoek. Die engel deel ons hier mee dat “Babilon die Grote . . . al die nasies van die wyn van die toorn van haar hoerery laat drink het”. Wat beteken dit? Dit hou verband met verowering. Jehovah het byvoorbeeld vir Jeremia gesê: “Neem hierdie beker van die wyn van woede uit my hand, en jy moet al die nasies na wie toe ek jou stuur, dit laat drink. En hulle sal drink en heen en weer skud en soos waansinniges optree weens die swaard wat ek onder hulle stuur” (Jeremia 25:15, 16). In die sesde en sewende eeu v.G.J. het Jehovah eertydse Babilon gebruik om ’n simboliese beker van verdrukking uit te giet waaruit baie nasies moes drink, met inbegrip van afvallige Juda, sodat selfs sy eie volk in ballingskap weggevoer is. Toe het Babilon op sy beurt geval omdat sy koning hom teen Jehovah, “die Here van die hemel”, verhef het.—Daniël 5:23.
5 Babilon die Grote het ook oorwinnings behaal, maar hierdie oorwinnings was merendeels subtieler. Sy het ‘al die nasies laat drink’ deur die liste van ’n prostituut te gebruik en godsdienstige hoerery met hulle te pleeg. Sy het politieke maghebbers verlok om bondgenootskappe en vriendskappe met haar te sluit. Deur godsdienslokmiddels het sy politieke, handels- en ekonomiese onderdrukking beplan. Sy het om uitsluitlik politieke en handelsredes godsdiensvervolging en godsdiensoorloë en kruistogte, sowel as burgeroorloë, aangestook. En sy het hierdie oorloë geheilig deur te sê dat dit God se wil is.
6 Godsdiens se betrokkenheid by die oorloë en politiek van die 20ste eeu is algemeen bekend—soos in Sjintoïstiese Japan, Hindoeïstiese Indië, Boeddhistiese Viëtnam, “Christelike” Noord-Ierland en Latyns-Amerika, sowel as elders—om nie te praat van die aandeel van die veldkapelane aan beide kante van die twee wêreldoorloë wat jong manne aangehits het om mekaar uit te moor nie. ’n Tipiese voorbeeld van Babilon die Grote se ontrouheid is haar aandeel aan die Spaanse Burgeroorlog van 1936-39, waarin minstens 600 000 mense doodgemaak is. Hierdie bloedvergieting is deur ondersteuners van die Katolieke geestelikes en hulle bondgenote veroorsaak, deels omdat die rykdom en posisie van die kerk deur Spanje se wettige regering bedreig is.
7. Wie was die hoofteiken van Babilon die Grote, en watter metodes het sy teen hierdie teiken gebruik?
7 Aangesien Babilon die Grote die godsdiensdeel van Satan se saad is, het sy nog altyd Jehovah se “vrou”, “die Jerusalem daar bo”, haar hoofteiken gemaak. In die eerste eeu is die gemeente van gesalfde Christene duidelik as die vrou se saad geïdentifiseer (Genesis 3:15; Galasiërs 3:29; 4:26). Babilon die Grote het hard probeer om hierdie kuis gemeente te oorwin deur dit te verlei om godsdienstige hoerery te pleeg. Die apostels Paulus en Petrus het gewaarsku dat baie daarvoor sou swig en dat dit ’n groot afvalligheid tot gevolg sou hê (Handelinge 20:29, 30; 2 Petrus 2:1-3). Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes het aangedui dat Babilon die Grote teen die einde van Johannes se lewe ’n mate van vooruitgang gemaak het in haar pogings om te verderf (Openbaring 2:6, 14, 15, 20-23). Maar Jesus het reeds getoon hoe ver sy toegelaat sou word om te gaan.
Die koring en die onkruid
8, 9. (a) Wat het Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid aangedui? (b) Wat het gebeur “terwyl die mense geslaap het”?
8 In sy gelykenis van die koring en die onkruid het Jesus gepraat van ’n man wat goeie saad in ’n saailand gesaai het. Maar “terwyl die mense geslaap het”, het ’n vyand gekom en onkruid daaroor gesaai. Gevolglik is die koring deur die onkruid verberg. Jesus het sy gelykenis met hierdie woorde uitgelê: “Die saaier van die goeie saad is die Seun van die mens; die saailand is die wêreld; wat die goeie saad betref, dit is die kinders van die koninkryk; maar die onkruid is die kinders van die bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die Duiwel.” Toe het hy getoon dat die koring en die onkruid toegelaat sou word om tot “die voleinding van die stelsel van dinge” saam te groei, wanneer die engele die simboliese onkruid sou “bymekaarmaak”.—Matteus 13:24-30, 36-43.
9 Die dinge waarteen Jesus en die apostels Paulus en Petrus gewaarsku het, het gebeur. “Terwyl die mense geslaap het”, nadat die apostels gesterf het of toe Christenopsieners lomerig geword het terwyl hulle die kudde van God opgepas het, het Babiloniese afvalligheid binne-in die gemeente ontstaan (Handelinge 20:31). Die onkruid was gou baie meer as die koring en het dit verberg. Etlike eeue lank het dit gelyk of die saad van die vrou geheel en al deur Babilon die Grote verswelg is.
10. Wat het teen die 1870’s plaasgevind, en hoe het Babilon die Grote hierop gereageer?
10 Teen die 1870’s het gesalfde Christene doelgerigte pogings begin aanwend om hulle van Babilon die Grote se hoeragtige weë te distansieer. Hulle het valse leerstellings wat die Christendom uit die heidendom ingebring het, laat vaar en die Bybel moedig gebruik om te verkondig dat die tye van die nasies in 1914 sou eindig. Die hoofwerktuig van Babilon die Grote, die geestelikes van die Christendom, het hierdie tekens van die herstel van ware aanbidding teëgestaan. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het hulle die oorlogshisterie uitgebuit in ’n poging om hierdie groepie getroue Christene uit te wis. In 1918, toe hulle bedrywighede feitlik heeltemal onderdruk is, het dit gelyk asof Babilon die Grote sukses behaal het. Sy het oënskynlik oor hulle geseëvier.
11. Wat het die val van eertydse Babilon tot gevolg gehad?
11 Soos ons vroeër opgemerk het, het die trotse stad Babilon in 539 v.G.J. op rampspoedige wyse uit ’n magsposisie geval. Toe is die uitroep gehoor: “Dit het geval! Babilon het geval!” Die groot setel van die wêreldryk is deur die leërs van Medo-Persië onder Kores die Grote verower. Hoewel die stad self deur die verowering heen behoue gebly het, het hy waarlik uit sy magsposisie geval, en dit het die vrylating van sy Joodse gevangenes tot gevolg gehad. Hulle het na Jerusalem teruggekeer om ware aanbidding daar te herstel.—Jesaja 21:9; 2 Kronieke 36:22, 23; Jeremia 51:7, 8.
12. (a) Hoe kan daar in ons tyd gesê word dat Babilon die Grote geval het? (b) Wat bewys dat Jehovah die Christendom heeltemal verwerp het?
12 In ons tyd is die uitroep dat Babilon die Grote geval het, ook gehoor! Die Babiloniese Christendom se tydelike sukses in 1918 is in 1919 heeltemal omgekeer toe die oorblyfsel van die gesalfdes, die Johannes-klas, deur ’n geestelike opstanding herstel is. Babilon die Grote het geval sover dit enige houvas op God se volk betref. Christus se gesalfde broers het soos sprinkane uit die afgrond geswerm, gereed vir aksie (Openbaring 9:1-3; 11:11, 12). Hulle was die hedendaagse “getroue en verstandige slaaf”, en die Heer het hulle oor al sy besittings op die aarde aangestel (Matteus 24:45-47). Die feit dat hulle op hierdie manier gebruik is, het bewys dat Jehovah die Christendom heeltemal verwerp het, ondanks haar bewering dat sy hom op die aarde verteenwoordig. Rein aanbidding is herstel, en die verseëling van die oorblyfsel van die 144 000—die oorblywendes van die saad van die vrou, die eeue oue vyand van Babilon die Grote—kon nou voltooi word. Dit alles het ’n verpletterende nederlaag vir hierdie sataniese godsdiensorganisasie beteken.
Volharding vir die heiliges
13. (a) Wat kondig die derde engel aan? (b) Hoe oordeel Jehovah dié wat die merk van die wilde dier ontvang?
13 Nou praat die derde engel. Luister! “En ’n ander engel, ’n derde, het hulle gevolg en met ’n harde stem gesê: ‘As iemand die wilde dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang, sal hy ook van die wyn van die toorn van God drink wat onverdun in die beker van sy gramskap ingeskink is’” (Openbaring 14:9, 10a). In Openbaring 13:16, 17 is daar geopenbaar dat dié wat die beeld van die wilde dier nie aanbid nie, gedurende die dag van die Here sou ly—selfs doodgemaak sou word. Nou hoor ons dat Jehovah besluit het om oordeel te voltrek aan dié “wat die merk het, die naam van die wilde dier of die getal van sy naam”. Hulle sal verplig wees om ’n bitter ‘beker van gramskap’ van Jehovah se toorn te drink. Wat sal dit vir hulle beteken? In 607 v.G.J., toe Jehovah Jerusalem verplig het om “sy beker van woede” te drink, het die stad “plundering en verbreking, en honger en swaard” deur die toedoen van die Babiloniërs ervaar (Jesaja 51:17, 19). Wanneer aanbidders van die aarde se politieke magte en hulle beeld, die Verenigde Nasies, die beker van Jehovah se gramskap drink, sal die gevolg ook vir hulle rampspoedig wees (Jeremia 25:17, 32, 33). Hulle sal heeltemal vernietig word.
14. Wat moet dié wat die wilde dier en sy beeld aanbid, selfs voor hulle vernietiging ondergaan, en hoe beskryf Johannes dit?
14 Maar selfs voordat dit gebeur, moet diegene met die merk van die dier die pynigende gevolge van Jehovah se misnoeë ondergaan. Die engel praat van die aanbidder van die wilde dier en sy beeld en deel Johannes mee: “En hy sal ten aanskoue van die heilige engele en ten aanskoue van die Lam met vuur en swael gepynig word. En die rook van hulle pyniging styg vir ewig en altyd op, en hulle het dag en nag geen rus nie, dié wat die wilde dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.”—Openbaring 14:10b, 11.
15, 16. Wat is die betekenis van die woorde “vuur en swael” in Openbaring 14:10?
15 Party het hierdie vermelding van vuur en swael beskou as ’n bewys dat ’n helse vuur bestaan. Maar ’n vlugtige ondersoek van ’n soortgelyke profesie toon wat hierdie woorde werklik in hierdie konteks beteken. In die dae van Jesaja het Jehovah die nasie Edom gewaarsku dat hulle gestraf sou word weens hulle vyandigheid teenoor Israel. Hy het gesê: “Sy strome sal in pik verander word en sy stof in swael; en sy land sal soos brandende pik word. Dit sal nie snags of bedags uitgeblus word nie; tot onbepaalde tyd sal sy rook bly opstyg. Van geslag tot geslag sal dit verskroei wees; vir ewig en altyd sal niemand daardeur trek nie.”—Jesaja 34:9, 10.
16 Is Edom in ’n mitiese helse vuur gegooi om vir ewig te brand? Natuurlik nie. Die nasie het eerder heeltemal van die wêreldtoneel verdwyn asof dit geheel en al deur vuur en swael verteer is. Die eindresultaat van die straf was nie ewige pyniging nie, maar “leegheid . . . woestheid . . . niks” (Jesaja 34:11, 12). Die rook ‘wat tot onbepaalde tyd opstyg’, beeld dit treffend uit. Wanneer ’n huis afbrand, kom daar ’n hele ruk nadat die vlamme uitgebrand het, nog rook uit die as, wat vir toeskouers ’n bewys is dat daar ’n verwoestende brand was. God se volk onthou vandag nog die les wat uit die vernietiging van Edom geleer moet word. In hierdie sin styg ‘die rook van sy verbranding’ nog steeds simbolies op.
17, 18. (a) Wat is die gevolg vir dié wat die merk van die wilde dier ontvang? (b) In watter sin word aanbidders van die wilde dier gepynig? (c) Hoe ‘styg die rook van hulle pyniging vir ewig en altyd op’?
17 Dié wat die merk van die wilde dier het, sal ook geheel en al vernietig word, asof deur vuur. Soos die profesie later openbaar, sal hulle lyke onbegrawe gelaat word sodat die diere en voëls dit kan eet (Openbaring 19:17, 18). Dit spreek dus vanself dat hulle nie letterlik vir ewig gepynig word nie! Hoe word hulle dan “met vuur en swael gepynig”? In die sin dat die verkondiging van die waarheid hulle aan die kaak stel en hulle van God se komende oordeel waarsku. Daarom belaster hulle God se volk en, waar moontlik, oorreed hulle die politieke wilde dier op listige wyse om Jehovah se Getuies te vervolg en selfs dood te maak. As ’n klimaks sal hierdie teenstanders asof met vuur en swael vernietig word. Dan ‘styg die rook van hulle pyniging vir ewig en altyd op’ in die sin dat God se veroordeling van hulle as ’n presedent sal dien indien Jehovah se regmatige soewereiniteit ooit weer betwis word. Hierdie geskil sal vir ewig besleg wees.
18 Wie verkondig vandag die pynigende boodskap? Onthou, die simboliese sprinkane het gesag om die mense te pynig wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie (Openbaring 9:5). Klaarblyklik is hierdie sprinkane onder engeleleiding die pynigers. Die simboliese sprinkane volhard in so ’n mate dat ‘dié wat die wilde dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang, dag en nag geen rus het nie’. En uiteindelik, ná hulle vernietiging, sal die indrukwekkende bewys van hierdie regverdiging van Jehovah se soewereiniteit, “die rook van hulle pyniging”, vir ewig en altyd opstyg. Mag die Johannes-klas volhard totdat hierdie regverdiging voltooi is! Soos die engel ten slotte sê: “Hiér beteken dit volharding vir die heiliges, dié wat die gebooie van God en die geloof van Jesus bewaar.”—Openbaring 14:12.
19. Waarom word volharding van die heiliges vereis, en wat sê Johannes wat hulle versterk?
19 Ja, “volharding vir die heiliges” beteken dat hulle Jehovah deur middel van Jesus Christus met uitsluitlike toegewydheid aanbid. Hulle boodskap is nie gewild nie. Dit lei tot teenstand, vervolging en selfs ’n marteldood. Maar hulle word versterk deur wat Johannes vervolgens sê: “En ek het ’n stem uit die hemel hoor sê: ‘Skryf: Gelukkig is die dooies wat van nou af in eenheid met die Here sterf. Ja, sê die gees, laat hulle van hulle arbeid rus, want die dinge wat hulle gedoen het, gaan met hulle saam.’”—Openbaring 14:13.
20. (a) Hoe stem die belofte waarvan Johannes vertel, ooreen met Paulus se profesie oor Jesus se teenwoordigheid? (b) Watter spesiale voorreg word die gesalfdes beloof wat sterf nadat Satan uit die hemel gewerp is?
20 Hierdie belofte stem goed ooreen met Paulus se profesie oor Jesus se teenwoordigheid: “Dié wat dood is in eenheid met Christus, sal eerste opstaan. Daarna sal ons, die lewendes wat oorbly [die gesalfdes wat nog in die dag van die Here lewe], saam met hulle in wolke weggeruk word om die Here in die lug te ontmoet” (1 Tessalonisense 4:15-17). Nadat Satan uit die hemel gewerp is, het dié wat dood was in eenheid met Christus, eerste opgestaan. (Vergelyk Openbaring 6:9-11.) Daarna word die gesalfdes wat gedurende die dag van die Here sterf, ’n spesiale voorreg beloof. Hulle opstanding tot geeslewe in die hemel is oombliklik, “in ’n oogwink” (1 Korintiërs 15:52). Hoe wonderlik is dit tog! En hulle regverdige werke word in die hemelse ryk voortgesit.
Die oes van die aarde
21. Wat vertel Johannes ons omtrent “die oes van die aarde”?
21 Ander sal ook in hierdie oordeelsdag bevoordeel word, soos Johannes verder vir ons sê: “En ek het gesien, en kyk! ’n wit wolk, en op die wolk het iemand soos ’n seun van die mens gesit, met ’n goue kroon op sy kop en ’n skerp sekel in sy hand. En ’n ander engel [die vierde] het uit die tempelheiligdom te voorskyn gekom en met ’n harde stem geroep na die een wat op die wolk sit: ‘Steek u sekel in en maai, omdat die uur gekom het om te maai, want die oes van die aarde is heeltemal ryp.’ En die een wat op die wolk sit, het sy sekel op die aarde ingesteek, en die aarde is gemaai.”—Openbaring 14:14-16.
22. (a) Wie is die een wat ’n goue kroon dra en op die wit wolk sit? (b) Wanneer bereik die oeswerk ’n klimaks, en hoe?
22 Daar is geen twyfel oor die identiteit van die een wat op die wit wolk sit nie. Aangesien hy op ’n wit wolk sit, soos ’n seun van die mens lyk en ’n goue kroon het, is hy ongetwyfeld Jesus, die Messiaanse Koning wat ook deur Daniël in ’n visioen gesien is (Daniël 7:13, 14; Markus 14:61, 62). Maar wat is die oes wat hier voorspel word? Terwyl Jesus op die aarde was, het hy die werk om dissipels te maak, vergelyk met die insameling van die wêreldveld van die mensdom (Matteus 9:37, 38; Johannes 4:35, 36). Hierdie oeswerk bereik ’n klimaks in die dag van die Here, wanneer Jesus as Koning gekroon word en namens sy Vader oordeel voltrek. Sy bewind, sedert 1914, is dus ook die vreugdevolle tyd wanneer die oes ingesamel word.—Vergelyk Deuteronomium 16:13-15.
23. (a) Van wie af kom die bevel om te begin maai? (b) Watter insameling het van 1919 tot nou toe plaasgevind?
23 Hoewel hy ’n Koning en ’n Regter is, wag Jesus vir ’n bevel van Jehovah sy God voordat hy begin maai. Hierdie bevel kom by monde van ’n engel uit “die tempelheiligdom”. Jesus gehoorsaam dit onmiddellik. Eers laat hy, van 1919 af, sy engele die insameling van die 144 000 voltooi (Matteus 13:39, 43; Johannes 15:1, 5, 16). Vervolgens vind die insameling van die groot menigte ander skape plaas (Johannes 10:16; Openbaring 7:9). Die geskiedenis toon dat ’n aansienlike aantal van hierdie ander skape tussen 1931 en 1935 begin verskyn het. In 1935 het Jehovah die Johannes-klas in staat gestel om die ware identiteit van die groot menigte van Openbaring 7:9-17 te verstaan. Sedertdien is die insameling van hierdie menigte sterk beklemtoon. Teen die jaar 2005 het hulle reeds meer as sesmiljoen getel, en hulle word steeds meer. Die een soos ’n seun van die mens het inderdaad gedurende hierdie tyd van die einde ’n oorvloedige, vreugdevolle oes ingesamel.—Vergelyk Eksodus 23:16; 34:22.
Die wingerdstok van die aarde word getrap
24. Wat is in die hande van die vyfde engel, en wat roep die sesde engel uit?
24 Wanneer die oes van redding voltooi is, breek die tyd vir ’n ander oes aan. Johannes vertel: “En nog ’n ander engel [die vyfde] het uit die tempelheiligdom wat in die hemel is, te voorskyn gekom, en hy het ook ’n skerp sekel gehad. En nog ’n ander engel [die sesde] het uit die altaar te voorskyn gekom, en hy het gesag oor die vuur gehad. En hy het met ’n harde stem uitgeroep na die een wat die skerp sekel gehad het en gesê: ‘Steek jou skerp sekel in en samel die trosse van die wingerdstok van die aarde in, want sy druiwe het ryp geword’” (Openbaring 14:17, 18). Aan die engeleskare word gedurende die dag van die Here baie oeswerk toevertrou, waarin hulle die goeies van die slegtes skei!
25. (a) Wat word aangedui deur die feit dat die vyfde engel uit die tempelheiligdom gekom het? (b) Waarom is dit gepas dat die bevel om te begin maai, van ’n engel kom wat “uit die altaar te voorskyn gekom” het?
25 Die vyfde engel kom uit Jehovah se teenwoordigheid in die tempelheiligdom; die finale oes vind dus ook volgens Jehovah se wil plaas. Die engel word beveel om sy werk te begin deur middel van ’n boodskap wat oorgedra word deur ’n ander engel wat “uit die altaar te voorskyn gekom” het. Hierdie feit is uiters betekenisvol, aangesien getroue siele onder die altaar gevra het: “Tot wanneer, Soewereine Heer, heilig en waaragtig, weerhou u u daarvan om te oordeel en ons bloed te wreek op dié wat op die aarde woon?” (Openbaring 6:9, 10). Wanneer die wingerdstok van die aarde geoes word, sal hierdie geroep om wraak verhoor word.
26. Wat is “die wingerdstok van die aarde”?
26 Maar wat is “die wingerdstok van die aarde”? In die Hebreeuse Geskrifte is die Joodse nasie Jehovah se wingerdstok genoem (Jesaja 5:7; Jeremia 2:21). Jesus Christus en dié wat saam met hom in God se Koninkryk sal dien, word ook ’n wingerdstok genoem (Johannes 15:1-8). Teen hierdie agtergrond is die betekenisvolle kenmerk van ’n wingerdstok dat dit vrugte voortbring, en die ware Christelike wingerdstok het ’n oorvloed vrugte tot lof van Jehovah voortgebring (Matteus 21:43). “Die wingerdstok van die aarde” is dus beslis nie hierdie ware wingerdstok nie, maar Satan se nabootsing daarvan, sy verdorwe sigbare regeringstelsel oor die mensdom, met die verskillende “trosse” demoniese vrugte wat dit deur die eeue heen voortgebring het. Babilon die Grote, waarin die afvallige Christendom so prominent is, het groot invloed oor hierdie giftige wingerdstok uitgeoefen.—Vergelyk Deuteronomium 32:32-35.
27. (a) Wat vind plaas wanneer die engel met die sekel die wingerdstok van die aarde oes? (b) Watter profesieë in die Hebreeuse Geskrifte dui die grootte van die oes aan?
27 Die oordeel moet voltrek word! “En die engel het sy sekel in die aarde ingesteek en die wingerdstok van die aarde geoes, en hy het dit in die groot wynpers van die toorn van God geslinger. En die wynpers is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die wynpers uitgekom tot aan die tooms van die perde, vir ’n afstand van duisend-seshonderd stadie” (Openbaring 14:19, 20). Jehovah se verontwaardiging teen hierdie wingerdstok is lankal aangekondig (Sefanja 3:8). ’n Profesie in die boek Jesaja laat ons in geen twyfel dat hele nasies vernietig sal word wanneer die wynpers getrap word nie (Jesaja 63:3-6). Joël het ook voorspel dat groot “menigtes”, hele nasies, in “die wynpers”, in “die laagvlakte van die beslissing”, getrap en sodoende vernietig sou word (Joël 3:12-14). Dit is werklik ’n ontsaglike oes waarvan die gelyke nooit weer sal plaasvind nie! Volgens Johannes se visioen word nie net die druiwe geoes nie, maar word die hele simboliese wingerdstok afgesny en in die wynpers gegooi om getrap te word. Só sal die wingerdstok van die aarde uitgeroei word en sal dit nooit weer kan groei nie.
28. Wie trap die wingerdstok van die aarde, en wat beteken dit dat die wynpers “buitekant die stad getrap” word?
28 In die visioen doen perde die trapwerk, want die bloed wat uit die wingerdstok getrap word, kom tot aan “die tooms van die perde”. Aangesien die term “perde” gewoonlik na oorlogsverrigtinge verwys, moet dit ’n oorlogstyd wees. Daar word gesê dat die leërs van die hemele wat Jesus in die finale oorlog teen Satan se stelsel van dinge volg, “die wynpers van die toorn van die gramskap van God die Almagtige” trap (Openbaring 19:11-16). Dit is onteenseglik hulle wat die wingerdstok van die aarde trap. Die wynpers word “buitekant die stad getrap”, dit wil sê buitekant hemelse Sion. Dit is inderdaad gepas dat die wingerdstok van die aarde op die aarde getrap word. Maar dit sal ook “buitekant die stad getrap” word in die sin dat die oorblywendes van die vrou se saad, wat die hemelse Sion op die aarde verteenwoordig, geen kwaad aangedoen sal word nie. Hulle sal saam met die groot menigte veilig in Jehovah se aardse organisatoriese reëling verskuil wees.—Jesaja 26:20, 21.
29. Hoe diep is die bloed uit die wynpers, hoe ver strek dit, en wat dui dit alles aan?
29 Hierdie treffende visioen het ’n parallel in die verbryseling van die koninkryke van die aarde deur die Koninkryksklip wat in Daniël 2:34, 44 beskryf word. Daar sal ’n uitwissing wees. Die rivier van bloed uit die wynpers is baie diep, tot aan die tooms van die perde, en dit strek oor ’n afstand van 1 600 stadie.a Hierdie groot syfer, wat verkry word wanneer die vierkant van vier met die vierkant van tien vermenigvuldig word (4 x 4 x 10 x 10), dra nadruklik die boodskap oor dat die bewys van die vernietiging oor die hele aarde aangetref sal word (Jesaja 66:15, 16). Die vernietiging sal volkome en onherroeplik wees. Nooit, nee, nooit weer sal Satan se wingerdstok van die aarde wortelskiet nie!—Psalm 83:17, 18.
30. Wat is die vrugte van Satan se wingerdstok, en wat moet ons vaste voorneme wees?
30 Aangesien ons diep in die tyd van die einde lewe, is die visioen van hierdie twee oeste baie betekenisvol. Ons hoef net om ons rond te kyk om die vrugte van Satan se wingerdstok te sien. Aborsies en ander vorme van moord; homoseksualiteit, egbreuk en ander vorme van onsedelikheid; oneerlikheid en ’n gebrek aan natuurlike liefde—al hierdie dinge maak hierdie wêreld afskuwelik in Jehovah se oë. Satan se wingerdstok dra “die vrug van ’n gifplant en als”. Die verderflike, afgodiese handelswyse daarvan doen die mensdom se Grootse Skepper oneer aan (Deuteronomium 29:18; 32:5; Jesaja 42:5, 8). Wat ’n voorreg is dit tog om aktief saam met die Johannes-klas deel te neem aan die insameling van heilsame vrugte wat Jesus tot lof van Jehovah voortbring! (Lukas 10:2). Mag dit ons almal se vaste voorneme wees om nooit deur die wingerdstok van hierdie wêreld besmet te word nie sodat ons nie saam met die wingerdstok van die aarde getrap word wanneer Jehovah se ongunstige oordeel voltrek word nie.
[Voetnoot]
a 1 600 stadie is ongeveer 300 kilometer.—Openbaring 14:20, voetnoot in NW.
[Venster op bladsy 208]
‘Die wyn van haar hoerery’
’n Prominente deel van Babilon die Grote is die Rooms-Katolieke Kerk. Die kerk word bestuur deur die pous in Rome en beweer dat elke pous ’n opvolger van die apostel Petrus is. Hier volg enkele gepubliseerde feite oor hierdie sogenaamde opvolgers:
Formosus (891-96): “Nege maande ná sy dood is Formosus se lyk uit die pouslike grafkelder gehaal en voor ’n ‘lykraad’ onder voorsitterskap van Stefanus [die nuwe pous] verhoor. Die afgestorwe pous is beskuldig van buitensporige ambisie vir die pouslike amp en al sy dade is ongeldig verklaar. . . . Die pouslike gewaad is van die lyk verwyder; die vingers van die regterhand is afgesit.”—New Catholic Encyclopedia.
Stefanus VI (896-97): “Binne ’n paar maande [ná die verhoor van Formosus se lyk] het ’n gewelddadige reaksie die pousskap van pous Stefanus beëindig; hy is die pouslike onderskeidingstekens ontneem, in die gevangenis gegooi en verwurg.”—New Catholic Encyclopedia.
Sergius III (904-11): “Sy twee onmiddellike voorgangers . . . is in die gevangenis verwurg. . . . In Rome is hy ondersteun deur die Theophylactus-familie, by wie se een dogter, Marozia, hy glo ’n seun gehad het (later pous Johannes XI).”—New Catholic Encyclopedia.
Stefanus VII (928-31): “In die laaste jare van sy pousskap het pous Johannes X . . . hom die gramskap van Marozia, die Donna Senatrix van Rome, op die hals gehaal en is hy in die gevangenis gegooi en vermoor. Marozia het die pousdom toe aan pous Leo VI toegeken, wat na 6 1/2 maande in die amp gesterf het. Stefanus VII het hom opgevolg, waarskynlik weens Marozia se invloed. . . . Gedurende sy 2 jaar as pous was hy magteloos onder die oorheersing van Marozia.”—New Catholic Encyclopedia.
Johannes XI (931-35): “Ná die dood van Stefanus VII . . . het Marozia, van die Huis van Theophylactus, die pousdom vir haar seun Johannes, ’n jong man in sy vroeë 20’s, bekom. . . . As pous is Johannes deur sy moeder oorheers.”—New Catholic Encyclopedia.
Johannes XII (955-64): “Hy was skaars agtien, en eietydse verslae praat almal van sy gebrek aan belangstelling in geestelike sake, verslawing aan onverfynde genietinge en uiters losbandige lewe.”—The Oxford Dictionary of Popes.
Benedictus IX (1032-44; 1045; 1047-48): “Hy was berug vir die feit dat hy die pousdom aan sy peetvader verkoop het en die amp daarna twee maal teruggeëis het.”—The New Encyclopædia Britannica.
Pleks van die voorbeeld van die getroue Petrus te volg, was hierdie en ander pouse dus ’n bose invloed. Hulle het toegelaat dat bloedskuld en geestelike en fisiese hoerery, sowel as ’n Isebel-invloed, die kerk verderf waaroor hulle geheers het (Jakobus 4:4). In 1917 het die Bybelstudente se boek The Finished Mystery baie van hierdie feite in naakte besonderhede vermeld. Dit was een manier waarop die Bybelstudente in daardie dae ‘die aarde met allerhande plae getref het’.—Openbaring 11:6; 14:8; 17:1, 2, 5.
[Prent op bladsy 206]
Die gekroonde Christus voltrek oordeel met engelesteun
[Prent op bladsy 207]
Nadat Babilon in 539 v.G.J. geval het, is sy gevangenes vrygelaat