Kyk verder as mensgemaakte “vrede en veiligheid”
Die waarheid is dat mense nooit ware, blywende vrede kan bring nie. Waarom nie? Omdat mense nie die ware vredeverstoorders is nie, hoewel hulle ook skuld het aan hulle bloedbevlekte geskiedenis. Die ware vredeverstoorder is baie sterker as die mens. Dit is niemand anders nie as Satan die Duiwel, wat in die Bybel beskryf word as die een “wat die hele wêreld verlei”.—Openbaring 12:9.
DIE Bybel sê: “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose [Satan]” (1 Johannes 5:19). Om ware vrede en blywende veiligheid tot stand te bring, moet Satan derhalwe van die toneel verwyder word, saam met die wêreldstelsel wat hy opgebou het en wat so duidelik deur hom beheer word. (Vergelyk Jesaja 48:22; Romeine 16:20.) Mense kan dit nie doen nie.
Hoe kan vrede en veiligheid dan tot stand gebring word? Deur die krag van die Een wat oneindig sterker is as Satan. Die almagtige God het ’n beperking gestel op Satan se tyd om onder die mensdom bedrywig te wees. Wanneer daardie tyd om is, sal “’n skielike verderf” die wêreld oorval wat in Satan se mag lê (1 Thessalonicense 5:3-7). Al die getuienis lei tot die gevolgtrekking dat dit binnekort gaan gebeur.
Vrede en veiligheid nou!
Maar wat van nou? ’n Mate van ware vrede en veiligheid is selfs vandag moontlik. Hoe? Nie soos baie godsdiensleiers probeer het, deur by die politieke aangeleenthede van hierdie wêreld betrokke te raak nie, maar eerder deur God se wette en raad toe te pas.
Bring so ’n handelswyse werklik vrede voort? Ja, beslis. Jehovah se Getuies het dit beproef en byvoorbeeld gevind dat dit werklik moontlik is om ware vrede sowel as ’n mate van veiligheid te geniet. Omdat hulle God se wette toepas soos wat dit in die Bybel uiteengesit word, stel dit hulle in staat om in ware vrede byeen te kom as ’n internasionale organisasie, ongeag hulle ras, nasionaliteit of taal.—Psalm 133:1.
Hulle gehoorsaamheid aan goddelike wette het hulle beweeg om op simboliese wyse ‘van hulle swaarde pikke te smee en om nie meer te leer om oorlog te voer nie’ (Jesaja 2:2-4). Hulle voel veilig in God se liefde en het die vertroue dat hulle geestelike broers vir hulle omgee (Romeine 8:28, 35-39; Filippense 4:7). As jy twyfel of dit waar is, nooi ons jou om hulle in een van hulle Koninkryksale te besoek en self te gaan kyk.
Vrede en veiligheid wêreldwyd
Dit is egter nie die finale vervulling van die Bybel se belofte van ware vrede en veiligheid nie. Allesbehalwe! Dit is bloot ’n voorsmaak van hoe hierdie wêreld sal wees as almal God se wette sou gehoorsaam. Daardie voorsmaak sal binnekort ’n werklikheid word.
Die apostel Paulus het gesê: “Want wanneer hulle [diegene wat God nie dien nie] sê: Vrede en veiligheid [wanneer hulle dink dat hulle eindelik vrede en veiligheid op hulle manier bewerkstellig het]—dan oorval ’n skielike verderf hulle” (1 Thessalonicense 5:3). God sal besluit dat Satan die mensdom lank genoeg mislei het. Dan sal dit die tyd wees om hom, tesame met die korrupte wêreldstelsel wat in sy mag is, van die toneel te verwyder. Dan sal Daniël se profesie vervul word: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.
Sal dit onredelik van God wees om so op te tree? Glad nie. Skielike verderf sal slegs diegene oorval wat dit volgens God se oordeel, volgens God se standaarde, verdien. Vertrou jy dat die Skepper se beslissing in hierdie saak regverdig sal wees? Ons kan die saak beslis aan hom oorlaat! En wat sal die gevolg van sy oordeelswerk wees? Die spreuk lui: “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei . . . word” (Spreuke 2:21, 22). Sal enigiemand bedroef wees omdat die goddeloses nie meer daar is nie?
Wanneer die vredeverstoorders uit die weg geruim is, sal die mensdom oor die hele aarde ware vrede en veiligheid onder die heilsame heerskappy van God se Koninkryk geniet. “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Glo jy hierdie belofte van die Bybel? Is jy vol vertroue dat hierdie dinge binnekort gaan gebeur? As jy enigsins twyfel, moedig ons jou aan om die saak verder te ondersoek. God se manier is in der waarheid die enigste manier waarop die mens ooit die verlangde doelwit van ware vrede en ware veiligheid sal bereik.
[Prente op bladsy 8]
Jehovah se volk geniet vandag ware vrede en ’n groot mate van veiligheid