Waak teen “Vrede en veiligheid” wat deur nasies bedink word
“Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid.”—1 THESSALONICENSE 5:3.
1, 2. (a) Waarom is vrede nou verkiesliker as wysheid? (b) Waaroor sal teenstrydige politieke stelsels dus ooreenkom?
DIE hele mensdom was nog nooit so onveilig soos wat hy vandag is nie. Daar word gevrees vir ’n derde wêreldoorlog tussen hoogs gemilitariseerde nasies wat in besit is van wat nou blykbaar die wapen der wapens is—die kernbom. Die nasies se vermoë om die kern van atome vir oorlogsdoeleindes te benut, het hulle omtrent sover geneem as wat hulle in massamenseslagting kan gaan. Vrede is derhalwe nou verkiesliker as wysheid.
2 Ja, inderdaad, want in ons tyd sal ’n derde wêreldoorlog met sulke wapens niks minder as wêreldselfmoord beteken nie, met mense wat so goed as in die niet geblaas word of aan die gevolge van ’n kernslagting sterf. Skerpsinnige politici en militêre bevelvoerders is pynlik bewus van daardie feit. Hulle wil nie verantwoordelik word vir so ’n wêreldramp nie. Dit sal politieke stelsels wat lynreg in stryd met mekaar is derhalwe pas om tot ’n ooreenkoms te kom, ja, om die wêreldwyse filosofie van “lewe en laat lewe” te volg.
3. Waarom sal die nasies “Vrede en veiligheid” uitroep?
3 Die nasies vertrou mekaar desondanks nie ten volle nie. As ’n voorsorgmaatreël hou hulle hul militêre organisasies in volle gang. Sal dit dus uit opregte liefde vir mekaar as lede van dieselfde menseras wees dat heersers sal verenig om “Vrede en veiligheid” vir die hele mensdom uit te roep? Nee, maar dit sal wees om die gegronde vrese van die mense te stil.—1 Thessalonicense 5:3.
Die reaksie van die geestelikes en die publiek op die komende uitroep
4, 5. (a) Watter reaksie van die publiek kan ons op die komende uitroep verwag? (b) Watter vrae ontstaan oor die kwessie of God die komende uitroep sal ondersteun, al steun die geestelikes dit?
4 Wanneer hierdie uitroep uiteindelik gemaak word, behoort die publiek se reaksie daarop dwarsdeur die aarde gunstig te wees. Die wêreld se godsdiensleiers, met inbegrip van die geestelikes van die Christendom, Katoliek sowel as Protestants, sal ongetwyfeld hierdie internasionale gebaar verwelkom. Die geestelikes hang die mantel na watter kant die wind ook al waai sodat hulle in die volk se guns kan bly en politieke bystand en vergoeding kan verkry.
5 Maar die geestelikes se steun van die luid verkondigde politieke reëling beteken nie dat die God van die heelal, ons aarde inkluis, dit sal ondersteun nie. Die geestelikes doen lang en luide gebede in hulle godsdiensgeboue ten aanhore van hulle godsdiensaanhangers en vra om die goddelike seën op die maatreëls wat die politieke element vir internasionale vrede en veiligheid tref. Maar is al sulke ernstige gebede, waarop gemeentes kragtig “Amen” sê, vir die God van hierdie heelal aanvaarbaar? Kan hy in vrede verkeer met ’n godsdienstig verdeelde wêreld, wie se gebede om vrede en veiligheid geskoei is op die lees van die verdeelde godsdienssektes en denominasies?
6, 7. (a) Watter gedragslyn het die Christendom, soos die eertydse Jode, ingeslaan? (b) Wat sal die geestelikes se steun van die uitroep “Vrede en veiligheid” tot gevolg hê?
6 Daar word nêrens luider op God se steun aanspraak gemaak as in die nasies van die Christendom nie. Maar die God van die heelal is nie die Een wat oor die Christendom heers nie. Sy het ’n gedragslyn soortgelyk aan dié van die eertydse Israeliete ingeslaan. Toe hulle onvergenoeg geraak het met Jehovah se regeringswyse en begin dink het dat die politieke bestel van die heidense nasies om hulle verkieslik was, het hulle na Jehovah se profeet Samuel gegaan en hom gevra om ’n koning oor hulle aan te stel. Samuel was baie ontevrede en gegrief hieroor. Die God wie se profeet hy was, het net so gevoel.
7 Jehovah het tereg gekrenk gevoel oor hierdie versoek dat daar van sy teokratiese bestel oor Israel weggebreek word. Hy het vir sy profeet Samuel gesê: “Nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie” (1 Samuel 8:4-9). Dit het die weg wat die Christendom in hierdie 20ste eeu ingeslaan het, afgeskadu. Die geestelikes se toekomstige verwelkoming van die uitroep “Vrede en veiligheid” sal dus geen goeie gevolg hê nie, geen goddelike seën geniet nie.
Die mensdom word gerusgestel
8. Watter rol sal die Verenigde Volke waarskynlik in die komende uitroep speel, en waarom laat hierdie organisasie die mensdom gerus voel?
8 Die Verenigde Volke kan vandag met 159 lidlande spog, wat feitlik alle nasies insluit. Die Verenigde Volke sal ongetwyfeld mettertyd aan die spits staan wanneer dit kom by die uitroep “Vrede en veiligheid”! Ongelukkig laat daardie wêreldorganisasie die miljarde lede van die mensdom gerus voel. Hoe so? Omdat sulke vrede, al word dit gesteun deur al die godsdiensorganisasies van hierdie wêreld, dié van die Christendom inkluis, nie vrede beteken met die Skepper van die heelal nie, wat die mag het om lewe te gee en dit weg te neem ooreenkomstig sy beslissing van lewensbelangrike sake in die hemele en op die aarde.
9, 10. Wat is die standpunt van Jehovah se Getuies ten opsigte van die “Vrede en veiligheid” wat deur nasies bedink word, en waarom?
9 In die profesie van Jesaja sê die Skepper uitdruklik: “Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete” (Jesaja 66:1). Die nasies hieronder op sy voetbank versier dit nie met hulle Verenigde Volke-organisasie nie. Hulle strewe daarna om op politieke gebied wêreldwye vrede en veiligheid te handhaaf en sodoende die Verenigde Volke in die lewe te hou. Jehovah se toegewyde Getuies op die aarde kan nie saam met die wêreld op die mensgemaakte maatreëls vertrou wat vir die vrede en veiligheid van die wêreldlike nasies ingestel word nie. Hulle neem die woorde van Jakobus 4:4 ter harte: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God.”
10 Hoewel Jehovah se Getuies die vrede en veiligheid wat deur nasies bedink word nie daadwerklik teenstaan nie, kan hulle dit nie aanbeveel by die miljoene mense wat ’n veilige oord soek wanneer die wêreld se grootste moeilikheid uitbreek en ’n einde aan hierdie stelsel maak nie (Mattheüs 24:21). Want dit is God se nuwe stelsel wat wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”, Jesus Christus, gaan inbring.—Jesaja 9:5, 6.
11. Hoe het die geestelikes die voorstel dat die Volkebond ná die Eerste Wêreldoorlog opgerig moes word, beskou?
11 Die geskiedenis getuig van die mislukking van menslike planne vir vrede. Ons onthou dat die Volkebond aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 as ’n voorkomingsmaatreël teen wêreldoorlog voorgestel is. Die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika het die voorstel verwelkom en gesê: “So ’n Bond is nie ’n blote politieke uitweg nie; dit is eerder die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde.” Maar het daardie sogenaamde politieke beliggaming van God se aardse koninkryk blywende vrede en veiligheid vir die aarde gebring?
12. (a) Hoe is Openbaring 17:8 vervul? (b) Wie ry steeds op die rug van die “skarlakenrooi dier”, en hoe lank nog?
12 Soos die simboliese “skarlakenrooi dier” van Openbaring hoofstuk 17, waarop die ou hoer, “Babilon die Grote”, gaan sit het, het die Volkebond met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 in “die afgrond” neergedaal. Hy het sy hoerruiter gedwing om af te spring. Na die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 is die Verenigde Volke as die opvolger van die gedoemde Volkebond opgerig. Dit het baie meer lidlande as wat die Bond gehad het, en daarom behoort dit ’n sterker organisasie te wees en meer vertroue aan die kant van die mensdom te verdien. So het dit gebeur dat die simboliese “skarlakenrooi dier” in 1945 “uit die afgrond” opgekom het en die simboliese hoer, “Babilon die Grote”, weer op sy rug geklim het, waar sy tot vandag toe skaamteloos sit (Openbaring 17:3, 5, 8, vgl. NW). Maar volgens Openbaring 17:16–18:24 sal dit nie meer lank die geval wees nie. Waarom nie?
13. (a) Wat is die Verenigde Volke? (b) Hoe is dit lank gelede afgeskadu?
13 Die Verenigde Volke is in werklikheid ’n wêreldse samespanning teen Jehovah God en sy toegewyde Getuies op aarde. Dit is ’n sameswering waarin die wêreldse nasies die koppe bymekaar steek en beplan wat hulle teen Jehovah God se sigbare organisasie op aarde kan doen. Die sameswering gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” is afgeskadu deur die sameswering waarvan Jesaja 8:12 praat.—Mattheüs 24:3.
Vertrou op Jehovah vir vrede en veiligheid
14. Waarom het die tienstammeryk van Israel met Sirië saamgespan, en voor watter vraag het die koninkryk van Juda te staan gekom?
14 Die 12 stamme van die nasie Israel is voor Jesaja se tyd oor die kwessie van koningskap verdeel. Dit was na die glorieryke bewind van koning Salomo. Die afgestigte tien stamme aan die noorde het die sogenoemde koninkryk van Israel, met sy hoofstad te Samaria, gestig. Die ander twee stamme, die stam van Juda en van Benjamin, het lojaal gebly aan die koningshuis van koning Dawid in die hoofstad Jerusalem. Die tienstammeryk van Israel het hulle in vyandigheid teen die tweestammeryk van Juda gedraai. Later het die koninkryk van Israel ’n verbond met die koninkryk van Sirië aangegaan, wat Damaskus as sy hoofstad gehad het. Die idee was om die koninkryk van Juda tot ’n val te bring en dit te onderwerp. Moet die koninkryk van Juda derhalwe met ’n ander sterk nasie saamspan ten einde weerstand te bied aan die nasie Israel wat met die heidense nasie Sirië saamgespan het?—Jesaja 7:3-6.
15. (a) Ten gunste waarvan was party mense in die koninkryk van Juda, en wat het hierdie gesindheid verraai? (b) Hoe het die profeet Jesaja so ’n gesindheid veroordeel?
15 Daar was diegene in die koninkrykie van Juda wat geloof in die nasionale God Jehovah verloor het. Hulle was ten gunste van ’n samespanning, of ’n sameswering, met ’n magtige heidense koninkryk van hierdie wêreld. Party, wat so ’n ontroue verbintenis tussen Jehovah se koninkryk van Juda en ’n koninkryk van die goddelose wêreld voorgestaan het, het vir die besluiteloses in die koninkryk van Juda gesê: “’n Sameswering”! So het hulle hulle gebrek aan geloof en vertroue in die God wie se tempel in Jerusalem was, verraai. Die profeet Jesaja is geïnspireer om so ’n sameswering te veroordeel en het in Jes hoofstuk 8 vers 12 gesê: “Julle mag nie alles ’n sameswering noem wat hierdie volk ’n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie.”
16, 17. Wat het ware vrede en veiligheid vir Jehovah se eertydse volk beteken, en hoe is dit getoon toe Assiriese koning Sanherib Jerusalem bedreig het?
16 Die feit dat Jehovah met die volk was wat ’n verbondsverhouding met hom gehad het, het vrede en veiligheid vir hulle beteken. Dit is getoon toe die Assiriese monarg Sanherib ’n komitee van drie hooggeplaaste amptenare gestuur het om koning Hiskia en die mense van Jerusalem te versoek om aan Sanherib oor te gee. Die Assiriese beampte en woordvoerder, die rabsake, het voor die mure van Jerusalem gestaan en Jehovah God openlik afgekraak in ’n poging om die Jode se vertroue in Hom te ondermyn of te vernietig. Koning Hiskia, wat diep bedroef was oor hierdie verkleinering van die enigste lewende en ware God Jehovah en tereg bewus was van die gevaar wat hierdie oorweldigende horde Assiriërs vir Jerusalem ingehou het, het na die tempel gegaan en die saak aan Jehovah God voorgelê. Omdat hierdie blyk van volle vertroue in hom en hierdie versoek aan hom om sy universele soewereiniteit te laat geld Jehovah behaag het, het hy ’n gunstige antwoord gegee. Sy profeet Jesaja het dit bevestig. Die intimiderende Assiriese rabsake is glad nie geantwoord nie, net soos koning Hiskia beveel het.—2 Konings 18:17-36; 19:14-34.
17 Die rabsake, wat ongetwyfeld uiters verbaas was hieroor, het teruggekeer na die kamp van Sanherib, wat toe teen Libna geveg het (2 Konings 19:8). Ná Sanherib die rabsake se verslag gehoor het, het hy dreigbriewe aan Hiskia gestuur en gewaarsku: “Laat u God op wie u vertrou, u nie bedrieg nie deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie” (2 Konings 19:9, 10). Na sononder het Jehovah God self die Assiriese spreekbuis, die rabsake, geantwoord en het Hy self Sanherib se dreigbriewe beantwoord om te bewys dat Hy groter as die ryksgod van die Assiriërs is. Die verslag oor hierdie episode eindig met die woorde soos opgeteken in 2 Konings 19:35: “En in dieselfde nag het die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak—was dit almal dooie liggame!” Toe die oorlewende Assiriërs, met inbegrip van koning Sanherib en moontlik die rabsake, met dagbreek opstaan, het hulle die skrikwekkende toneel van gesneuweldes weens oorlog teen Jehovah God rondom hulle gesien.
18. (a) Hoe het sake vir die ambisieuse Sanherib afgeloop? (b) Watter voorbeeld behoort hierdie geskiedkundige verslag vandag vir Jehovah se Getuies in te hou?
18 Met sy ambisieuse planne teen Jehovah se organisasie tot niet en baie vernederd het Sanherib hom “met ’n beskaamde aangesig” na sy nasionale hoofstad, Nineve, teruggehaas, en is hy deur twee van sy seuns vermoor (2 Kronieke 32:21; 2 Konings 19:36, 37). Die Assiriese ryk het Jehovah se sigbare organisasie nooit weer bedreig nie. Dit was inderdaad ’n voortreflike verheerliking van die allerhoogste God se universele soewereiniteit. Jerusalem se bewaring is boonop ’n uitstekende voorbeeld wat toon op wie Jehovah se Getuies vandag ten volle moet vertrou vir blywende, onverstoorbare vrede en veiligheid—nie op ’n politieke sameswering nie, maar op Jehovah God.
Wees waaksaam
19. Wat sal die Wagtoringgenootskap aanhou doen?
19 Die Wagtoringgenootskap sal voortgaan om in sy publikasies tydige waarskuwings aan die leserspubliek te rig om jou te help om waaksaam te bly sodat jy nie onverhoeds gevang word deur die komende, aanmatigende uitroep “Vrede en veiligheid”, wat deur die nasies van hierdie ou stelsel bedink word nie.
20. Waarom sal Jehovah se Getuies geensins vertroue in die komende “Vrede en veiligheid” voorstaan nie, en waarvoor is dit dus nou die tyd?
20 Jehovah se toegewyde Getuies kan geensins vertroue voorstaan in die “Vrede en veiligheid” wat die wêreldse nasies met oortuiging sal uitroep nie; hulle kan ook nie die uitdinkers van sulke internasionale “Vrede en veiligheid” gelukwens en terselfdertyd Jehovah God aan hulle kant hê nie. Hulle waak teen enige verbintenis met die nasies van hierdie ou stelsel. Hulle herinner hulleself voortdurend daaraan dat ’n nuwe “nasie”, afgeskeie en afsonderlik van die Volkebond, in die naoorlogse jaar 1919 in aansyn gekom het. Hierdie “nasie” groei en brei steeds oor die hele aarde uit, net soos in Jesaja 60:22 voorspel is: “Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom.” Ja, nou is die tyd vir ons almal om te waak teen die naderende “Vrede en veiligheid” wat deur nasies bedink word.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe sal die publiek waarskynlik op die uitroep ‘Vrede en veiligheid” reageer?
◻ Wat is deur die “sameswering” van Jesaja 8:12 afgeskadu?
◻ Hoe laat die VV die mensdom gerus voel?
◻ Waarom sal Jehovah se Getuies nie onverhoeds gevang word nie?
[Prent op bladsy 18]
Die VV sal ongetwyfeld aan die spits van die komende uitroep “Vrede en veiligheid” wees
[Prent op bladsy 21]
Die Assiriese beampte, die rabsake, het Israel se God afgekraak, maar die uiteinde het getoon dat ware vrede en veiligheid slegs van Jehovah God kom