LES 8
Waarom trek ons netjies aan vir ons vergaderinge?
Ysland
Mexiko
Guinee-Bissau
Filippyne
Het jy in die prente in hierdie brosjure opgemerk hoe netjies aangetrek Jehovah se Getuies is wanneer hulle hulle gemeentelike vergaderinge bywoon? Waarom skenk ons soveel aandag aan ons kleredrag en persoonsversorging?
Om respek vir ons God te toon. Dit is waar dat God verder as ons uiterlike voorkoms kyk (1 Samuel 16:7). Maar wanneer ons bymekaarkom om hom te aanbid, is dit ons opregte begeerte om respek vir hom sowel as vir ons mede-aanbidders te toon. As ons voor ’n regter in die hof moet verskyn, sal ons uit agting vir sy posisie waarskynlik aandag skenk aan ons voorkoms. Net so getuig ons voorkoms by die vergaderinge van ons agting vir “die Regter van die hele aarde”, Jehovah God, en vir die plek waar ons hom aanbid.—Genesis 18:25.
Om te toon volgens watter waardes ons lewe. Die Bybel spoor Christene aan om “met beskeidenheid en gesonde verstand” aan te trek soos diegene wat “God vereer” (1 Timoteus 2:9, 10). As ons “met beskeidenheid” aantrek, beteken dit dat ons kleredrag vermy wat moontlik die aandag op ons sal vestig omdat dit opvallend, verleidelik of gewaagd is. En as ons “gesonde verstand” het, help dit ons om aantreklike klere te kies wat nie slordig of uitspattig is nie. Hierdie beginsels laat nog steeds ruimte vir ’n groot verskeidenheid persoonlike keuses. Sonder om ’n woord te sê, kan ons aantreklike en smaaklike voorkoms ‘die leer van ons Redder versier’ en ‘God verheerlik’ (Titus 2:10; 1 Petrus 2:12). As ons netjies aantrek vir die vergaderinge, het ons dus ’n invloed op hoe ander die aanbidding van Jehovah beskou.
Moenie dat jou klere verhinder dat jy vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon nie. Ons klere hoef nie duur of deftig te wees om gepas, skoon en fatsoenlik te wees nie.
Hoe belangrik is ons kleredrag wanneer ons God aanbid?
Watter beginsels rig ons keuse van kleredrag en persoonsversorging?