Mode—die antieke Griekse styl
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GRIEKELAND
WAAROM moes die Christenskrywers Paulus en Petrus in die eerste eeu spesifieke raad oor vrouedrag gee? Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Ek [wil] hê dat die vroue hulle met goed versorgde kleredrag moet versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, nie met vorme van haarvlegtery en goud of pêrels of baie duur klere nie” (1 Timoteus 2:9). Petrus het dit eweneens nodig gevind om oor “uiterlike haarvlegtery”, “die omhang van goue sierade” en “die dra van boklere” te praat.—1 Petrus 3:3.
Hulle het aan Christene geskryf wat onder die invloed van die Hellenistiese kultuur geleef het, wat direk van die klassieke Griekse beskawing afkomstig was. Was daar so iets soos mode in antieke Griekeland? Wanneer baie mense aan ’n tipiese eertydse Griek dink, stel hulle hulle waarskynlik ’n man of ’n vrou voor wat geklee is in die kenmerkende khi·tonʹ, of tuniek—die japonagtige kledingstuk—ongeag die tydperk onder bespreking of die draer se geslag of waar hy vandaan kom.a Is hierdie beeld reg? Nee!
Hoe die onderkleed gemaak en gedra is
’n Nadere ondersoek na standbeelde, keramiekskilderye en klassieke geskrifte toon dat antieke Griekse kleredrag uit meer as net lang, wit gewade bestaan het. Daar was ’n verskeidenheid uiteenlopende style, kledingstowwe, kleure, patrone sowel as bykomstighede. Veral vroue het ’n groot verskeidenheid vindingryke middele gebruik om hulle voorkoms te verbeter.
Lesers van die eertydse Griekse digter Homerus se verhalende gedig, die Odyssee, wat die tien jaar lange swerftogte van die mitiese held Odusseus beskryf het, sal dalk onthou dat Penelope, die held se vrou, gedurende al daardie jare aangehou het om dieselfde stuk materiaal te weef en uit te rafel terwyl sy gewag het dat hy weer huis toe kom. Homerus verwys nog ’n paar keer na klere, wat impliseer dat die vervaardiging van materiaal van die vroegste tye af een van ’n vrou se groot huislike verantwoordelikhede was.
Nadat materiaal geweef is, is dit gesny om die khi·tonʹ te maak—’n hempagtige linne-, en later soms ’n wolkledingstuk—wat die basis vir beide mans- en vroueklere gevorm het. In Argaïese tye (ongeveer 630 tot 480 v.G.J.) het die vroue-khi·tonʹ (wat toe die e·sthesʹ genoem is) uit ’n eenvoudige stuk materiaal bestaan wat ongeveer die vrou se lengte en twee keer die spanwydte van haar arms was. (Vergelyk Johannes 19:23; Handelinge 10:30, The Kingdom Interlinear.) Die khi·tonʹ is met borsspelde vasgemaak, wat oorspronklik van die bene van klein diertjies en later van metaal gemaak is. Dit was aan albei kante oop en met ’n gordel om die middel vasgemaak sodat dit na twee afsonderlike kledingstukke gelyk het.
Later, in die vroeë sesde eeu v.G.J., het die Ioniese khi·tonʹ meer na ’n rok as ’n tuniek gelyk, met die kante wat aan mekaar vasgewerk was en bo nie oor mekaar gevou is nie, en gevolglik was dit meer ekonomies ten opsigte van die hoeveelheid materiaal wat daarvoor gebruik is. Die materiaal was nie altyd net wit nie, maar was soms met lang, nou strepe van verskillende kleure versier of daar is fraiings aan vasgewerk. Saffraan en rooi was van die gunstelingkleure wat gebruik is. In die Hellenistiese tydperk is nuwe, helder kleure, soos pienk, blou, pers en geel, onder Asiatiese invloed ingevoer. Ander materiale wat met gouddraad versier of met blomme geborduur was, is aanvanklik net vir standbeelde van die gode of vir die akteurs wat hulle uitgebeeld het, gebruik.
Wat sou ’n Ateense dame nog dra?
Geen Ateense dame met selfrespek sou haar huis verlaat sonder haar hi·maʹti·on, of mantel, aan nie. Hierdie reghoekige stuk materiaal kon op verskillende maniere gedra word—dit kon soos ’n tjalie om die skouers gegooi word, oor die regterskouer en onder die linkerarm gehang word of as beskerming teen die son oor die kop getrek word. Mantels was ook in verskillende groottes beskikbaar, terwyl groter mantels vir koue weer meer soos ’n oorkleed gelyk het. Die hi·maʹti·on het dikwels versierde rande gehad, en om dit so te vou en te hang dat die voue soos plooie gelyk het, moes groot vaardigheid geverg het.
Die kuʹpas·sis, ’n soort kort baadjie wat voor vasgemaak is, is soms in plaas van die hi·maʹti·on gedra. Geen hoede, soos ons hulle vandag ken, is deur vroue gedra nie, hoewel ’n ski·aʹdei·on of sonskerm, soms op ’n besonderse warm dag gebruik is. Ryk Griekse dames het dikwels ’n peʹplos, of wolkledingstuk, gedra. Die Griekse Geskrifte bevat ook ’n verwysing na ’n “hoofbedekking” (Grieks, pe·ri·boʹlai·on) in Paulus se geskrifte.—1 Korintiërs 11:15.
Die eertydse Grieke het gewoonlik nie binnenshuis skoene gedra nie, en soms ook nie buite nie. Volgens die digter Hesiodos het plattelanders beesleersandale met ’n viltvoering gedra. Kort vroue het soms skoene met kurkplatformsole gedra om langer te lyk.
Die omhang van goue sierade
Sierade van dun goudplaatjies wat met reliëfvoorstellings versier is, hoofsaaklik van diere en plante, was baie algemeen. Ander gewilde sierade was die skarabee en die skaraboïed, wat dikwels in draairinge geset is. Armbande—wat soms oʹfis (slang) of draʹkon (draak) genoem is—was gunstelingjuwele.
Opgrawings het diademe, medaljons, halssnoere, hangertjies, ringe en ander ornamente aan die lig gebring. Sulke items vir persoonlike versiering is gewoonlik van goud, yster en koper en minder dikwels van silwer gemaak, terwyl krale van glas of halfedelstene gemaak is.
Oorringe was ook gewild. Soms was hulle ’n uiterlike kenteken van waardigheid, aanduidings van mag of ’n spoggerige vertoon van materiële voorspoed. Meisies het gewoonlik reeds op ’n vroeë ouderdom gaatjies in hulle ore laat maak.
Style van haarvlegtery
Daar was baie en verskillende tipes haarstyle in antieke Griekeland. Een van die gewildste style het ’n middelpaadjie gehad waar die hare na agter met ’n gekleurde lint vasgemaak is. Party vroue het hulle hare in ’n gedraaide bolla bo-op hulle kop gedra. Ander het ’n kort, reguit haargordyntjie oor hulle voorhoof gedra. Linte is soms om die voorhoof vasgemaak en voor met ’n klein metaalknopie versier. Ysterkrultange is gebruik om kunsmatige krulle te maak. Dit is ook duidelik dat baie vroue in klassieke Atene hulle hare gekleur het. Die retorikus Lucianus het die ydelheid van vroue gekritiseer wat “masjiene” gebruik het om krulle te maak en wat hulle mans se rykdom op Arabiese haarkleurstowwe verkwis het.
Die gewilde haarstyle wat deur ryk Griekse vroue van die ou tyd gedra is, was uiters oordadig en baie tydrowend. Sulke haarstyle het lang ure van voorbereiding deur ’n skoonheidskundige asook groot onkoste geverg, en hulle was baie spoggerig en het die aandag op die draer gevestig.
Vroue wat hulleself versier
Die gebruik van grimering was nog ’n Oosterse gewoonte wat deur handelaars en reisigers na Griekeland gebring is. In die vyfde eeu v.G.J. het Ateense vroue lood gebruik om hulle gesig wit te maak. Lippe is rooi gemaak, en rooisel, wat van seegras of plantwortels gemaak is, is gebruik. Wenkbroue is met roet beklemtoon, en ooglede is met kohl (soos gepoeierde antimoonsulfied) donker gemaak, terwyl maskara van koeimis of van ’n mengsel van eierwit en gom gemaak is.
Argeologiese navorsing in antieke Griekse paleise, begraafplase en nedersettings het baie voorwerpe aan die lig gebring wat met die verfraaiing van vroue verband gehou het. Die groot verskeidenheid instrumente en benodigdhede sluit in spieëls, kamme, haakvormige spelde, deftige klein messies, haarnaalde, lemmetjies en miniatuurhouers vir parfuums, rome en pigmente.
Die ware prag
Ondanks die skimpe van die antieke Griekse satirikusse was stylvolheid oor die algemeen ’n eienskap wat grootliks in ’n vrou bewonder is en iets waaraan die eertydse Griekse vrou baie tyd, moeite, sorg en aandag bestee het.
Vir die Christenvrou kon dit maklik die klem wat op geestelike eienskappe geplaas moes word, oorskadu. Dit is waarom die apostel Petrus beklemtoon het dat die pragtigste en belangrikste dinge waarmee ’n vrou haar kan klee “die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees [is], wat in die oë van God van groot waarde is” (1 Petrus 3:3, 4). Enige vrou wat daardie styl van persoonlike innerlike versiering dra, tesame met skoon, beskeie klere, sal altyd pragtig geklee wees, op ’n onberispelike en tydlose wyse. Paulus het aan Timoteus geskryf: “Ek [wil] hê dat die vroue hulle met goed versorgde kleredrag moet versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, nie met vorme van haarvlegtery en goud of pêrels of baie duur klere nie, maar soos dit vroue betaam wat bely dat hulle God vereer, naamlik deur goeie werke.”—1 Timoteus 2:9, 10.
[Voetnoot]
a Die khi·tonʹ word 11 keer in die Christelike Griekse Geskrifte genoem en word in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte met “onderkleed” vertaal. Sien W. E. Vine se Expository Dictionary of New Testament Words, Deel 1, bladsy 198, onder “Clothing”.
[Venster op bladsy 24]
Ornamente en godsdiens
Die afbeeldings wat op antieke Griekse ornamente gevind word, is dikwels van ’n godsdienstige aard. Party is medaljons wat verskillende gode en godinne, soos Artemis, en halfgode, soos Hercules, afbeeld. Ornamente met ritualistiese godsdienstonele was dikwels as geskenke aan heiligdomme regoor Griekeland gewy. Talle versierende ornamente is in die grafte saam met die dooie persoon geplaas, wat die heidense beskouing weerspieël dat die menslike siel ná die dood van die liggaam voortleef.
[Prente op bladsy 23]
Links: Die Parthenon, ’n tempel wat aan die godin Atene gewy is
Bo: Goue medaljon met borsbeeld van Artemis
Regs: ’n Meisie geklee in ’n “hi·maʹti·on”
Onder regs: Goue diadeem
Ver links: ’n Godin wat in ’n “khi·tonʹ” en ’n “hi·maʹti·on” geklee is
Links: Goue armbande wat in slange se koppe eindig
[Erkennings]
Upper right: Acropolis Museum, Greece
All other photos: National Archaeological Museum, Athens
[Foto-erkenning op bladsy 22]
Acropolis, Athens, Greece