STUDIE 15
Gepaste persoonlike voorkoms
JOU voorkoms sê baie van jou. Terwyl Jehovah sien wat die hart is, maak mense gewoonlik gevolgtrekkings op grond van “wat vir die oë sigbaar is” (1 Sam. 16:7). Wanneer jy skoon en goed versorg is, sal ander waarskynlik tot die gevolgtrekking kom dat jy selfrespek het, en hulle sal meer geneig wees om na jou te luister. As jy netjies aangetrek is, sal dit ook die organisasie wat jy verteenwoordig, in ’n goeie lig stel en ’n gunstige uitwerking hê op jou gehoor se beskouing van die God wat jy aanbid.
Riglyne om te volg. Die Bybel lê nie baie reëls neer oor persoonlike voorkoms nie. Maar dit gee ons wel gebalanseerde beginsels wat ons kan help om wyse besluite te neem. Dit is alles gegrond op die feit dat ons “alles tot heerlikheid van God” doen (1 Kor. 10:31). Watter beginsels moet ons in ag neem wat ons voorkoms betref?
Eerstens, die Bybel spoor ons aan om skoon te wees, wat ons liggaam sowel as ons klere betref. In sy Wet aan eertydse Israel het Jehovah voorskrifte in verband met reinheid neergelê. Wanneer die priesters byvoorbeeld aan diens was, moes hulle hulle op vasgestelde tye bad en hulle klere was (Lev. 16:4, 24, 26, 28). Christene is nie onder die Mosaïese Wet nie, maar die beginsels daarin, geld nog steeds (Joh. 13:10; Op. 19:8). Veral wanneer ons na ’n plek van aanbidding gaan of aan die veldbediening deelneem, moet ons liggaam en ons klere skoon en ons asem vars wees sodat ander ons nie aanstootlik vind nie. Diegene wat voor die gemeente toesprake hou of aan demonstrasies deelneem, moet ’n goeie voorbeeld hierin stel. As ons voorkoms goed versorg is, toon ons respek vir Jehovah en sy organisasie.
Tweedens, die Bybel spoor ons aan om beskeidenheid en gesonde verstand aan die dag te lê. Die apostel Paulus het Christenvroue aangespoor om “hulle met . . . beskeidenheid en gesonde verstand [te versier], nie met haarvlegtery en goud of pêrels of baie duur klere nie, maar soos dit vroue betaam wat bely dat hulle God vereer” (1 Tim. 2:9, 10). Dit is ook belangrik dat mans beskeidenheid en gesonde verstand aan die dag lê wat hulle kleredrag en persoonsversorging betref.
Iemand wat beskeie is, probeer ander nie onnodig aanstoot gee en te veel aandag op homself vestig nie. Gesonde verstand gee ’n mens onderskeidingsvermoë, of goeie oordeel. Iemand wat hierdie eienskappe openbaar, is gebalanseerd omdat hy Goddelike standaarde respekteer. Wanneer ons hierdie eienskappe openbaar, beteken dit nie dat ons nie mooi kan aantrek nie, maar dit help ons om verstandig te wees wat ons voorkoms betref en om uitspattige style van kleredrag en persoonsversorging te vermy (1 Joh. 2:16). Ons wil hierdie beginsels toepas, hetsy ons by ’n plek van aanbidding is, aan die veldbediening deelneem of iets anders doen. Selfs ons informele drag moet beskeidenheid en gesonde verstand weerspieël. By die skool of by ons sekulêre werk sal daar geleenthede wees om informeel te getuig. Hoewel ons dalk nie aangetrek sal wees soos wanneer ons vergaderinge of byeenkomste bywoon nie, moet ons klere nog steeds netjies, skoon en beskeie wees.
Ons trek natuurlik nie almal dieselfde aan nie. Ons hoef ook nie. Mense se smaak verskil, en dit is heeltemal in orde. Maar Bybelbeginsels moet altyd toegepas word.
Die apostel Petrus het getoon dat die versiering van “die geheime persoon van die hart” selfs belangriker as haarstyle en klere is (1 Pet. 3:3, 4). Wanneer ons harte vol liefde, vreugde, vrede, goedhartigheid en onwrikbare geloof is, sal hierdie eienskappe vir ons soos geestelike kledingstukke word wat God waarlik tot eer strek.
Derdens, die Bybel spoor ons aan om seker te maak dat ons voorkoms goed versorg is. In 1 Timoteus 2:9 word daar van “goed versorgde kleredrag” gepraat. Hoewel die apostel Paulus na vroueklere verwys het, geld dieselfde beginsel vir mans. Iets wat goed versorg is, is netjies en ordelik. Of ons welgesteld is of nie, ons kan netjies lyk.
Een van die eerste aspekte van ons voorkoms wat ander opmerk, is ons hare. Dit moet netjies, of goed versorg, wees. Plaaslike gebruike sowel as die soort hare wat mense het, het ’n invloed op hoe hulle hulle hare dra. In 1 Korintiërs 11:14, 15 gee die apostel Paulus raad oor haarstyle, wat blykbaar albei hierdie faktore in ag geneem het. Maar wanneer iemand se haarstyl die indruk skep dat hy of sy soos iemand van die teenoorgestelde geslag probeer lyk, is dit in stryd met Bybelbeginsels.—Deut. 22:5.
Vir mans sal ’n netjiese voorkoms moontlik insluit dat hulle skoon geskeer is. In gebiede waar snorre oor die algemeen as smaakvol beskou word, moet enigeen wat ’n snor het, dit netjies hou.
Vierdens, ons voorkoms moet nie liefde vir die wêreld en sy weë weerspieël nie. Die apostel Johannes het gewaarsku: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie” (1 Joh. 2:15-17). Sondige begeertes is algemeen in hierdie wêreld. Johannes meld onder meer die begeerte van die sondige vlees en die spoggerige vertoon van ’n mens se besittings. Die Skrif praat ook van die gees van opstandigheid, of ongehoorsaamheid aan gesag (Spr. 17:11; Ef. 2:2). Hierdie begeertes en gesindhede word dikwels geopenbaar in die manier waarop mense aantrek en hulleself versorg. Gevolglik is hulle voorkoms soms onbeskeie, sensueel, opgesmuk, onversorg, slordig of onnet. As Jehovah se knegte vermy ons style wat sulke onchristelike weë weerspieël.
Hoeveel beter is dit tog om jou eerder deur die goeie voorbeeld van geestelik volwasse mans en vroue in die Christengemeente te laat lei wat jou kleredrag en persoonsversorging betref, as om die wêreld na te volg! Jong manne wat hoop om eendag openbare sprekers te wees, kan kyk hoe diegene aantrek wat reeds kwalifiseer om openbare toesprake te hou. Almal kan uit die voorbeeld leer van diegene wat al baie jare lank lojaal aan die openbare bediening deelneem.—1 Tim. 4:12; 1 Pet. 5:2, 3.
Vyfdens, wanneer ons besluit wat gepas is, moet ons in gedagte hou dat ‘selfs die Christus homself nie behaag het nie’ (Rom. 15:3). Vir Jesus was die uitvoering van God se wil van die allergrootste belang. Om ander te help, was vir Jesus belangriker as sy persoonlike gerief. Wat moet ons doen as sekere style van kleredrag en persoonsversorging ’n skeidsmuur kan veroorsaak tussen ons en die mense onder wie ons nou dien? As ons Christus se nederige gees navolg, kan dit ons help om ’n wyse besluit te neem. Die apostel Paulus het die beginsel opgeteken: “In geen opsig gee ons enige rede tot struikeling nie” (2 Kor. 6:3). Gevolglik sal ons moontlik haarstyle of kledingstukke vermy wat mense vir wie ons wil getuig, heel waarskynlik onontvanklik sal maak.
Liggaamshouding. ’n Gepaste persoonlike voorkoms sluit ook ’n behoorlike liggaamshouding in. Liggaamshouding verskil natuurlik van persoon tot persoon, en ons probeer nie almal ’n sekere liggaamshouding naboots nie. Dit is egter opmerkenswaardig dat dit in die Bybel die gedagte van persoonlike waardigheid en optimisme oordra as iemand regop staan (Lev. 26:13; Luk. 21:28). Maar ’n broer of suster kan dalk nie regop staan nie of moet dalk teen iets leun vir ondersteuning weens ouderdom of fisiese swakheid of omdat hy of sy jare lank in ’n geboë posisie gewerk het. Dit is egter wenslik dat dié wat kan, redelik regop staan wanneer hulle met ander praat, sodat hulle nie die indruk skep dat hulle ’n onverskillige of apologetiese gesindheid het nie. Hoewel dit nie verkeerd is as ’n spreker sy hande van tyd tot tyd op die rostrum rus nie, skep dit ook gewoonlik ’n positiewer indruk by die gehoor as hy nie daarteen leun nie.
Netjiese toerusting. Behalwe dat ons skoon en goed versorg moet wees, moet ons velddienstoerusting ook skoon en netjies wees.
Kyk na jou Bybel. Nie almal van ons kan ’n nuwe Bybel kry wanneer ons s’n verslete geraak het nie. Maar ongeag hoe lank ons ons Bybel het, ander moet kan sien dat dit goed opgepas is.
Daar is natuurlik baie maniere om ’n velddienssak te pak, maar dit moet netjies wees. Het jy al ooit gesien hoe papiere uit ’n Bybel val toe ’n verkondiger vir ’n huisbewoner ’n teks wou lees of moontlik terwyl ’n broer in die gemeente ’n toespraak gehou het? Dit het jou aandag afgetrek, nie waar nie? As papiere wat in ’n Bybel gehou word, mense se aandag kan aftrek, moet jy dit dalk elders hou sodat jou toerusting netjies sal wees. Hou ook in gedagte dat mense in sommige kulture dit as uiters oneerbiedig beskou as die Bybel of ander godsdienstige publikasies op die vloer neergesit word.
’n Gepaste persoonlike voorkoms moet vir ons belangrik wees. Dit het ook ’n invloed op hoe ander ons beskou. Maar die belangrikste rede waarom ons noukeurig hieraan aandag skenk, is omdat ons “die leer van ons Redder, God, in alles [wil] versier”.—Tit. 2:10.