Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die briewe aan die Tessalonisense en aan Timoteus
DIE nuwe gemeente in Tessalonika ondervind teenstand al sedert dit gestig is toe die apostel Paulus die stad besoek het. Wanneer Timoteus—moontlik in sy twintigerjare—dus met ’n goeie berig daarvandaan terugkeer, beweeg dit Paulus om ’n brief aan die Tessalonisense te skryf om hulle te prys en aan te moedig. Hierdie brief, wat moontlik teen die einde van 50 G.J. geskryf is, is die eerste van Paulus se geïnspireerde geskrifte. Kort daarna skryf hy ’n tweede brief aan die Christene in Tessalonika. Dié keer stel hy ’n verkeerde beskouing reg wat deur party gehuldig word en spoor hy die broers aan om vas te staan in die geloof.
Omtrent tien jaar later is Paulus in Masedonië en Timoteus in Efese. Paulus skryf aan Timoteus en spoor hom aan om in Efese te bly en ’n geestelike oorlog teen valse onderrigters in die gemeente te voer. Wanneer ’n verwoestende brand in 64 G.J. in Rome aanleiding gee tot ’n vlaag van vervolging teen die Christene, skryf Paulus ’n tweede brief aan Timoteus. Dit is die laaste van sy geïnspireerde geskrifte. Ons kan vandag baat vind by die aanmoediging en raad in hierdie vier briewe van Paulus.—Heb. 4:12.
‘BLY WAKKER’
Paulus prys die Tessalonisense vir ‘hulle getroue werk, hulle liefdevolle arbeid en hulle volharding’. Hy sê vir hulle dat hulle sy ‘hoop en vreugde en kroon van verheuging’ is.—1 Tess. 1:3; 2:19.
Nadat hy die Christene in Tessalonika aangespoor het om mekaar met die opstandingshoop te vertroos, sê Paulus: “Jehovah se dag [kom] net soos ’n dief in die nag.” Hy vermaan hulle om “wakker en nugter van verstand [te] bly”.—1 Tess. 4:16-18; 5:2, 6.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
4:15-17—Wie word “in wolke weggeruk . . . om die Here in die lug te ontmoet”, en hoe gebeur dit? Dit is gesalfde Christene wat gedurende Christus se teenwoordigheid in Koninkryksmag lewe. Hulle ‘ontmoet die Here’ Jesus in die onsigbare hemelse ryk. Maar om dit te ervaar, moet hulle eers sterf en as geesskepsele opgewek word (Rom. 6:3-5; 1 Kor. 15:35, 44). Christus se teenwoordigheid het reeds begin; dus slaap gesalfde Christene wat vandag sterf, nie in die dood nie. Hulle word “weggeruk”, of onmiddellik opgewek.—1 Kor. 15:51, 52.
5:23—Wat het Paulus bedoel toe hy gebid het dat die ‘gees en siel en liggaam van die broers bewaar word’? Paulus het verwys na die gees, siel en liggaam van die saamgestelde Christengemeente, wat geesgesalfde Christene in Tessalonika ingesluit het. Hy het nie net gebid dat die gemeente bewaar word nie, maar hy het ook gebid dat die “gees”, of geestesgesindheid, daarvan bewaar word. Hy het ook gebid vir die “siel”, die lewe, of bestaan, van die gemeente en vir die “liggaam” daarvan—die hele groep gesalfde Christene (1 Kor. 12:12, 13). Die gebed beklemtoon dus Paulus se diepe besorgdheid oor die gemeente.
Lesse vir ons:
1:3, 7; 2:13; 4:1-12; 5:15. ’n Doeltreffende manier om raad te gee, is om verdiende lof te kombineer met ’n aansporing om beter te doen.
4:1, 9, 10. Jehovah se aanbidders moet aanhou om geestelike vooruitgang te maak.
5:1-3, 8, 20, 21. Namate Jehovah se dag nader kom, moet ons “nugter van verstand bly en die borsplaat van geloof en liefde aanhê en as ’n helm die hoop op redding”. Ons moet ook ernstig aandag skenk aan God se profetiese Woord, die Bybel.
‘STAAN VAS’
Party in die gemeente verdraai wat Paulus in sy eerste brief gesê het en voer aan dat “die teenwoordigheid van [die] Here” op hande is. Om hierdie beskouing reg te stel, vertel Paulus wat ‘eers moet kom’.—2 Tess. 2:1-3.
Paulus maan: “Staan . . . vas en hou vas aan die oorleweringe wat julle geleer is.” Hy beveel hulle om hulle “te onttrek aan elke broer wat wanordelik wandel”.—2 Tess. 2:15; 3:6.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:3, 8—Wie is “die mens van wetteloosheid”, en hoe sal daar met hom weggedoen word? Hierdie saamgestelde “mens” is die geestelikeklas van die Christendom. Die een wat gemagtig is om God se oordele teen die goddelose bekend te maak en om te beveel dat hulle tereggestel word, is “die Woord”—God se Hoofwoordvoerder, Jesus Christus (Joh. 1:1). Daar kan dus gesê word dat Jesus met die mens van wetteloosheid sal wegdoen “deur die gees [werkende krag] van sy mond”.
2:13, 14—Hoe is die gesalfde Christene “van die begin af vir redding gekies”? Die gesalfdes as ’n klas is voorbestem toe Jehovah hom voorgeneem het dat die saad van die vrou Satan se kop sal vermorsel (Gen. 3:15). Jehovah het ook die vereistes vasgestel waaraan hulle moet voldoen, asook die werk wat hulle sou doen en hoe hulle getoets sou word. So het hy hulle “hiertoe”, tot hierdie bestemming, geroep.
Lesse vir ons:
1:6-9. Jehovah se oordele word selektief voltrek.
3:8-12. Die nabyheid van Jehovah se dag moenie gebruik word as ’n verskoning om nie te werk ten einde in ons behoeftes te voorsien en ons in die bediening te onderhou nie. Ledigheid kan ons lui maak en veroorsaak dat ons ons “met ander se sake bemoei”.—1 Pet. 4:15.
“BEWAAR DIE PAND WAT AAN JOU TOEVERTROU IS”
Paulus sê vir Timoteus dat hy moet “voortgaan om die goeie stryd te voer; terwyl [hy] geloof en ’n goeie gewete behou”. Die apostel sit vereistes vir aangestelde manne in die gemeente uiteen. Paulus beveel Timoteus ook: “Verwerp die valse stories wat skend wat heilig is.”—1 Tim. 1:18, 19; 3:1-10, 12, 13; 4:7.
“Moenie ’n ouer man skerp kritiseer nie”, skryf Paulus. Hy spoor Timoteus aan: “Bewaar die pand wat aan jou toevertrou is en keer jou af van die leë praatjies wat skend wat heilig is en van die teenstrydighede van die sogenaamde ‘kennis’.”—1 Tim. 5:1; 6:20.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:18; 4:14—Watter “voorspellings” is aangaande Timoteus uitgespreek? Dit was moontlik sekere profesieë oor Timoteus se toekomstige rol in die Christengemeente, wat onder inspirasie uitgespreek is toe Paulus Listra gedurende sy tweede sendingreis besoek het (Hand. 16:1, 2). Op grond van hierdie “voorspellings” het die ouer manne van die gemeente die jong Timoteus “die hande opgelê” en hom so vir ’n spesifieke diens afgesonder.
2:15—Hoe bly ’n vrou ‘veilig behoue deur kinders te baar’? As ’n vrou kinders baar, vir hulle sorg en ’n huishouding behartig, kan sy “veilig” behoue bly deurdat sy nie ’n ledige ‘skindertong word en iemand wat haar met ander se sake bemoei’ nie.—1 Tim. 5:11-15.
3:16—Wat is die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid? Die vraag of volmaakte gehoorsaamheid aan Jehovah se soewereiniteit vir mense moontlik is of nie, was eeue lank ’n geheim. Jesus het die antwoord verskaf deur tot sy dood volmaakte onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf.
6:15, 16—Is hierdie woorde op Jehovah God of op Jesus Christus van toepassing? Hierdie woorde is van toepassing op die een wie se openbaarwording dit beskryf, naamlik Jesus Christus (1 Tim. 6:14). In vergelyking met mense wat heers as konings en as here, is Jesus die “enigste Maghebber”, en hy alleen het onsterflikheid (Dan. 7:14; Rom. 6:9). Geen mens op die aarde kan hom met letterlike oë “sien” sedert hy na die onsigbare hemele opgevaar het nie.
Lesse vir ons:
4:15. Hetsy ons onlangs of lank gelede die Christelike godsdiens aangeneem het, ons moet progressief probeer wees en aanhou om geestelike vooruitgang te maak.
6:2. As ons vir ’n medegelowige werk, moet ons nooit van hom misbruik maak nie, maar ons moet hom eerder selfs geredeliker dien as wat ons iemand buite die gemeente sou dien.
“VERKONDIG DIE WOORD, BLY DRINGEND DAARMEE BESIG”
Om Timoteus voor te berei op die moeilike tye wat voorlê, skryf Paulus: “God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en van liefde en van gesonde verstand.” Timoteus word gemaan: “’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig.”—2 Tim. 1:7; 2:24.
“Bly . . . in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo”, spoor Paulus Timoteus aan. Omdat afvallige leringe besig is om te versprei, maan die apostel die jonger opsiener: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig . . . , wys tereg, berispe, vermaan.”—2 Tim. 3:14; 4:2.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:13—Wat is “die patroon van gesonde woorde”? Die “gesonde woorde” is “dié van ons Here Jesus Christus”—ware Christelike leringe (1 Tim. 6:3). Wat Jesus onderrig en gedoen het, was in ooreenstemming met God se Woord; gevolglik kan die uitdrukking “gesonde woorde” ook by uitbreiding na al die Bybelleringe verwys. Hierdie leringe kan ons help om te sien wat Jehovah van ons vereis. Ons hou voortdurend vas aan hierdie patroon deur te beoefen wat ons uit die Bybel geleer het.
4:13—Wat was “die perkamente”? Die woord “perkamente” verwys na skryfmateriaal gemaak van bereide leer. Paulus het moontlik vir gedeeltes van die Hebreeuse Geskrifte gevra sodat hy dit gedurende sy gevangenskap in Rome kon bestudeer. Party van hierdie rolle was dalk van papirus maar ander van perkament.
Lesse vir ons:
1:5; 3:15. Die vernaamste rede waarom Timoteus geloof in Christus Jesus gehad het, dit wil sê geloof wat al Timoteus se dade beïnvloed het, was die opvoeding uit die Skrif wat hy van kleins af by die huis ontvang het. Hoe noodsaaklik is dit tog dat gesinslede ernstig nadink oor hoe hulle hierdie verantwoordelikheid teenoor God en hulle kinders nakom!
1:16-18. Wanneer medegelowiges beproewinge deurmaak, vervolging ondergaan of opgesluit is, moet ons vir hulle bid en alles in ons vermoë doen om hulle te help.—Spr. 3:27; 1 Tess. 5:25.
2:22. Christene, veral jongmense, moenie so behep wees met liggaamsbou, sport, musiek, vermaak, stokperdjies, reise, doellose gesprekke, ensovoorts dat hulle min tyd vir geestelike strewes het nie.
[Prent op bladsy 31]
Wat was die laaste geïnspireerde brief wat die apostel Paulus geskryf het?