Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 8/8 bl. 5-7
  • Ouers onder druk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouers onder druk
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’
  • “Sonder natuurlike geneentheid”
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Ons kinders—’n kosbare erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Ouers – Help julle kinders om Jehovah lief te kry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Ouers—Stel ’n goeie voorbeeld vir julle kinders
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 8/8 bl. 5-7

Ouers onder druk

DIT lyk dikwels of ouers van ’n pasgebore baba amper buite hulleself van opgewondenheid is. Byna alles omtrent hulle baba bring hulle blykbaar in vervoering. Hulle baba se eerste glimlag, eerste woorde en eerste treë is groot oomblikke. Hulle vermaak vriende en familielede met stories en foto’s. Daar bestaan geen twyfel nie, hulle is lief vir hulle kind.

Maar met verloop van die jare vind ’n tragedie in party gesinne plaas. Die ouers se speelse babataal word vervang deur harde en kwetsende woorde; liefdevolle drukkies word vervang deur kwaai oorveë of die afwesigheid van hoegenaamd enige fisiese kontak; ouerlike trots maak plek vir bitterheid. “Ek moes nooit kinders gehad het nie”, sê baie. In ander gesinne is die probleem selfs erger—die ouers het versuim om liefde te betoon selfs toe die kind ’n baba was! Wat het in beide van hierdie gevalle gebeur? Waar is die liefde?

Kinders kan natuurlik nie altyd die antwoorde op sulke vrae uitwerk nie. Maar dit sal hulle nie keer om hulle eie gevolgtrekkings te maak nie. Diep in sy hart sal ’n kind heel moontlik dink: ‘As Mamma en Pappa my nie liefhet nie, is dit omdat daar iets fout is met my. Ek moet baie sleg wees.’ Dit kan ’n diepgewortelde oortuiging word—een wat hom allerhande skade regdeur sy lewe kan berokken.

Die waarheid is egter dat ouers om verskeie redes dalk versuim om aan kinders die liefde te betoon wat hulle nodig het. Daar moet erken word dat vandag se ouers gebuk gaan onder geweldige druk wat soms op ’n ongeëwenaarde skaal voorkom. Vir ouers wat nie gereed is om dit suksesvol die hoof te bied nie, kan hierdie druk ’n werklik nadelige uitwerking hê op die werk wat hulle as ouers doen. ’n Eertydse spreuk sê: “Loutere onderdrukking kan ’n wyse waansinnig laat handel.”—Prediker 7:7, NW.

‘Kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’

’n Tydperk van ongeëwenaarde voorspoed. Dit is wat baie mense verwag het om in hierdie eeu te sien. Dink net—geen ekonomiese druk, hongersnode, droogtes, oorloë nie! Maar sulke verwagtinge het onvervuld gebly. Vandag se wêreld het eerder geword soos ’n Bybelskrywer in die eerste eeu G.J. geprofeteer het. Hy het geskryf dat ons in ons dae te staan sou kom voor ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1-5). Die meeste ouers sal geredelik met daardie woorde saamstem.

Baie ouers van ’n pasgebore baba is dikwels oorbluf deur die hoë koste om kinders in vandag se wêreld groot te maak. Dikwels moet albei ouers sekulêre werk doen net om die pot aan die kook te hou. Mediese uitgawes, kleding, onderwys, dagsorg en selfs voedsel en behuising kan alles bydra tot ’n maandelikse vloedgolf van rekeninge wat baie ouers laat voel dat hulle nie kop bo water kan hou nie. Die ekonomiese situasie herinner Bybelstudente aan die profesie in Openbaring wat ’n tyd voorspel wanneer mense ’n hele dag se loon sou uitgee net om die noodsaaklikhede vir een dag te koop!—Openbaring 6:6.

Daar kan nie van kinders verwag word om al hierdie druk wat op hulle ouers geplaas word te verstaan nie. Nee, kinders is van nature van hulle ouers afhanklik en honger vir liefde en aandag. En die druk wat die media en hulle skoolmaats op hulle plaas om die nuutste speelgoed, klere en elektroniese toestelle te besit, veroorsaak dikwels dat hulle druk op hulle ouers plaas om ’n immergroeiende lys van dinge te koop wat hulle wil hê.

Iets anders wat druk op ouers plaas en wat deesdae blykbaar erger word, is opstandigheid. Dit is interessant dat die Bybel wydverspreide ongehoorsaamheid van kinders aan hulle ouers as nog ’n teken van ons veelbewoë tye voorspel het (2 Timoteus 3:2). Probleme met die dissiplinering van kinders is weliswaar niks nuuts nie. En geen ouer kan die kind se wangedrag tereg die skuld gee as hy die kind mishandel nie. Maar sou jy nie saamstem dat ouers van vandag die moeilike taak het om kinders in ’n hele kultuur van opstandigheid groot te maak nie? Gewilde musiek wat woede, opstandigheid en wanhoop bevorder; TV-programme wat ouers uitbeeld as onnosele gekke en kinders as hulle wysneusmeerderes; rolprente wat mense verheerlik wat aan gewelddadige impulse toegee—kinders word vandag deur sulke invloede gebombardeer. Kinders wat hierdie kultuur van opstandigheid inneem en naboots, kan geweldige druk op hulle ouers plaas.

“Sonder natuurlike geneentheid”

Maar daar is nog ’n aspek van hierdie selfde eertydse profesie wat selfs meer probleme vir vandag se gesinne inhou. Dit toon dat baie men-se “sonder natuurlike geneentheid” sou wees (2 Timoteus 3:3). Natuurlike geneentheid is wat die gesin bymekaarhou. En selfs diegene wat baie skepties oor Bybelprofesie is, moet erken dat daar in ons tyd ’n skokkende verbrokkeling van die gesinslewe was. Egskeidingsyfers het regoor die wêreld die hoogte ingeskiet. In baie gemeenskappe is daar meer enkelouergesinne en stiefgesinne as tradisionele gesinne. Enkelouers en stiefouers kom soms voor unieke uitdagings en druk te staan wat dit vir hulle moeilik kan maak om aan kinders die liefde te betoon wat hulle nodig het.

Daar is egter verreikender gevolge. Baie van vandag se ouers het self in huise grootgeword waar daar min of geen “natuurlike geneentheid” was—huise wat verbrokkel het weens egbreuk en egskeiding; huise wat verwoes is deur kilheid en haat; miskien selfs huise waar uitskellery, emosionele, fisiese of seksuele mishandeling iets algemeens was. Om in sulke huise groot te word, benadeel nie net kinders nie, maar kan ook die volwassenes wat hulle word, benadeel. Statistiek bring ’n droewige situasie aan die lig—daar is ’n groter moontlikheid dat ouers wat as kinders mishandel is hulle eie kinders sal mishandel. In Bybeltye het die Jode ’n spreekwoord gehad: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword.”—Esegiël 18:2.

God het egter vir sy volk gesê dat dit nie so hoef te wees nie (Esegiël 18:3). Hier moet ’n belangrike punt gestel word. Beteken dit dat ouers, omdat hulle onder soveel druk geplaas word, net nie anders kan as om hulle eie kinders te mishandel nie? Beslis nie! As jy ’n ouer is en met sommige van die voorgenoemde probleme te kampe het en jy daaroor bekommerd is of jy ooit ’n goeie ouer kan wees, skep moed! Jy is nie ’n statistiek nie. Jou verlede bepaal nie outomaties wat jou toekoms gaan wees nie.

In lyn met die skriftuurlike versekering dat dit wel moontlik is om te verbeter, sê die boek Healthy Parenting die volgende: “As [jy] nie doelbewuste stappe doen om anders as jou eie ouers op te tree nie, sal die patrone van jou kinderjare herhaal word, of jy dit nou so wil hê of nie. Om hierdie siklus te verbreek, moet jy bewus word van die ongesonde patrone wat jy voortsit en leer hoe om dit te verander.”

Ja, indien nodig, kan jy die siklus van skadelike ouerskap verbreek! En jy kan die druk baasraak wat ouerskap vandag so moeilik maak. Maar hoe? Waar kan jy leer wat die beste, betroubaarste standaarde is om ’n goeie ouer te wees? Ons volgende artikel sal hierdie saak bespreek.

[Prent op bladsy 6]

Sommige ouers versuim om liefde teenoor hulle kinders te betoon omdat hulle onder druk is

[Prent op bladsy 7]

Ouers moet die liefde betoon wat hulle kinders nodig het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel