Insig in die nuus
“’n Slegte idee”
Toenemende besorgdheid oor besmette bloed dwing mediese deskundiges om weer te kyk na die raadsaamheid van bloedoortappings. Henry B. Soloway, M.D., redakteur van die tydskrif Pathologist, het gesê dat bloedoortapping van die begin af vol probleme was. “Vroeër”, verduidelik hy, “het die oortap van bloed wat tydens skenking of bewaring besmet is . . . talle sterftes veroorsaak weens sepsis [infeksie] en endotoksiese [giftige] skok. Die oordrag van hepatitis B deur bloed en bloedprodukte het aansienlike morbiditeit gedurende die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak.” Selfs met die koms van tegniese maatreëls wat bedoel is om ’n “veilige” bloedvoorraad te verseker, duur die oordrag van siektes soos VIGS voort.
Nuwe kommer het nou ontstaan oor die langtermynoorlewing van kankerpasiënte na ’n operasie waartydens bloedoortappings toegedien is. Soloway sê: “Daar is ’n betekenisvolle oorlewingsnadeel wanneer . . . oortappings aan pasiënte gegee word wat chirurgie ondergaan vir long-, bors- en kolonkanker.” Wat is dan die alternatiewe? Soloway erken: “Jehovah se Getuies het volgehou . . . dat oortapping ’n slegte idee is. Miskien sal hulle een van die dae verkeerd bewys word. Maar intussen is daar aansienlike bewys om hulle standpunt te steun, ten spyte van protes van bloedbanke dat dit nie die geval is nie.”
Dit is in werklikheid gehoorsaamheid aan goddelike wet wat Jehovah se Getuies teen die baie negatiewe gevolge van bloedoortappings gevrywaar het. Levitikus 17:14 sê: “Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed.” En Christene is aangesê om hulle ‘te onthou van bloed’ (Handelinge 15:28, 29). Dit is duidelik dat God die inname van bloed in enige vorm as “’n slegte idee” beskou.
“’n Leemte in evolusie”
“Die vlerke van die insekte het nie uit uiterste ledemate of enigiets anders geëvolueer nie. Hulle het as buitengewoon klein aanhangsels begin wat op die rug uitgestaan het.” So sê die Sweedse koerant Svenska Dagbladet in ’n berig oor onlangse navorsing oor hoe insekte hulle vlerke gekry het. “Volgens een teorie”, sê die berig, “kon hulle hulle toekomstige vlerke gebruik het as ’n soort vlieëplak om insekte te vang, totdat hulle eendag ontdek het dat hulle ook kan vlieg en hulleself van die grond af deur die lug of van die bome af ondertoe kan dra.”
Die verslag toon ook dat bioloë die idee bespreek dat die “toekomstige vlerke”, hoewel te klein om mee te vlieg, as sonopvangers kon dien om die liggaam warm te maak en krag te gee. Wat het huIle van baie klein tot volle grootte laat groei? “Hier is ’n leemte in evolusie wat moeilik is om te verduidelik”, erken die berig.
Die Bybel toon egter duidelik hoe insekte hulle vlerke gekry het. “God het toe . . . elke gevleuelde vlieënde skepsel na sy soort geskape”, sê Genesis 1:21 (NW). Terwyl jarelange wetenskaplike navorsing gelei het tot blote gissings en ’n “leemte . . . wat moeilik is om te verduidelik”, strook die Bybel se verslag met die bekende feite. Die wonderlike ontwerp en funksie van insektevlerke bring eer, nie aan blinde evolusie nie, maar aan ’n intelligente Skepper.
Mishandeling van bejaardes
Bejaardes word al hoe meer die slagoffers van mishandeling en verwaarlosing. Dit is deesdae algemeen om berigte te hoor van bejaardes wat mishandel, beroof, geslaan en vermoor is—selfs in lande waar die bejaardes tradisioneel groot agting geniet het. In een Oosterse land “vertel ’n maatskaplike werker van ’n ou vrou wat veertien jaar lank deur haar gesin vasgeketting en slegs een maal in veertien dae toegelaat is om te bad”, berig Asiaweek. Dit voeg by dat ’n 60-jarige vrou in ’n ander Asiatiese land “onlangs in ’n ouetehuis gesterf het. Haar seun en skoondogter het nie eers na haar sterfbed gekom nie.” Dieselfde situasie heers in Westerse lande. “Omtrent 1 uit 25 bejaarde Amerikaners word verwaarloos of mishandel, òf tuis òf in inrigtings”, sê U.S.News & World Report. “Verwaarlosing is die algemeenste vorm van mishandeling . . . Maar fisiese en onsedelike mishandeling is aan die toeneem.”
Inwoners van eertydse Israel sowel as lede van die vroeë Christengemeente is vermaan om respek vir, besorgdheid oor en eer aan ou mense te betoon (Exodus 20:12; Levitikus 19:32; Efesiërs 6:1, 2; 1 Timotheüs 5:1, 2). Maar die apostel Paulus het voorspel dat ons in die laaste dae “swaar tye” sal beleef wanneer mense al hoe verder van God se leiding sal afdwaal (2 Timotheüs 3:1). Een van die karaktertrekke wat Paulus na vore gebring het, was dat mense “sonder natuurlike liefde” sou wees (2 Timotheüs 3:2, 3) Wie kan die waarheid van sy woorde betwyfel?