Wandel soos God ons leer
“Laat ons optrek na die berg van die HERE . . . dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.”—MIGA 4:2.
1. Wat sou God, volgens Miga, in die laaste dae vir sy volk doen?
GOD se profeet Miga het voorspel dat baie mense “aan die einde van die dae”, in ons tyd, God daadwerklik sal soek om hom te aanbid. Hulle sal mekaar aanspoor deur te sê: “Laat ons optrek na die berg van die HERE . . . dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.”—Miga 4:1, 2.
2, 3. Hoe word Paulus se voorspelling dat mense liefhebbers van geld sou wees vandag vervul?
2 Ons studie van 2 Timotheüs 3:1-5 kan ons help om die resultate daarvan te sien wanneer mense in “die laaste dae” deur God geleer word. In die vorige artikel het ons begin deur te let op die voordele wat diegene geniet wat ag slaan op Paulus se waarskuwing om nie “liefhebbers van hulleself” te wees nie. Paulus het bygevoeg dat mense in ons tyd ook “liefhebbers van geld” sou wees.
3 Niemand het ’n universiteitsgraad in die hedendaagse geskiedenis nodig om te besef hoe raak daardie woorde ons tye beskryf nie. Het jy nie al gelees van finansiers en maatskappyhoofde wat nie tevrede is met die miljoene wat hulle jaarliks verdien nie? Hierdie liefhebbers van geld wil altyd meer bekom, selfs op onwettige maniere. Paulus se woorde geld vandag ook van baie wat, al is hulle nie ryk nie, net so hebsugtig is en nooit tevrede is nie. Jy weet moontlik van baie sulke mense in jou buurt.
4-6. Hoe help die Bybel Christene om dit te vermy om liefhebbers van geld te word?
4 Is dit waarvan Paulus melding gemaak het net ’n onvermydelike sy van die menslike natuur? Nie volgens die Outeur van die Bybel nie, wat lank gelede hierdie waarheid uiteengesit het: “Die geldgierigheid [“liefde vir geld”, NW] is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” Let daarop dat God nie gesê het ‘geld is die wortel van alle euwels’ nie. Dit is eerder “die liefde vir geld”.—1 Timotheüs 6:10.
5 Dit is interessant dat die teksverband van Paulus se woorde erken het dat sommige voortreflike Christene in die eerste eeu ryk was in die teenswoordige stelsel van dinge, of hulle nou hulle rykdom geërf of deur arbeid verkry het (1 Timotheüs 6:17). Wat ons finansiële status dus ook al is, die Bybel waarsku ons uitdruklik teen die gevare wat dit inhou om ’n liefhebber van geld te word. Bevat die Bybel enige verdere onderrigting oor hoe ons hierdie ernstige en algemene tekortkoming kan vermy? Ja beslis, soos in Jesus se Bergpredikasie. Die wysheid daarvan is wêreldberoemd. Let byvoorbeeld op wat Jesus in Mattheüs 6:26-33 gesê het.
6 Soos opgeteken in Lukas 12:15-21, het Jesus gepraat van ’n ryk man wat hard gewerk het om meer rykdom op te gaar, maar wat skielik sy lewe verloor het. Watter punt het Jesus hier beklemtoon? Hy het gesê: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.” Benewens hierdie raad veroordeel die Bybel ook luiheid en beklemtoon dit die waarde van eerlike arbeid (1 Thessalonicense 4:11, 12). O, sommige sal beswaar maak en sê dat hierdie leringe nie vir ons tye geskik is nie—maar hulle is inderdaad en hulle is doeltreffend.
Hulle word onderrig en bevoordeel
7. Watter rede het ons om te glo dat ons die Bybel se raad oor rykdom suksesvol kan toepas?
7 In die een nasie na die ander tref jy voorbeelde aan van manne en vroue uit alle sosiale en ekonomiese stande wat Goddelike beginsels oor geld toegepas het. Hulle het hulleself en hulle gesin bevoordeel, soos selfs buitestanders kan sien. In die boek Religious Movements in Contemporary America, wat deur die uitgewer vir die Universiteit van Princeton uitgereik is, het ’n antropoloog byvoorbeeld geskryf: “In [die Getuies se] publikasies en in gemeentelike toesprake word hulle daaraan herinner dat hulle status nie van nuwe motors, duur klere of ’n rojale leefwyse afhang nie. Tog moet ’n Getuie ’n behoorlike dag se werk aan sy werkgewer lewer [en moet hy] stipte eerlikheid aan die dag lê . . . Sulke eienskappe maak selfs ’n man wat nie oor veel bekwaamhede beskik nie ’n waardevolle werknemer, en sommige Getuies in Noord-Philadelphia [VSA] is tot poste met groot verantwoordelikhede bevorder.” Dit is duidelik dat mense wat God se onderrigting deur sy Woord aanneem, gewaarsku word teen gesindhede wat dit moeiliker maak om huidige toestande die hoof te bied. Hulle ondervinding bewys dat Bybelleringe tot ’n beter, gelukkiger lewe lei.
8. Waarom kan “aanmatigend”, “hoogmoedig” en “lasteraars” saam bespreek word, en wat beteken hierdie drie terme?
8 Ons kan die volgende drie dinge wat Paulus opnoem saam bespreek. In die laaste dae sal mense “aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars” wees (NW). Hierdie drie eienskappe is nie presies dieselfde nie, maar al drie het met trots te doen. “Aanmatigend” is eerste. ’n Woordeboek sê dat die grondwoord in die Grieks hier beteken: “‘Iemand wat homself meer prys as wat die werklikheid regverdig’ of ‘wat meer beloof as wat hy kan doen.’” ’n Mens kan verstaan waarom sommige Bybels die term “grootpraterig” gebruik. Vervolgens kom “hoogmoedig” wees, of letterlik “meerderwaardig voorkom”. Laastens, “lasteraars”. Sommige dink moontlik aan lasteraars as diegene wat oneerbiedig van God praat, maar die grondwoord beteken ook om sleg, beledigend of lasterlik van mense te praat. Paulus praat dus van laster wat teen God of teen ’n mens gerig word.
9. Watter gesindhede moedig die Bybel mense aan om aan te kweek in teenstelling met heersende slegte gesindhede?
9 Hoe voel jy as jy jou tussen mense bevind op wie Paulus se beskrywing van toepassing is, hetsy hulle werkmaats, skoolmaats of familielede is? Maak dit jou lewe makliker? Of maak sulke mense jou lewe moeiliker sodat jy dit swaarder vind om deur ons tye te kom? Maar God se Woord leer ons om hierdie gesindhede te vermy en gee ons riglyne soos die wat aangetref word in 1 Korinthiërs 4:7; Kolossense 3:12, 13 en Efesiërs 4:29.
10. Wat toon dat Jehovah se volk daarby baat vind as hulle Bybelonderrigting aanneem?
10 Al is Christene onvolmaak, help die toepassing van hierdie voortreflike onderrigting hulle baie in hierdie kritieke tye. Die Italiaanse tydskrif La Civiltà Cattolica het gesê een rede waarom Jehovah se Getuies so vermeerder, “is die feit dat die beweging sy lede ’n definitiewe en sterk identiteit gee”. Maar het die skrywer met “sterk identiteit” “aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars” bedoel? Inteendeel, die Jesuïetetydskrif toon dat die beweging “sy lede ’n definitiewe en sterk identiteit gee, en dit is ’n plek waar hulle met hartlikheid en ’n gevoel van broederskap en eenheid verwelkom word”. Is dit nie duidelik dat die dinge wat die Getuies geleer is hulle help nie?
Onderrigting bevoordeel gesinslede
11, 12. Hoe het Paulus die situasie wat in baie gesinne sou bestaan akkuraat voorspel?
11 Ons kan die volgende vier dinge, wat in ’n mate met mekaar verband hou, saam bespreek. Paulus het voorspel dat baie gedurende die laaste dae “ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid” sou wees (NW). Jy weet dat twee van hierdie slegte eienskappe—om ondankbaar en dislojaal te wees—oral om ons te sien is. Maar dit is maklik om te verstaan waarom Paulus hulle tussen “ongehoorsaam aan ouers” en “sonder natuurlike geneentheid” geplaas het. Die vier gaan hand aan hand.
12 Feitlik enige oplettende mens, jonk of oud, sal toegee dat ongehoorsaamheid aan ouers iets algemeens is, en dit word al hoe erger. Baie ouers kla dat dit lyk of jongmense ondankbaar is oor alles wat vir hulle gedoen word. Talle jongmense kap terug en sê dat hulle ouers nie werklik teenoor hulle (of teenoor die gesin oor die algemeen) lojaal is nie, maar dat hulle net vir hulle werk, vermaak of hulleself lewe. Kom ons kyk liewer na die gevolge pleks van te probeer vasstel wie die skuld dra. Vervreemding tussen volwassenes en jongmense lei dikwels daartoe dat tienderjariges hulle eie gedragsreëls oor sedelikheid, of in werklikheid onsedelikheid, bepaal. Met watter gevolg? ’n Vinnige toename in swangerskappe, aborsies en seksueel oordraagbare siektes onder tienderjariges. Alte dikwels gee ’n gebrek aan natuurlike geneentheid tuis aanleiding tot geweld. Jy kan waarskynlik voorbeelde in julle buurt noem wat bewys dat natuurlike geneentheid aan die verdwyn is.
13, 14. (a) Waarom moet ons, met die oog op die agteruitgang in baie gesinne, let op wat die Bybel sê? (b) Watter wyse raad gee God oor die gesinslewe?
13 Dit kan verduidelik waarom al hoe meer mense teen diegene draai wat eens beskou is as deel van hulle uitgebreide familie, van dieselfde stamgroep, volkstam of groep. Maar hou in gedagte dat ons nie hierdie dinge ophaal om die negatiewe aspekte van die hedendaagse lewe te beklemtoon nie. Onthou die twee hoofpunte waarin ons belangstel: Kan Bybelleringe ons help om die lyding te vermy wat deur die slegte eienskappe meegebring word wat Paulus opgenoem het, en sal dit ons tot nut strek as ons Bybelleringe in ons lewe toepas? Die antwoorde kan ja wees, soos blyk uit daardie vier punte op Paulus se lys.
14 ’n Veralgemening is heeltemal geregverdig: Geen onderrigting is beter as dié wat die Bybel bevat om ’n gesinslewe te bewerkstellig wat ’n mens se hart warm laat klop en waarmee goeie sukses behaal word nie. Dit word bevestig deur ’n voorbeeld van die raad daarin wat gesinslede nie net kan help om slaggate te vermy nie, maar ook om sukses te behaal. Kolossense 3:18-21 lig dit goed toe, maar daar is baie ander pragtige en praktiese gedeeltes wat vir mans, vrouens en kinders bedoel is. Hierdie onderrigting is prakties in ons dag. Ons gee toe dat daar selfs in gesinne van ware Christene probleme en uitdagings opduik. Nietemin bewys die resultate oor die algemeen dat die Bybel uiters nuttige onderrigting vir gesinne voorsien.
15, 16. Wat was die bevinding van een navorser toe sy die situasie van Jehovah se Getuies in Zambië bestudeer het?
15 ’n Navorser van die Universiteit van Lethbridge, Kanada, het 18 maande lank die maatskaplike lewe in Zambië bestudeer. Sy het tot dié gevolgtrekking gekom: “Jehovah se Getuies slaag beter daarin as lede van ander denominasies om stabiele huweliksverbintenisse in stand te hou. . . . Hulle welslae verteenwoordig ’n gewysigde gee-en-neem-verhouding tussen man en vrou wat in hulle pas ontdekte, nie-dreigende, eensgesinde strewes voor ’n nuwe hoof, God, aanspreeklik geword het vir die wyse waarop hulle mekaar behandel. . . . Die eggenoot wat ’n Getuie van Jehovah is, word geleer om verantwoordelikheid te aanvaar vir die welsyn van sy vrou en kinders. . . . Man en vrou word aangespoor om individue van integriteit te wees . . . Hierdie oorheersende aandrang op integriteit bind die huwelik saam.”
16 Daardie studie is op talle werklike ondervindinge gebaseer. Hierdie navorser het byvoorbeeld gesê dat “mans wat Getuies van Jehovah is”, in teenstelling met die tradisionele gedragskode, “hulle vrou meer dikwels in die tuin help, nie net gedurende die voorbereidingstadium nie, maar ook met die plant- en spitwerk”. Ja, dit is dus duidelik dat tallose ondervindinge wêreldwyd toon dat Bybelonderrigting lewens beïnvloed.
17, 18. Watter verbasende bevindings het aan die lig gekom in ’n studie oor godsdienserfenis en voorhuwelikse seks?
17 Die vorige artikel het melding gemaak van die bevindings in die Journal for the Scientific Study of Religion. In 1991 het dit ’n artikel bevat met die opskrif “Godsdienserfenis en voorhuwelikse seks: Bevindings uit ’n nasionale steekproef onder jong volwassenes”. Jy weet seker hoe algemeen voorhuwelikse seks voorkom. Talle is nog jonk wanneer hulle aan hartstog toegee en baie tienderjariges het met meer as een seksmaat omgang. Kan Bybelleringe hierdie algemene situasie verander?
18 Drie mede-professore wat hierdie onderwerp bestudeer het, het verwag om te vind ‘dat adolessente en jong volwassenes wat volgens die meer konserwatiewe Christelike tradisie opgevoed is hulle minder aan voorhuwelikse seks skuldig sou maak’. Maar wat toon die feite? Oor die algemeen het tussen 70 en 82 persent respondente voorhuwelikse seks gehad. In die geval van sommige “het ’n fundamentalistiese erfenis die moontlikheid van voorhuwelikse seks [verminder], maar nie in die geval van ‘voorhuwelikse seks onder tienderjariges’ nie”. Die professore het kommentaar gelewer oor party jongmense uit oënskynlik godsdienstige gesinne onder wie daar “’n aansienlik hoër voorkomssyfer van voorhuwelikse seks was in vergelyking met Hoofstroom-Protestante”.—Ons kursiveer.
19, 20. Hoe het die dinge wat God hulle geleer het baie jongmense onder Jehovah se Getuies gehelp en beskerm?
19 Die professore het presies die teenoorgestelde onder die jongmense van Jehovah se Getuies gevind, wat onder “die groep was wat die duidelikste van ander groepe onderskei kon word”. Waarom? “Die vlak van verbintenis en sosiale integrasie wat deur ondervinding, verwagtings en betrokkenheid tot stand kom, . . . kan gewoonlik hoër vlakke van getrouheid aan geloofsbeginsels voortbring.” Hulle het bygevoeg: “Daar word van Getuies verwag om as adolessente en jong volwassenes sendingverantwoordelikhede na te kom.”
20 Bybelonderrigting het Jehovah se Getuies dus ten goede beïnvloed deur hulle te help om onsedelikheid te vermy. Dit beteken beskerming teen seksueel oordraagbare siektes, waarvan sommige ongeneeslik en ander noodlottig is. Dit beteken geen druk om aborsies te ondergaan nie, wat volgens die Bybel die neem van ’n lewe is. Dit beteken ook dat jong volwassenes met ’n rein gewete in die huwelik kan tree. Dít beteken weer huwelike wat op ’n stewiger grondslag gebou word. Dit is sulke leringe wat ons kan help om die situasie die hoof te bied en gesonder en gelukkiger te wees.
Positiewe onderrigting
21. Watter dinge het Paulus akkuraat vir ons tyd voorspel?
21 Gaan nou terug na 2 Timotheüs 3:3, 4 en kyk watter ander dinge Paulus gesê het ons tyd vir baie—maar nie vir almal nie—moeilik sou maak om deur te kom: “[Mense sal] nie bereid [wees] tot enige ooreenkoms nie, kwaadpraters, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots [en] liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (NW). Hoe akkuraat is hierdie beskrywing tog! Maar Bybelonderrigting kan ons beskerm en toerus om dit die hoof te bied en sukses te behaal.
22, 23. Met watter positiewe vermaning het Paulus sy lys geëindig, en waarom is dit belangrik?
22 Die apostel Paulus eindig sy lys met ’n positiewe gedagte. Hy verander die laaste gedagte na ’n Goddelike bevel wat vir ons ook oneindige voordele kan meebring. Paulus meld diegene “wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën; en keer jou van hierdie mense af”. Onthou dat voorhuwelikse seks onder jongmense in sommige kerke in werklikheid hoër as die gemiddelde syfer is. Maar sou dit nie, al was die onsedelikheid onder daardie kerkgangers net gelyk aan die gemiddelde syfer, bewys dat hulle vorm van godsdiens kragteloos is nie? Godsdiensleringe verander ook nie hoe mense in sake-aangeleenthede optree of hoe hulle teenoor hulle ondergeskiktes optree of hoe hulle hulle familielede behandel nie, nie waar nie?
23 Paulus se woorde toon dat ons die dinge wat ons uit God se Woord leer, moet toepas en dat ons op ’n manier moet aanbid wat die ware krag van Christelikheid openbaar. Aangaande diegene wie se vorm van aanbidding kragteloos is, sê Paulus vir ons: “Keer jou van hierdie mense af” (NW). Dit is ’n duidelike bevel, ’n bevel wat vir ons beslis voordele sal meebring.
24. Hoe kom die waarskuwing in Openbaring hoofstuk 18 met Paulus se raad ooreen?
24 In watter opsig? Wel, die laaste boek van die Bybel beskryf ’n sinnebeeldige vrou, ’n hoer, wat Babilon die Grote genoem word. Die getuienis toon dat Babilon die Grote die wêreldwye ryk van valse godsdiens verteenwoordig wat deur Jehovah God ondersoek en verwerp is. Maar ons hoef nie daarby ingesluit te wees nie. Openbaring 18:4 waarsku ons: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.” Is dit dan nie dieselfde boodskap wat Paulus oorgedra het toe hy gesê het nie: “Keer jou van hierdie mense af”? Ons gehoorsaamheid hieraan is nog ’n manier waarop ons in ons kritieke tye by God se onderrigting baat kan vind.
25, 26. Wat hou die toekoms in vir diegene wat nou Jehovah God se onderrigting aanneem en toepas?
25 God gaan binnekort regstreeks in menseaangeleenthede ingryp. Hy gaan alle valse godsdiens asook die res van die teenswoordige goddelose stelsel uitwis. Dít sal ’n rede tot vreugde wees, soos Openbaring 19:1, 2 (NAV) ons meedeel. Diegene op aarde wat God se onderrigting aanneem en daarvolgens lewe, sal die geleentheid hê om aan te hou om sy leringe na te volg wanneer die struikelblokke van hierdie kritieke tye tot die verlede behoort.—Openbaring 21:3, 4.
26 Om in daardie herstelde aardse Paradys te lewe, sal voorwaar genotvoller wees as wat ons ons dit ooit kan voorstel. God beloof dat dit vir ons moontlik is, en ons weet dat ons hom ten volle kan vertrou. Hy gee ons derhalwe oorvloedige redes om sy nuttige onderrigting aan te neem en na te volg. Wanneer? Laat ons sy leringe nou in ons kritieke tye bly navolg, asook in die Paradys wat hy belowe.—Miga 4:3, 4.
Punte om oor na te dink
◻ Hoe strek dit Jehovah se volk tot voordeel as hulle na sy raad oor rykdom luister?
◻ Watter goeie resultate ondervind God se knegte volgens ’n Jesuïetetydskrif omdat hulle sy Woord toepas?
◻ Wat het ’n studie in Zambië geopenbaar oor die voordele wat gesinne geniet omdat hulle Goddelike onderrigting toepas?
◻ Hoe beskerm Goddelike onderrigting jongmense?
[Venster op bladsy 15]
WAT ’N PRYS OM TE BETAAL!
“Tieners se kanse om vigs op te doen, is ontsaglik groot omdat hulle daarvan hou om met seks en dwelms te eksperimenteer, omdat hulle kanse waag en vir die hede lewe en omdat hulle dink dat hulle onsterflik is en gesag verwerp”, sê ’n verslag wat tydens ’n konferensie oor vigs en tienderjariges gelewer is.—New York se Daily News, Sondag, 7 Maart 1993.
“’n Studie wat deur die Verenigde Nasies in Europa, Afrika en Suidoos-Asië gedoen is, het bevind dat seksueel aktiewe tienermeisies nou die voortou begin neem in die verspreiding van vigs.”—The New York Times, Vrydag, 30 Julie 1993.
[Prente op bladsy 16, 17]
Bybelleringe bevoordeel Jehovah se Getuies in die gemeente en tuis