Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 3/15 bl. 12-17
  • Toewyding en keusevryheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Toewyding en keusevryheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toewyding aan “die God van Israel”
  • Toewyding van “die Israel van God”
  • Die verstandige gebruik van godgegewe vryheid
  • Wie se slaaf maak jou keuse jou?
  • Ons leer om onsself te bevoordeel
  • Hulle is in God se uitverkore nasie gebore
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Leef jy jou toewyding na?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Ons moet ons toewyding “dag vir dag” naleef
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Waarom moet jy jou aan Jehovah toewy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 3/15 bl. 12-17

Toewyding en keusevryheid

“Vir sulke vryheid het Christus ons vrygemaak.”—GALASIËRS 5:1.

1. Waarop is die Hebreeuse en Griekse woorde wat met “toewyding” of “inwyding” vertaal word hoofsaaklik van toepassing?

BYBELSKRYWERS het verskeie Hebreeuse en Griekse woorde gebruik om die gedagte oor te dra om afgeskeie, of afgesonder, te wees vir ’n heilige doel. In Afrikaanse Bybels word hierdie woorde vertaal met woorde soos “toewyding” of “inwyding”. Soms word hierdie woorde in verband met geboue gebruik—gewoonlik God se tempel in eertydse Jerusalem en die aanbidding wat daar beoefen is. Hierdie woorde word selde met verwysing na sekulêre sake gebruik.

Toewyding aan “die God van Israel”

2. Waarom kon Jehovah tereg “die God van Israel” genoem word?

2 In 1513 v.G.J. het God die Israeliete van Egiptiese slawerny bevry. Kort daarna het hy hulle as sy spesiale volk afgesonder deur hulle in ’n verbondsverhouding met hom te bring. Daar is vir hulle gesê: “As julle dan nou my stem noukeurig sal gehoorsaam en my verbond inderdaad sal hou, dan sal julle beslis uit al die ander volke my spesiale eiendom word, want die hele aarde behoort aan my” (Exodus 19:5, NW; Psalm 135:4, NW). Aangesien Jehovah die Israeliete sy spesiale eiendom gemaak het, kon hy tereg “die God van Israel” genoem word.—Josua 24:23.

3. Waarom was Jehovah nie partydig toe hy Israel as sy volk gekies het nie?

3 Toe Jehovah die Israeliete sy toegewyde volk gemaak het, was hy nie partydig nie, want hy het ook liefdevolle besorgdheid teenoor nie-Israeliete betoon. Hy het sy volk beveel: “As ’n vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ’n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God” (Levitikus 19:33, 34). Eeue later is God se standpunt kragtig by die apostel Petrus tuisgebring, wat erken het: “Ek bemerk vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.

4. Wat was die voorwaardes van die verhouding tussen God en Israel, en het die Israeliete dit nagekom?

4 Let ook op dat hulle posisie as God se toegewyde volk voorwaardelik was. Hulle sou slegs God se “spesiale eiendom” wees as hulle noukeurig sy stem gehoorsaam en sy verbond hou. Ongelukkig het die Israeliete nie aan hierdie vereistes voldoen nie. Nadat hulle die Messias verwerp het wat in die eerste eeu G.J. deur God gestuur is, het hulle hulle bevoorregte posisie verloor. Jehovah was nie meer “die God van Israel” nie. En die natuurlike Israeliete was nie meer God se toegewyde volk nie.—Vergelyk Matteus 23:23.

Toewyding van “die Israel van God”

5, 6. (a) Wat het Jesus met sy profetiese woorde in Matteus 21:42, 43 bedoel? (b) Wanneer en hoe het “die Israel van God” in aansyn gekom?

5 Het dit beteken dat Jehovah nou nie meer ’n toegewyde volk sou hê nie? Nee. Jesus Christus het die psalmis aangehaal en voorspel: “Het julle nooit in die Skrif gelees nie: ‘Die steen wat die bouers verwerp het, is die een wat die hoofhoeksteen geword het. Jehovah het dit teweeggebring, en dit is wonderlik in ons oë’? Daarom sê ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en vir ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring.”—Matteus 21:42, 43.

6 Die ‘nasie wat die vrugte daarvan voortbring’, is die Christengemeente. Gedurende Jesus se aardse lewe het hy die eerste toekomstige lede daarvan gekies. Maar op Pinksterdag 33 G.J. was dit Jehovah God self wat die Christengemeente gestig het deur sy heilige gees oor die eerste lede daarvan, altesaam ongeveer 120, uit te stort (Handelinge 1:15; 2:1-4). Soos die apostel Petrus later geskryf het, het hierdie pas gestigte gemeente toe “’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit” geword. Waarom is hulle uitverkies? Sodat hulle “die voortreflikhede alom bekend moet maak van die een wat [hulle] uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (1 Petrus 2:9). Christus se volgelinge, wat met God se gees gesalf is, was toe ’n toegewyde nasie, “die Israel van God”.—Galasiërs 6:16.

7. Wat sou lede van die Israel van God geniet, en wat is hulle derhalwe gesê om te vermy?

7 Hoewel die lede van die heilige nasie “’n volk vir spesiale besit” geword het, sou hulle nie tot slawe gemaak word nie. Inteendeel, hulle sou groter vryheid geniet as wat die toegewyde nasie van natuurlike Israel gehad het. Jesus het die toekomstige lede van hierdie nuwe nasie beloof: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Die apostel Paulus het daarop gewys dat Christene van die vereistes van die Wetsverbond vrygemaak is. Hy het medegelowiges in Galasië in hierdie verband vermaan: “Vir sulke vryheid het Christus ons vrygemaak. Staan dus vas, en moet julle nie weer onder ’n juk van slawerny laat inperk nie.”—Galasiërs 5:1.

8. In watter opsig bied die Christelike reëling mense groter vryheid as wat onder die Wetsverbond geniet is?

8 In teenstelling met eertydse natuurlike Israel het die Israel van God tot vandag toe die vereistes van hulle toewyding noukeurig gehoorsaam. Dit behoort ons nie te verbaas nie, want die lede daarvan het uit vrye wil gekies om gehoorsaam te wees. Terwyl lede van natuurlike Israel op grond van hulle geboorte toegewyd geword het, het lede van die Israel van God self gekies om dit te doen. Die Christelike reëling het dus verskil van die Joodse Wetsverbond, wat mense tot toewyding verplig het sonder om hulle keusevryheid toe te laat.

9, 10. (a) Hoe het Jeremia aangedui dat daar ’n verandering met betrekking tot toewyding sou kom? (b) Waarom sou jy sê is nie alle toegewyde Christene van vandag lede van die Israel van God nie?

9 Die profeet Jeremia het voorspel dat daar ’n verandering met betrekking tot toewyding sou kom toe hy geskryf het: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.”—Jeremia 31:31-33.

10 Aangesien hulle God se wet “in hulle binneste” het, as ’t ware “op hulle hart” geskrywe is, word lede van die Israel van God beweeg om hulle toewyding na te leef. Hulle motivering is sterker as dié van die natuurlike Israeliete, wat vanweë hulle geboorte toegewyd was, nie vanweë ’n keuse wat hulle gemaak het nie. Die sterk motivering wat die Israel van God openbaar om God se wil te doen, beweeg ook vandag meer as vyfmiljoen medeaanbidders regoor die wêreld. Hulle het ook hulle lewe aan Jehovah God toegewy om sy wil te doen. Hoewel hulle nie soos die lede van die Israel van God die hoop op hemelse lewe het nie, verheug hulle hulle in die vooruitsig om vir ewig op die aarde onder die heerskappy van God se hemelse Koninkryk te lewe. Hulle toon hulle waardering vir geestelike Israel deur die paar oorblywende lede daarvan daadwerklik te ondersteun in die uitvoering van hulle toewysing om “die voortreflikhede alom bekend [te] maak van die een wat [hulle] uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het”.

Die verstandige gebruik van godgegewe vryheid

11. Met watter vermoë is die mens geskep, en hoe moet dit gebruik word?

11 God het mense geskep om vryheid te waardeer. Hy het hulle die vermoë gegee om wilsvryheid te beoefen. Die eerste mensepaar het gebruik gemaak van hulle keusevryheid. Hulle het egter op onverstandige en liefdelose wyse ’n keuse gemaak wat vir hulle sowel as vir hulle nageslag rampspoedige gevolge gehad het. Maar dit toon duidelik dat Jehovah intelligente skepsele nooit dwing om ’n weg te volg wat bots met hulle innerlike beweegredes of begeertes nie. En aangesien ‘God ’n blymoedige gewer liefhet’, is die enigste toewyding wat vir hom aanneemlik is die soort wat op liefde gegrond is, wat vrywillig met blymoedigheid gedoen word, wat op keusevryheid gebaseer is (2 Korintiërs 9:7). Enige ander soort toewyding is onaanneemlik.

12, 13. Hoe is Timoteus ’n voorbeeld van behoorlike kinderopleiding, en wat het sy voorbeeld baie jongmense laat doen?

12 Omdat Jehovah se Getuies terdeë bewus is van hierdie vereiste, staan hulle toewyding aan God voor, maar hulle dwing niemand ooit om so ’n toewyding te doen nie, nie eers hulle eie kinders nie. In teenstelling met baie kerke doop die Getuies nie hulle babas nie, asof dit moontlik is om hulle in toewyding in te dwing sonder dat hulle self die keuse maak. Die skriftuurlike voorbeeld wat ons moet volg, is die een wat deur die jong man Timoteus gevolg is. As ’n volwassene is hy deur die apostel Paulus aangesê: “Bly . . . in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo, aangesien jy weet by watter persone jy dit geleer het en dat jy van kleintyd af die heilige geskrifte geken het, wat jou wys kan maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus.”—2 Timoteus 3:14, 15.

13 Dit is opmerkenswaardig dat Timoteus die heilige geskrifte geken het omdat hy dit van kleintyd af geleer is. Hy is deur sy moeder en grootmoeder oortuig—nie gedwing nie—om Christelike leringe te glo (2 Timoteus 1:5). Timoteus het gevolglik die wysheid daarvan ingesien om ’n volgeling van Christus te word en het derhalwe die persoonlike keuse van Christelike toewyding gemaak. In ons tyd het tienduisende jong manne en vroue wie se ouers Getuies van Jehovah is hierdie voorbeeld gevolg (Psalm 110:3). Ander het nie. Dit is ’n persoonlike keuse.

Wie se slaaf maak jou keuse jou?

14. Wat sê Romeine 6:16 vir ons omtrent algehele vryheid?

14 Geen mens geniet algehele vryheid nie. Almal se vryheid word deur fisiese wette beperk, soos die wet van swaartekrag, wat ’n mens nie kan ignoreer en ongedeerd daarvan afkom nie. Ook in geestelike sin geniet niemand algehele vryheid nie. Paulus het geredeneer: “Weet julle nie dat as julle aanhou om julleself as slawe vir iemand aan te bied om hom te gehoorsaam, julle slawe van hom is omdat julle hom gehoorsaam nie, hetsy van die sonde met die dood in die vooruitsig, of van gehoorsaamheid met regverdigheid in die vooruitsig?”—Romeine 6:16.

15. (a) Hoe voel mense daaroor om ’n slaaf te wees, maar wat doen die meeste op die ou end? (b) Watter gepaste vrae kan ons ons afvra?

15 Die blote gedagte daaraan om iemand se slaaf te wees, is vir die meeste mense onaangenaam. Tog laat mense hulle in vandag se wêreld in werklikheid op soveel subtiele maniere manipuleer en beïnvloed dat hulle op die ou end onwillens doen wat ander wil hê hulle moet doen. Die advertensiebedryf en die vermaaklikheidswêreld probeer mense byvoorbeeld in ’n vorm druk deur vir hulle standaarde te stel om te volg. Politieke en godsdiensorganisasies kry mense so ver om hulle idees en doelwitte te ondersteun deur dikwels ’n beroep op ’n gevoel van solidariteit of lojaliteit te doen en nie altyd deur middel van oortuigende argumente nie. Aangesien Paulus gesê het dat ‘ons die slawe is van diegene wat ons gehoorsaam’, is dit goed as elkeen van ons ons afvra: ‘Wie se slaaf is ek? Wie oefen die grootste invloed op my besluite en my lewenswyse uit? Is dit geestelikes, politieke leiers, geldmagnate of vermaaklikheidspersoonlikhede? Wie gehoorsaam ek—God of mense?’

16. In watter sin is Christene slawe van God, en wat is die regte beskouing van sulke slawerny?

16 Christene beskou nie gehoorsaamheid aan God as ’n onredelike skending van hulle persoonlike vryheid nie. Hulle oefen hulle vryheid gewillig uit soos hulle Voorbeeld, Jesus Christus, dit gedoen het, deur persoonlike begeertes en prioriteite in ooreenstemming met God se wil te bring (Johannes 5:30; 6:38). Hulle kweek “die denke van Christus” aan en onderwerp hulle aan hom as die Hoof van die gemeente (1 Korintiërs 2:14-16; Kolossense 1:15-18). Dit is baie soos ’n vrou wat trou en haar gewillige samewerking gee aan die man wat sy liefhet. Trouens, die liggaam van gesalfde Christene word beskryf as ’n kuis maagd wat aan Christus in die huwelik beloof is.—2 Korintiërs 11:2; Efesiërs 5:23, 24; Openbaring 19:7, 8.

17. Wat het al Jehovah se Getuies gekies om te word?

17 Elke Getuie van Jehovah, hetsy hy ’n hemelse of ’n aardse hoop het, het hom persoonlik aan God toegewy om sy wil te doen en hom as Heerser te gehoorsaam. Toewyding was vir elke Getuie ’n persoonlike keuse om eerder ’n slaaf van God te word as om ’n slaaf van mense te bly. Dit is in ooreenstemming met die apostel Paulus se raad: “Julle is met ’n prys gekoop; hou op om slawe van mense te word.”—1 Korintiërs 7:23.

Ons leer om onsself te bevoordeel

18. Wanneer kwalifiseer ’n potensiële Getuie om gedoop te word?

18 Voordat iemand kan kwalifiseer om een van Jehovah se Getuies te word, moet hy aan skriftuurlike vereistes voldoen. Ouer manne is versigtig wanneer hulle bepaal of ’n potensiële Getuie werklik die implikasies van Christelike toewyding verstaan. Wil hy werklik een van Jehovah se Getuies wees? Is hy bereid om die vereistes wat daarmee gepaardgaan na te leef? Indien nie, kwalifiseer hy nie om gedoop te word nie.

19. Waarom is daar geen rede om iemand te kritiseer wat besluit om ’n toegewyde kneg van God te word nie?

19 Maar gestel iemand voldoen aan al die vereistes. Waarom moet hy gekritiseer word omdat hy uit vrye wil ’n persoonlike besluit geneem het om hom deur God en Sy geïnspireerde Woord te laat beïnvloed? Is dit minder aanvaarbaar om jou eerder deur God as deur mense te laat beïnvloed? Of hou dit enigsins minder voordeel in? Jehovah se Getuies dink nie so nie. Hulle stem heelhartig saam met God se woorde wat deur Jesaja opgeteken is: “Ek‚ Jehovah‚ is jou God‚ die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel‚ die Een wat jou laat tree op die weg waarop jy moet wandel.”—Jesaja 48:17, NW.

20. In watter opsigte word mense deur Bybelwaarheid bevry?

20 Bybelwaarheid bevry mense van geloof in valse godsdiensleringe, soos ewige foltering in ’n brandende hel (Prediker 9:5, 10). Dit vervul eerder hulle hart met dankbaarheid vir die ware hoop vir die dooies—die opstanding wat op grond van Jesus Christus se losprysofferande moontlik gemaak is (Matteus 20:28; Handelinge 24:15; Romeine 6:23). Bybelwaarheid bevry mense van die frustrasies wat ontstaan wanneer hulle op politieke beloftes vertrou wat alte dikwels op niks uitloop nie. Dit laat hulle hart eerder oorloop van vreugde in die wete dat Jehovah se Koninkryk reeds in die hemel heers en binnekort oor die hele aarde sal heers. Bybelwaarheid bevry mense van gebruike wat wel vir die gevalle vlees aanloklik is, maar God oneer aandoen en ’n swaar tol eis in die vorm van gebroke verhoudings, siektes en ontydige dood. Kortom, om ’n slaaf van God se wees, is baie voordeliger as om ’n slaaf van mense te wees. Trouens, toewyding aan God hou voordele ‘in hierdie tydperk in, en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe’.—Markus 10:29, 30.

21. Hoe beskou Jehovah se Getuies toewyding aan God, en wat is hulle wens?

21 Hedendaagse Getuies van Jehovah het nie deur geboorte deel van ’n toegewyde nasie geword soos die eertydse Israeliete nie. Die Getuies is deel van ’n gemeente van toegewyde Christene. Elke gedoopte Getuie het deel daarvan geword deur individueel sy keusevryheid uit te oefen om hom toe te wy. Ja, vir Jehovah se Getuies lei toewyding tot ’n innige, persoonlike verhouding met God wat deur gewillige diens aan hom gekenmerk word. Dit is hulle hartsbegeerte om hierdie vreugdevolle verhouding te bewaar en vir ewig die vryheid te behou waarvoor Jesus Christus hulle vrygemaak het.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Waarom was God nie partydig toe hy Israel as sy “spesiale eiendom” gekies het nie?

◻ Waarom sou jy sê dat Christelike toewyding nie ’n verlies aan vryheid meebring nie?

◻ Watter voordele hou toewyding aan Jehovah God in?

◻ Waarom is dit beter om ’n kneg van Jehovah as ’n slaaf van mense te wees?

[Prent op bladsy 15]

In eertydse Israel is toewyding aan God deur geboorte bepaal

[Prent op bladsy 16]

Christelike toewyding is ’n kwessie van keuse

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel