Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 12/1 bl. 10-15
  • Ouers, skep behae in julle kinders

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouers, skep behae in julle kinders
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die klem op Jehovah se woorde
  • Opleiding van kleintyd af
  • Voorsien gereeld “water”
  • Beskerm julle kinders
  • Voorsien liefdevolle dissipline
  • Die beloning is die moeite werd
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Ons kinders—’n kosbare erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 12/1 bl. 10-15

Ouers, skep behae in julle kinders

“Jou vader en jou moeder [sal] bly wees.”—SPREUKE 23:25.

1. Wat sal ouers behae in hulle kinders laat skep?

HOE goed is dit tog om te sien hoe ’n jong boompie groei en ’n pragtige, groot boom word wat skadu voorsien—veral as jy dit geplant en versorg het! Ouers skep eweneens groot behae in hulle kinders as hulle as ryp knegte van God grootword, soos die Bybelspreuk sê: “Die vader van ’n regverdige juig baie; en as iemand ’n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom. Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.”—Spreuke 23:24, 25.

2, 3. (a) Hoe kan ouers bekommernis en bitter smart voorkom? (b) Wat het jong boompies sowel as kinders nodig om ’n bron van vreugde te word?

2 Maar ’n kind word nie vanself ‘regverdig’ en ‘wys’ nie. Dit verg groot inspanning om te voorkom dat kinders ’n bron van “bekommernis” en “bitter smart” word, net soos daar werk by betrokke kan wees om ’n jong boompie tot ’n groot boom te laat groei (Spreuke 17:21, 25). ’n Stut kan ’n jong boompie byvoorbeeld help om reguit en sterk te groei. Dit is uiters belangrik dat die jong boompie gereeld natgegooi word, en dit moet dalk teen plae beskerm word. Laastens help snoeiwerk om ’n pragtige boom voort te bring.

3 God se Woord toon dat kinders onder meer godvrugtige opleiding, die water van Bybelwaarheid, beskerming teen sedelike misbruik en liefdevolle dissipline nodig het om ongewenste karaktertrekke uit die weg te ruim. Om in hierdie behoeftes te voorsien, word vaders veral aangespoor om hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed (Efesiërs 6:4). Wat behels dit?

Die klem op Jehovah se woorde

4. Watter verantwoordelikheid het ouers teenoor hulle kinders, en wat word vereis voordat hulle dit kan nakom?

4 “Verstandsregulering van Jehovah” beteken om ons denke na Jehovah se wil te skik. Ouers moet Jehovah se beskouing van sake dus by hulle kinders inprent. En hulle moet ook God se voorbeeld navolg deur liefdevolle dissipline, of regstellende opleiding, te voorsien (Psalm 103:10, 11; Spreuke 3:11, 12). Maar voordat ouers dit kan doen, moet hulle self Jehovah se woorde inneem, soos God se profeet Moses die eertydse Israeliete vermaan het: “Hierdie woorde [van Jehovah] wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees.” (Ons kursiveer.)—Deuteronomium 6:6.

5. Wanneer en hoe moes Israelitiese ouers hulle kinders onderrig, en wat beteken dit om ‘in te skerp’?

5 Gereelde studie van die Bybel, bepeinsing en gebed rus ouers toe om te doen wat Moses vervolgens beveel het: “Jy moet [Jehovah se woorde by] jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Ons kursiveer.) Die Hebreeuse woord wat as “inskerp” vertaal word, beteken “om te herhaal”, “om oor en oor te sê”, “om duidelik in te prent”. Let op hoe Moses verder die belangrikheid daarvan beklemtoon het om Jehovah se woorde voortdurend te benadruk: “Jy [moet] dit as ’n teken bind op jou hand, en dit moet as ’n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.” Dit is duidelik dat Jehovah van ouers vereis om hulle kinders gereelde, liefdevolle aandag te gee!—Deuteronomium 6:7-9.

6. Wat moes ouers by hulle kinders inskerp, en watter voordeel het dit ingehou?

6 Wat is “hierdie woorde” van Jehovah wat ouers by hulle kinders moes inskerp? Moses het pas tevore herhaal wat algemeen bekend staan as die Tien Gebooie, met inbegrip van die gebooie om nie moord of egbreuk te pleeg nie, nie te steel nie, nie valse getuienis te lewer nie en nie ander se besittings te begeer nie. Hierdie sedelike vereistes, sowel as die bevel om ‘die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag’, was veral wat Israelitiese ouers by hulle kinders moes inskerp (Deuteronomium 5:6-21; 6:1-5). Stem jy nie saam dat dit die soort onderrigting is wat kinders vandag nodig het nie?

7. (a) Waarmee is kinders in die Bybel vergelyk? (b) Wat gaan ons nou ondersoek?

7 Daar is vir die Israelitiese vader gesê: “Jou vrou is soos ’n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel” (Psalm 128:3). Maar as ouers behae in hulle “jong boompies” wil skep en nie bekommernis wil ervaar nie, moet hulle daagliks persoonlike belangstelling in hulle kinders toon (Spreuke 10:1; 13:24; 29:15, 17). Kom ons ondersoek hoe ouers hulle kinders op so ’n manier kan oplei, geestelik kan natgooi, kan beskerm en liefdevol kan dissiplineer dat hulle waarlik behae in hulle sal skep.

Opleiding van kleintyd af

8. (a) Wie het as opleistutte vir Timoteus gedien? (b) Wanneer het die opleiding begin, en met watter gevolg?

8 Kyk byvoorbeeld na Timoteus wat as ’t ware deur twee stewig geplante opleistutte—sy moeder en sy grootmoeder—ondersteun is. Aangesien Timoteus se vader ’n Griek en klaarblyklik ’n ongelowige was, was dit sy Joodse moeder, Eunice, en haar moeder, Loïs, wat die seun ‘van kleintyd af in die heilige geskrifte’ opgelei het (2 Timoteus 1:5; 3:15; Handelinge 16:1). Hulle ywer om aan Timoteus—selfs toe hy ’n baba was—die “wonders wat [Jehovah] gedoen het” te leer, is ryklik beloon (Psalm 78:1, 3, 4). Timoteus het, moontlik terwyl hy nog ’n tiener was, ’n sendeling in ver lande geword, en hy het ’n belangrike rol daarin gespeel om vroeë Christengemeentes te versterk.—Handelinge 16:2-5; 1 Korintiërs 4:17; Filippense 2:19-23.

9. Hoe kan kinders leer om die strikke van materialisme te vermy?

9 Ouers, watter soort opleistutte is julle? Wil julle byvoorbeeld hê dat julle kinders ’n gebalanseerde beskouing van materiële dinge moet ontwikkel? Dan moet julle die regte voorbeeld stel deur nie al die nuutste toestelle of ander dinge te probeer bekom wat julle nie werklik nodig het nie. As julle verkies om materiële gewin na te jaag, moet julle nie verbaas wees wanneer julle kinders julle naboots nie (Matteus 6:24; 1 Timoteus 6:9, 10). Trouens, hoe kan die jong boompie reguit groei as die opleistutte skeef is?

10. Wie se leiding moet ouers altyd soek, en watter gesindheid moet hulle hê?

10 Ouers wat behae in hulle kinders skep, sal voortdurend Goddelike hulp soek om hulle op te lei en sal altyd hulle kinders se geestelike belange in aanmerking neem. ’n Moeder met vier kinders het vertel: “Selfs voordat ons kinders gebore is, het ons gereeld tot Jehovah gebid om ons te help om goeie ouers te wees, om deur sy Woord gelei te word en dit in ons lewe toe te pas.” Sy het bygevoeg: “‘Jehovah kom eerste’ was nie net ’n algemene uitdrukking nie, maar die manier waarop ons ons lewe gelei het.”—Rigters 13:8.

Voorsien gereeld “water”

11. Wat het jong boompies sowel as kinders nodig om te groei?

11 Jong boompies het veral ’n konstante watervoorraad nodig, soos getoon word deur hoe goed bome langs ’n rivier groei. (Vergelyk Openbaring 22:1, 2.) Klein kindertjies sal ook geestelik floreer as hulle gereeld voorsien word van die water van Bybelwaarheid. Maar ouers moet in ag neem hoe lank hulle kinders kan konsentreer. Miskien sal verkorte onderrigsessies wat dikwels gehou word doeltreffender as ’n paar lang sessies wees. Moenie die waarde van sulke verkorte sessies onderskat nie. Dit is belangrik dat ’n ouer en kind tyd saam deurbring om ’n band tussen hulle te vorm, ’n gehegtheid wat herhaaldelik in die Skrif aangemoedig word.—Deuteronomium 6:6-9; 11:18-21; Spreuke 22:6.

12. Watter waarde het dit om saam met kinders te bid?

12 Een van die sessies met die kinders kan aan die einde van die dag gehou word. Een jeugdige onthou: “My ouers het elke aand op die voetenent van ons bed gesit en na ons geluister terwyl ons ons eie gebede gedoen het.” ’n Ander jeugdige het oor die waarde hiervan gesê: “Dit het my in die gewoonte laat kom om elke aand voor ek gaan slaap tot Jehovah te bid.” Wanneer kinders elke dag hoor hoe hulle ouers oor Jehovah praat en tot hom bid, word hy ’n werklike persoon vir hulle. Een jong man het gesê: “Ek kon my oë toemaak in gebed tot Jehovah en ’n werklike grootvaderlike persoon sien. My ouers het my gehelp om te besef dat Jehovah ’n rol speel in alles wat ons doen en sê.”

13. Wat kan gereelde onderrigsessies insluit?

13 Om kinders te help om die water van Bybelwaarheid in te neem, kan ouers talle praktiese dinge in die gereelde onderrigsessies insluit. Die ouers van twee jong kinders het gesê: “Toe albei ons kinders net ’n paar weke oud was, het ons hulle begin leer om stil te sit in die Koninkryksaal.” ’n Vader het verduidelik wat sy gesin gedoen het: “Ons het al die boeke van die Bybel op indekskaarte geskryf en geoefen om hulle in volgorde te rangskik, en ons het almal beurte gemaak. Die kinders het altyd hierna uitgesien.” Baie gesinne het ook ’n kort onderrigsessie voor of ná ’n maaltyd. Een vader het gesê: “Vir ons is aandete ’n goeie tyd om die dagteks te bespreek.”

14. (a) Aan watter geestelik lonende bedrywighede kan kinders deelneem? (b) Watter vermoë het kinders om te leer?

14 Kinders hou ook daarvan om na die aanskoulike Bybelverslae in My boek met Bybelverhale te luister.a “Toe die kinders nog klein was”, het ’n egpaar gesê, “het ons ’n hoofstuk in die Bybelverhale-boek gedek, waarna die kinders kostuums aangetrek en die rolle in die vorm van ’n minidrama vertolk het. Hulle het baie hiervan gehou en wou dikwels meer as een verhaal per studie doen.” Moenie julle kind se leervermoë onderskat nie! Vierjariges het al hele hoofstukke van die Bybelverhale-boek gememoriseer en selfs die Bybel leer lees! Een jeugdige onthou dat sy, toe sy omtrent drie en ’n half jaar oud was, “regterlike beslissings” keer op keer verkeerd uitgespreek het, maar haar vader het haar aangespoor om aan te hou oefen.

15. Watter sake kan in besprekings met kinders ingesluit word, en watter bewys is daar dat sulke besprekings waarde het?

15 Sessies met julle kinders kan ook gebruik word om hulle voor te berei om die water van waarheid met ander te deel, soos om tydens vergaderinge te antwoord (Hebreërs 10:24, 25). “Ek moes tydens ons oefensessies in my eie woorde antwoord”, onthou een jeugdige. “Ek is nie toegelaat om net te lees sonder om te verstaan wat ek gelees het nie.” Daarbenewens kan kinders geleer word om ’n betekenisvolle aandeel aan die veldbediening te hê. ’n Vrou wat deur godvresende ouers grootgemaak is, verduidelik: “Ons het nooit net saamgeloop en bloot ons ouers in hulle werk vergesel nie. Ons het geweet dat ons ’n aandeel het, al het ons net ’n deurklokkie gelui en ’n traktaat by iemand gelaat. Omdat ons voor die naweek se bedrywighede goed voorberei het, het ons geweet wat ons gaan sê. Ons het nooit op ’n Saterdagoggend opgestaan en gevra of ons in die bediening uitgaan nie. Ons het geweet dat ons uitgaan.”

16. Waarom is dit belangrik om ’n gereelde gesinstudie met kinders te hou?

16 Die belangrikheid daarvan om kinders gereeld van die water van Bybelwaarheid te voorsien, kan nie oorbeklemtoon word nie, wat beteken dat ’n weeklikse gesinsbybelstudie onontbeerlik is. ’n Vader met twee kinders sê dat “inkonsekwentheid ’n vername rede is waarom kinders geïrriteer word” (Efesiërs 6:4). Hy het gesê: “Ek en my vrou het ’n dag en ’n tyd gekies en die gesinstudie getrou op daardie tyd gehou. Kort voor lank het die kinders dit op daardie tyd verwag.” Al hierdie opleiding van kleintyd af is belangrik, in ooreenstemming met die ou bekende waarheid: ‘Buig die boompie terwyl hy nog jonk is.’

17. Wat is net so belangrik as om kinders Bybelwaarhede te leer?

17 Dit is belangrik om kinders Bybelwaarhede te leer, maar die ouers se voorbeeld is net so belangrik. Sien jou kinders dat jy studeer, die vergaderinge gereeld bywoon, aan die veldbediening deelneem, ja, behae daarin skep om Jehovah se wil te doen? (Psalm 40:8, NW). Dit is noodsaaklik dat hulle dit sien. ’n Dogter, wie se moeder die teenstand van haar man verduur het en ses kinders grootgemaak het sodat hulle getroue Getuies geword het, het iets noemenswaardigs van haar moeder gesê: “Wat ons die meeste beïndruk het, was my ma se eie voorbeeld—dit het groter gewig gedra as woorde.”

Beskerm julle kinders

18. (a) Hoe kan ouers aan kinders die beskerming bied wat hulle nodig het? (b) Watter soort onderrigting het kinders in Israel oor geslagsdele ontvang?

18 Net soos jong boompies dikwels teen gevaarlike plae beskerm moet word, moet kinders in hierdie bose stelsel van dinge teen “goddelose mense” beskerm word (2 Timoteus 3:1-5, 13). Hoe kan ouers hierdie beskerming bied? Deur hulle te help om Goddelike wysheid te verkry! (Prediker 7:12). Jehovah het die Israeliete—onder andere hulle “kinders”—beveel om te luister na die voorlesing van sy Wet, wat die identifisering van gepaste en ongepaste seksuele gedrag ingesluit het. (Deuteronomium 31:12, ons kursiveer; Levitikus 18:6-24.) Geslagsdele word herhaaldelik gemeld, onder meer “testikels” en “geslagsorgaan” (Levitikus 15:1-3, 16, NW; 21:20, NW; 22:24, NW; Numeri 25:8, NW; Deuteronomium 23:10). Weens die uiters verdorwe toestand van vandag se wêreld moet kinders weet wat die gepaste en ongepaste gebruik van hierdie liggaamsdele is wat ingesluit word in die skepping wat God “baie goed” genoem het.—Genesis 1:31; 1 Korintiërs 12:21-24.

19. Watter gepaste onderrigting kan aan kinders in verband met hulle geslagsdele gegee word?

19 Verkieslik moet albei ouers saam of elke volwasse voog vir die kind sy geslagsdele identifiseer. Hulle moet dan verduidelik dat niemand anders toegelaat moet word om hierdie liggaamsdele aan te raak nie. Aangesien kindermolesteerders dikwels toets hoe kinders op subtiele seksuele toenaderings reageer, moet ’n kind geleer word om hom ferm te verset en te sê: “Ek gaan sê wat jy doen!” Leer julle kinders dat hulle julle altyd moet vertel van enigiemand wat hulle op ’n manier probeer aanraak wat hulle ongemaklik laat voel, ongeag met watter dreigemente hulle banggemaak word.

Voorsien liefdevolle dissipline

20. (a) Hoe is dissipline soos snoeiwerk? (b) Wat is die aanvanklike uitwerking van dissipline, maar wat is die resultaat?

20 Kinders vind baat by liefdevolle dissipline, net soos ’n boom daarby baat vind as dit gesnoei word (Spreuke 1:8, 9; 4:13; 13:1). Wanneer ongewenste takke afgesnoei word, bevorder dit die groei van ander takke. As julle kinders dus te begaan is oor materiële besittings of as hulle tot slegte omgang of onheilsame vermaak neig, is hierdie verkeerde neigings soos takke wat afgesny moet word. As dit verwyder word, sal julle kinders gehelp word om in ’n geestelike rigting te groei. Aanvanklik lyk sulke dissipline nie aangenaam nie, net soos snoeiwerk ’n mate van skok vir ’n boom kan veroorsaak. Maar die goeie resultaat van dissipline is hernieude groei in die rigting waarin jy wil hê jou kind moet groei.—Hebreërs 12:5-11.

21, 22. (a) Wat toon dat dit nie aangenaam is om dissipline uit te oefen of te ontvang nie? (b) Waarom moet ouers nie dissipline terughou nie?

21 Daar word geredelik erken dat dit nie aangenaam is om dissipline uit te oefen of te ontvang nie. “My seun het heelwat tyd saam met ’n jeugdige deurgebring wat die ouer manne my gewaarsku het nie goeie geselskap is nie”, het een vader gesê. “Ek moes gouer opgetree het. Hoewel my seun nie by enige ernstige oortreding betrokke geraak het nie, het dit ’n tydjie geneem om sy denke reg te stel.” Die seun het gesê: “Ek was verpletter toe ek alle bande met my beste vriend moes verbreek.” Maar hy het bygevoeg: “Dit was ’n goeie besluit, want hy is kort daarna uitgesit.”

22 “Die teregwysinge van die tug [is] ’n weg tot die lewe”, sê God se Woord. Ongeag hoe moeilik dit dus is om dissipline uit te oefen, moet julle dit nie van julle kinders terughou nie (Spreuke 6:23; 23:13; 29:17). Hulle sal later dankbaar wees dat julle hulle gedissiplineer het. “Ek onthou nog hoe kwaad ek vir my ouers was wanneer ek gedissiplineer is”, sê ’n jeugdige. “Ek sou nou selfs kwater gewees het as my ouers my nie gedissiplineer het nie.”

Die beloning is die moeite werd

23. Waarom is al die liefdevolle aandag wat aan kinders gegee word die moeite werd?

23 Dit ly geen twyfel dat kinders in wie ouers, sowel as ander, behae skep die produk van baie daaglikse, liefdevolle aandag is nie. Maar al die inspanning ten behoewe van hulle—hetsy hulle biologiese of geestelike kinders is—is beslis die beloning werd wat geniet kan word. Die bejaarde apostel Johannes het dit getoon toe hy geskryf het: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel.”—3 Johannes 4.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

Onthou jy?

◻ Wat het jong boompies sowel as kinders nodig om prysenswaardig te word?

◻ Hoe kan ouers as ’t ware as doeltreffende opleistutte dien?

◻ Wat kan in onderrigsessies met kinders ingesluit word, en wat moet hulle geleer word om te weerstaan?

◻ Hoe is dissipline nuttig vir ’n kind, soos snoeiwerk nuttig is vir ’n boom?

[Foto-erkenning op bladsy 10]

Met vergunning van Green Chimney’s Farm

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel