Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 5/1 bl. 3-6
  • Hoe jy ’n suksesvolle ouer kan wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe jy ’n suksesvolle ouer kan wees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is ’n suksesvolle ouer?
  • Waarom is dit moeilik?
  • ’n Suksesvolle bloudruk vir ouers
  • Behandel elkeen as ’n individu
  • Onderrig “van kleins af”
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Enkelouers, baie uitdagings
    Ontwaak!—2002
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Ouers—Stel ’n goeie voorbeeld vir julle kinders
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 5/1 bl. 3-6

Hoe jy ’n suksesvolle ouer kan wees

“EK SAL jou sê wat dit verg om ’n suksesvolle ouer te wees”, sê Raymond, ’n vader van vyf. “Bloed, harde werk, trane en sweet!”

Raymond se vrou stem volkome saam. Maar sy voeg by: “Vandag is dit nie maklik om kinders groot te maak nie, maar wanneer jy sien hoe hulle verantwoordelike volwassenes word, maak dit die gesukkel beslis die moeite werd.”

Die grootmaak van kinders was nog nooit heeltemal kommerloos nie. Vandag lyk dit egter vir talle ouers of die grootmaak van kinders uiters moeilik geword het. “Ek dink dit is vandag moeiliker om ’n ouer te wees as in my ouers se tyd, want die lewe het ingewikkelder geraak”, sê Elaine, wat 40 jaar oud en die moeder van ’n tienderjarige seun is. “Jy weet nie altyd wanneer jy streng en wanneer jy toegeeflik moet wees nie.”

Wat is ’n suksesvolle ouer?

’n Suksesvolle ouer is iemand wat sy kind op so ’n manier grootmaak dat die kind die groots moontlike kans het om ’n verantwoordelike volwassene te word wat sal aanhou om God daadwerklik te dien en liefde teenoor sy naaste te toon (Mattheüs 22:37-39). Maar ongelukkig word nie alle kinders verantwoordelike volwassenes nie. Waarom nie? Is dit altyd die ouers se skuld wanneer dit gebeur?

Beskou ’n illustrasie. ’n Bouaannemer het dalk die bes beskikbare bloudrukke en boumateriaal tot sy beskikking. Maar wat sal die gevolg wees as die aannemer die bloudrukke veronagsaam, miskien selfs dwase knoeiwerk duld of die gebruik van minderwaardige in plaas van kwaliteitsmateriaal toelaat? Sal die voltooide gebou nie van ’n lae gehalte, selfs gevaarlik vir gebruik wees nie? Gestel egter dat die aannemer pligsgetrou was en sy bes gedoen het om die bloudrukke te volg en kwaliteitsmateriaal te gebruik. Sal die eienaar van die voltooide gebou nie nou ’n verantwoordelikheid hê om dit in stand te hou nie? Sal hy nie ook ’n verantwoordelikheid hê om nie die kwaliteitsmateriaal uit te breek en dit met minderwaardige materiaal te vervang nie?

Figuurlik gesproke, is ouers met ’n bouwerk besig. Hulle wil goeie persoonlikhede in hulle kinders inbou. Die Bybel voorsien die beste bloudruk hiervoor. Die kwaliteitsmateriaal, “goud, silwer, kosbare stene”, word in die Skrif vergelyk met eienskappe soos vaste geloof, goddelike wysheid, geestelike onderskeidingsvermoë, lojaliteit en liefdevolle waardering vir die almagtige God en sy wette.—1 Korinthiërs 3:10-13; vergelyk Psalm 19:8-12; Spreuke 2:1-6; 1 Petrus 1:6, 7.

Namate die kind ouer word, neem hy ook al hoe meer verantwoordelikheid op hom om ’n standvastige, regskape persoonlikheid in homself te bou. Hy moet bereid wees om, soos sy ouers, dieselfde bloudruk, God se Woord, te volg en dieselfde kwaliteitsmateriaal te gebruik. As die kind, nadat hy ’n jong volwassene geword het, weier om dit te doen of sulke goeie bouwerk afbreek, is die rampspoedige gevolge sy eie skuld.—Deuteronomium 32:5, NW.

Waarom is dit moeilik?

Daar is ten minste twee redes waarom suksesvolle ouerskap vandag moeilik is. Eerstens is ouers sowel as kinders onvolmaak en maak hulle foute. Dit behels dikwels wat die Bybel sonde noem, en die neiging om te sondig, is oorgeërf.—Romeine 5:12.

Tweedens: Groeiende kinders word deur meer as net hulle ouers beïnvloed. Die hele samelewing beïnvloed die kind se waardes en lewensbeskouing. Paulus se profesie aangaande ons dag is dus vir ouers van belang. Hy het gesê: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhêbbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.” (Ons kursiveer.)—2 Timotheüs 3:1-5.

Is dit ’n wonder dat party ouers, weens die feit dat die hedendaagse samelewing uit sulke ongewenste drade geweef is, gefrustreerd hulle hande laat hang en amper die stryd om kinders groot te maak gewonne gee? Dink terug aan die jaar 1914. Daardie noodlotsjaar het ’n wesenlike verandering in die samelewing teweeggebring, en dit was nie ’n gunstige verandering nie. Die twee wêreldoorloë sedertdien het meer as vrede van die aarde af weggevee. Die hedendaagse samelewing het nie die nodige morele krag om kinders ten volle vir verantwoordelike volwassenheid voor te berei nie. Trouens, regskape ouers voer ’n stryd teen ’n maatskaplike milieu wat die waardes wat hulle hul kinders wil leer, ondermyn.

Ouers het dus minder helpers in die span. In die verlede het hulle op die hulp van openbare skole staatgemaak om hulle kinders dieselfde fundamentele waardes te leer wat vir hulle as ouers so belangrik in hulle huis was. Maar nou nie meer nie.

“Die druk wat vandag op jeugdiges uitgeoefen word, is anders”, sê Shirley, wat haar hoërskoolopleiding in 1960 voltooi het. “Daar was nie dwelms of vrye geslagsomgang toe ek op hoërskool was nie. ’n Geheime dampie is 30 jaar gelede as iets uit die bose beskou. Toe my oudste dogter vanaf 1977 tot 1981 op hoërskool was, was dwelmmisbruik ’n groot probleem. Nou het dwelms in die laerskole kop uitgesteek. My jongste dogter, wat 13 jaar oud is, word al die afgelope twee jaar elke dag by die skool onder daardie dwelmdruk geplaas.”

Daarbenewens kon ouers in die verlede op grootouers, familielede en bure staatmaak om ’n ogie oor “Jannie” te hou. Maar dit het ook al verander. En ongelukkig is daar in al hoe meer gesinne nie eers ’n tweemanspan nie; die taak om kinders groot te maak, rus geheel en al op een ouer se skouers.

’n Suksesvolle bloudruk vir ouers

Hoewel dit vandag moeiliker is om kinders groot te maak, kan ouers sukses behaal as hulle gebruik maak van ’n hulpmiddel wat die toets van die tyd deurstaan het—die Bybel. God se Woord kan jou bloudruk, of program van aksie, vir ouerskap wees. Net soos ’n verstandige aannemer ’n bloudruk noukeurig volg om toesig te hou oor die oprigting van ’n gebou totdat dit suksesvol voltooi is, kan jy die Bybel as jou gids gebruik om jou kinders so groot te maak dat hulle verantwoordelike volwassenes word. Die Bybel is weliswaar nie uitsluitlik as ’n handleiding oor suksesvolle ouerskap bedoel nie, maar dit bevat wel direkte raad vir ouers en kinders. Daarbenewens is die Bybel ’n kosbare vonds van beginsels wat jou as ouer kan baat as dit toegepas word.—Deuteronomium 6:4-9.

Beskou Diane as voorbeeld. Toe haar 14-jarige seun, Eric, jonger was, was hy “’n ernstige kind waarmee ’n mens nie maklik kon praat nie”, sê sy. Dit was op daardie tydstip dat sy die wysheid van hierdie Bybelspreuk ontdek het: “Die raad [’n mens se voorneme of bedoelings] in die hart van ’n man mag diep waters wees, ’n man van verstand sal dit tog uitskep” (Spreuke 20:5). Sommige kinders se gevoelens en gedagtes—hulle ware bedoelings—lê in hulle hart, soos water onder in ’n diep put. Eric was so. Dit verg harde werk van die ouer om daardie bedoelings na die oppervlak te bring. “Hy het nooit uitgelate oor dinge gesels wanneer hy van die skool af tuisgekom het nie”, onthou Diane. “Daarom het ek tyd ingeruim om uit te vind waarmee hy by die skool te kampe het. Soms het ek letterlik ure lank met Eric gesels voor hy vertel het wat hy werklik diep in sy hart dink.”

Die rede waarom die Bybel so ’n waardevolle gids is, is eenvoudig: Jehovah God is die Outeur daarvan. Hy is ook ons Skepper (Openbaring 4:11). Hy ken ons natuur en is bereid ‘om ons te leer wat heilsaam is en ons te lei op die weg wat ons moet gaan’ (Jesaja 48:17; Psalm 103:14). Hoewel sommige mense hul meer as ander moet inspan om ’n beter ouer te word, kan almal beter ouers word deur die riglyne te volg wat in die Skrif uiteengesit is.

Behandel elkeen as ’n individu

Net soos wat elke volwassene nie uitgeknip is om die “volmaakte” ouer te wees nie, is daar ook nie die een of ander vaste stel mensereels wat ’n formule vir soet kinders is nie. Elke kind het sy eie persoonlikheid, en elke kind moet as ’n individu behandel word. Die Bybel erken dit. Die onderliggende beginsel in die volgende Bybelraad help ouers om nadelige vergelyking van hulle kinders te vermy: “Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie.”—Galasiërs 5:26, NW; 6:4.

John, ’n vader van twee, vind dat die voorgaande Skriftuurlike raad hom help om sy kinders se beskouing van mekaar, en selfs van ander gesinne, gebalanseerd te hou. “Ek moedig my kinders aan om nie te kyk na wat ander gesinne het of doen nie”, verduidelik John. “Ons het ons eie gesinstandaard wat gehandhaaf moet word.”

Onderrig “van kleins af”

Wanneer moet godsdiens ’n deel van suksesvolle ouerskap word? “Jy kan nie te vroeg begin nie”, sê Gary, wie se seun onlangs kleuterskool toe begin gaan het. Gary meen dat kinders ware vriende in die plaaslike Christengemeente moet hê, selfs voor hulle begin skoolgaan. Dit is een rede waarom Gary en sy vrou hulle seun Evan feitlik sedert sy geboortedag na Christenvergaderinge bring. Gary doen wat Eunice, ’n ouer wat in die Bybel geprys word, met haar seun Timotheüs gedoen het. Timotheus het die eerste beginsels van Skriftuurlike leringe “van kleins af” geleer.—2 Timotheüs 1:5; 3:15.

Timotheus se ma en waarskynlik ook sy ouma, Loïs, het seker gemaak dat dit nie hulle persoonlike idees was wat hom van kleins af beïndruk het nie; hulle het besef dat dit eerder Jehovah se leringe is wat hom wys sou maak tot saligheid. In sy brief aan Timotheüs sê die Christenapostel Paulus: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.”—2 Timotheüs 3:14, 15.

Loïs en Eunice het Timotheüs dus gehelp om oor die Woord te redeneer en om sy geloof te baseer op wat die geskrewe Woord van God gesê het. Op dié manier was sy geloof nie uitsluitlik op sy ouers gegrond nie, maar op die goddelike wysheid van Jehovah se Woord. Hy het nie Christelike waarheid nageleef bloot omdat sy ma en ouma aanbidders van Jehovah was nie, maar hy het homself oortuig dat wat hulle hom geleer het inderdaad die waarheid is.

Timotheüs het ongetwyfeld ook gelet op watter soort persone sy ma en ouma was—waarlik geestelike mense. Hulle sou hom nie bedrieg of die waarheid vir selfsugtige doeleindes verdraai nie; hulle was ewemin huigelaars. Timotheüs het die dinge wat hy geleer het dus geensins betwyfel nie. En dit ly geen twyfel dat sy volwasse lewe as ’n bedrywige Christen sy getroue moeder se hart verbly het nie.

Ja, suksesvolle ouerskap is harde werk, maar soos die moeder wat vroeër aangehaal is, gesê het: ‘Die gesukkel is die moeite werd.’ Dit geld veral wanneer ouers van hulle kinders kan sê wat die apostel Johannes vir sy geestelike kinders geskryf het: “Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.”—3 Johannes 4.

[Venster op bladsy 6]

Opvoedkundige program wat ouers in eertydse Israel gevolg het

In eertydse Israel was dit die ouers se verantwoordelikheid om hulle kindertjies op te voed en te onderrig. Hulle het hulle kinders se onderrigters en raadgewers geword. Hedendaagse ouerskap kan verbeter as ’n soortgelyke program gevolg word. Die opvoedkundige program in Israel kan soos volg opgesom word:

1. Vrees vir Jehovah is geleer.—Psalm 34:12.

2. Kinders is gemaan om hulle vader en moeder te eer.—Exodus 20:12.

3. Onderrig in die Wet, sowel as oor die dade van Jehovah, is ingeskerp.—Deuteronomium 6:7-21.

4. Respek vir ouer persone is beklemtoon.—Levitikus 19:32.

5. Gehoorsaamheid is benadruk.—Spreuke 23:22-25.

6. Praktiese lewensonderrig is gegee.—Markus 6:3.

7. Lees- en skryfonderrig is gegee.—Johannes 7:15.

[Prent op bladsy 5]

God se Woord is ’n bloudruk, of program van aksie, vir ouerskap

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel