Die wordingsjare—Wanneer jou beste die nodigste is
DAAR word gesê dat kinders “’n erfdeel van die HERE” is. Daar word gesê dat hulle ‘soos jong olyfboompies rondom jou tafel’ is (Psalm 127:3; 128:3, NAV). Ouers word beveel om ‘hulle in die tug en vermaning van die Here op te voed’.—Efesiërs 6:4.
As jy olyfbome gaan snoei sodat hulle goeie vrugte kan dra, moet jy dit doen terwyl hulle ‘soos jong olyfboompies rondom jou tafel’ is. Buig die boompie solank dit nog jonk is. As jy jou kinders in God se weë gaan opvoed, is dit die beste om dit van kleins af te doen. “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6; 2 Timotheüs 3:15). In die kleintyd absorbeer die brein inligting baie vinnig, vinniger as wat dit ooit weer sal. Dit is die regte tyd om jou bes vir jou kinders te doen.
Masaroe Iboeka, die stigter van die Sony-korporasie, het ’n boek Kindergarten Is Too Late! geskryf. Op die buiteblad verskyn hierdie woorde: “Jou kind se leervermoë is die grootste gedurende die eerste twee of drie jaar van sy lewe. Moet dus nie wag nie . . . Kleuterskool is te laat!”
Glenn Doman, direkteur van Die Institute vir die Verwesenliking van Menslike Potensiaal, sê in ’n voorwoord: “Mnr. Iboeka se wonderlike en gemoedelike boek sê niks buitengewoons nie. Hy sê eenvoudig dat kindertjies die vermoë het om feitlik enigiets te leer terwyl hulle klein is. Hy sê wat hulle op twee-, drie- of vierjarige ouderdom sonder enige doelbewuste inspanning leer later in die lewe slegs met groot inspanning of miskien glad nie geleer kan word nie. Hy sê wat volwassenes met moeite leer, leer kinders met graagte. Hy sê wat volwassenes baie stadig leer, leer kindertjies baie vinnig. Hy sê dat volwassenes dit soms vermy om te leer, terwyl kindertjies liewer sal leer as eet.”
Mnr. Iboeka sê kleuterskool is te laat omdat die kind se beste jare om te leer dan al verby is. Maar daar is nog ’n rede. Die sedelike verval raak deesdae al die kleuterskool, en voor die kind daarheen gaan, moet ouers sterk sedelike beginsels by hom inskerp om hom teen besmetting te beskerm.
Die belangrikheid hiervan word getoon deur wat die ouers van ’n sesjarige seuntjie sê wat pas met kleuterskool begin het. “Gedurende die eerste week in die kleuterskool is ons seun tydens die 15 minute wat hy in die skoolbus ry deur ’n ander seun seksueel lastig geval. Dit het etlike dae lank aangehou. Hy het nie net gegrap of dokter-dokter gespeel nie, maar het abnormaal, eksplisiet opgetree.
“Baie van ons seuntjie se klasmaats gaan saam met hulle ouers na rolprente met ’n R-gradering. Die ouers meen dalk dit is veiliger om hulle saam te neem as om hulle in ’n kinderoppasser se twyfelagtige sorg te laat. Van die kinders kyk na rolprente met ’n R- en X-gradering op kabeltelevisie of wanneer hulle na die rolprente kyk wat hulle ouers by die huis het.
“’n Skokkende gebeurtenis in ons eie huis het ons laat besef hoe waardevol dit is om sedelike beginsels gedurende ons seun se wordingsjare, van kleins af, by hom in te skerp. Daar het ’n paar volwassenes en ’n vierjarige dogtertjie by ons gekuier. Sy en ons seuntjie, wat goed geleer is dat geslagsomgang net vir getroude volwassenes is, was in sy speelkamer. Sy wou speel dat hulle uitgaan en het gesê hy moet plat lê. Toe hy dit onskuldig doen, het sy op hom gaan lê. Hy het bang geword en uitgeroep: ‘Dít is net vir getroude mense!’ Toe hy losruk en uit die speelkamer hardloop, het sy uitgeroep: ‘Moet vir niemand sê nie!’”—Vergelyk Genesis 39:12.
Die volgende is party dinge wat in die stede asook in die voorstede gebeur—dinge waarteen jou kinders van kleins af aan beskerm moet word.
Twee sewejarige seuns is aangekla weens die verkragting van ’n sesjarige meisie in die kleedkamer van ’n openbare skool. Drie seuns, wat onderskeidelik ses, sewe en nege jaar oud was, het ’n sesjarige meisie seksueel aangerand. ’n Agtjarige seun het met ’n kleuter sodomie gepleeg. ’n Elfjarige seun is aangekla weens die verkragting van ’n tweejarige dogtertjie. Sommige terapeute sê dat sulke oortreders dikwels slagoffers van seksuele mishandeling was toe hulle baie klein was.
Dit was die geval met een seuntjie. Toe hy ’n baba was, het sy 20-jarige tannie gereeld orale geslagsomgang met hom gehad. Hy het hierdie seksuele mishandeling ondergaan vandat hy 18 maande oud was totdat hy 30 maande oud was. Twee of drie jaar later het hy dogtertjies gemolesteer. Hy het hiermee aangehou toe hy begin skoolgaan het en is in graad een en weer in graad twee geskors.
Die noodsaaklikheid van vroeë onderrig
As ouers versuim om die kind gedurende die wordingsjare behoorlik te onderrig, baan dit die weg vir oortredings wat kan lei tot baie ernstiger misdade: vandalisme, diefstal en moord. Die volgende is ’n paar voorbeelde van sulke dinge.
Drie sesjarige seuntjies het ’n speelmaat se huis geplunder en feitlik elke vertrek beskadig. ’n Negejarige vandaal is aangekla weens strafbare beskadiging sowel as diefstal, omdat hy ’n ander kind met ’n mes gedreig het en omdat hy ’n meisie se hare aan die brand gesteek het. Twee 11-jarige seuns het ’n nege-millimeter-pistool in ’n 10-jarige seun se mond gedruk en sy horlosie gesteel. ’n Tienjarige seun het ’n sewejarige dogtertjie oor ’n videospeletjie doodgeskiet. ’n Ander 10-jarige seun het sy maatjie geskiet en die lyk onder die huis weggesteek. ’n Kleuter is dood toe ’n vyfjarige seuntjie hom van ’n trap op die vierde verdieping afgestamp het. ’n Dertienjarige seun het saam met twee jeugdiges ’n sewejarige seun ontvoer om geld uit sy gesin te kry, maar selfs voor hulle die gesin geskakel het om die losprys te eis, het hulle die seun lewendig begrawe.
Ten laaste is daar die gruwel van tienerbendes met gewere wat op die strate rondsluip en skietgevegte voer terwyl koeëls in alle rigtings trek, en hulle maak nie net mekaar dood nie, maar ook onskuldige kinders en volwassenes wat in die kruisvuur raakgeskiet word. Hulle terroriseer baie buurte in groot stede—in die Los Angeles-distrik alleen “is daar meer as 100000 lede wat aan meer as 800 bekende bendes behoort” (Seventeen, Augustus 1991). Baie kom uit gebroke gesinne. Die bende word hulle gesin. Baie beland in die tronk. Baie word doodgemaak. Hierdie uittreksels uit drie briewe wat in die tronk geskryf is, is iets algemeens.
Ten eerste: ‘Ek word weens ’n roofaanval in ’n kamp vir jeugmisdadigers aangehou. Daar was vier van ons. Toe kom die polisie. Twee van my bendemaats het eenkant toe gehardloop en ek en ’n ander een anderkant toe, maar nie vinniger as die Duitse herdershonde wat ons gevang het nie. Ek hoop wanneer ek eendag uitkom, sal ek iemand besonders wees. Dit was altyd vir my te moeilik om skool toe te gaan en goeie punte te kry. Maar boetie, daar’s niks wat moeiliker is as om in die tronk te sit nie!’
Ten tweede: ‘Ek was maar agt jaar oud toe ek aanvanklik uit Mexiko gekom het. Toe ek 12 geword het, was ek lid van ’n bende. Toe ek 15 geword het, was ek diep daarby betrokke. Ek het gereeld uit ’n bewegende motor op mense geskiet. Ek het altyd my pistool by my gehad. Toe ek 16 jaar oud was, is ek geskiet en was ek amper dood. En ek dank die Here dat hy my nog nie wou hê nie, want ek was nie gereed om saam met hom te gaan nie. Ek het op die oomblik koeëlwonde aan my bene. Daarom is my raad om nie by ’n bende aan te sluit nie!!! of jy sal, soos ek, heeltemal alleen en kreupel in die tronk sit!’
Ten derde: ‘Ek is al vandat ek 11 is ’n bekende bendelid. Ek is al vier keer met ’n mes gesteek, drie keer geskiet en soveel keer opgesluit en pap geslaan dat ek nie meer kan tel nie. Al wat vir my oorbly, is om dood te gaan, maar ek wag al vandat ek 13 is elke dag dat dit moet gebeur en ek is nou 16. Ek moet nou agt maande in die tronk sit, en oor ’n paar jaar sal ek dood wees, maar jy kan dit alles voorkom deur nie by ’n bende aan te sluit nie.’
Gryp die geleentheid aan
Dit beteken darem nie dat versuim om kinders gedurende die wordingsjare te leer noodwendig hierdie verskriklike misdade tot gevolg sal hê nie. Maar as jy in versuim bly om dit te doen, kan dit tot vernielsugtige gedrag lei wat oortredings tot gevolg kan hê wat, as dit ongehinderd voortgaan, tot misdadige optrede, tronkstraf en die dood kan lei.
Jy kan sulke neigings in jou kinders baie makliker keer voor hulle tieners word, pleks van te wag tot hulle tieners is. Dit is inderdaad die beste om te begin voor hulle oud genoeg is om kleuterskool toe te gaan, gedurende die wordingsjare wanneer hulle die meeste van die tyd by jou is en invloede van buite nog nie hulle aandag aflei nie. As jy nie gedurende hulle kleintyd na aan hulle was nie, sal hulle jou dalk nie wil toelaat om na aan hulle te kom wanneer hulle tieners is nie. Jy ontdek moontlik dat hulle portuurs jou plek ingeneem het. Daarom is die raad aan ouers: Moenie julle kinders verwaarloos gedurende hierdie wordingsjare, wanneer dit die beste vrugte sal afwerp as julle julle bes vir hulle doen nie—en dit sal tot julle seën sowel as hulle s’n strek.—Vergelyk Mattheüs 7:16-20.