Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 12/1 bl. 10-15
  • Het jy die sin van Christus?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het jy die sin van Christus?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Man met gevoelens
  • ’n Man van durf en daad
  • Hoe het Jesus kinders behandel?
  • Jesus se handelinge met vroue
  • Jesus se handelinge met sy dissipels
  • Het jy “die denke van Christus”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Jesus—Die volmaakte voorbeeld om na te volg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • ’n Groot Leermeester openbaar die Skepper duideliker aan ons
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Bewaar Christus se geestesgesindheid in julle
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 12/1 bl. 10-15

Het jy die sin van Christus?

“Mag die God wat volharding en vertroosting verskaf, gee dat julle onder mekaar dieselfde gesindheid het wat Christus Jesus gehad het.”​—ROMEINE 15:5, NW.

1. Watter vrae moet beantwoord word as iemand bely dat hy ’n Christen is?

DAAR word gesê dat meer as ’n miljard mense oor die hele wêreld Christene is. Wat impliseer dit? Dat hulle, ten minste in naam, in Jesus Christus glo en bely dat hulle sy volgelinge of dissipels is (Mattheüs 10:24, 25). Maar wat is nodig om Christus se voorbeeld of lewenspatroon te volg? Dit spreek vanself dat jy hom moet ken. Is jy iemand wat Jesus van Nasaret werklik ken? Het jy ’n duidelike idee van watter soort persoon hy was terwyl hy hier op aarde was? Of hoe hy op mense in verskillende omstandighede gereageer het? Het jy “die sin van Christus”?​—1 Korinthiërs 2:16; Efesiërs 4:13.

2, 3. Hoe kan ons die sin van Christus leer ken?

2 Hoe kan ons iemand leer ken wat feitlik tweeduisend jaar gelede geleef het en wie se openbare lewe slegs oor om en by drie en ’n half jaar gestrek het? In Jesus se geval is daar vier betroubare biografieë wat ’n mens help om ’n beeld te vorm van die soort persoon wat hy was. As ons daardie vier Evangelieverhale aandagtig lees, kan ons ook die denkpatroon sien wat agter sy dade gesit het. Wat is dus nodig om ’n ware Christen eerder as ’n naamchristen te wees? Jesus het dit soos volg gestel: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”​—Johannes 17:3; 2 Petrus 3:18.

3 Elke Christen moet dus ’n diep kennis en begrip van die Vader, Jehovah, en van die lewe en leer van die Seun, Christus Jesus, hê. Dit is nie genoeg om jouself ’n Christengetuie van Jehovah te noem nie. Om die sin van Christus te hê, moet ons gereeld ons verstande met begrip van Jesus se lewe en voorbeeld vul. Dit beteken dat ons die Skrif gereeld en indringend moet bestudeer aan die hand van Bybelstudiehulpe wat help om betekenis en verband op te helder. Dit vereis ook die regte gemoedstemming sodat ons Christus se rol in God se voornemens kan begryp en aanvaar.​—Johannes 5:39-47; Mattheüs 24:45-47.

’n Man met gevoelens

4. Watter soort man was Jesus?

4 Jesus, ’n gesonde, bedrywige man, het sy bediening vervul terwyl hy in sy vroeë dertigerjare was (Lukas 3:23). Maar watter soort man was hy? Was hy onpersoonlik en koel? Inteendeel, omdat hy ’n Midde-Oosterse Jood was, was hy gevoelvol. Hy was nie terughoudend en introvers nie. Hy het in die openbaar uiting gegee aan ’n wye reeks menslike emosies wat gewissel het van hartseer en medelye tot regverdige verontwaardiging en toorn.​—Markus 6:34; Mattheüs 23:13-36.

5. Hoe het Jesus gereageer toe hy van Lasarus se dood te hore gekom het?

5 Hoe het Jesus byvoorbeeld gereageer toe hy by Martha en Maria kom en sien hoe hulle oor die verlies van hulle broer Lasarus ween? Johannes se verslag deel ons mee dat ‘sy gemoed vol geskiet het en Hy aangedaan was’ en dat hy “gehuil” het (Johannes 11:33-36, NAV). Hy het sy gevoelens met hierdie intieme vriende gedeel. Hy was nie skaam om saam met hulle te huil nie. Hoewel hy “die Seun van God” was, het hy eg menslike emosies geopenbaar (Johannes 1:34). Hoe roerend moes dit tog nie vir Martha en Maria gewees het nie!​—Vergelyk Lukas 19:41-44.

6. Waarom was Jesus nie onmanlik omdat hy gehuil het nie?

6 Sommige kan egter vandag die gevolgtrekking maak dat Jesus ’n swakkeling was omdat hy in die openbaar saam met daardie vroue gehuil het. Trouens, Katolieke skrywer Hilaire Belloc het Jesus ’n “papbroek” genoem. Is dit waar? Was Jesus die onmanlike persoon wat dikwels in die valse Christendom se kunswerke uitgebeeld word? Nee, trane is nie noodwendig ’n teken van swakheid nie. Een mediese tydskrif het dit soos volg gestel: “Dit is onlogies sowel as skadelik om die gepaste uiting van tere emosie te verbied . . . Die uiting van tere emosie, veral trane, is een eienskap wat uniek menslik is.”​—Vergelyk 2 Samuel 13:36-38; Johannes 11:35.

7. Op watter maniere kan Jesus se mensliewende voorbeeld ons vandag help?

7 Jesus se reaksies op lyding was waarlik menslik en mensliewend. Dit help ons om ons met hom en sy sin te vereenselwig. Ons volg nie ’n onpersoonlike, mitologiese figuur na nie, maar eerder die volmaakte menslike voorbeeld wat God gestuur het, “die Seun van die lewende God” (Mattheüs 16:16; Johannes 3:16, 17; 6:68, 69). Watter voorbeeld tog vir alle hedendaagse Christene, veral Christen- ouere manne, wat dikwels in tye van verlies en spanning moet troos en empatie moet betoon! Ja, as ’n mens by sulke geleenthede die sin en die hart van Christus het, kan dit ’n groot verskil maak!​—1 Thessalonicense 2:7, 8.

’n Man van durf en daad

8. Hoe het Jesus moed aan die dag gelê en dapper opgetree?

8 Jesus het ook getoon dat hy ’n man van moedige oortuigings en dinamiese aksie is. Hy het byvoorbeeld by twee geleenthede die dierehandelaars en geldwisselaars kragtig uit die tempel gejaag (Markus 11:15-17; Johannes 2:13-17). Hy het ook nie gehuiwer om die geveinsdheid van die hovaardige skrifgeleerdes en Fariseërs in die openbaar bloot te lê nie. In sy moedige veroordeling het hy gewaarsku: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.” Daar was beslis geen swakheid hier nie!​—Mattheüs 23:27, 28; Lukas 13:14-17.

9, 10.(a)  Waarom het Jesus nie gesondig toe hy verontwaardig was nie? (b) Hoe moet Christus se voorbeeld ’n Christen- ouere man raak?

9 Was Jesus se verontwaardiging ’n blyk van gebrek aan selfbeheersing? Petrus, ’n intieme metgesel van Jesus tydens sy bediening, sê: “Hy [het] geen sonde gedoen . . . nie” (1 Petrus 2:22). Die apostel Paulus het geskryf: “Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde” (Hebreërs 4:15). Daar is ’n verskil tussen beheerste, regverdige verontwaardiging en onbeheerste woede.​—Vergelyk Spreuke 14:17; Efesiërs 4:26.

10 Hoewel ’n Christen- ouere man dus byvoorbeeld nie “oplopend” is nie, moet hy beslis die morele krag hê om “die teësprekers te weerlê”, en dit selfs “skerp” te doen, indien nodig. Hy moet bekwaam wees om te ‘weerlê, te bestraf en te vermaan’ (Titus 1:7-13; 2 Timotheüs 4:1, 2). Sekere situasies kan ook sy regverdige verontwaardiging uitlok, veral as hy ’n duidelike bedreiging vir die gemeente se eenheid, geestelikheid of morele reinheid sien. Soos Paulus gesê het, is dit soms nodig om ‘die mond te stop’ van die “wat onsin praat en verleiers is” en wat ‘hele huise onderstebo keer deur te leer wat nie betaam nie, ter wille van vuil wins’. In sulke gevalle sal dit ouere manne help om moedig, gebalanseerd en beslissend op te tree as hulle die sin van Christus het.​—Kyk 1 Korinthiërs 5:1-5; Openbaring 2:20-23; 3:19.

11. Watter vrae hou verband met die wyse waarop ons Christus moet navolg?

11 Op sy reise deur Galilea, Samaria en Judea het Jesus met allerhande mense in aanraking gekom​—manne, vroue, kinders, siekes en diegene wat hom as hulle geswore vyand beskou het. Hoe het hy hulle behandel? Was hy hoogdrawend en afsydig, of genaakbaar? Kon hy hom met mense se probleme en versoekings vereenselwig? Was hy haatdraend of barmhartig? Die antwoorde op hierdie vrae hou verband met die wyse waarop ons Christus in ons daaglikse dade en reaksies moet navolg.​—Romeine 15:5, NW; Filippense 2:5.

Hoe het Jesus kinders behandel?

12. Hoe het die dissipels en Jesus kinders by een geleentheid behandel?

12 Ons vind ’n baie mooi verslag van hoe Jesus kinders behandel het in Markus hoofstuk 10, verse 13-16. Dit lui: “En hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; en die dissipels het die wat hulle gebring het, bestraf.” Die verhaal sê nie waarom die dissipels so opgetree het nie. Dit was die jaar 33 G.J., en Jesus was op pad van Galilea af deur Perea na wat sy finale openbare bediening in en om Jerusalem sou wees. Hulle het moontlik gedink dat Jesus te belangrik of te besig is om op daardie tydstip aandag aan kinders te skenk. Maar het hy self aangedui dat hy te besig is? “Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle [die dissipels] dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. . . . En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën.”

13. Hoe het mense teenoor Jesus opgetree?

13 Wat leer dit ons verder oor die sin van Christus? Dit lig sy fermheid met sy dissipels wat gefouteer het toe, asook sy mensliewendheid teenoor minderes. Hy het verstaan wat die ouers beweeg het om hulle kinders na hom te bring. Hulle wou hê dat hy hulle kinders moes aanraak en seën. En wat sê dit vir ons omtrent Jesus? Dat mense nie vir hom bang was en dat hy hulle nie met ontsag vervul het nie. Hy was gemaklik in die omgang, en mense wou graag by hom wees. Selfs kinders was op hulle gemak in sy teenwoordigheid​—en hy was op sy gemak in die teenwoordigheid van kinders. Is mense, kinders inkluis, op hulle gemak in jou teenwoordigheid?​—Markus 1:40-42; Mattheüs 20:29-34.

14. Veral wie moet Jesus se voorbeeld ten opsigte van genaakbaarheid navolg?

14 Jesus het hartlike geneentheid en vriendelikheid getoon (Markus 9:36, 37). Hy was toeganklik en genaakbaar. Het jy, as ’n volgeling van Christus, sy sin in daardie opsig? Christenopsieners in die streke, kringe, gemeentes en takkantore van die Wagtoringgenootskap rondom die wêreld kan hulle gerus afvra: Is ek dogmaties en ontoegeeflik? Of laat ek ander, selfs kinders, op hulle gemak voel by my? Is ek waarlik genaakbaar?​—Spreuke 12:18; Prediker 7:8.

Jesus se handelinge met vroue

15, 16. Hoe het Jesus van ander Jode verskil in die wyse waarop hy vroue behandel het?

15 Het ons as ouere manne, knegte en broers in die Christengemeente die sin van Christus in ons handelinge met ons Christensusters en met vroue in die algemeen? Hoe het Christus, ’n vrygesel, onder verskillende omstandighede gereageer wanneer hy met die vroue van sy dag in aanraking gekom het?

16 In daardie Joodse gemeenskap wat deur mans oorheers is, was Jesus ’n buitengewone onderrigter in die sin dat hy gewillig was om met vroue, selfs nie-Joodse vroue, te praat (Johannes 4:7-30). Toe hy byvoorbeeld ’n huis in die nie-Joodse gebied van Tirus en Sidon besoek het, het ’n Griekse vrou hom versoek om haar duiwelbesete dogter te help. Normaalweg sou ’n ortodokse Jood niks met haar te doen wou hê nie. Maar Jesus het geluister en haar geloof getoets deur te sê: “Laat eers die [Joodse] kinders versadig word; want dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en vir die [nie-Joodse] hondjies te gooi nie.” Was Jesus se stemtoon van so ’n aard dat dit die gesprek beëindig het? Het hy dogmaties enige verdere bespreking gesmoor? Klaarblyklik nie, want die vrou het taktvol geantwoord: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem onder die tafel van die kinders se krummels.” Jesus was beïndruk, en hy het haar dogter genees.​—Markus 7:24-30.

17. Wat kan ons leer uit die wyse waarop Jesus ’n sekere sondares behandel het?

17 Jesus was onbevooroordeeld teenoor vroue en het nie volgens die uiterlike geoordeel nie (Mattheüs 22:16). By ’n ander geleentheid het hy, terwyl hy in die huis van ’n Fariseër geeet het, toegelaat dat ’n bekende sondares, moontlik ’n prostituut, sy voete was en hulle toe met olie salf. Deur haar dade het sy ’n berouvolle gesindheid teenoor haar sondige handelwyse getoon (Lukas 7:36-50). Jesus het haar nie afgeskryf en met ’n kollektiewe oordeel weggestuur omdat sy onsedelik was nie. (Kyk ook Johannes 4:7-30.) Hy het haar vergewe, “want sy het baie liefgehad”. Wat toon dit oor die sin van Christus? Hy het die vrou met medelye en begrip behandel. Kan ons nie net so optree in die gemeente en in ons bediening nie?​—Lukas 19:1-10; Romeine 14:10-13; 1 Korinthiërs 6:9-11.

Jesus se handelinge met sy dissipels

18. (a) Hoe reageer sommige op diegene wat onder hulle werk? (b) Hoe het Jesus sy dissipels en ander behandel? (Markus 6:54-56).

18 Soms voel gesagdraers bedreig deur hulle ondergeskiktes. Hulle smoor wat hulle onderbewustelik as mededinging aanvoel. Trots tree na vore. Hulle is gou om diegene wat onder hulle werk te kritiseer, maar stadig om hulle te prys. Hulle uitings van minagting respekteer nie die persoonlike waardigheid van ander nie. Maar wat van Jesus​—hoe het hy diegene onder hom, sy dissipels, behandel? Het hy hulle minderwaardig, onbevoeg of onnosel laat voel? Of was hulle eerder op hulle gemak wanneer hulle saam met Jesus gewerk het?​—Vergelyk Mattheüs 11:28-30; 25:14-23.

19. Wat leer Johannes 13:1-17 ons omtrent Jesus?

19 Een van die opvallendste lesse wat Jesus sy dissipels in hierdie verband geleer het, word aangetref in Johannes hoofstuk 13. Ons stel voor dat jy verse 1 tot 17 lees. In daardie dae was die paaie stowwerig, en dit was die gebruik dat ’n dienskneg die besoekers se voete was. Jesus het self daardie knegsdiens verrig. Watter eienskap het hy beklemtoon deur sy dissipels se voete te was? Hy het hulle ’n praktiese les in nederigheid geleer. Wat leer ons hier oor die sin van Christus? Jesus se woorde verstrek die antwoord: “’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ’n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.”​—Johannes 13:16, 17.

20. Watter selfontleding kan ons doen om te sien of ons die sin van Christus het?

20 Het ons in hierdie opsig die sin van Christus? Is ons bereid om nederige knegsdienste tuis of in die gemeente te verrig? Of wil ons net die dinge doen wat “belangrik” lyk of wat ons “spesiaal” sal laat lyk? Is ons bereid om deel te neem aan die soms vernederende werk om die goeie nuus van huis tot huis te verkondig? Of wil ons slegs toewysings op die Koninkryksaal se verhoog hê? As ons die sin van Christus het, sal dit ons inderdaad nederig en genaakbaar hou, net soos Jesus was.​—Romeine 12:3.

21. Hoe het Jesus meegevoel met sy apostels getoon? Met die skare?

21 By een geleentheid, na ’n spesiale predikingsveldtog, het Jesus groot bedagsaamheid teenoor die apostels geopenbaar. Hoewel Jesus volmaak was, het hy nie volmaaktheid van ander verwag nie. Aan die einde van ’n predikingsveldtog het hy nie daarop aangedring dat die apostels dadelik met hulle prediking voortgaan en selfs beter vaar nie. Hy het hulle behoefte aan rus in ag geneem en hulle na ’n verlate plek geneem sodat hulle privaat kon wees. Maar het Jesus ergerlik en ongeduldig geword toe die skare hulle gevolg het? Nee, want die verslag deel ons mee dat hy “vir hulle innig jammer gevoel” het.​—Markus 6:30-34.

22. Wat sal ons help om die sin van Christus beter te verstaan?

22 Is dit, met so ’n goeie voorbeeld, dan enige wonder dat die meeste van die apostels getroue volgelinge van Christus was? Petrus was beslis beïndruk deur die dinge wat hy in noue omgang met Jesus geleer het. Hy het Markus waarskynlik van die meeste van die informasie vir sy Evangelieverhaal voorsien. En Petrus het homself stadig maar seker by die sin van Christus aangepas. ’n Ondersoek van sy eerste brief sal ons help om Christus se voorbeeld noukeuriger te volg.​—Mattheüs 16:15-17, 21-23.

Onthou jy?

◻ Hoe kan ons die sin van Christus hê?

◻ Watter soort man was Jesus?

◻ Hoe het Jesus kinders behandel? Hoe het hy vroue behandel?

◻ Wat leer ons uit die manier waarop Jesus sy dissipels behandel het?

[Prent op bladsy 10]

Jesus was medelydend en het nie sy gevoelens verberg nie

[Prent op bladsy 12]

Jesus was ’n man van durf en daad

[Prent op bladsy 15]

Jesus het ’n buitengewone voorbeeld van nederigheid gestel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel