Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w15 11/1 bl. 12-15
  • “My geliefde en getroue kind in die Here”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “My geliefde en getroue kind in die Here”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “VAN KLEINTYD AF”
  • “DEUR BAIE VERDRUKKINGE HEEN”
  • “HY IS GUNSTIG VERMELD DEUR DIE BROERS”
  • “DOEN JOU UITERSTE BES OM BINNEKORT NA MY TOE TE KOM”
  • Timoteus—Gereed en gewillig om te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Timoteus—“’n Ware kind in die geloof”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Paulus en Timoteus
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Timoteus wou mense help
    Leer jou kinders
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
w15 11/1 bl. 12-15
Die jong Timoteus

VOLG HULLE GELOOF NA | TIMOTEUS

“My geliefde en getroue kind in die Here”

TIMOTEUS het vasbeslote in die pad af gestap wat van die huis af weggelei het, sy oë stip gerig op wat vir hom voorlê. Sy metgeselle het voorgeloop terwyl hulle deur die landerye gestap het wat Timoteus so goed geken het. Die stad Listra, wat op ’n lae heuwel onder in die vallei geleë was, het stadig uit die oog verdwyn. Timoteus het geglimlag toe hy gedink het aan hoe sy ma en ouma van trots oorgeloop het en hulle hartseer weggesteek het toe hulle hom afgesien het. Hy het gewonder of hy vir die laaste keer moet omdraai en waai.

Elke nou en dan het die apostel Paulus na Timoteus gedraai en aanmoedigend geglimlag. Hy het geweet dat Timoteus sy skaamheid nog ’n bietjie moet oorkom, maar hy was bly om die jong man se entoesiasme te sien. Timoteus was redelik jonk, dalk nog in sy laat tienerjare of vroeë twintigs, en hy het groot respek vir Paulus gehad en was baie lief vir hom. Nou het Timoteus hierdie dinamiese en getroue man gevolg op ’n reis wat hom honderde kilometers van die huis af sou neem. Hulle sou te voet en per skip reis en langs die pad voor tallose gevare te staan kom. Timoteus het nie werklik geweet of hy ooit weer sy tuiste sou sien nie.

Wat het die jong man beweeg om hierdie lewensweg in te slaan? Watter seëninge sou sulke opofferings die moeite werd maak? En watter uitwerking kan Timoteus se geloof op ons geloof hê?

“VAN KLEINTYD AF”

Kom ons dink aan wat twee of drie jaar tevore gebeur het, en kom ons neem aan dat Listra Timoteus se tuisdorp was, soos waarskynlik die geval was. Dit was ’n klein, landelike dorp in ’n afgeleë, waterryke vallei. Die mense het moontlik Grieks verstaan, maar hulle het nog steeds die plaaslike taal, Likaonies, gepraat. Eendag was die stil dorpie in beroering. Twee Christensendelinge, die apostel Paulus en sy reisgenoot, Barnabas, het daar aangekom van Ikonium af, ’n groter stad nie ver daarvandaan nie. Terwyl hulle in die openbaar gepreek het, het Paulus ’n kreupel man gesien wat ware geloof getoon het. Toe het Paulus ’n wonderwerk verrig en die man genees!—Handelinge 14:5-10.

Baie van die mense van Listra het blykbaar geglo in plaaslike legendes oor gode in die vorm van mense wat voorheen soontoe gekom het. Daarom het die mense verkeerdelik gedink dat Paulus Hermes is, en Barnabas Zeus! Die twee nederige Christene kon die skare byna nie keer om aan hulle offerandes te bring nie.—Handelinge 14:11-18.

Maar vir ’n paar in Listra was hierdie nie ’n besoek deur mitiese, heidense gode nie; dit was werklike mense en dit was vir hulle wonderlik. Byvoorbeeld, Eunice, ’n Joodse vrou wat getroud was met ’n ongelowige, Griekse man en haar ma, Loïs, het ongetwyfeld aandagtig na Paulus en Barnabas geluister en was sekerlik baie opgewonde oor wat hulle gehoor het.a Dit was die nuus wat elke getroue Jood graag wou hoor—die Messias het gekom en het baie profesieë vervul wat in die Skrif oor hom opgeteken is!

Dink aan hoe Paulus se besoek Timoteus beïnvloed het. Timoteus is “van kleintyd af” opgelei om lief te wees vir die heilige geskrifte, wat destyds uit die Hebreeuse Geskrifte bestaan het (2 Timoteus 3:15). Soos sy ma en ouma, kon hy sien dat Paulus en Barnabas die waarheid oor die Messias gepraat het. En dink aan die kreupel man wat deur Paulus genees is. Vandat hy ’n kind was, het Timoteus hierdie man waarskynlik al tallose kere op die strate van Listra gesien. Nou kon Timoteus die man vir die eerste keer sien loop! Dit is nie verbasend dat Eunice en Loïs, en toe Timoteus, Christene geword het nie. Grootouers en ouers kan tot vandag toe baie by Loïs en Eunice leer. Kan jy ’n goeie invloed op jongmense wees?

“DEUR BAIE VERDRUKKINGE HEEN”

Diegene wat in Listra Christendissipels geword het, was ongetwyfeld verheug om uit te vind van die hoop wat vir Christus se volgelinge voorgehou word. Maar hulle het ook geleer dat dissipelskap opoffering sou verg. Fanatiese, Joodse teenstanders van Ikonium en Antiogië het in die dorp ingekom en hierdie wisselvallige mense teen Paulus en Barnabas aangehits. Kort daarna het ’n gewelddadige skare Paulus gestenig. Nadat hy herhaaldelik getref is, het hy op die grond neergeval. Die skare het hom buite die stad gesleep en hom vir dood agtergelaat.—Handelinge 14:19.

Maar die dissipels in Listra het na Paulus gegaan en om hom gaan staan. Hoe verlig moes hulle tog gewees het toe hy beweeg het, opgestaan het en toe moedig teruggegaan het—weer na Listra! Die volgende dag het hy en Barnabas na die dorp Derbe vertrek om verder te gaan preek. Nadat hulle ook daar nuwe dissipels gemaak het, het hulle weer gevaar getrotseer en na Listra teruggegaan. Met watter doel? “Hulle [het] die siele van die dissipels versterk”, sê die verslag, “en hulle aangemoedig om in die geloof te bly.” Stel jou voor hoe die jong Timoteus met groot oë geluister het terwyl Paulus en Barnabas hierdie Christene geleer het dat hulle wonderlike hoop vir die toekoms beslis die opoffering werd sou wees. Hulle het gesê: “Ons moet deur baie verdrukkinge heen in die koninkryk van God ingaan.”—Handelinge 14:20-22.

Timoteus, sy moeder Eunice en sy ouma Loïs luister na die apostel Paulus

Timoteus het sy hart oopgemaak vir die leringe van die apostel Paulus

Timoteus het gesien dat Paulus in ooreenstemming met hierdie woorde lewe. Hy het moedig beproewinge deurgemaak sodat hy die goeie nuus aan ander kon verkondig. Timoteus het dus geweet dat die mense van Listra hom sou teëstaan as hy Paulus se voorbeeld sou volg en dat sy eie pa hom dalk ook sou teëstaan. Maar Timoteus het nie toegelaat dat sulke druk sy besluit oor hoe om God te dien, beïnvloed nie. Vandag is daar baie jongmense soos Timoteus. Hulle soek wyslik na vriende met sterk geloof, wat hulle sal aanmoedig en opbou. En hulle laat nie toe dat teenstand hulle verhinder om die ware God te dien nie!

“HY IS GUNSTIG VERMELD DEUR DIE BROERS”

Soos vroeër gemeld is, het Paulus Listra waarskynlik twee of drie jaar later besoek. Stel jou die opgewondenheid in Timoteus se gesin voor toe Paulus daar aangekom het, hierdie keer met Silas. Dit was beslis ook vir Paulus ’n vreugdevolle tyd. Hy kon self sien wat gebeur het met die saadjies van waarheid wat hy in Listra gesaai het. Daar was Loïs en haar dogter, Eunice, nou lojale Christenvroue vol van daardie “geloof . . . sonder enige huigelary” wat Paulus so bewonder het (2 Timoteus 1:5). En wat van die jong Timoteus?

Paulus het uitgevind dat die jong man baie volwasse geword het sedert sy laaste besoek. Timoteus “is gunstig vermeld deur die broers”, nie net in Listra nie, maar ook in Ikonium, sowat 32 kilometer noordoos van Listra (Handelinge 16:2). Waarom het hy so ’n goeie naam gehad?

“Die heilige geskrifte” wat Timoteus “van kleintyd af” deur sy ma en ouma geleer is, het betroubare, praktiese raad vir jongmense bevat (2 Timoteus 3:15). Hier is een voorbeeld: “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid” (Prediker 12:1). Hierdie woorde het vir Timoteus dieper betekenis aangeneem nadat hy ’n Christen geword het. Hy het gesien dat een van die beste maniere waarop hy sy Grootse Skepper kon onthou, was om die goeie nuus oor God se Seun, die Christus, aan ander te verkondig. Timoteus het geleidelik geleer om enige natuurlike skaamheid wat hom teruggehou het, te oorkom en om ander moedig van die goeie nuus oor Jesus Christus te vertel.

Die manne wat in die gemeentes die leiding geneem het, het Timoteus se vooruitgang raakgesien. Dit het ongetwyfeld hulle hart geroer om te sien hoe die jong man almal rondom hom opbou en aanmoedig. Maar nog belangriker, Jehovah het Timoteus raakgesien. God het ’n paar profesieë oor hom geïnspireer—wat moontlik verband gehou het met die soort diens wat hy eendag aan baie gemeentes sou verrig. Toe Paulus besoek afgelê het, het hy gesien dat Timoteus ’n nuttige reisgenoot op sendingreise sou wees. Die broers in Listra het saamgestem. Hulle het die jong man die hande opgelê, ’n gebaar wat getoon het dat hy aangestel is om ’n spesiale toewysing in Jehovah se diens uit te voer.—1 Timoteus 1:18; 4:14.

Ons kan ons net voorstel dat hierdie groot verantwoordelikheid wat aan Timoteus toevertrou is, hom met ontsag vervul het en nederig laat voel het. Hy was bereid om te gaan.b Maar hoe het Timoteus se ongelowige pa gereageer op sy seun se nuwe roeping om ’n reisende Christenbedienaar te wees? Hy het moontlik iets heel anders in gedagte gehad vir sy seun se toekoms. Wat van Timoteus se ma en ouma? Het hulle van trots oorgeloop terwyl hulle hulle besorgdheid oor die jong man se veiligheid probeer wegsteek het? Dit sou net natuurlik gewees het.

Een ding is seker, Timoteus het gegaan. Op die oggend wat aan die begin van hierdie artikel gemeld word, het hy die apostel Paulus se reisgenoot geword. Elke keer dat hy die gekraak van die klippies of die gras onder sy sandale gehoor het, het dit nog ’n tree nader aan die onbekende en ’n tree weg van die huis af beteken. Ná ’n lang dag se stap, het die drie manne Ikonium bereik. Toe het Timoteus gesien hoe Paulus en Silas die nuutste riglyne van die bestuursliggaam in Jerusalem aan die broers oorgedra het en die geloof van die gelowiges in Ikonium opgebou het (Handelinge 16:4, 5). Maar dit was net die begin.

Nadat die sendelinge die gemeentes in Galasië besoek het, het hulle die breë, geplaveide Romeinse paaie verlaat en honderde kilometers oor die uitgestrekte hoogvlaktes van Frigië geloop, eers na die noorde en toe na die weste. Onder die leiding van God se heilige gees het hulle na Troas gegaan en toe op ’n skip geklim en na Masedonië geseil (Handelinge 16:6-12). Teen daardie tyd het Paulus gesien hoe nuttig dit was om Timoteus by hom te hê. Paulus kon Timoteus saam met Silas in Berea los (Handelinge 17:14). Hy het die jong man selfs alleen na Tessalonika gestuur. Daar het Timoteus die voorbeelde nagevolg wat hy so noukeurig waargeneem het deur die getroue Christene daar aan te moedig.—1 Tessalonisense 3:1-3.

Paulus het later van Timoteus geskryf: “Ek het niemand anders met ’n gesindheid soos syne wat opreg na die dinge in verband met julle sal omsien nie” (Filippense 2:20). Hy het hierdie goeie naam nie per toeval gekry nie. Timoteus het dit verkry deur hard te werk, nederige diens te verrig en getrou te volhard onder moeilike omstandighede. Wat ’n uitstekende voorbeeld is dit tog vir jongmense van vandag! Moet nooit vergeet dat jy grotendeels verantwoordelik is vir die naam wat jy vir jouself maak nie. As jy jonk is, het jy ’n wonderlike geleentheid om vir jouself ’n naam te maak deur Jehovah God eerste in jou lewe te stel en ander met liefde en respek te behandel.

“DOEN JOU UITERSTE BES OM BINNEKORT NA MY TOE TE KOM”

Die apostel Paulus en Timoteus stap saam

Timoteus het sy lewe van ’n jong ouderdom af aan die Christelike bediening gewy

Oor ’n tydperk van ongeveer 14 jaar het Timoteus baie tyd saam met sy vriend, die apostel Paulus, deurgebring. Hy is aan baie van die gevare van Paulus se werk blootgestel, maar het ook baie van die vreugdes daarvan ondervind (2 Korintiërs 11:24-27). Op een stadium is Timoteus selfs vir sy geloof in die tronk gegooi (Hebreërs 13:23). Hy het ook Paulus se hartgrondige liefde en besorgdheid oor sy Christenbroers en -susters weerspieël. Paulus het dus vir hom geskryf: “Ek [dink] aan jou trane” (2 Timoteus 1:4). Soos Paulus, het Timoteus blykbaar geleer om te “huil saam met mense wat huil”, dit wil sê om empatie vir hulle te hê sodat hy hulle beter kon aanmoedig en vertroos (Romeine 12:15). Mag elkeen van ons leer om dit ook te doen!

Dit is nie verbasend dat Timoteus met verloop van tyd ’n uitstekende Christenopsiener geword het nie. Paulus het hom met die verantwoordelikheid toevertrou om die gemeentes te besoek om hulle te versterk en aan te moedig en om manne aan te stel wat kwalifiseer om as gemeentelike ouer manne en bedieningsknegte te dien.—1 Timoteus 5:22.

Paulus was baie lief vir Timoteus en het die jonger man baie nuttige en vaderlike raad gegee. Hy het Timoteus aangespoor om sy geestelike gawes te ontwikkel en aan te hou om vooruitgang te maak (1 Timoteus 4:15, 16). En hy het Timoteus gemaan om nooit toe te laat dat sy jeug—en dalk ’n mate van natuurlike skaamheid—hom verhinder om ferm standpunt in te neem vir wat reg is wanneer dit nodig is nie (1 Timoteus 1:3; 4:6, 7, 11, 12). Paulus het die jong man selfs raad gegee oor hoe om sy herhaalde gevalle van siekte, moontlik ’n maagprobleem, te hanteer.—1 Timoteus 5:23.

Die tyd het aangebreek toe Paulus geweet het dat hy nie meer lank sou lewe nie; dit was duidelik dat hy binnekort tereggestel sou word. Hy het een laaste geïnspireerde brief aan Timoteus gestuur. Dit het die volgende roerende woorde bevat: “Doen jou uiterste bes om binnekort na my toe te kom” (2 Timoteus 4:9). Paulus was baie lief vir Timoteus; hy het hom “my geliefde en getroue kind in die Here” genoem (1 Korintiërs 4:17). Geen wonder dat hy sy vriend aan sy sy wou hê toe hy die dood in die gesig gestaar het nie! Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Beskou mense my as ’n bron van vertroosting wanneer hulle deur moeilike tye gaan?’

Het Timoteus Paulus betyds bereik? Ons weet nie. Maar ons weet wel dat hy altyd sy uiterste bes gedoen het om Paulus en baie ander te vertroos en aan te moedig. Hy was sy naam waardig, want Timoteus beteken “Vereerder van God”. En hy was ’n uitstekende voorbeeld wat elkeen van ons, jonk en oud, kan navolg.

a Sien “Het jy geweet?” in hierdie nommer.

b Timoteus was selfs bereid om besnydenis te ondergaan op Paulus se versoek—nie omdat dit ’n vereiste vir Christene was nie, maar omdat Paulus nie die Jode vir wie hulle sou preek enige rede wou gee om beswaar te maak teen die teenwoordigheid van hierdie jong man wie se pa ’n nie-Jood was nie.—Handelinge 16:3.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel