Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 8/15 bl. 10-15
  • Bou vertroue in Jehovah op—deur sy Woord ywerig te bestudeer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bou vertroue in Jehovah op—deur sy Woord ywerig te bestudeer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe hulle God se Woord ‘ter harte moes neem’
  • Voorsienings om God se Wet te leer
  • Hoe ons vandag God se Woord ‘ter harte neem’
  • Ons moet ons verhouding met God verstewig
  • Studie help ons om ons geloof te verdedig
  • Weerstaan Satan se strikke
  • Voorsienings van Jehovah se organisasie om ons te help
  • Bybelboek nommer 5—Deuteronomium
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Neem die Bybel aan vir wat dit werklik is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Volg die koning se voorbeeld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Skep behae in Jehovah se Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 8/15 bl. 10-15

Bou vertroue in Jehovah op—deur sy Woord ywerig te bestudeer

“Neem al die woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte. . . . Dit is nie ’n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle.”—DEUTERONOMIUM 32:46, 47, NAV.

1, 2. (a) Watter vooruitsig het die Israeliete gehad toe hulle op die vlaktes van Moab laer opgeslaan het? (b) Watter vermaning het Moses tot die nasie gerig?

DIE einde van hulle lang verblyf in die woestyn het nader gekom. Net die kronkelende Jordaan het nou die nasie van die langverwagte Beloofde Land geskei. Israel se vooruitsig om daardie land binne te gaan, het egter die volk se leier, Moses, tot diepe nadenke gestem. Hy kon onthou hoe die nasie een keer tevore gestruikel het weens gebrek aan vertroue in Jehovah en gevolglik toegang tot Kanaän geweier is.—Numeri 13:25–14:30.

2 Moses het dus die nasie op die golwende vlaktes van Moab byeengeroep. Na hy hulle volksgeskiedenis hersien en God se Wet herhaal het, het Moses sy sogenaamd voortreflike komposisie gelewer. In puik digterlike taal het hy Israel aangespoor om Jehovah, “die getroue God, sonder onreg, . . . regverdig en betroubaar”, te vertrou en te gehoorsaam. Ten slotte het Moses gemaan: “Neem al die woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte. Julle moet julle kinders beveel om dit te gehoorsaam en te lewe volgens hierdie hele wet. Dit is nie ’n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle.”—Deuteronomium 32:4, 46, 47, NAV.

Hoe hulle God se Woord ‘ter harte moes neem’

3, 4. (a) Wat moes die Israeliete ‘ter harte neem’, en wat het dit behels? (b) Hoe het latere geslagte Moses se raad toegepas?

3 Moses het die Israeliete gemaan om nie net sy aangrypende lied ‘ter harte te neem’ nie, maar al die heilige geskrifte. Hulle moes ‘ag gee op’ (AB) God se Wet, dit “gewis gehoorsaam” (Today’s English Version) of daaroor “peins” (The Living Bible). Slegs deur deeglik daarmee vertroud te wees, kon hulle ‘hulle kinders beveel om die hele wet te gehoorsaam en daarvolgens te lewe’. Moses het in Deuteronomium 6:6-8 geskryf: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp . . . Ook moet jy dit as ’n teken bind op jou hand, en dit moet as ’n voorhoofsband tussen jou oë wees.”

4 Bybelkommentator W. H. Davey vertel hoe hierdie woorde in latere tye “deur die Jode letterlik vertolk is, en die leiding wat daarin vervat is, is vir bygelowige gebruike aangewend. Sekere verse . . . is op perkament geskryf en gedurende gebed op die arm en die voorhoof gedra.” Oordadig versierde dosies met tekste daarin, of filakterieë, is in Jesus se tyd gedra en word steeds vandag deur sekere Joodse sektes gebruik (Mattheüs 23:5). Maar Davey voeg by: “Mense was in hulle dwaasheid daarmee tevrede om ’n kopie van die woorde van die wet saam met hulle rond te dra, in plaas van in hulle lewens te laat blyk dat hulle die gebod wat daarin vervat is, onderhou.”

5. Wat was die regte toepassing van Moses se woorde in Deuteronomium 6:6-8?

5 Nee, dit was nie op hulle letterlike hande of voorhoofde dat God se Wet moes bly nie, maar ‘in hulle harte’. Deur nie net kennis nie, maar diepe waardering daarvoor op te bou, sou die Wet altyd in die oog gehou word, asof dit op ’n plaat voor hulle oë geskryf of aan hulle hande vasgemaak is.

Voorsienings om God se Wet te leer

6, 7. (a) Watter voorsienings het Jehovah gemaak om die Israeliete vertroud te maak met die Mosaïese Wet? (b) Hoe was dit dalk ook moontlik vir God se volk in die ou tyd om in God se Woord onderrig te word?

6 Maar hoe kon die Israeliete die sowat 600 insettinge van die Wet leer? Kopieë daarvan was aan die begin ongetwyfeld skaars. Die toekomstige koning van Israel moes “vir hom ’n afskrif van hierdie wet in ’n boek skrywe, . . . en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet . . . te hou” (Deuteronomium 17:18, 19). God het gereël dat die Wet elke sewende jaar by die huttefees gelees word (Deuteronomium 31:10-13). Hoewel so ’n geleentheid ongetwyfeld opbouend was, was dit te selde om ’n diepgaande kennis oor te dra.

7 Jehovah het ook gereël vir die stam van Levi om ‘Jakob God se verordeninge te leer en Israel God se wet’. (Deuteronomium 33:8, 10; vergelyk Maleagi 2:7.) By party geleenthede het die Leviete onderrigtingsveldtogte onderneem waartydens die hele nasie onderrig is (2 Kronieke 17:7-9; Nehemia 8:8-10). Blykbaar het ten minste dele van God se Woord mettertyd ook vir mense in die algemeen beskikbaar geword.a Die psalmis kon derhalwe skryf: “Welgeluksalig is die man . . . [wie se] behae . . . in die wet van die HERE [is], en hy oordink sy wet dag en nag” (Psalm 1:1, 2). Moses se vermaning dat ‘hulle God se Woord ter harte neem’, het dus neergekom op ’n bevel om ’n ywerige studie van die Bybel te maak.

Hoe ons vandag God se Woord ‘ter harte neem’

8. In watter mate het Israel op Moses se vermaning ag geslaan, en met watter gevolge?

8 Israel het nie gehoor gegee aan Moses se vermaning nie. Toe die nasie uiteindelik sy monargie ingestel het, het die meeste van sy konings blykbaar versuim om ‘vir hulle ’n afskrif van die wet te skrywe en al die dae van hulle lewe daarin te lees’. Teen die sewende eeu v.G.J., in die dae van koning Josia, was “die wetboek” so te sê verlore (2 Konings 22:8-13). Die slegte voorbeeld van die nasie se leiers het ongetwyfeld die nasie se val tot afvalligheid verhaas. Soos Moses gewaarsku het, het ’n volksramp in 607 v.G.J. plaasgevind.—Deuteronomium 28:15-37; 32:23-35.

9. Hoe kom Christene se situasie vandag ooreen met die van die eertydse Israeliete?

9 Soos die eertydse Israeliete, staan Christene vandag op die grens van ’n beloofde land—God se regverdige nuwe wêreld (2 Petrus 3:13). Skrikwekkende gebeure doem aan die horison: die verklaring van “vrede en veiligheid”, die val van “Babilon die Grote”, die aanval van ‘Gog van Magog’. Hierdie gebeure sal ons vertroue in Jehovah op die proef stel. Dit is derhalwe dringend dat ons nou ‘God se woord ter harte neem’!—1 Thessalonicense 5:3; Openbaring, hoofstuk 18, vgl. NW; Esegiël, hoofstuk 38.

10. Waarom verslap party moontlik in persoonlike studie?

10 Dit kan egter ’n groot uitdaging wees om dit in hierdie “swaar tye” te doen (2 Timotheüs 3:1). Sekulêre werk, die grootmaak van kinders, die skool en gemeentelike verantwoordelikhede kan alles groot eise aan ons tyd stel. Ons kan gevolglik geneig wees om onsself te verskoon en ons Bybelstudie te begin verwaarloos omdat ons redeneer: ‘Ek doen genoeg om aan die gang te bly.’ Maar die Bybel vermaan Christene: “Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin” (1 Timotheüs 4:15, 16). Kom ons beskou nou ’n paar kragtige redes waarom ons dit moet doen.

Ons moet ons verhouding met God verstewig

11, 12. (a) Hoe het dit Job geraak toe hy ’n intiemer kennis van God verkry het? (b) Waarom kan ons beeld van God duideliker wees as in Job se dag?

11 Job was “godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad”. Maar nadat Jehovah homself verder in ’n windstorm geopenbaar het, kon Job sê: “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien” (Job 1:1; 42:5). Kan ons God vandag ‘sien’, dit wil sê, hom nie bloot oppervlakkig ken nie, maar intiem vertroud wees met die talle fasette van sy persoonlikheid? Ons kan inderdaad! Deur die bladsye van die Bybel het Jehovah meer omtrent homself geopenbaar as wat selfs aan Job bekend was.

12 Ons het ’n duideliker insig in die diepte van God se liefde, daar ons weet dat hy ‘die wêreld so liefgehad het dat hy sy eniggebore Seun gegee het’ (Johannes 3:16). Deur middel van Bybelprofesieë het ons ’n oorsig van God se bedrywighede—reg tot aan die einde van die Millennium! (Openbaring, hoofstukke 18-22). Ons het die verslag van God se handelinge met die Christengemeente: hoe hy nie-Jode ingebring het, hoe hy ’n “getroue en verstandige dienskneg” aangestel het om sy volk te voed, hoe hy ’n “groot menigte” met die hoop op ewige lewe in die Paradys op aarde in aansyn geroep het (Mattheüs 24:45; Openbaring 7:9, 14-17; Efesiërs 3:3-6). Nadat ons in die diep dinge van God getuur en sy wonderlike werke ten behoewe van ons oorweeg het, kan ons nie anders as om uit te roep nie: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!”—Romeine 11:33.

13. Hoe kan ons ‘God soek’, en watter voordele bring dit mee?

13 Die psalmis het gesê: “Ek soek U met my hele hart.” Ons kan dieselfde doen deur daagliks Skriftuurlike materiaal te ondersoek; dit help baie om ons band met Jehovah te verstewig. Ywerige studie help ook om ons weg te bestendig ‘om God se insettinge te onderhou’.—Psalm 119:5, 10.

Studie help ons om ons geloof te verdedig

14. Lig die waarde daarvan toe om ‘bereid te wees om verantwoording te doen’ van ons Christelike hoop.

14 “Ek wil julle Getuies nie in my huis hê nie!” het ’n Ghanese man vir twee gesê wat by sy huis besoek afgelê het. Hy het die Getuies ook uitgetrap omdat hulle “nie bloedoortappings aanvaar en die landsvlag salueer nie”. Ons kom dikwels sulke besware in die veldbediening teë. Wat ’n skande—en ’n vernedering—sou dit tog wees as ons nie ‘verantwoording kon doen aan elkeen wat van ons rekenskap eis omtrent die hoop wat in ons is nie’! (1 Petrus 3:15). Gelukkig kon hierdie Getuies die Bybel bekwaam gebruik om te verduidelik wat die regte beskouing van bloed is en hoe ’n Christen respek vir volksimbole met die vermyding van afgodediens balanseer. Die gevolg? Hulle reguit antwoorde het die man beïndruk. Vandag is hy sowel as sy vrou gedoopte Getuies.

15. Hoe rus persoonlike studie ons toe vir ons bediening?

15 Paulus maan: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” Persoonlike studie sal ons help om nie net self op die pad van die lewe te bly nie, maar ook om “volkome voorberei en toegerus” te wees om ander te help om dit te doen.—2 Timotheüs 2:15; 3:17, NAV.

Weerstaan Satan se strikke

16. Wat is party van Satan se strikke waarmee Jehovah se volk te kampe het?

16 Reklame bestook ons vandag met dinge wat spreek tot “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe” (1 Johannes 2:16). Geslagsonsedelikheid word deur die media verheerlik en word dikwels deur werkmaats en skoolmaats daadwerklik bevorder. Opruiende lektuur van afvalliges word miskien ongevraag na ons huise gestuur. Party broers het sulke besoedelende materiaal gelees omdat hulle nuuskierigheid geprikkel is—tot die ondergang van hulle geloof. Daar is ook die selfsugtige, vleeslike “gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk”. Hoe maklik is dit tog om daardeur besmet te word en om ’n negatiewe, kritiese gees te ontwikkel!—Efesiërs 2:2.

17, 18. Hoe kan persoonlike studie verhoed dat ons “wegdrywe”?

17 Min beplan natuurlik om deur Satan verstrik te word. Deur persoonlike studie te verwaarloos, gebeur dit eerder dat hulle, soos ’n boot wat losgeraak het, stadig “wegdrywe” en hoofteikens vir aanvalle deur Satan word (Hebreërs 2:1). ’n Jong broer het hom byvoorbeeld skuldig gemaak aan onsedelikheid met ’n jong meisie by die skool. “Ek het agtergekom”, sê hy, “dat die feit dat ek geestelik honger gely het die hoofoorsaak hiervan was. Ek het geen persoonlike studie gedoen nie. Dit is waarom ek nie die versoeking kon weerstaan nie.” ’n Program van persoonlike studie het die broer egter gehelp om geestelik sterk te word.

18 Satan is vasbeslote om soveel van God se knegte moontlik te vernietig. Deur ons verstand voortdurend te voed met goeie dinge wat uit God se Woord en van sy getroue bestuurder kom, kan ons voorkom dat ons verstrik word (Filippense 4:8). Ons word herhaaldelik in die Bybel en in die publikasies van die Wagtoringgenootskap daaraan herinner om materialisme, geslagsonsedelikheid, afvallige denke en ’n negatiewe gees te vermy. As ons inderdaad des te meer ag gee, sal ons nooit wegdrywe nie.

Voorsienings van Jehovah se organisasie om ons te help

19. Wat lig die Ethiopiese hofdienaar toe omtrent ons behoefte aan geestelike leiding?

19 Studie is harde werk. Ons kan derhalwe dankbaar wees dat Jehovah se organisasie ons baie help. In onlangse jare het party aangevoer dat persone toegelaat moet word om die Bybel self te vertolk. Die Ethiopiese hofdienaar het egter openlik erken dat hy geestelike leiding nodig gehad het. As ’n besnede proseliet het hy ongetwyfeld reeds ’n goeie kennis van die Bybel gehad. Die blote feit dat hy probeer het om iets so diep soos die profesie van Jesaja 53 te bestudeer, bewys dit. Maar toe hy gevra is of hy verstaan wat hy lees, het hy erken: “Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?”—Handelinge 8:26-33.

20. (a) Wat is party van die voorsienings wat Jehovah se organisasie gemaak het om ons met ons persoonlike studie van die Bybel te help? (b) Hoe voel jy oor sulke voorsienings?

20 Jehovah se volk het vandag insgelyks geestelike leiding nodig. Omdat hulle “eenstemmig” wil wees as dit by geestelike sake kom, verwelkom hulle die hulp wat Jehovah se organisasie bied—en watter wonderlike hulp is dit tog nie! (1 Korinthiërs 1:10). Ons het ’n onafgebroke stroom van inligting deur Die Wagtoring en Ontwaak! Ons het talryke boeke en brosjures wat ’n groot verskeidenheid Bybelonderwerpe dek. Engelssprekende lesers is besonder geseënd om die Watch Tower Publications Index 1930-1985 te hê, ’n hulpmiddel wat ’n mens kan help om te bly ‘soek na wysheid soos na silwer en soos na verborge skatte’.—Spreuke 2:2-4.

21. (a) Hoe het die apostel Paulus getoon dat hy in persoonlike studie belanggestel het? (b) Wat is party voorstelle om persoonlike studie te vergemaklik?

21 Benut jy die Genootskap se publikasies ten volle deur dit vir studie en navorsing te gebruik? Of versier sulke publikasies bloot jou rakke? Interessant genoeg het die apostel Paulus Timotheüs eenkeer aangesê om “die boeke, veral die perkamente”, na hom in Rome te bring; Paulus het blykbaar van dele van die Hebreeuse Skrifte gepraat (2 Timotheüs 4:13). Hy wou dit ongetwyfeld byderhand hê om studie en navorsing te vergemaklik. As jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy gerus begin om jou eie biblioteek van teokratiese publikasies op te bou sodat jy ook navorsing kan doen. Hou sulke publikasies binne bereik, in orde, netjies en skoon. Rig ’n plek in wat stil en goed belig is waar jy kan studeer. Sonder gereelde tye vir persoonlike studie af.

22. Waarom is dit vandag belangriker as ooit tevore om ‘God se woord ter harte te neem’?

22 Soos die Israeliete wat op die vrugbare vlaktes van Moab laer opgeslaan het, staan ons op die drumpel van die nuwe wêreld. Ons moet meer as ooit tevore God se Woord ywerig bestudeer en ‘die tyd uitkoop’ vir studie, moontlik deur ander belange, soos televisiekykery op te offer (Efesiërs 5:16). “Vorm . . . ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort”, vermaan Petrus, “sodat julle deur middel daarvan” nie net tot rypheid nie, maar “tot redding mag groei”. (1 Petrus 2:2, NW; vergelyk Hebreërs 5:12-14.) Ons lewens is daarby betrokke. Weerstaan dus enige neiging om persoonlike studie te verwaarloos. Gebruik dit as ’n manier om jou liefde vir God en jou vertroue in hom te versterk; dit is ook ’n manier om jou waardering te vergroot vir die organisasie wat hy gebruik om ons te help. Ja, neem God se Woord, ywerig, gereeld, ‘ter harte’. “Dit is nie ’n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle.”

[Voetnote]

a Potskerwe, of ostraka, is in Bybeltye algemeen as ’n goedkoop skryfoppervlak gebruik. The International Standard Bible Encyclopedia (1986) sê: “Selfs die armste klasse, wat niks anders kon bekostig om op te skryf nie, kon ostraka gebruik.” Dit is nie bekend in watter mate eertydse Israeliete ostraka gebruik het om Bybeltekste op te skrywe nie. Dit is egter interessant dat ostraka van die sewende eeu G.J. met Bybeltekste daarop in Egipte ontdek is, wat dui op een manier waarop gewone mense dele van die Bybel tot hulle beskikking gehad het.

Gedagtes ter hersiening

◻ Waarom het Moses die Israeliete vermaan om ‘God se Woord ter harte te neem’, en hoe moes hulle dit doen?

◻ Hoe verstewig persoonlike studie ons verhouding met God en help dit ons om ons geloof te verantwoord?

◻ Hoe help persoonlike studie ons om Satan se strikke te weerstaan?

◻ Watter voorsienings het Jehovah se organisasie gemaak om ons studie van God se Woord te vergemaklik?

[Prent op bladsy 11]

In plaas van God se Wet op hulle harte te skryf, het die Jode dosies met tekste daarin aan hulle vasgebind

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel