Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 4/22 bl. 4-8
  • Lewe ons in die laaste dae?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lewe ons in die laaste dae?
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VERDERE BEWYSE VAN DIE LAASTE DAE
  • “DIE TEKEN VAN U TEENWOORDIGHEID”
  • WAT LÊ VOOR?
  • Lewe ons werklik in “die laaste dae”?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Dit is nóú die laaste dae!
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Nuttige onderrigting vir ons kritieke tye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Het die Bybel voorspel hoe mense vandag sou dink en optree?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 4/22 bl. 4-8

Lewe ons in die laaste dae?

DIE uitdrukking ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ is ’n vertaling van die Griekse kai·roiʹ kha·le·poiʹ (2 Timoteus 3:1). Die woord kha·le·poiʹ is die meervoud van ’n woord wat letterlik “wreed” beteken en die gedagte van bedreiging en gevaar bevat. Een Bybelkommentator sê die woord verwys na ’n “geweldige aanval van boosheid”. Terwyl vorige eras onrus ondervind het, sou “die laaste dae” derhalwe buitengewoon wreed wees. Soos 2 Timoteus 3:13 dit stel, sal “goddelose mense en bedrieërs . . . voortgaan van kwaad tot erger”.

Beskryf dit ons dag? Kom ons ontleed ’n paar spesifieke bewyse wat in 2 Timoteus 3:2-5 opgeteken is om te sien of dit aandui dat ons in die laaste dae lewe.

‘Mense sal liefhebbers van geld wees.’—2 Timoteus 3:2.

Bedrog het, soos U.S.News & World Report dit noem, “’n orgie van ekonomiese misdaad” geword. In die Verenigde State bly die verlies weens mediese bedrog alleen jaarliks tussen $50 miljard (R181 miljard) en $80 miljard (R290 miljard). Ongelukkig is sulke oneerlikheid kenmerkend. Soos Gary Edwards, voorsitter van die Ethics Resource Center, sê, het ons “’n kultuur wat oneerlikheid soms verheerlik”. Hy verduidelik: “Ons maak helde van skurke, mense wat politici is, sakemense wat die stelsel besteel en ongestraf bly.”

“Hoogmoedig.”—2 Timoteus 3:2.

Die hoogmoedige persoon kyk op ander neer. Hoe duidelik is dit tog nie vandag in rasse- en nasionale vooroordeel nie! “Alle minderheidsgroepe is teikens”, sê The Globe and Mail van Toronto, Kanada. “Rassegeweld neem toe in Duitsland, die Ku Klux Klan is bedrywig in die Verenigde State en swastikas ontsier Toronto se sypaadjies en sinagoges.” Irving Abella, voorsitter van die Kanadese Joodse Kongres, sê: “Ons sien dit oral: in Swede, Italië, Holland en België asook in Duitsland.”

“Ongehoorsaam aan ouers.”—2 Timoteus 3:2.

“Baie blameer die geboortegolfgenerasie daarvoor dat hulle ’n geslag parmantige, skoorsoekerige, oneerbiedige snuiters grootgemaak het”, sê The Toronto Star. Opstandigheid wat tuis begin, word dikwels by die skool gesien. Een onderwyser het opgemerk dat selfs vierjariges teëpraat. “Onderwysers bestee meer tyd aan wangedrag as wat hulle onderrig”, sê sy. Natuurlik is nie alle jongmense opstandig nie. Maar “as ’n reël”, sê veteraanhoërskoolonderwyser Bruce MacGregor, “lyk dit asof hulle baie min respek vir enigiets het”.

“Sonder natuurlike geneentheid.”—2 Timoteus 3:3.

Gedurende die laaste dae sou daar ’n merkbare agteruitgang in die gesin wees—waar natuurlike geneentheid meer as op enige ander plek aangetref moet word. The New York Times berig dat “gesinsgeweld die hoofoorsaak van beserings en sterftes onder Amerikaanse vroue is en meer beserings veroorsaak as motorongelukke, verkragtings en straatrowe saam”. In die meeste gevalle van kindermolestering is vertroude familielede die skuldiges. Die hoë egskeidingsyfer, die mishandeling van bejaardes en aborsie getuig ook van die feit dat baie “’n algehele gebrek het aan . . . normale menslike geneentheid”.—Phillips.

“Wreedaardig, sonder liefde vir goedheid.”—2 Timoteus 3:3.

“Jong moordenaars het nie juis ’n motief nodig nie”, skryf koerantrubriekskrywer Bob Herbert. “Baie kinders het die idee om iemand ‘sommer net’ dood te skiet geesdriftig aangeneem.” Dit lyk of selfs party ouers ’n gebrek aan morele sensitiwiteit het. Toe ’n groep tienerseuns daarvan beskuldig is dat hulle met mekaar meegeding het om te kyk wie met die meeste meisies seks kon hê, het een vader gesê: “Niks wat my seun gedoen het, is iets wat enige normale Amerikaanse seun van sy ouderdom nie sou doen nie.”

“Liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God.”—2 Timoteus 3:4.

Volgens een skatting bring tieners 15 uur saam met elektroniese media deur vir elke uur wat hulle saam met ’n godsdienstige groep deurbring. “Vandag”, berig die Altoona Mirror, “oorheers die media-beheerde kultuur wat in winkelsentrums en in die gange van skole floreer die lewens van tieners. Daarna kom die gesin. Onderaan die lys [is] die kerk.” Die Mirror sê ook: “As ouers afwesig is en kerke swyg, is die media die grootste invloed in die lewens van jongmense.”

“Wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën.”—2 Timoteus 3:5.

Bybelwaarheid het die krag om lewens te verander (Efesiërs 4:22-24). Maar van die goddeloosste dade vind onder die dekmantel van godsdiens plaas. ’n Tragiese voorbeeld is die seksuele misbruik van kinders deur geestelikes. Volgens The New York Times sê ’n regsgeleerde in die Verenigde State “dat hy 200 sake het wat hangende is in 27 state ten behoewe van kliënte wat sê dat hulle deur priesters gemolesteer is”. Enige vorm of voorwendsel van godvrugtige toegewydheid wat hierdie geestelikes toon, word beslis deur hulle bose werke as blote skynheiligheid blootgelê.

VERDERE BEWYSE VAN DIE LAASTE DAE

2 TIMOTEUS 3:2-4 SÊ OOK DAT MENSE SÓ SAL WEES . . .

□ Aanmatigend

□ Lasteraars

□ Ondankbaar

□ Dislojaal

□ Nie bereid tot enige ooreenkoms nie

□ Kwaadsprekers

□ Sonder selfbeheersing

□ Verraaiers

□ Eiesinnig

□ Opgeblase van trots

“DIE TEKEN VAN U TEENWOORDIGHEID”

Kort voor sy dood is Jesus gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3). Jesus het toestande en gebeure genoem wat hierdie laaste dae sou kenmerk. Kom ons ondersoek ’n paar van hulle.

“Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk.”—Matteus 24:7.

“Die twintigste eeu—hoewel dit oor die algemeen een van sosiale verbetering en verhoogde regeringsbesorgdheid oor die lewens van die armes is—is oorheers deur die masjiengeweer, die tenk, die B-52, die kernbom en ook die missiel. Dit is gekenmerk deur oorloë wat bloediger en vernietigender was as dié van enige ander tydperk.”—Milestones of History.

“Aardbewings op die een plek na die ander.”—Matteus 24:7.

Gedurende hierdie eeu was daar aardbewings wat van 7,5 tot 8,3 op die Richterskaal gemeet het in Chili, China, Indië, Iran, Italië, Japan, Peru en Turkye.

“Daar sal vreesaanjaende gesigte wees.”—Lukas 21:11.

As gevolg van angswekkende verwikkelinge in die laaste jare is vrees moontlik die grootste enkele emosie in mense se lewens. Mense vrees oorlog, misdaad, besoedeling, siekte, inflasie en baie ander dinge wat hulle veiligheid en hulle eie lewe bedreig.

“Voedseltekorte.”—Matteus 24:7.

“Hongersnood dreig terwyl hulpgroepe twis”, kondig ’n opskrif in die tydskrif New Scientist aan. Volgens ’n voormalige Amerikaanse president dreig hongersnood om die planeet binne twee dekades te verwoes. “Ten spyte van sulke angswekkende voorspellings”, sê die artikel, “neem die hoeveelheid hulp wat ryk lande aan landbouontwikkeling in ontwikkelende lande gee dramaties af.”

“Op die een plek na die ander peste.”—Lukas 21:11.

Volgens ’n paneel deskundiges is die Amerikaanse regering se stryd teen vigs—wat jaarliks meer as $500 miljoen (R1 815 miljoen) kos—’n hopelose mislukking genoem. “Ons verloor ’n hele geslag van produktiwiteit weens vigs”, waarsku dr. Donna Sweet, wat met sowat 200 tot 300 pasiënte werk. In die Verenigde State is vigs nou die grootste doodsoorsaak onder mans tussen die ouderdomme van 25 en 44.

“Toename in wetteloosheid.”—Matteus 24:12.

’n Amerikaanse opname onder 2 500 jongmense het aan die lig gebring dat 15 persent in die een of ander stadium gedurende die laaste 30 dae ’n vuurwapen gedra het, dat daar op 11 persent gedurende die afgelope jaar geskiet is en dat 9 persent die een of ander tyd met ’n vuurwapen op iemand anders geskiet het.

WAT LÊ VOOR?

Soos ons gesien het, is die mensdom ver van koers af, ver weg van ’n vreedsame wêreld. Wat omvang betref, is die bogemelde toestande ongeëwenaard. Ja, die mensdom bevind hom beslis in onbekende gebied. Dit gaan deur ’n tyd wat die laaste dae genoem word.

Wat sal ná hierdie tydperk kom?

[Foto-erkenning op bladsy 4]

Michael Lewis/Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel