Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 3/8 bl. 21-24
  • Deel 5—Die sakewêreld verstewig sy greep

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deel 5—Die sakewêreld verstewig sy greep
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die sakewêreld—Die hoofoorsaak van besoedeling?
  • Die vrugte van meedoënlose wedywering
  • Die bedrieglike krag van geld
  • Wil jy hê dat die sakewêreld jou moet verander?
  • Deel 6—Ekonomiese kommer—Wanneer sal dit eindig?
    Ontwaak!—1992
  • Deel 1b-Waarom moet ons die handelswêreld ondersoek?
    Ontwaak!—1992
  • Deel 1a—In die greep van geldsorge
    Ontwaak!—1992
  • Deel 3—Hebsugtige handel wys sy kleure
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 3/8 bl. 21-24

Die Opkoms En Ondergang Van Wêreldhandel

Deel 5—Die sakewêreld verstewig sy greep

DIE Eerste Wêreldoorlog was skaars verby toe die haglike toestand van die Europese ekonomie nog moeilikheid voorspel het. Teen die einde van Oktober 1929 was daar ’n ramp. Die New Yorkse aandelemark het skerp gedaal. Mense was paniekbevange. In die tydperk wat daarop gevolg het, het honderde banke ineengestort. Duisende mense, waarvan sommige selfmoord gepleeg het deur van hoë geboue af te spring, het miljoene rande verloor.

Die Groot Depressie het die hele wêreld in ekonomiese ellende gedompel en later ook in politieke chaos, aangesien dit die oorsake vererger het wat tot die Tweede Wêreldoorlog aanleiding gegee het. ’n Professor in die geskiedenis René Albrecht-Carrié het die dertigerjare beskryf as ’n tydperk “gekenmerk deur krisisse wat teen ’n agtergrond van ekonomiese rampspoed ontvou het”.

Gevolglik was dit minder as 20 jaar ná 1914 baie duidelik dat die wêreld se ekonomiese stelsels nie opgewasse was teen die eise van die nuwe eeu nie. Dit is belangrik, want volgens Bybelchronologie en goddelike profesieë het God se toelating van onbeheerste menseheerskappy in 1914 geëindig. In daardie deurslaggewende jaar het God die hemelse Koninkryk opgerig waarvan die onsigbare teenwoordigheid deur sigbare verwikkelinge aangedui sou word. Sommige van hierdie dinge word in Mattheüs hoofstuk 24, Lukas hoofstuk 21 en Openbaring hoofstuk 6 gemeld, wat jy gerus kan lees.

Nog ’n vername bewys dat die Koninkryk opgerig is, is die feit dat die aarde stelselmatig deur sy bewoners verderf word (Openbaring 11:18). Met die oog op die wêreldwye besoedeling wat ons in die gesig staar, die skade aan die beskermende osoonlaag om die aarde en die moontlikheid van ’n ekologiese ramp wat deur die sogenaamde kweekhuiseffek veroorsaak word, het ons genoegsame rede om tot die gevolgtrekking te kom dat hierdie profesie nou vervul word.

Die sakewêreld—Die hoofoorsaak van besoedeling?

Die industriële omwenteling het die grondslag gelê vir ’n vreemde soort vooruitgang—vooruitgang wat dit makliker, vinniger en goedkoper maak om in mense se behoeftes te voorsien, maar wat terselfdertyd suurreën veroorsaak, die storting van chemiese afval tot gevolg het en die aarde se reënwoude vernietig; vooruitgang wat toeriste in staat stel om van die een kant van die aarde na die ander te vlieg sodat hulle strande wat vroeër skoon was, kan bemors en die natuurlike habitat kan vernietig; vooruitgang wat weens die besoedeling van ons lug, voedsel en water vir ons die gevaar van ’n voortydige dood inhou.

Buiten die feit dat die sakewêreld die tegnologie ontwikkel het wat daartoe lei dat die aarde verderf word, het dit ook die motivering daarvoor voorsien. Die tydskrif Time het gesê “die koorsagtige najaging van wins deur sakeondernemings is lank reeds die hoofoorsaak van besoedeling”. ’n Bosbou-ekonoom van die VN het glo gesê dat die kommersiële “onwettige uitroeiing [van reënwoude] uit hebsug voortspruit”.

Niekapitalistiese stelsels is net so skuldig. Joernalis Richard Hornik het in 1987 geskryf dat “Peking ongeveer drie dekades lank onder Kommunistiese bewind volgehou het dat sosialistiese verbeteringsprogramme hoegenaamd nie omgewingsagteruitgang tot gevolg kan hê nie”. Maar die tyd van afrekening het nou aangebreek, en selfs China ondervind “die skade wat ekonomiese vooruitgang aan die omgewing aanrig”.

Nog ’n joernalis het die skade wat besoedeling gedurende 40 jaar van verwoesting in Oos-Europa aangerig het “Kommunisme se afgryslikste geheim” genoem. Die omvang van die skade word nou eers duidelik, en Bitterfeld, 50 kilometer noord van Leipzig, geniet gevolglik die twyfelagtige onderskeiding dat dit moontlik die ergste besoedelde stad in waarskynlik die mees besoedelde streek ter wêreld is.

Die vrugte van meedoënlose wedywering

Net soos baie van ons dade en reaksies hoofsaaklik deur godsdiens en die politiek gevorm word, word ons ook in ’n groot mate deur die sakewêreld beïnvloed. Trouens, die stewige greep wat dit op die mensdom het, kan miskien die beste gesien word in die wyse waarop dit persoonlikhede vorm.

Die grondslag waarop die wêreld van kapitalistiese handel gebou is, die gees van meedoënlose wedywering, word oral aangetref—by die skool, by die werk, in die vermaaklikheids- en sportwêreld en soms selfs in die gesin. Kinders word van kleins af geleer om met ander te wedywer, om die beste te wees, om die belangrikste te wees. Die allerbelangrikste is blykbaar om ekonomies vooruitgang te maak, en min beperkings word daarop geplaas. Ter wille van sukses word mans en vroue aangemoedig om ambisieus te wees, selfs aggressief indien nodig.

Sakelui word opgelei om vriendelik en beleef te wees. Maar weerspieël hierdie karaktertrekke altyd hulle ware persoonlikheid, of weerspieël hulle soms ’n masker wat hulle dra terwyl hulle ’n rol speel? In 1911 het Edgar Watson Howe, ’n Amerikaanse joernalis, hierdie raad gegee: “Moenie dink dat ’n man wat iets aan jou probeer verkoop altyd so beleef is nie.”

Wedywer wakker gevoelens van afguns, jaloesie en hebsug aan. Mense wat sukses behaal, kan begin dink dat hulle beter as ander is, en dit kan hulle verwaand en baasspelerig maak. Daarenteen kan mense wat gedurig sukkel aan ’n swak gevoel van eiewaarde ly, en dit kan neerslagtigheid veroorsaak. Wanneer hulle te staan kom voor die druk wat met wedywer gepaardgaan en wat hulle nie kan verwerk nie, besluit hulle dalk om tou op te gooi, ’n gesindheid wat die skerp styging in selfmoord onder jongmense in sommige lande verklaar.

Omdat swak ekonomiese stelsels nie in gelyke mate in almal se lewensbehoeftes kan voorsien nie, kan hulle enersyds persoonlikhede laat ontaard om ondankbaar, selfsugtig en gevoelloos en andersyds verbitterd, selfbejammerend en oneerlik te word. En omdat die handel geld en besittings feitlik tot die status van ’n god verhef, kan dit mense maklik van hulle geestelikheid beroof.

Die bedrieglike krag van geld

Toe geld eers in die gemeenskap bekend gestel is, is dit algemeen in die mensegemeenskap begin gebruik en het dit gevolglik ’n invloed op menseverhoudings gehad. ’n Prysstelsel het daartoe gelei dat goedere en dienste volgens geldwaardes ingedeel is. Kort voor lank is alles in terme van geld uitgedruk, aangesien dit die standaard was waarvolgens die belangrikheid van alle dinge bepaal kon word. Dit het egter die waarheid verdoesel dat “die beste dinge in die lewe niks kos nie”, soos die liedjie dit so mooi stel.

Selfs die waarde van mense is in terme van geld bepaal, en hulle is hoofsaaklik op grond van hulle salaris of besittings geoordeel. Joernalis Max Lerner het dit in 1949 erken toe hy geskryf het: “In ons kultuur maak ons helde van die mense wat op ’n hoop geld sit, en ons slaan nie net ag op wat hulle sê oor hulle vakgebied nie, maar op hulle wysheid wat enige ander vraag ter wêreld betref.” Meer onlangs het ’n verslaggewer sy bedenkinge uitgespreek oor ’n Amerikaanse president se sterk standpunt dat rykdom die grondslag is waarop die mens se waarde bepaal word. Die verslaggewer het gevind dat dit “kenmerkend is van die oordrewe belangrikheid wat aan materialistiese doelwitte geheg word dat die tagtigerjare verander het in die ‘My dekade’, wat beteken dat jy aan jou besittings geken en daarvolgens geoordeel word”.

Die oormatige klem op geld en die dinge wat daarmee gekoop kan word, is geneig om die waarde van menseverhoudings te verlaag. Daar steek iets in die woorde van ’n jong man uit Bangladesj wat, nadat hy na kapitalistiese Europa toe getrek het, gesê het: “Mense hier stel belang in dinge; tuis stel ons meer belang in mense.”

Die gesindheid dat alles om geld draai, verlaag ook die waarde van werk en maak dit slegs ’n middel tot ’n doel, ’n las en nie meer ’n plesier nie. ’n Mens werk nie vir die vreugde dat jy iets bereik het of vir die vreugde om ander die dinge te gee wat hulle nodig het nie, maar net om geld te kry. Hierdie gesindheid beroof die persoon in werklikheid van vreugde omdat ‘dit groter geluk bring om te gee as om te ontvang’.—Handelinge 20:35, NW.

Wil jy hê dat die sakewêreld jou moet verander?

Die wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang wat moontlik gemaak is deur die ontdekking en aanwending van natuurwette van goddelike oorsprong was al dikwels vir die mensdom van groot nut. Jehovah se Getuies is byvoorbeeld baie dankbaar vir die ontwikkeling van moderne drukmetodes en vir die verbeterde vervoer- en kommunikasiemiddele wat hulle in staat stel om hulle opdrag om te preek uit te voer op ’n manier wat andersins onmoontlik sou wees.—Mattheüs 24:14.

’n Mens kan weliswaar nie ontken dat die potensiaal om goed te doen wat deur vooruitgang moontlik gemaak is grootliks bederf is deur mense wat toegelaat het dat hulle persoonlikhede op ’n goddelose manier deur valse godsdiens, korrupte politiek en onvolmaakte ekonomiese stelsels verander word nie.

Wil jy hê dat jou potensiaal om goed te doen, tot niet gemaak moet word deur ’n mismaakte persoonlikheid—jou eie? Gaan jy toelaat dat hebsugtige handel jou stel waardes net op ’n geldelike grondslag bepaal? dit toelaat om die liefde vir geld en besittings in jou lewe belangriker as menseverhoudings te laat word? dit toelaat om jou van jou geestelikheid te beroof?

Die handel verstewig sy greep sedert 1914 op die mensdom. Is daar dus enige manier waarop ons kan voorkom dat dit ons persoonlikheid verander? Ja, daar is! Die laaste artikel in hierdie reeks sal nie net vir ons toon wat dit is nie, maar ook verduidelik hoe ons kan lewe om die dag te sien wanneer die mensdom verlig sal kan sug: “Geldsorge—uiteindelik verby!”

[Venster op bladsy 24]

Die sakewêreld help om “die laaste dae” te identifiseer

Deur persoonlikhede te verander, help die sakewêreld om die bewyse van “die laaste dae” soos dit in 2 Timotheüs 3:1-4 gevind word, te voorsien: Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye [waaronder die probleem om ekonomiese kwellinge die hoof te bied] sal kom. Want die mense sal . . .

Liefhebbers van hulleself wees: Materialiste is egotisties, ’n gesindheid wat deur handelsreklame aangemoedig word, wat sê: ‘Jy verdien die beste. Wees goed vir jouself. Sien eers na jou eie belange om’

Geldgieriges: Amerikaanse humoris Mark Twain het eenkeer gesê: “Sommige mense aanbid status, sommige aanbid helde, sommige aanbid mag, sommige aanbid God, . . . maar hulle almal aanbid geld”

Grootpraters, trotsaards: ’n Duitse politikus het die volgende gesê oor chemiese firmas wat traag is om te reageer nadat hulle versoek is om ’n einde te maak aan hulle besoedeling: “Ek vind dat die oorwegende gesindheid baie sleg is. Dit is die verwaandheid van mag”

Ondankbaar, onheilig: Engelse skrywer Thomas Fuller het gesê: “Rykdom vergroot eerder die aptyt as om dit te bevredig” en: “Die alledaagse handel bedrieg met almal se medewete”

Sonder natuurlike liefde: Firmas wat ter wille van wins produkte wat elders onwettig verklaar is aan ontwikkelende lande verkoop of wat gevaarlike nywerhede oprig in lande wat nie sulke streng veiligheidsregulasies het nie, toon min besorgdheid oor die lewe van ander mense

Onversoenlik, kwaadsprekers: Ekonoom Adam Smith het gesê dat “die handel tussen lande, net soos tussen mense, wat natuurlikerwys ’n band van eenheid en vriendskap behoort te wees, die vrugbaarste bron van verdeeldheid en vyandigheid geword het”

Bandeloos, wreed: Oormatige aankope op rekening, onbeheerste kredietkaartaankope en die “koop nou, betaal later”-mentaliteit, wat deur die handel vir eiegewin aangemoedig word, toon ’n gebrek aan selfbeheersing; sommige handelsbelange is gemik op menslike swakhede en maak fortuine uit dwelms, onsedelikheid en dobbelary

Sonder liefde vir die goeie, verraaiers: Die koerant The German Tribune sê: “Waar daar reusebedrae geld betrokke is om omgewingsbesoedeling te bekamp, kan sedelike standaarde veel te wense oorlaat.” Mense wat nie sedelike standaarde het nie, sal ander maklik ter wille van persoonlike gewin verraai

Roekeloos: Invloedryke groepe, soos vuurwapen- en tabakpressiegroepe, bestee koppig fortuine daaraan om politieke beleid te probeer beïnvloed om hoë verkope te verseker, selfs al stel hulle handelsware die gesondheid en veiligheid van die publiek in gevaar

Verwaand: ’n Mens se besittings is nie ’n rede om hoogmoedig te wees nie, ten spyte van wat materialiste sê. Griekse fabeldigter Esopus het gesê: “Uiterlike vertoon is ’n swak plaasvervanger vir innerlike waarde”

Meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God: Handelsvermaak lê die klem op plesier ten koste van geestelikheid en het ’n geslag van hedonistiese plesierverslaafdes geskep

[Prent op bladsy 23]

Die sakewêreld het daartoe bygedra dat Europa moontlik die besoedeldste vasteland ter wêreld is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel