Die Bybelse beskouing
Wat moet gedoen word indien ’n geestelike sondig?
WANGEDRAG deur godsdiensleiers trek vandag die publiek se aandag soos nog nooit tevore nie. Die skandelike gedrag van televisieleraars het Protestante in verleentheid gebring. Nadat ’n televisie-evangelis onlangs vir die tweede keer in drie jaar met ’n prostituut betrap is, het hy sy volgelinge meegedeel dat God vir hom gesê het dat sy optrede niemand behalwe homself aangaan nie.
Waar dit oor ’n 25 jaar lange studie verslag doen, sê die tydskrif Time: “’n Voormalige Benediktynermonnik . . . skat dat die helfte van die 53 000 Rooms-Katolieke priesters in Amerika hulle selibaatsgelofte verbreek.” Daarbenewens sê ’n nuusberig van 1990 die volgende omtrent ’n aantal Kanadese priesters wat skuldig bevind is aan die seksuele misbruik van kinders: “Kerkleiers het klagtes oor seksuele misbruik geïgnoreer, verwerp of halfhartig daarop gereageer, selfs al het hulle sulke klagtes ontvang van slagoffers, gemeentelede, die polisie, maatskaplike werkers en ander priesters.”
“Tot onlangs”, het die tydskrif Time gesê, “is priesters wat gedwaal het eenvoudig van gemeente tot gemeente verskuif.” Maar noudat hofsake deur slagoffers van priesterlike wangedrag R825 miljoen in die Verenigde State beloop, ontvang priesters dikwels psigiatriese terapie voordat hulle na hulle godsdiensplig terugkeer.
Wat moet gedoen word indien ’n predikant, ’n priester of ’n ouderling sondig? Watter leiding voorsien die Bybel ten opsigte van die hantering van sulke betreurenswaardige gedrag? Kom ons ondersoek twee belangrike Bybeltekste—Titus 1:7 en 1 Timotheüs 3:2.
Moet “vry van beskuldiging” wees
Die Bybel sê: “’n Opsiener [“biskop”, The New American Bible (Katolieke vertaling)] moet as God se bestuurder vry van beskuldiging wees” (Titus 1:7, NW). Paulus het Titus hierdie bevel gegee toe hy hom aangewys het om ouere manne in die gemeentes in Kreta aan te stel. Maar wat het die apostel daarmee bedoel?
Die uitdrukking “vry van beskuldiging” is uit die Griekse woord a·negʹkle·tos vertaal. Waar The New International Dictionary of New Testament Theology oor hierdie woord kommentaar lewer, sê dit: “Anenklētos val onder die regsagtergrond van ’n hofaanklag en dui op onberispelike gedrag, waarteen geen beskuldiging ingebring kan word nie.” ’n Man moet dus ’n skoon reputasie hê voordat hy as ’n ouere man aangestel word; hy moet nie onder verdenking staan of beskuldig kan word nie. En slegs as hy vry van gegronde aantygings bly, kan ’n ouere man in sy amp aanbly.—Vergelyk 1 Timotheüs 3:10.
’n Ouere man moet nie net die leiding in die gemeente neem nie, maar moet die gemeente ook van diens wees. Hy moet verantwoordelikheid vir sy bestuurderskap aanvaar. Hy is God se bestuurder; hy moet as herder toesig hou oor God se skapies. Hy moet dus allereers verantwoording doen aan die Eienaar van die kudde, Jehovah, en dan aan die mense oor wie God hom die verantwoordelikheid as opsiener gegee het.—1 Petrus 5:2, 3.
Moet “onberispelik” wees
Die Bybel sê: “’n Opsiener [“biskop”, NAB] dan moet onberispelik wees” (1 Timotheüs 3:2). Die Griekse woord a·ne·piʹlem·ptos word met “onberispelik” weergegee, en die letterlike betekenis is “om nie vasgegryp te word nie”. Met ander woorde, daar moet niks in ’n opsiener se lewenswyse wees waarna ’n beskuldiger kan gryp en teen hom kan gebruik nie. Waar dit oor die betekenis van dié Griekse woord uitwei, sê die Theological Dictionary of the New Testament dat ’n opsiener “nie gekritiseer kan word (selfs deur nie-Christene) oor sy sedelike gedrag nie”.
God stel hoë standaarde aan dié wat toesig hou oor sy volk en sy Woord verkondig. Jakobus het van homself en ander ouere manne gesê: “Ons [sal] ’n groter oordeel ondergaan.” En Jesus het dié riglyn gegee: “Aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.”—Jakobus 3:1; Lukas 12:48.
Indien ’n Christenopsiener dus ooglopend sondig maar berouvol is, mag hy ’n gemeentelid bly, maar hy moet van sy opsienersamp onthef word. Hy is nie meer onberispelik nie. Dit kan hom jare kos om sy goeie reputasie te herstel sodat hy weer vry van beskuldiging kan wees. Sy geval kan vergelyk word met dié van Hiskia se bestuurder, Sebna. Jehovah het hom weens sy wangedrag bestraf met die woorde: “Ek sal jou wegstoot uit jou pos, en uit jou plek sal Hy jou wegruk.” Maar Sebna moes later sy goeie reputasie herwin het, want ons lees dat hy weer as skrywer in die koning se diens was.—Jesaja 22:15-22; 36:3.
Gestel ’n geestelike is nie berouvol nie?
Talle godsdienste in die Christendom verdra geestelikes wat gesondig het. In 1459 het kardinaal Rodrigo Borgia pouslike visekanselier geword, die vernaamste administratiewe pos in die Katolieke Kurie. Pous Pius II het hom bestraf weens sy berugte onsedelikheid. In 1492 het die raad van kardinale hom nogtans tot die pouslike troon verkies, al het hy vier buite-egtelike kinders verwek! Hy het sy skandalige loopbaan voortgesit as pous Alexander VI. Die feit dat onberouvolle, losbandige geestelikes deur die Christendom se hele geskiedenis heen geduld is, het ongetwyfeld bygedra tot die verdorwenheid wat ons vandag daarin sien. Wat moet dan gedoen word as ’n geestelike onberouvol is?
’n Christenbedienaar wat ernstige sonde beoefen en in gebreke bly om bewys te lewer dat hy berouvol is, moet uit die gemeente gesit word. Die apostel Paulus het geskryf: “Nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. . . . Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.”—1 Korinthiërs 5:11-13.
Ferm optrede beskerm die goeie naam van die gemeente en hou dit afgeskeie van dié wat ‘bely dat hulle God ken maar hom deur die werke verloën’. Die manier waarop ’n godsdiens die probleem benader wanneer ’n geestelike sondig, sal jou help om te bepaal of daardie godsdiens waarlik Christelik is.—Titus 1:16; Mattheüs 7:15, 16.
[Prent op bladsy 26]
Pous Alexander VI
[Erkenning]
Alinari/Art Resource, N.Y.