Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 5/1 bl. 13-17
  • Hoor wat die gees sê

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoor wat die gees sê
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Die hele Skrif is geïnspireer’
  • “Voedsel op die regte tyd”
  • Deur ons gewete gelei
  • Gelukkig is dié wat luister en gehoorsaam is
  • Is jou gewete goed opgelei?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Hoe kan jy ’n goeie gewete behou?
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • ’n Goeie gewete voor God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Is jou gewete ’n betroubare gids?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 5/1 bl. 13-17

Hoor wat die gees sê

“Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.”—JESAJA 30:21.

1, 2. Hoe het Jehovah deur die geskiedenis heen met mense gekommunikeer?

OP DIE eiland Puerto Rico is die wêreld se grootste en gevoeligste enkelskottelradioteleskoop. Wetenskaplikes hoop al dekades lank om boodskappe van buiteaardse wesens met behulp van hierdie enorme instrument te ontvang. Maar geen boodskappe is al ooit ontvang nie. Wat egter ironies is, is dat enigeen van ons te eniger tyd duidelike boodskappe uit die ruimte kan ontvang—sonder die gebruik van gesofistikeerde toerusting. Hierdie boodskappe kom van ’n Bron wat ver verhewe is bo enige denkbeeldige buiteaardse wese. Wie is die Bron van hierdie kommunikasie, en wie ontvang die boodskappe? Wat sê die boodskappe?

2 Die Bybelverslag bevat etlike verslae van gevalle waar boodskappe van Goddelike oorsprong hoorbaar was vir mense se ore. Soms het geesskepsele wat as God se boodskappers dien hierdie boodskappe oorgedra (Genesis 22:11, 15; Sagaria 4:4, 5; Lukas 1:26-28). By drie geleenthede is Jehovah se eie stem gehoor (Matteus 3:17; 17:5; Johannes 12:28, 29). God het ook deur menslike profete gepraat, en baie van hulle het neergeskryf wat hy hulle geïnspireer het om te sê. Vandag het ons die Bybel, wat ’n geskrewe verslag van baie van hierdie boodskappe sowel as die leringe van Jesus en sy dissipels bevat (Hebreërs 1:1, 2). Jehovah het inderdaad inligting aan sy menseskepsele oorgedra.

3. Wat is die doel van God se boodskappe, en wat word van ons verwag?

3 Al hierdie boodskappe wat deur God geïnspireer is, openbaar nie veel omtrent die fisiese heelal nie. Dit vestig die aandag op belangriker sake, wat ’n uitwerking op ons teenswoordige en toekomstige lewe het (Psalm 19:8-12; 1 Timoteus 4:8). Jehovah gebruik hierdie boodskappe om ons in te lig oor sy wil en om ons te lei. Dit is een manier waarop die woorde van die profeet Jesaja vervul word: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21). Jehovah dwing ons nie om na sy “woord” te luister nie. Dit hang van ons af of ons God se leiding wil volg en op sy weg wil wandel. Daarom spoor die Skrif ons aan om te luister wanneer Jehovah met ons kommunikeer. In die boek Openbaring kom die aansporing om te ‘hoor wat die gees sê’ sewe keer voor.—Openbaring 2:7, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22.

4. Is dit in ons dag redelik om te verwag dat God direk uit die hemel met ons sal kommunikeer?

4 Vandag praat Jehovah nie direk uit die hemel met ons nie. Selfs in Bybeltye het hierdie bonatuurlike vorm van kommunikasie selde plaasgevind, soms het eeue tussenin verloop. Deur die geskiedenis heen het Jehovah meer dikwels op indirekter maniere met sy volk gekommunikeer. Dit is die geval in ons dag. Kom ons kyk na drie maniere waarop Jehovah vandag met ons kommunikeer.

‘Die hele Skrif is geïnspireer’

5. Wat is vandag Jehovah se vernaamste kommunikasiemiddel, en hoe kan dit vir ons nuttig wees?

5 Die Bybel is die vernaamste kommunikasiemiddel tussen God en mense. Dit is deur God geïnspireer, en alles wat daarin staan, kan vir ons nuttig wees (2 Timoteus 3:16). Die Bybel bevat tientalle voorbeelde van persone wat werklik gelewe het en hulle wilsvryheid gebruik het om te besluit of hulle na Jehovah se stem wou luister of nie. Hierdie voorbeelde laat ons die redes onthou waarom dit noodsaaklik is om te luister na wat die gees van God sê (1 Korintiërs 10:11). Die Bybel bevat ook praktiese wysheid en gee ons raad wat ons kan toepas wanneer ons besluite in die lewe moet neem. Dit is asof God agter ons staan en die woorde in ons ore sê: “Dit is die weg, wandel daarop.”

6. Waarom is die Bybel ver verhewe bo alle ander geskrifte?

6 As ons wil hoor wat die gees deur die bladsye van die Bybel sê, moet ons dit gereeld lees. Die Bybel is nie net ’n boek wat goed geskryf en gewild is, een van baie boeke wat vandag beskikbaar is nie. Die Bybel is deur God se gees geïnspireer en bevat sy gedagtes. Hebreërs 4:12 sê: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelinge van die hart onderskei.” Terwyl ons die Bybel lees, dring die inhoud daarvan soos ’n swaard deur tot ons diepste gedagtes en beweegredes en openbaar dit die mate waarin ons in ooreenstemming met God se wil lewe.

7. Waarom is dit noodsaaklik om die Bybel te lees, en hoe dikwels moet ons dit doen?

7 Die “gedagtes en bedoelinge van die hart” kan verander met verloop van tyd en deur die uitwerking wat ons lewensondervindinge op ons het—hetsy dit aangename of moeilike ondervindinge is. As ons die Woord van God nie voortdurend bestudeer nie, sal ons gedagtes, gesindhede en emosies nie meer in ooreenstemming met Goddelike beginsels wees nie. Daarom spoor die Bybel ons aan: “Toets voortdurend of julle in die geloof is, stel julleself voortdurend op die proef” (2 Korintiërs 13:5). As ons wil voortgaan om te hoor wat die gees sê, moet ons die raad toepas om God se Woord daagliks te lees.—Psalm 1:2.

8. Watter woorde van die apostel Paulus help ons om onsself te ondersoek wat ons Bybellees betref?

8 ’n Belangrike herinnering vir Bybellesers is: Laat genoeg tyd toe om in te neem wat jy lees! Ons wil nie vinnig deur ’n hele paar hoofstukke lees sonder om die sin daarvan te begryp, net omdat ons graag die raad wil toepas om die Bybel elke dag te lees nie. Hoewel dit noodsaaklik is dat ons die Bybel gereeld lees, moet ons enigste beweegrede nie wees om by die rooster te bly nie; ons moet ’n opregte begeerte hê om van Jehovah en sy voornemens te leer. In dié verband kan ons gerus hierdie woorde van die apostel Paulus gebruik om onsself te ondersoek. Hy het aan mede-Christene geskryf en gesê: ‘Ek buig my knieë voor die Vader, dat hy aan julle sal gee dat die Christus deur julle geloof in julle harte kan woon met liefde; dat julle gewortel kan wees en gegrond op die fondament, sodat julle heeltemal in staat kan wees om saam met al die heiliges verstandelik te begryp wat die breedte en lengte en hoogte en diepte is, en om die liefde van die Christus te ken, wat kennis oortref, sodat julle vervul kan word met al die volheid wat God gee.’—Efesiërs 3:14, 16-19.

9. Hoe kan ons ons begeerte om van Jehovah te leer, ontwikkel en verinnig?

9 Party van ons is weliswaar van nature nie lief vir lees nie, terwyl ander ywerige lesers is. Maar ongeag wat ons geaardheid is, ons kan ons begeerte om van Jehovah te leer, ontwikkel en verinnig. Die apostel Petrus het verduidelik dat ons ’n verlange na Bybelkennis moet hê, en hy het erken dat so ’n begeerte dalk aangekweek moet word. Hy het geskryf: “Ontwikkel soos pasgebore kindertjies ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort, sodat julle daardeur tot redding kan groei” (1 Petrus 2:2). Selfdissipline is noodsaaklik as ons “’n verlange” na Bybelstudie wil “ontwikkel”. Net soos ons ’n liefde vir ’n nuwe kossoort kan ontwikkel nadat ons dit ’n paar keer geëet het, kan ons gesindheid teenoor lees en studie ten goede verander as ons ons dissiplineer om ’n gereelde roetine te volg.

“Voedsel op die regte tyd”

10. Wie vorm “die getroue en verstandige slaaf”, en hoe gebruik Jehovah hulle vandag?

10 Nog ’n kanaal wat Jehovah gebruik om vandag met ons te kommunikeer, word in Matteus 24:45-47 deur Jesus geïdentifiseer. Daar het hy van die geesgesalfde Christengemeente gepraat—“die getroue en verstandige slaaf” wat aangestel is om geestelike “voedsel op die regte tyd” te voorsien. As individue is die lede van hierdie klas Jesus se “huisknegte”. Hulle, tesame met “’n groot skare” “ander skape”, kry aanmoediging en leiding (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Hierdie voedsel op die regte tyd kom grotendeels in die vorm van gedrukte publikasies, soos Die Wagtoring, die Ontwaak! en ander publikasies. Bykomende geestelike voedsel word in die vorm van toesprake en demonstrasies by streek- en kringbyeenkomste sowel as gemeentelike vergaderinge gegee.

11. Hoe toon ons dat ons ontvanklik is vir wat die gees deur “die getroue en verstandige slaaf” sê?

11 Die inligting wat deur die “getroue en verstandige slaaf” voorsien word, is bedoel om ons geloof te versterk en ons waarnemingsvermoëns te oefen (Hebreërs 5:14). Dit kan algemene raad wees wat elkeen van ons persoonlik kan toepas. Van tyd tot tyd ontvang ons ook raad wat met spesifieke aspekte van ons gedrag te doen het. Watter gesindheid moet ons hê as ons werklik luister na wat die gees deur die slaafklas sê? Die apostel Paulus antwoord: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig” (Hebreërs 13:17). Almal wat by hierdie reëling betrokke is, is weliswaar onvolmaakte manne. En tog behaag dit Jehovah om sy menseknegte, hoewel onvolmaak, te gebruik om ons in hierdie tyd van die einde te lei.

Deur ons gewete gelei

12, 13. (a) Watter ander bron van leiding het Jehovah ons gegee? (b) Watter positiewe invloed kan die gewete selfs hê op mense wat nie ’n juiste kennis van God se Woord het nie?

12 Jehovah het ons nog ’n bron van leiding gegee—ons gewete. Hy het die mens met ’n innerlike sin vir reg en verkeerd geskep. Dit is deel van ons natuur. Die apostel Paulus het in sy brief aan die Romeine verduidelik: “Telkens as mense van die nasies wat geen wet het nie van nature die dinge van die wet doen, is hierdie mense, al het hulle geen wet nie, ’n wet vir hulleself. Dit is húlle wat toon dat die wese van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam met hulle getuig en hulle, tussen hulle eie gedagtes, beskuldig of selfs verontskuldig word.”—Romeine 2:14, 15.

13 Baie mense wat Jehovah nie ken nie, kan in sekere mate hulle gedagtes en gedrag in ooreenstemming met Goddelike beginsels van reg en verkeerd bring. Dit is asof hulle ’n stemmetjie in hulle binneste hoor wat hulle in die regte rigting lei. As dit die geval kan wees met diegene wat nie ’n juiste kennis van God se Woord het nie, hoeveel te meer moet ware Christene daardie stemmetjie hoor! ’n Christelike gewete wat deur ’n juiste kennis van God se Woord gelouter is en in ooreenstemming met Jehovah se heilige gees werk, kan gewis betroubare leiding gee.—Romeine 9:1.

14. Hoe kan ’n Bybelopgeleide gewete ons help om die leiding van Jehovah se gees te volg?

14 ’n Goeie, Bybelopgeleide gewete kan ons herinner aan die manier waarop die gees wil hê ons moet wandel. Soms is daar geen spesifieke riglyne in die Bybel en in ons Bybelpublikasies oor ’n bepaalde situasie waarin ons ons dalk bevind nie. En tog waarsku ons gewete ons dalk teen ’n potensieel skadelike weg. As ons in sulke gevalle die stem van ons gewete ignoreer, kan dit in werklikheid beteken dat ons ignoreer wat Jehovah se gees sê. As ons daarenteen leer om op ons opgeleide Christelike gewete te vertrou, kan ons goeie besluite neem selfs wanneer daar geen spesifieke geskrewe riglyne is nie. Maar as daar geen Goddelike beginsel, riglyn of wet is nie, moet ons onthou dat dit verkeerd sou wees om ons gewete op mede-Christene af te dwing in kwessies wat ’n persoonlike saak is.—Romeine 14:1-4; Galasiërs 6:5.

15, 16. Wat kan maak dat ons gewete nie behoorlik funksioneer nie, en hoe kan ons voorkom dat dit gebeur?

15 ’n Skoon, Bybelopgeleide gewete is ’n goeie gawe van God (Jakobus 1:17). Maar ons moet hierdie gawe teen verderflike invloede beskerm sodat dit behoorlik kan funksioneer as ’n sedelike veiligheidsmiddel. As ons plaaslike gebruike, tradisies en gewoontes volg wat in stryd met God se standaarde is, kan dit veroorsaak dat ons gewete nie behoorlik funksioneer en ons nie in die regte rigting lei nie. Ons sal sake dalk nie reg kan beoordeel nie en kan ons selfs wysmaak dat ’n slegte daad in werklikheid goed is.—Vergelyk Johannes 16:2.

16 As ons aanhou om die waarskuwings van ons gewete te ignoreer, sal daardie stemmetjie al hoe sagter word totdat ons sedelik ongevoelig is. Die psalmis het van sulke mense gepraat toe hy gesê het: “Hulle hart is ongevoelig soos vet” (Psalm 119:70). Party wat die stem van hulle gewete ignoreer, kan later nie meer reg redeneer nie. Hulle word nie meer deur godvrugtige beginsels gelei nie en kan nie regte besluite neem nie. Om hierdie situasie te vermy, moet ons gevoelig wees vir die leiding van ons Christelike gewete selfs wanneer dit na ’n nietige saak lyk.—Lukas 16:10.

Gelukkig is dié wat luister en gehoorsaam is

17. Hoe sal ons geseën word namate ons na ‘die woord agter ons’ luister en op ons Bybelopgeleide gewete ag slaan?

17 Namate ons ’n gewoonte daarvan maak om te luister na ‘die woord agter ons’—soos dit deur die Skrif en die getroue en verstandige slaaf voorsien word—en namate ons ag slaan op die herinneringe van ons Bybelopgeleide gewete, sal Jehovah ons met sy gees seën. Die heilige gees sal dan ons vermoë verbeter om dit wat Jehovah vir ons sê in te neem en te verstaan.

18, 19. Hoe kan ons in ons bediening sowel as in ons persoonlike lewe by Jehovah se leiding baat vind?

18 Jehovah se gees sal ons ook versterk om moeilike situasies met wysheid en moed die hoof te bied. Soos in die geval van die apostels, kan God se gees ons verstandelike vermoëns aanwakker en ons help om altyd dinge te sê en te doen wat in ooreenstemming met Bybelbeginsels is (Matteus 10:18-20; Johannes 14:26; Handelinge 4:5-8, 13, 31; 15:28). Jehovah se gees tesame met ons eie pogings sal ons help om suksesvol te wees wanneer ons belangrike besluite in die lewe neem, en dit sal ons die moed gee om daardie besluite deur te voer. Dalk oorweeg jy dit byvoorbeeld om jou lewenstyl te verander sodat jy meer tyd aan geestelike dinge kan wy. Of jy moet moontlik ’n belangrike besluit neem wat jou lewe sal verander, soos om ’n huweliksmaat te kies, ’n werksaanbod te oorweeg of ’n huis te koop. Ons sal nie toelaat dat ons menslike emosies ons geheel en al lei in ons besluite nie, maar ons moet eerder luister na wat God se gees sê en in ooreenstemming met die leiding daarvan optree.

19 Ons waardeer werklik die vriendelike herinneringe en die raad wat ons ontvang van ons mede-Christene, insluitende die ouer manne. Maar ons hoef nie altyd te wag totdat ander iets onder ons aandag bring nie. As ons weet wat die verstandige weg is om te volg en watter aanpassings ons in ons gesindheid en gedrag moet maak sodat ons God kan behaag, moet ons handelend optree. Jesus het gesê: “As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen.”—Johannes 13:17.

20. Watter seën geniet diegene wat na ‘die woord agter hulle’ luister?

20 Dit is duidelik dat Christene nie ’n letterlike stem uit die hemel hoef te hoor of ’n besoek van ’n engel hoef te ontvang as hulle wil weet hoe hulle God kan behaag nie. Hulle is geseën met God se geskrewe Woord en liefdevolle leiding deur sy gesalfde klas op aarde. As hulle noukeurig ag slaan op hierdie ‘woord agter hulle’ en die leiding van hulle Bybelopgeleide gewete volg, sal hulle God se wil kan doen. Dan sal hulle beslis sien hoe die apostel Johannes se belofte vervul word: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.

’n Kort hersiening

• Waarom kommunikeer Jehovah met sy menseskepping?

• Hoe kan ons by ’n program van gereelde Bybellees baat vind?

• Hoe moet ons op riglyne van die slaafklas af reageer?

• Waarom moet ons nie die stem van ’n Bybelopgeleide gewete ignoreer nie?

[Prent op bladsy 13]

Mense het nie gesofistikeerde toerusting nodig om boodskappe van God af te ontvang nie

[Erkenning]

Met vergunning van: Arecibo Observatory/David Parker/Science Photo Library

[Prent op bladsy 15]

Jehovah praat met ons deur die Bybel en deur middel van “die getroue en verstandige slaaf”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel