“Die woord van God . . . oefen krag uit”
1 “Die woord van God is lewend en oefen krag uit”, het die apostel Paulus geskryf (Heb. 4:12). Wat het hy hiermee bedoel? God se woord, of boodskap, wat ons in die Bybel vind, kan ’n sterk invloed op mense hê. Die wysheid wat die Bybel bevat, het die krag om ’n mens se lewe ten goede te verander. Die vertroosting en hoop wat dit bied, trek mense na die Lewegewer, Jehovah God. Die boodskap daarin kan opregtes van hart op die weg na die ewige lewe plaas. Maar as ons wil sien hoe dit gebeur, moet ons die Bybel gebruik wanneer ons vir ander getuig.
2 Lees ’n teks by elke geleentheid: Dit wil voorkom asof baie verkondigers nie meer in die gewoonte is om die Bybel by die deur te gebruik nie. Is dit met jou die geval? Omdat baie mense blykbaar nie die tyd het vir ’n lang bespreking nie, het jy dalk in die gewoonte gekom om net lektuur aan te bied of bloot ’n gedeelte van ’n teks aan te haal. Ons wil alle verkondigers aanmoedig om ’n punt daarvan te maak om ten minste een teks uit die Bybel te lees wanneer hulle die goeie nuus verkondig, en sodoende vir mense te wys dat ons boodskap inderdaad uit God se Woord kom.
3 Hoewel min mense die Bybel gereeld lees, respekteer baie mense dit nog. Selfs besige mense sal dikwels ’n minuut of twee afknyp om na ’n boodskap te luister wat direk uit God se Woord gelees word. Wanneer jy ’n gepaste teks met gevoel lees en dit kortliks verduidelik, kan die krag van Jehovah se woord ’n goeie uitwerking op diegene hê wat na jou luister. Maar hoe kan jy van jou inleidingskommentaar na die Bybel oorgaan en ’n teks lees?
4 Probeer die volgende in tydskrifwerk: ’n Reisende opsiener maak goed gebruik van die Skrif wanneer hy aan die tydskrifwerk deelneem. Hy dra ’n klein Bybeltjie in sy sak. Nadat hy die tydskrif aangebied en kortliks na ’n artikel verwys het, maak hy sonder om te aarsel die Bybel oop en lees hy ’n teks wat by die artikel aansluit. Dit kan gedoen word deur bloot te vra: “Wat dink jy van hierdie bemoedigende belofte?” en dan ’n gekose teks te lees.
5 Stel jou dit ten doel om vir elkeen wat na jou luister ’n teks of twee uit die Bybel te lees. Die krag wat dit het om mense te motiveer, kan die weg baan dat meer mense na God getrek word.—Joh. 6:44.