Laat ons die soort wees wat geloof het
“Ons is . . . die soort wat geloof het tot die behoud van die siel.”—HEBREËRS 10:39.
1. Waarom kan daar gesê word dat die geloof van elke lojale kneg van Jehovah kosbaar is?
WANNEER jy weer in ’n Koninkryksaal vol aanbidders van Jehovah sit, kyk ’n bietjie na diegene om jou. Dink aan al die maniere waarop hulle hulle geloof openbaar. Jy sien dalk bejaardes wat God al dekades lank dien, jongmense wat daagliks portuurdwang weerstaan en ouers wat hard werk om godvresende kinders groot te maak. Daar is gemeentelike ouer manne en bedieningsknegte wat baie verantwoordelikhede dra. Ja, jy sien moontlik geestelike broers en susters van alle ouderdomme wat allerhande struikelblokke oorkom om Jehovah te dien. Hoe kosbaar is die geloof van elkeen tog!—1 Petrus 1:7.
2. Waarom is Paulus se raad in Hebreërs hoofstukke 10 en 11 vandag vir ons nuttig?
2 Daar is seker min, indien enige, onvolmaakte mense wat die belangrikheid van geloof beter as die apostel Paulus verstaan het. Trouens, hy het gesê dat ware geloof tot “die behoud van die siel” lei (Hebreërs 10:39). Paulus het egter geweet dat geloof aan aanvalle en verwering in hierdie ongelowige wêreld onderworpe is. Hy was diep besorg oor die Hebreeuse Christene in Jerusalem en Judea wat hard probeer het om hulle geloof te bewaar. Terwyl ons dele van Hebreërs hoofstukke 10 en 11 ondersoek, kom ons kyk na die metodes wat Paulus gebruik het om hulle geloof op te bou. Ons sal dan terselfdertyd sien hoe ons sterker geloof in onsself en in diegene om ons kan bou.
Openbaar vertroue in mekaar
3. Hoe toon Paulus se woorde in Hebreërs 10:39 dat hy vertroue in sy broers en susters in die geloof gehad het?
3 Ons merk heel eerste Paulus se positiewe gesindheid teenoor sy gehoor op. Hy het geskryf: “Ons is dan nou nie die soort wat terugdeins tot vernietiging nie, maar die soort wat geloof het tot die behoud van die siel” (Hebreërs 10:39). Paulus het ’n hoë dunk van sy getroue mede-Christene gehad, nie ’n slegte dunk nie. Let ook op dat hy die uitdrukking “ons” gebruik het. Paulus was ’n regverdige man. Maar hy het hom nie bo sy gehoor verhef asof hy op ’n baie hoër vlak van regverdigheid as hulle was nie. (Vergelyk Prediker 7:16.) Hy het hom eerder saam met hulle getel. Hy het opregte vertroue uitgespreek dat hy en sy getroue Christenlesers almal die geweldige struikelblokke in hulle weg sou oorkom, dat hulle moedig sou weier om terug te deins tot vernietiging en dat hulle die soort sou wees wat geloof het.
4. Om watter redes het Paulus vertroue in sy medegelowiges gehad?
4 Hoe kon Paulus sulke vertroue gehad het? Was hy blind vir die foute van die Hebreeuse Christene? Inteendeel, hy het hulle spesifieke raad gegee wat hulle kon help om hulle geestelike tekortkominge te oorkom (Hebreërs 3:12; 5:12-14; 6:4-6; 10:26, 27; 12:5). Paulus het nietemin ten minste twee goeie redes vir vertroue in sy broers gehad. (1) As ’n navolger van Jehovah het Paulus God se volk probeer sien soos Jehovah hulle sien. Hy het nie bloot hulle foute raakgesien nie, maar hulle goeie eienskappe en hulle potensiaal om in die toekoms goed te doen (Psalm 130:3; Efesiërs 5:1). (2) Paulus het volkome vertroue in die krag van die heilige gees gehad. Hy het geweet dat geen struikelblok en geen menslike swakheid kan verhinder dat Jehovah “krag wat bo die normale is” aan enige Christen gee wat Hom getrou probeer dien nie (2 Korintiërs 4:7; Filippense 4:13). Paulus se vertroue in sy broers en susters was dus nie misplaas, onrealisties of blindweg optimisties nie. Dit was stewig gegrond en op die Skrif gebaseer.
5. Hoe kan ons Paulus se geloof navolg, en wat sal heel waarskynlik die resultaat wees?
5 Die vertroue wat Paulus geopenbaar het, was ongetwyfeld aansteeklik. Dit moes beslis baie beteken het vir die gemeentes in Jerusalem en Judea om te hoor hoe aanmoedigend Paulus met hulle praat. Te midde van die vernietigende smaad en hoogmoedige onverskilligheid van hulle Joodse teenstanders is die Hebreeuse Christene deur sulke uitdrukkings gehelp om hulle in hulle hart voor te neem om die soort te wees wat geloof het. Kan ons vandag dieselfde vir mekaar doen? Dit is só maklik om net ’n lang lys foute en eienaardighede in ander te sien (Matteus 7:1-5). Maar ons kan mekaar baie meer help as ons kyk na die unieke geloof wat elkeen het en dit waardeer. Met sulke aansporing sal geloof heel waarskynlik toeneem.—Romeine 1:11, 12.
Gepaste gebruik van God se Woord
6. Vir wie het Paulus aangehaal toe hy die woorde in Hebreërs 10:38 opgeteken het?
6 Paulus het ook deur sy vaardige gebruik van die Skrif geloof in sy medegelowiges opgebou. Hy het byvoorbeeld geskryf: “‘Maar my regverdige sal weens geloof lewe’, en ‘as hy terugdeins, het my siel geen behae in hom nie’” (Hebreërs 10:38). Paulus het hier die profeet Habakuk aangehaal.a Paulus se lesers, Hebreeuse Christene wat goed vertroud was met die profetiese boeke, het waarskynlik hierdie woorde geken. As ’n mens sy doelwit in gedagte hou—om die geloof van Christene in en om Jerusalem omstreeks 61 G.J. te versterk—was die voorbeeld van Habakuk ’n goeie keuse. Waarom?
7. Wanneer het Habakuk sy profesie opgeteken, en hoe was die toestande in Juda op daardie tydstip?
7 Habakuk het klaarblyklik sy boek net bietjie meer as twee dekades voor die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. geskryf. Die profeet het in ’n visioen die Galdeërs (of Babiloniërs) gesien, ’n “kwaai en onstuimige nasie”, wat Juda skielik aanval, Jerusalem vernietig en volke en nasies in sy pad uitwis (Habakuk 1:5-11). Maar so ’n rampspoed is al sedert Jesaja se dag voorspel, meer as ’n eeu tevore. In Habakuk se tyd het Jojakim die goeie koning Josia as koning opgevolg, en goddeloosheid het weer eens in Juda gedy. Jojakim het diegene wat in Jehovah se naam gespreek het, vervolg en selfs vermoor (2 Kronieke 36:5; Jeremia 22:17; 26:20-24). Dit is geen wonder nie dat die ontstelde profeet Habakuk uitgeroep het: “Hoe lank, o HERE?”—Habakuk 1:2.
8. Waarom sou Habakuk se voorbeeld nuttig wees vir eerste-eeuse Christene en vir dié wat vandag lewe?
8 Habakuk het nie geweet hoe naby die vernietiging van Jerusalem was nie. Net so ook het die eerste-eeuse Christene nie geweet wanneer die Joodse stelsel van dinge sou eindig nie. En vandag weet ons ook nie op watter “dag en uur” Jehovah se oordeel teen hierdie goddelose stelsel voltrek sal word nie (Matteus 24:36). Kom ons kyk dus wat Jehovah se tweevoudige antwoord aan Habakuk is. Eerstens verseker hy die profeet dat die einde presies op die regte tyd sal kom. “Dit sal nie laat wees nie”, het God gesê, al lyk dit dalk uit ’n menslike oogpunt of dit talm (Habakuk 2:3, NW). Tweedens het Jehovah Habakuk hieraan herinner: “Wat die regverdige betref, deur sy getrouheid sal hy bly lewe” (Habakuk 2:4, NW). Watter pragtige, eenvoudige waarhede! Die hoofsaak is nie wanneer die einde sal kom nie, maar of ons sal aanhou om ’n lewe van geloof te lei.
9. In watter sin het gehoorsame knegte van Jehovah weens hulle getrouheid bly lewe (a) in 607 v.G.J.? (b) ná 66 G.J.? (c) Waarom is dit uiters belangrik dat ons ons geloof versterk?
9 Toe Jerusalem in 607 v.G.J. verwoes is, het Jeremia, sy sekretaris Barug, Ebed-Meleg en die lojale Regabiete gesien dat Jehovah se belofte aan Habakuk waar was. Hulle het “bly lewe” in die sin dat hulle behoue gebly het deur die verskriklike vernietiging van Jerusalem heen. Waarom? Jehovah het hulle getrouheid beloon (Jeremia 35:1-19; 39:15-18; 43:4-7; 45:1-5). Die eerste-eeuse Hebreeuse Christene het seker ook goed gereageer op Paulus se raad, want toe die Romeinse leërs Jerusalem in 66 G.J. aangeval en toe om onverklaarbare redes teruggetrek het, het daardie Christene Jesus se waarskuwing om te vlug getrou gehoorsaam (Lukas 21:20, 21). Hulle het weens hulle getrouheid bly lewe. Ons sal ook bly lewe as ons getrou bevind word wanneer die einde kom. Wat ’n uiters belangrike rede om ons geloof nou te versterk!
Laat voorbeelde van geloof vir jou lewe
10. Hoe het Paulus Moses se geloof beskryf, en hoe kan ons Moses in hierdie opsig navolg?
10 Paulus het ook geloof opgebou deur die kragtige gebruik van voorbeelde. Terwyl jy Hebreërs hoofstuk 11 lees, let op hoe hy die voorbeelde van Bybelkarakters laat lewe. Hy sê byvoorbeeld dat Moses “standvastig gebly [het] asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:27). Met ander woorde, Jehovah was vir Moses so werklik dat dit was asof hy die onsigbare God kon sien. Kan dieselfde van ons gesê word? Dit is maklik om van ’n verhouding met Jehovah te praat, maar dit vereis inspanning om daardie verhouding op te bou en te versterk. Dit is inspanning wat beslis nodig is! Is Jehovah vir ons so ’n werklike persoon dat ons hom in ag neem wanneer ons besluite neem, insluitende oënskynlik nietige besluite? Daardie soort geloof sal ons help om selfs die hewigste teenstand die hoof te bied.
11, 12. (a) Onder watter omstandighede is Henog se geloof moontlik op die proef gestel? (b) Watter bemoedigende beloning het Henog ontvang?
11 Dink ook aan die geloof van Henog. Ons kan ons nie voorstel hoeveel teenstand hy ondervind het nie. Henog moes ’n snydende oordeelsboodskap verkondig teen die goddelose mense wat destyds gelewe het (Judas 14, 15). Hierdie getroue man is blykbaar deur sulke verskriklik wrede, gewelddadige vervolging bedreig dat Jehovah “hom weggevoer het”, deur hom uit ’n lewende toestand te neem en in die dood te laat slaap voordat sy vyande die hande aan hom kon slaan. Henog het dus nie gesien hoe die profesie wat hy uitgespreek het, vervul word nie. Maar hy het ’n gawe ontvang wat, in sekere opsigte, selfs beter was.—Hebreërs 11:5; Genesis 5:22-24.
12 Paulus verduidelik: “Voor sy wegvoering het [Henog] die getuienis gehad dat hy vir God welbehaaglik was” (Hebreërs 11:5). Wat het dit beteken? Voordat hy in die dood gaan slaap het, het Henog moontlik die een of ander visioen gehad, dalk van die aardse Paradys waarin hy binnekort opgewek sal word. Hoe dit ook al sy, Jehovah het aan Henog geopenbaar dat sy getroue lewenswandel vir Jehovah welbehaaglik was. Henog het Jehovah se hart verbly. (Vergelyk Spreuke 27:11.) Word ons nie diep getref as ons nadink oor Henog se lewe nie? Wil jy graag so ’n lewe van geloof lei? Dan moet jy oor sulke voorbeelde peins; dink aan hulle as werklike persone. Wees vasbeslote om dag na dag deur geloof te lewe. Onthou ook dat diegene wat geloof het Jehovah nie dien met ’n sekere dag of datum in gedagte wanneer God al sy beloftes sal vervul nie. Ons is eerder vasbeslote om Jehovah vir ewig te dien! Dit is die beste lewensweg in hierdie stelsel van dinge asook in die volgende.
Hoe om sterker in die geloof te word
13, 14. (a) Hoe kan Paulus se woorde in Hebreërs 10:24, 25 ons help om ons vergaderinge vreugdevolle geleenthede te maak? (b) Wat is die hoofrede vir Christelike vergaderinge?
13 Paulus het vir die Hebreeuse Christene ’n paar praktiese maniere gegee waarop hulle hulle geloof kon versterk. Kom ons kyk na net twee daarvan. Ons is waarskynlik vertroud met sy aansporing in Hebreërs 10:24, 25 om gereeld ons Christelike vergaderinge by te woon. Hou egter in gedagte dat hierdie geïnspireerde woorde van Paulus nie impliseer dat ons bloot passiewe toehoorders by sulke vergaderinge moet wees nie. Paulus het eerder vergaderinge beskryf as geleenthede om mekaar te leer ken, om mekaar aan te spoor om God yweriger te dien en om mekaar aan te moedig. Ons is daar om te gee, nie net om te ontvang nie. Dit help om ons vergaderinge vreugdevolle geleenthede te maak.—Handelinge 20:35.
14 Maar ons woon Christelike vergaderinge hoofsaaklik by om Jehovah God te aanbid. Ons doen dit deur saam te bid en te sing, deur aandagtig te luister en deur “die vrug van die lippe”—lofbetuigings aan Jehovah deur ons kommentare en vergaderingdele—aan te bied (Hebreërs 13:15). As ons hierdie doelwitte in gedagte hou en by elke vergadering daarvolgens optree, sal ons geloof ongetwyfeld elke keer opgebou word.
15. Waarom het Paulus die Hebreeuse Christene aangespoor om aan hulle bediening vas te hou, en waarom is dieselfde raad vandag gepas?
15 Nog ’n manier waarop ons ons geloof opbou, is deur die predikingswerk. Paulus het geskryf: “Laat ons die openbare bekendmaking van ons hoop vashou sonder om te wankel, want hy wat beloof het, is getrou” (Hebreërs 10:23). As jy sien dat ander gevaar loop om tou op te gooi, sal jy hulle waarskynlik aanspoor om vas te hou. Satan het beslis druk op daardie Hebreeuse Christene uitgeoefen om in hulle bediening tou op te gooi, en hy oefen vandag ook druk op God se volk uit. Wat moet ons te midde van sulke druk doen? Dink aan wat Paulus gedoen het.
16, 17. (a) Hoe het Paulus vrymoedigheid vir die bediening verkry? (b) Watter stappe moet ons doen as ons skrikkerig voel om aan ’n sekere aspek van ons Christelike bediening deel te neem?
16 Paulus het aan die Christene in Tessalonika geskryf: “Nadat ons (soos julle weet) eers gely het en smadelik behandel is in Filippi, [het ons] deur middel van ons God die vrymoedigheid bymekaargeskraap . . . om met groot worsteling die goeie nuus van God tot julle te spreek” (1 Tessalonisense 2:2). Hoe is Paulus en sy metgeselle in Filippi “smadelik behandel”? Volgens party geleerdes beteken die Griekse woord wat Paulus gebruik het minagtende, skandelike of wrede behandeling. Die owerheid in Filippi het hulle met stokke geslaan, hulle in die gevangenis gegooi en hulle voete in die blok vasgemaak (Handelinge 16:16-24). Watter uitwerking het daardie verskriklike ondervinding op Paulus gehad? Het dit vir persone in die volgende stad op sy sendingreis, Tessalonika, gelyk of Paulus teruggedeins het uit vrees? Nee, hy het “vrymoedigheid bymekaargeskraap”. Hy het vrees oorwin en voortgegaan om moedig te getuig.
17 Waar het Paulus sy vrymoedigheid gekry? Uit homself? Nee, hy het gesê dat hy vrymoedigheid bymekaargeskraap het “deur middel van ons God”. ’n Naslaanwerk vir Bybelvertalers sê dat hierdie stelling vertaal kan word met “God het vrees uit ons hart verwyder”. As jy dus nie juis moedig voel wat jou bediening betref nie, of as die een of ander aspek daarvan vir jou skrikwekkend lyk, kan jy Jehovah in gebed smeek om dieselfde vir jou te doen. Vra hom om die vrees uit jou hart te verwyder. Vra hom om jou te help om vrymoedigheid vir die werk bymekaar te skraap. En doen ook ander praktiese stappe. Reël byvoorbeeld om saam met iemand te werk wat bedrewe is in die aspek van die getuieniswerk wat jy moeilik vind. Dit is dalk sakegebied, straatgetuieniswerk, informele of telefoongetuieniswerk. Jou maat sal moontlik bereid wees om aan die begin die leiding te neem. Indien wel, kyk en leer. Maar skraap dan die vrymoedigheid bymekaar om dit self te probeer.
18. Watter seëninge kan ons geniet as ons die vrymoedigheid bymekaarskraap in ons bediening?
18 Dink aan wat die resultaat kan wees as jy wel die vrymoedigheid bymekaarskraap. As jy volhard en nie toelaat dat jy ontmoedig word nie, sal jy heel waarskynlik goeie ondervindinge hê terwyl jy die waarheid aan ander meedeel, ondervindinge wat jy andersins dalk nie sou gehad het nie. (Sien bladsy 25.) Jy sal tevredenheid kan put uit die wete dat jy Jehovah behaag omdat jy iets gedoen het wat vir jou moeilik is. Jy sal sy seën geniet en sy hulp ontvang om jou vrese te oorkom. Jou geloof sal sterker wees. Feit is, jy kan nie ander se geloof opbou sonder om terselfdertyd jou eie geloof op te bou nie.—Judas 20, 21.
19. Watter kosbare beloning wag op diegene wat ‘die soort is wat geloof het’?
19 Mag jy voortgaan om jou geloof sowel as die geloof van diegene om jou te versterk. Jy kan dit doen deur jouself en ander op te bou deur God se Woord op vaardige wyse te gebruik, deur die Bybelvoorbeelde van geloof te bestudeer en dit vir jou te laat lewe, deur vir Christelike vergaderinge voor te berei en daaraan deel te neem en deur vas te hou aan die kosbare voorreg van die openbare bediening. Terwyl jy hierdie dinge doen, kan jy daarvan seker wees dat jy inderdaad van “die soort [is] wat geloof het”. Onthou ook dat diegene wat van hierdie soort is ’n kosbare beloning ontvang. Hulle is “die soort wat geloof het tot die behoud van die siel”.b Mag jou geloof al hoe sterker word, en mag Jehovah God jou laat lewe tot in ewigheid!
[Voetnote]
a Paulus het die Septuagint-vertaling van Habakuk 2:4 aangehaal, wat die frase insluit “as enigiemand terugdeins, het my siel geen behae in hom nie”. Hierdie stelling verskyn nie in een van die bestaande Hebreeuse manuskripte nie. Party beweer dat die Septuagint gebaseer is op vroeër Hebreeuse manuskripte wat nie meer bestaan nie. Hoe dit ook al sy, Paulus is deur God se heilige gees geïnspireer om dit hier in te sluit. Dit het derhalwe God se goedkeuring.
b Die jaarteks van Jehovah se Getuies vir die jaar 2000 sal wees: ‘Ons is nie die soort wat terugdeins nie, maar die soort wat geloof het.’—Hebreërs 10:39.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe het Paulus vertroue in die Hebreeuse Christene geopenbaar, en wat kan ons hieruit leer?
◻ Waarom was Paulus se verwysing na die profeet Habakuk so gepas?
◻ Watter skriftuurlike voorbeelde van geloof het Paulus vir ons laat lewe?
◻ Watter praktiese maniere om ons geloof op te bou, het Paulus aanbeveel?
[Prent op bladsy 23]
Ná Paulus se verskriklike ondervinding in Filippi, het hy die vrymoedigheid bymekaargeskraap om aan te hou getuig
[Prente op bladsy 24]
Kan jy die vrymoedigheid bymekaarskraap om verskillende aspekte van die getuieniswerk te probeer?