Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 4/1 bl. 15-20
  • Spoor aan tot liefde en voortreflike werke—Hoe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Spoor aan tot liefde en voortreflike werke—Hoe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Gee ag op mekaar’
  • ‘Spoor mekaar aan’
  • ‘Moedig mekaar aan’
  • Laat ons op mekaar ag gee en mekaar aanmoedig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Moedig mekaar al hoe meer aan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Hou aan om mekaar elke dag aan te moedig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Vertroosting en aanmoediging—juwele met baie fasette
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 4/1 bl. 15-20

Spoor aan tot liefde en voortreflike werke—Hoe?

“Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en . . . mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”—HEBREËRS 10:24, 25.

1, 2. (a) Waarom was dit belangrik dat die vroeë Christene vertroosting en aanmoediging uit hulle onderlinge vergaderinge verkry het? (b) Watter raad van Paulus bespreek hoe belangrik dit is om te vergader?

HULLE het in die geheim ontmoet, almal saam agter geslote deure. Buite het gevaar oral gedreig. Hulle Leier, Jesus, is pas in die openbaar tereggestel, en hy het sy volgelinge gewaarsku dat hulle geensins beter as hy behandel sou word nie (Johannes 15:20; 20:19). Maar terwyl hulle met gedempte stemme oor hulle geliefde Jesus gepraat het, moes die feit dat hulle bymekaar was hulle ten minste veiliger laat voel het.

2 Met verloop van jare het Christene voor allerhande beproewinge en vervolging te staan gekom. Soos daardie eerste dissipels het hulle vertroosting en aanmoediging uit hulle onderlinge vergaderinge geput. Die apostel Paulus het dus in Hebreërs 10:24, 25 geskryf: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

3. Waarom sou jy sê dat Hebreërs 10:24, 25 meer as net ’n bevel is dat Christene moet vergader?

3 Daardie woorde is veel meer as ’n bevel dat hulle moet aanhou om saam te vergader. Dit stel ’n Goddelik geïnspireerde standaard vir alle Christelike vergaderinge—en in werklikheid vir enige geleentheid wanneer Christene met mekaar assosieer. Vandag, terwyl ons Jehovah se dag duidelik sien nader kom, maak die druk en gevare van hierdie goddelose stelsel dit noodsaakliker as ooit tevore dat ons vergaderinge soos ’n veilige hawe moet wees, ’n bron van krag en aanmoediging vir almal. Wat kan ons doen om te verseker dat dit die geval is? Wel, kom ons ondersoek Paulus se woorde noukeurig deur drie belangrike vrae te stel: Wat beteken dit om ‘op mekaar ag te gee’? Wat beteken dit om ‘mekaar tot liefde en voortreflike werke aan te spoor’? Laastens, hoe kan ons “mekaar aanmoedig” in hierdie swaar tye?

‘Gee ag op mekaar’

4. Wat beteken dit om ‘op mekaar ag te gee’?

4 Toe Paulus Christene aangespoor het om ‘op mekaar ag te gee’, het hy die Griekse werkwoord ka·ta·no·eʹo gebruik, ’n intensiewe vorm van die algemene uitdrukking “om waar te neem”. Die Theological Dictionary of the New Testament sê dit beteken “om jou hele verstand op ’n voorwerp te rig”. Volgens W. E. Vine kan dit ook beteken “om ten volle te verstaan, noukeurig te beskou”. Wanneer Christene dan “op mekaar ag gee”, kyk hulle nie net bolangs nie, maar hulle span al hulle verstandelike vermoëns in en probeer om dieper te kyk.—Vergelyk Hebreërs 3:1.

5. Wat is van die aspekte van ’n persoon wat dalk onder die oppervlak lê, en waarom moet ons dit in ag neem?

5 Ons moet onthou dat daar baie meer in iemand steek as wat ’n oppervlakkige kykie na sy of haar voorkoms, dade of persoonlikheid moontlik openbaar (1 Samuel 16:7). Dikwels verberg ’n stil uiterlike diep emosies of ’n heerlike sin vir humor. Dan verskil agtergrond boonop grootliks. Party het al ontsettende beproewings in hulle lewe deurgemaak; ander verduur tans situasies wat ons ons moeilik sou kon indink. Hoe dikwels gebeur dit tog nie dat ons verergdheid oor die een of ander eienaardigheid in ’n broer of suster wegsmelt wanneer ons meer oor die persoon se agtergrond of omstandighede te wete kom nie.—Spreuke 19:11.

6. Wat is van die maniere waarop ons mekaar beter kan leer ken, en watter nut kan dit tot gevolg hê?

6 Dit beteken natuurlik nie dat ons ongenooid ons neus in iemand anders se sake moet steek nie (1 Tessalonisense 4:11). Tog kan ons beslis persoonlike belangstelling in mekaar toon. Dit behels meer as net ’n groet by die Koninkryksaal. Sonder gerus iemand uit wat jy graag beter wil leer ken, en stel jou dit ten doel om ’n paar minute voor of ná die vergadering met hom te gesels. Nog beter, “volg die weg van gasvryheid” deur een of twee vriende oor te nooi vir eenvoudige verversings (Romeine 12:13). Toon belangstelling. Luister. ’n Vraag oor hoe iemand Jehovah leer ken en liefkry het, kan baie openbaar. Jy kan egter nog meer leer deur saam in die huis-tot-huis-bediening te werk. As ons op sulke maniere op mekaar ag gee, sal dit ons help om opregte meegevoel, of empatie, te ontwikkel.—Filippense 2:4; 1 Petrus 3:8.

‘Spoor mekaar aan’

7. (a) Watter uitwerking het Jesus se onderrigting op mense gehad? (b) Wat het sy onderrigting so dinamies gemaak?

7 Wanneer ons op mekaar ag gee, is ons beter voorbereid om mekaar aan te spoor, om mekaar aan te vuur om daadwerklik op te tree. Christen- ouer manne veral speel ’n sleutelrol in hierdie opsig. Ons lees van ’n geleentheid toe Jesus in die openbaar gepreek het: ‘Die uitwerking was dat die skare verstom was oor sy manier van leer’ (Matteus 7:28). By ’n ander geleentheid het selfs ’n paar soldate wat gestuur was om hom in hegtenis te neem, weggegaan en gesê: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie” (Johannes 7:46). Wat het Jesus se onderrigting so dinamies gemaak? ’n Emosionele manier van praat? Nee; Jesus het met waardigheid gespreek. Tog het hy altyd probeer om die harte van sy luisteraars te bereik. Omdat hy op mense ag gegee het, het hy presies geweet hoe om hulle te motiveer. Hy het aanskoulike, eenvoudige illustrasies gebruik wat die werklikhede van die alledaagse lewe weerspieël het (Matteus 13:34). Net so moet diegene wat toewysings by ons vergaderinge behartig Jesus navolg deur dit op ’n hartlike en geesdriftige wyse te doen wat ander motiveer. Soos Jesus kan ons ons daarop toelê om illustrasies te vind wat by ons gehoor pas en wat hulle harte bereik.

8. Hoe het Jesus ander deur sy voorbeeld aangespoor, en hoe kan ons hom in hierdie opsig navolg?

8 In ons diens aan God kan ons almal mekaar deur ons voorbeeld aanspoor. Jesus het beslis sy luisteraars aangespoor. Hy het die werk van die Christelike bediening liefgehad en die bediening verheerlik. Hy het gesê dat dit vir hom soos voedsel is (Johannes 4:34; Romeine 11:13). Sulke geesdrif kan aansteeklik wees. Kan jy op soortgelyke wyse jou vreugde in die bediening toon? Vertel ander in die gemeente van jou goeie ondervindinge, terwyl jy daarop let om nie grootpraterig te klink nie. Wanneer jy ander nooi om saam met jou te werk, moet jy kyk of jy hulle nie kan help om ware genot daaruit te put om met ander oor ons Grootse Skepper, Jehovah, te praat nie.—Spreuke 25:25.

9. (a) Wat is van die metodes om ander aan te spoor wat ons wil vermy, en waarom? (b) Wat moet ons beweeg om van onsself in Jehovah se diens te gee?

9 Wees egter versigtig om ander nie op die verkeerde manier aan te spoor nie. Ons kan hulle byvoorbeeld onbewus laat skuldig voel omdat hulle nie méér doen nie. Ons maak hulle dalk onopsetlik skaam deur hulle ongunstig met ander te vergelyk wat ooglopend bedrywiger is, of ons stel dalk selfs streng vereistes en kraak dié af wat nie daaraan voldoen nie. Enigeen van hierdie metodes beweeg party moontlik ’n rukkie lank om daadwerklik op te tree, maar Paulus het nie geskryf: ‘Spoor mekaar tot ’n skuldgevoel en voortreflike werke aan’ nie. Nee, ons moet mekaar tot liefde aanspoor, dan sal die werke weens ’n goeie beweegrede volg. Niemand moet hoofsaaklik beweeg word deur besorgdheid oor wat ander in die gemeente van hom sal dink as hy nie heeltemal aan verwagtinge voldoen nie.—Vergelyk 2 Korintiërs 9:6, 7.

10. Waarom moet ons onthou dat ons nie die meesters oor ander se geloof is nie?

10 Om mekaar aan te spoor, beteken nie om beheer oor mekaar uit te oefen nie. Ondanks al sy godgegewe gesag het die apostel Paulus die Korintiese gemeente nederig herinner: ‘Ons is nie die meesters oor julle geloof nie’ (2 Korintiërs 1:24). As ons soos hy nederig besef dat dit nie ons werk is om te bepaal hoeveel ander in Jehovah se diens moet doen nie, of hulle gewete vir hulle in ander persoonlike besluite te reguleer nie, sal ons voorkom dat ons “alte regverdig”, vreugdeloos, onbuigsaam, negatief of wettiesgesind word (Prediker 7:16). Sulke eienskappe spoor nie aan nie; hulle onderdruk.

11. Wat het aanleiding gegee tot die bydraes in die dae toe Israel se tabernakel gebou is, en hoe kan dit in ons dag die geval wees?

11 Ons wil hê dat alle pogings in Jehovah se diens in dieselfde gees moet geskied as in eertydse Israel toe bydraes vir die bou van die tabernakel nodig was. Exodus 35:21 lui: “En elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom: hulle het die offergawe van die HERE gebring vir die werk.” Hulle is nie van buite verplig nie, maar van binne, vanuit die hart, beweeg. Trouens, die Hebreeus sê hier letterlik dat “elkeen wie se hart hom opgelig het” sulke gawes gegee het. (Ons kursiveer.) Laat ons dit verder voer en probeer om mekaar se harte op te lig wanneer ons ook al saam is. Jehovah se gees kan die res doen.

‘Moedig mekaar aan’

12. (a) Wat is van die betekenisse van die Griekse woord wat met “aanmoedig” vertaal word? (b) In watter opsig het Job se metgeselle versuim om hom aan te moedig? (c) Waarom moet ons daarteen waak om mekaar te oordeel?

12 Toe Paulus geskryf het dat ons ‘mekaar moet aanmoedig’, het hy ’n vorm van die Griekse woord pa·ra·ka·leʹo gebruik, wat ook kan beteken ‘om te versterk, om te vertroos’. In die Griekse Septuagint-vertaling is hierdie selfde woord in Job 29:25 gebruik waar Job beskryf word as iemand wat die treuriges vertroos. Job het, ironies genoeg, self geen aanmoediging ontvang toe hý swaar beproewing ondergaan het nie. Sy drie “vertroosters” was só besig om hom te oordeel en vir hom preke af te steek dat hulle hom nie kon verstaan of meegevoel met hom kon hê nie. Trouens, in al hulle gepraat het hulle Job nie eens een keer op sy naam genoem nie. (Sien daarenteen Job 33:1, 31.) Hy was blykbaar vir hulle ’n probleem meer as wat hy vir hulle ’n individu was. Geen wonder dat Job in frustrasie teenoor hulle uitgeroep het nie: “As julle siel maar was waar my siel is”! (Job 16:4, NW). So ook vandag, as jy iemand wil bemoedig, toon empatie! Moenie oordeel nie. Soos Romeine 14:4 sê: “Wie is jy om ’n ander se huiskneg te oordeel? Hy staan of val ten opsigte van sy eie heer. Trouens, hy sal staande gehou word, want Jehovah kan hom staande hou.”

13, 14. (a) Van watter fundamentele waarheid moet ons ons broers en susters oortuig ten einde hulle te vertroos? (b) Hoe is Daniël deur ’n engel versterk?

13 ’n Vorm van pa·ra·ka·leʹo en sy verwante selfstandige naamwoord word in 2 Tessalonisense 2:16, 17 ook met “troos” en “vertroos” vertaal: “En mag ons Here Jesus Christus self en God, ons Vader, wat ons liefgehad het en deur middel van onverdiende goedhartigheid ewige troos en goeie hoop gegee het, julle harte vertroos en julle standvastig maak in elke goeie daad en woord.” Let daarop dat Paulus die gedagte dat ons hart vertroos word, verbind met die fundamentele waarheid dat Jehovah ons liefhet. Daarom kan ons mekaar aanmoedig en vertroos deur daardie belangrike waarheid te bevestig.

14 By een geleentheid was die profeet Daniël so verontrus nadat hy ’n skrikwekkende gesig gesien het dat hy gesê het: “My eie waardigheid het oor my tot verderf verander, en ek het geen krag oorgehou nie.” Jehovah het ’n engel gestuur wat Daniël verskeie kere daaraan herinner het dat hy ‘geliefd’ in God se oë is. Die gevolg? Daniël het vir die engel gesê: “U het my versterk.”—Daniël 10:8, 11, 19, vgl. NW.

15. Hoe moet ouer manne en reisende opsieners lof met teregwysing balanseer?

15 Hier is dan nog ’n manier om ander aan te moedig. Prys hulle! Dit is so maklik om in ’n kritiese, ongevoelige gees te verval. Daar is weliswaar tye wanneer teregwysing dalk nodig is, veral deur ouer manne en reisende opsieners. Maar dit sal goed wees as hulle eerder vir hulle hartlike aanmoediging onthou word as vir hulle veroordelende gesindheid.

16. (a) Waarom is dit dikwels nie genoeg om diegene wat neerslagtig is, aan te spoor om meer in Jehovah se diens te doen wanneer ons hulle aanmoedig nie? (b) Hoe het Jehovah Elia gehelp toe hy neerslagtig was?

16 Veral diegene wat neerslagtig is, het aanmoediging nodig, en Jehovah verwag van ons as mede-Christene—veral as ons ouer manne is—om ’n bron van hulp te wees (Spreuke 21:13). Wat kan ons doen? Die antwoord is dalk nie so eenvoudig as om vir hulle te sê hulle moet meer in Jehovah se diens doen nie. Waarom nie? Want dit kan impliseer dat hulle neerslagtig is omdat hulle nie genoeg doen nie. Dit is nie gewoonlik die geval nie. Die profeet Elia was op ’n keer so erg neerslagtig dat hy wou doodgaan; tog het dit gebeur op ’n stadium toe hy druk besig was in sy diens aan Jehovah. Hoe het Jehovah teenoor hom opgetree? Hy het ’n engel gestuur om praktiese hulp te voorsien. Elia het sy hart teenoor Jehovah uitgestort en gesê hy voel net so min werd soos sy afgestorwe voorvaders, dat sy werk alles tevergeefs was en dat hy heeltemal alleen is. Jehovah het geluister en hom vertroos met ontsagwekkende vertonings van Sy krag en met die versekering dat hy alles behalwe alleen is en dat die werk wat hy begin het, voltooi sou word. Jehovah het Elia ook ’n metgesel beloof wat hy moes oplei en wat hom uiteindelik sou opvolg.—1 Konings 19:1-21.

17. Hoe kan ’n ouer man iemand aanmoedig wat uitermatig streng met homself is?

17 Hoe aanmoedigend tog! Laat ons op soortgelyke wyse diegene onder ons aanmoedig wat emosioneel verontrus is. Probeer hulle verstaan deur te luister! (Jakobus 1:19). Voorsien skriftuurlike vertroosting wat by hulle individuele behoeftes pas (Spreuke 25:11; 1 Tessalonisense 5:14). Ouer manne kan diegene wat uitermatig streng met hulleself is, aanmoedig deur vriendelik skriftuurlike bewys te lewer dat Jehovah hulle liefhet en waardeer.a ’n Bespreking van die losprys kan ’n kragtige manier wees om diegene aan te moedig wat voel dat hulle niks werd is nie. Iemand wat bedroef is oor ’n vroeëre sonde moet dalk daarop gewys word dat die losprys hom gereinig het as hy waarlik berou het en sy rug op enige sodanige gebruike gekeer het.—Jesaja 1:18.

18. Hoe moet die losprysleer gebruik word om iemand aan te moedig wat ’n slagoffer van iemand anders is, soos in die geval van verkragting?

18 ’n Ouer man sal natuurlik die spesifieke geval deeglik oorweeg sodat hy daardie onderrigting op ’n gepaste wyse kan gebruik. Kom ons neem ’n voorbeeld: Christus se losprysofferande is deur die diereoffers van die Mosaïese Wet voorafgeskadu, wat vir die versoening van alle sonde nodig was (Levitikus 4:27, 28). Daar was egter geen bepaling dat ’n slagoffer van verkragting so ’n sondoffer moes bring nie. Die wet het bepaal dat hulle ‘niks moes doen’ om haar te straf nie (Deuteronomium 22:25-27). Sal dit dus vandag gepas wees om vir ’n suster, as sy aangeval en verkrag is en dit haar vuil en niks werd laat voel, haar behoefte aan die losprys te beklemtoon sodat sy van daardie sonde gereinig kan word? Beslis nie. Sy het nie gesondig deur aangeval te word nie. Dit is die verkragter wat gesondig het en gereinig moet word. Die liefde wat Jehovah en Christus getoon het deur die losprys te voorsien, kan egter gebruik word as bewys dat sy nie in God se oë deur iemand anders se sonde verontreinig is nie, maar dat sy kosbaar vir Jehovah is en in sy liefde bly.—Vergelyk Markus 7:18-23; 1 Johannes 4:16.

19. Waarom moet ons nie verwag dat alle assosiasie met ons broers en susters aanmoedigend sal wees nie, maar wat moet ons ons voorneem?

19 Ja, wat ook al iemand se situasie in die lewe, ongeag watter pynlike omstandighede uit sy verlede hom kwel, hy moet in die gemeente van Jehovah se volk aanmoediging kan vind. En hy sál ook as elkeen van ons op mekaar ag gee, mekaar aanspoor en mekaar aanmoedig wanneer ons ook al met mekaar assosieer. Maar omdat ons onvolmaak is, versuim ons almal soms om dit te doen. Dit is onvermydelik dat ons mekaar nou en dan sal teleurstel en selfs sal seermaak. Probeer om nie in hierdie opsig voortdurend op ander se swakhede ingestel te wees nie. As jy voortdurend op tekortkominge ingestel is, loop jy gevaar om té krities oor die gemeente te raak en moontlik selfs in die einste strik te trap wat Paulus ons so graag wou help vermy, naamlik dat ons ons onderlinge vergaderinge nalaat. Mag dit nooit gebeur nie! Namate hierdie ou stelsel al hoe gevaarliker en onderdrukkender raak, moet ons ons vas voorneem om alles in ons vermoë te doen om ons assosiasie by die vergaderinge opbouend te maak—en dit des te meer namate ons Jehovah se dag sien nader kom!

[Voetnoot]

a ’n Ouer man sal miskien aanmoedigende artikels uit die Wagtoring en Ontwaak! met so ’n individu wil bespreek—byvoorbeeld “Sal jy baat vind by onverdiende goedheid?” en “Wen die stryd teen depressie.”—Die Wagtoring, 15 Februarie en 1 Maart 1990.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Waarom is dit noodsaaklik dat ons vergaderinge en assosiasie in hierdie laaste dae aanmoedigend moet wees?

◻ Wat beteken dit om op mekaar ag te gee?

◻ Wat beteken dit om mekaar aan te spoor?

◻ Wat behels dit om mekaar aan te moedig?

◻ Hoe kan dié wat neerslagtig en mismoedig is, aangemoedig word?

[Prent op bladsy 16]

Gasvryheid help ons om mekaar beter te leer ken

[Prent op bladsy 18]

Toe Elia neerslagtig was, het Jehovah hom goedhartig vertroos

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel