Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 9/15 bl. 20-25
  • Wees gehoorsaam aan diegene wat die leiding neem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees gehoorsaam aan diegene wat die leiding neem
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom moet ons hulle gehoorsaam?
  • Waarom moet ons hulle diens waardeer?
  • Wees gou om raad toe te pas
  • Respekteer hulle selfs in klein dingetjies
  • Hou aan om op liefdevolle toesig te reageer
  • “Hou sulke manne in eer”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • ‘Julle moet respek hê vir dié wat hard onder julle werk’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Hoe die Christengemeente georganiseer word
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Nederige onderdanigheid aan liefdevolle herders
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 9/15 bl. 20-25

Wees gehoorsaam aan diegene wat die leiding neem

“Wees gehoorsaam aan [diegene wat onder julle die leiding neem] en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee.”—HEBREËRS 13:17, vgl. “NW”.

1. Hoe vind ons baat by die werk van Christenopsieners?

JEHOVAH het in hierdie “tyd van die einde” opsieners vir sy organisasie voorsien (Daniël 12:4). Hulle neem die leiding om die “skape” te versorg, en hulle toesig is verkwikkend (Jesaja 32:1, 2). Daarbenewens is liefdevolle toesig deur ouere manne wat God se kudde met teerheid behandel ’n beskerming teen Satan en sy goddelose stelsel van dinge.—Handelinge 20:28-30; 1 Petrus 5:8; 1 Johannes 5:19.

2. Hoe het party die apostel Paulus beskou, maar watter gesindheid teenoor die ouere manne is gepas?

2 Maar hoe beskou jy die ouere manne? Sê jy in jou hart: ‘Ek sal nooit weer na ’n ouere man in hierdie gemeente gaan as ek ’n probleem het nie, want ek het nie vertroue in een van hulle nie’? Oorbeklemtoon jy nie dalk hulle onvolmaakthede as dit jou beskouing is nie? In eertydse Korinthe het party van die apostel Paulus gesê: “Sy briewe is gewigtig en kragtig, maar sy teenwoordigheid in persoon is swak en sy spraak veragtelik.” Nogtans het God Paulus ’n bediening gegee en hom as “’n apostel van die heidene” gebruik (2 Korinthiërs 10:10, NW; Romeine 11:13; 1 Timotheüs 1:12). Hopelik is jou siening dus meer soos dié van die suster wat gesê het: “Ons het die beste liggaam van ouere manne in die wêreld. Hulle was dadelik hier om te help toe dit nodig was.”

Waarom moet ons hulle gehoorsaam?

3. Hoe moet ons Christenonderherders beskou as ons wil hê dat die Here met die gees moet wees wat ons openbaar?

3 Hoe dink jy wil die Groot Herder, Jehovah God, hê dat ons Christenonderherders moet beskou, aangesien hý hulle voorsien het? God verwag ongetwyfeld dat ons die Bybelse leiding volg wat ons deur liefdevolle opsieners onder die toesig van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ontvang. Dan sal ‘die Here met die gees wees wat ons openbaar’ en sal ons vrede geniet en geestelik opgebou word.—2 Timotheüs 4:22, vgl. NW; vergelyk Handelinge 9:31; 15:23-32.

4. Hoe kan ons Hebreërs 13:7 persoonlik toepas?

4 Paulus het gemaan: “Gedenk julle voorgangers [“diegene . . . wat onder julle die leiding neem”, NW] wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na” (Hebreërs 13:7). Onder die vroeë Christene het veral die apostels die leiding geneem. Vandag sien ons hoe die lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, ander gesalfde opsieners en manne van die “groot menigte” die leiding onder ons neem (Openbaring 7:9). Hoewel ons nie aangespoor word om hulle manier van praat, houding of ander menslike eienskappe na te volg nie, behoort ons ons lewenswandel suksesvol te kan maak as ons hulle geloof navolg.

5. Aan wie is die hoofverantwoordelikheid toevertrou om vandag hier op aarde na die Christengemeente om te sien, en wat verdien hulle?

5 Hier op aarde is die hoofverantwoordelikheid om vandag in ons geestelike behoeftes te voorsien aan “die getroue en verstandige dienskneg” toevertrou. Die dienskneg se verteenwoordigende Bestuursliggaam neem die leiding en koördineer die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk (Mattheüs 24:14, 45-47). Hierdie geesgesalfde ouere manne in die besonder kan as geestelike bestuurders beskou word, want Hebreërs 13:7 kan soos volg vertaal word: “Wees julle gedagtig aan diegene . . . wat julle bestuur” (Kingdom Interlinear). Aangesien daar meer as 60 000 gemeentes en oor die 3 500 000 Koninkryksverkondigers is, het die 12 ouere manne wat die Bestuursliggaam uitmaak ‘’n oorvloed van die Here se werk’ (1 Korinthiërs 15:58). Met die oog op hulle godgegewe toewysing verdien hulle ons volle samewerking, net soos die eerste-eeuse bestuursliggaam die vroeë Christene se samewerking geniet het.—Handelinge 15:1, 2.

6. Wat is party van die dinge wat ouere manne tot voordeel van Jehovah se volk doen?

6 Opsieners is deur die gees aangestel om in die geestelike behoeftes van die gemeente te voorsien (Handelinge 20:28). Hulle sorg dat die Koninkryksboodskap in hulle plaaslike gemeente se gebied verkondig word. Hierdie skriftuurlik bekwame manne voorsien ook op liefdevolle wyse geestelike leiding. Hulle vermaan, bemoedig en getuig vir hulle geestelike broers en susters, sodat dié kan aanhou om waardig voor God te wandel (1 Thessalonicense 2:7, 8, 11, 12, vgl. NW). Selfs wanneer iemand ’n misstap doen voordat hy daarvan bewus is, probeer hierdie manne om hom in ’n “gees van sagmoedigheid” reg te help.—Galasiërs 6:1.

7. Watter raad het Paulus in Hebreërs 13:17 gegee?

7 Ons harte word beweeg om met sulke liefdevolle opsieners saam te werk. Dit is gepas, soos Paulus geskryf het: “Wees gehoorsaam aan [diegene wat onder julle die leiding neem] en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie” (Hebreërs 13:17, vgl. NW). Hoe moet ons hierdie raad verstaan?

8, 9. (a) Waarom moet ons, met die oog op Hebreërs 13:17, gehoorsaam wees aan diegene wat die leiding neem? (b) Watter goeie gevolge kan ons gehoorsaamheid en onderdanigheid hê?

8 Paulus spoor ons aan om diegene wat ons geestelik bestuur te gehoorsaam. Ons moet “onderdanig wees” aan hierdie onderherders en hulle gesag aanvaar. Waarom? Omdat ‘hulle waak vir ons siele’, oftewel ons lewe wat aan God toegewy is. En hoe “waak” hulle? Hier beteken die teenwoordige tydsvorm van die Griekse werkwoord a·gru·pneʹo (in die aktiewe vorm en aantonende wyse) letterlik dat die ouere manne hulle “onthou van slaap”. Dit herinner ons aan die afgesonderde herder wat sy slaap prysgee om sy kudde teen die gevare van die nag te beskerm. Ouere manne het soms slapelose nagte weens biddende besorgdheid oor God se kudde of omdat hulle geestelike hulp aan medegelowiges moet verleen. Hoe baie moet ons hulle getroue diens tog nie waardeer nie! Ons wil beslis nie soos die “goddelose mense” van Judas se dag wees nie, wat ‘heerskappy verag het en gelaster het teen heerlike wesens’, gesalfde Christen- ouere manne aan wie godgegewe glorie, of eer, gegee is.—Judas 3, 4, 8.

9 Dit sal Jehovah mishaag as ons nie gehoorsaam en onderdanig aan Christenopsieners is nie. Dit sal ook ’n las vir hulle wees en sal ons geestelik benadeel. As ons nie met hulle saamwerk nie, sal die ouere manne hulle pligte dalk al sugtende nakom, moontlik in ’n gees van moedeloosheid wat daartoe kan lei dat ons ons vreugde in ons Christelike bedrywighede verloor. Maar ons gehoorsaamheid en onderdanigheid bevorder godvrugtige gedrag en versterk ons geloof. ‘Die Here is met die gees wat ons openbaar’, en vreugde gedy in so ’n klimaat van samewerking, vrede en eenheid.—2 Timotheüs 4:22, vgl. NW; Psalm 133:1, NAV.

10. Wat is volgens 1 Timotheüs 5:17 die rede waarom diegene wat goeie leiding gee eer verdien?

10 Ons gehoorsaamheid en onderdanigheid aan gemeentelike ouere manne beteken nie dat ons mensebehaers is nie. Dit sou onskriftuurlik wees, want eerste-eeuse Christenslawe is gemaan om hulle meesters te gehoorsaam, “nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid [“opregtheid”, NW] van hart, omdat [hulle] God vrees” (Kolossense 3:22; Efesiërs 6:5, 6). Die hoofrede waarom opsieners ‘wat goeie leiding gee en hard arbei in woord en leer’ eer verdien, is omdat hulle onderrig op God se Woord gebaseer is. Soos Paulus geskryf het: “Laat die ouderlinge wat [goeie leiding gee], dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. Want die Skrif sê: Jy mag ’n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.”—1 Timotheüs 5:17, 18, vgl. NAV.

11. Hoe kan ’n ouere man “dubbele eer” ontvang, maar wat moet hy vermy?

11 Hierdie woorde van Paulus toon dat materiële hulp tereg aan diegene gegee kan word wat na die geestelike belange van ander omsien. Dit beteken egter nie dat ouere manne ’n salaris moet ontvang nie, en “dubbele eer” is beslis nie iets wat ’n ouere man eis nie. Dit kom dalk spontaan van die gemeentelede, maar hy moet nooit sy diensvoorreg gebruik om mag of materiële besittings te verkry nie. Hy moet nie sy eie eer najaag of vir materiële gewin hoofsaaklik met die ryker gemeentelede omgaan en gevolglik die ander verwaarloos nie (Spreuke 25:27, NW; 29:23; Judas 16). ’n Opsiener moet eerder ‘gewilliglik, nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid’ toesig hou oor God se kudde.—1 Petrus 5:2.

12. Wat moet ons in gedagte hou wat ons sal help om gehoorsaam te wees aan diegene wat onder ons die leiding neem?

12 As ons in gedagte hou dat God self die ouere manne voorsien het, sal dit ons help om diegene wat die leiding neem te gehoorsaam en te eer (Efesiërs 4:7-13, vgl. NW). Aangesien hierdie manne deur die gees aangestel is en God se organisasie ’n belangrike plek in die lewe van Jehovah se Getuies inneem, wil ons tog seker ons dankbaarheid en respek vir teokratiese reëlings toon. Daarbenewens kan ons nuwelinge help om hierdie gesindheid aan te kweek as ons ’n goeie voorbeeld stel ten opsigte van gehoorsaamheid en onderdanigheid aan diegene wat onder ons die leiding neem.

Waarom moet ons hulle diens waardeer?

13. (a) Watter teenoorgestelde beskouings van leiding is daar in die wêreld en in God se organisasie? (b) Watter gegronde redes het ons om vertroue te stel in die manne wat onder ons die leiding neem? (c) Wat moet ons doen pleks van hardwerkende ouere manne se onvolmaakthede te vergroot?

13 In die wêreld is daar ’n neiging om leiding te verwerp. Soos een gesaghebbende gesê het: “Die stygende vlak van geleerdheid het die beskikbare talent sodanig verbeter dat volgelinge so krities geword het dat dit feitlik onmoontlik is om hulle te lei.” Maar daar is nie ’n gees van onafhanklike denke in God se organisasie nie, en ons het gegronde redes om vertroue te stel in die manne wat onder ons die leiding neem. Een rede is dat net diegene wat aan skriftuurlike vereistes voldoen as ouere manne aangestel word (1 Timotheüs 3:1-7). Hulle word opgelei om vriendelik, liefdevol en behulpsaam te wees, maar om Jehovah se regverdige standaarde nogtans ferm te handhaaf. Die ouere manne hou hulle aan skriftuurlike waarheid en ‘hou vas aan die betroubare woord, sodat hulle met die gesonde leer kan vermaan’ (Titus 1:5-9). Ons moet natuurlik nie hulle menslike onvolmaakthede vergroot nie, want ons is almal onvolmaak (1 Konings 8:46; Romeine 5:12). Pleks van gefrustreerd te voel oor hulle beperkings en hulle raad lig op te neem, moet ons die Bybelse leiding van die ouere manne waardeer en aanvaar as leiding wat van God kom.

14. Hoe moet ’n ouere man, met die oog op 1 Timotheüs 1:12, sy toegewese bediening beskou?

14 Paulus, ’n man met waardering, het gesê: “Ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het” (1 Timotheüs 1:12). Daardie bediening, of diens, het die predikingswerk sowel as diens aan medegelowiges ingesluit. Hoewel ’n opsiener deur heilige gees aangestel is om as ’n herder te dien, moet dit hom nie laat dink dat hy beter as ander is nie, want hy is self ’n deel van God se kudde skape (1 Petrus 5:4). Hy moet eerder dankbaar wees dat die Hoof van die gemeente, Jesus Christus, hom waardig geag het om lede van die kudde te bedien en dat God hom bekwaam het deur hom ’n sekere mate van kennis, wysheid en insig te gee (2 Korinthiërs 3:5). Aangesien ’n ouere man rede het om dankbaar te wees vir sy godgegewe voorregte moet ander gemeentelede hierdie bediening, of diens, waardeer.

15. Wat is die kern van Paulus se raad in 1 Thessalonicense 5:12, 13?

15 Jehovah se Getuies is dankbaar vir die organisasie wat God in hierdie laaste dae opgebou het, en daardie waardering beweeg ons om die ouere manne te respekteer. Ons behoort die reëlings wat hulle tot ons voordeel maak blymoedig en ten volle te ondersteun. Paulus het gesê: “Ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk” (1 Thessalonicense 5:12, 13). Die toepassing van hierdie raad bring vreugde en Jehovah se seën mee.

Wees gou om raad toe te pas

16, 17. Watter raad sal ouere manne moontlik aangaande die huwelik gee, en wat sal die gevolge wees as dit toegepas word?

16 Paulus het Titus aangespoor om ‘sy volle gesag te gebruik om aan te moedig en tereg te wys’ (Titus 2:15, NAV). Vandag vestig God se verteenwoordigers eweneens ons aandag op Bybelbeginsels en -wette. Daar is gegronde redes om ag te slaan op die herhaalde vermanings om die raad en leiding van Jehovah se organisasie en die aangestelde ouere manne toe te pas.

17 Ter toeligting: Die ouere manne maan ’n Christen dalk om die Bybel se raad te volg om “net in die Here” te trou (1 Korinthiërs 7:39; Deuteronomium 7:3, 4). Hulle wys moontlik daarop dat dit ernstige probleme kan meebring as ’n mens met ’n ongedoopte persoon trou, net soos koning Salomo ’n ernstige fout gemaak het deur vreemde vroue te trou, wat sy hart agter valse gode aan en weg van Jehovah af verlei het (1 Konings 11:1-6). Die ouere manne verduidelik dalk ook dat Esra Joodse mans hulle heidense vrouens laat wegstuur het en dat Nehemia gesê het dat diegene wat met ongelowiges trou ‘groot kwaad doen deur ontrou te handel teen God’. (Nehemia 13:23-27; Esra 10:10-14; kyk Die Wagtoring, 1 Junie 1982, bladsy 30; 15 November 1986, bladsye 26-30.) As ’n mens sulke skriftuurlike raad toepas wat deur liefdevolle ouere manne gegee word, ontvang jy seëninge en die bevredigende wete dat jy Jehovah behaag.

18. Hoe moet ons, met inagneming van wat Paulus in 1 Korinthiërs 5:9-13 geskryf het, reageer as ’n familielid uitgesit word?

18 Dit is ook gepas om die regterlike beslissings van die ouere manne te respekteer. Paulus het vir Christene in Korinthe gesê om “nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie” en om ‘selfs nie met so iemand saam te eet nie’. Hulle moes ‘die slegte mens onder hulle uit verwyder’ (1 Korinthiërs 5:9-13). Maar hoe sal jy reageer as een van jou familielede uitgesit word? Hoewel beperkte kontak dalk nodig sal wees om na familie-aangeleenthede om te sien, sal alle geestelike omgang met die uitgesette familielid beëindig moet word. (Kyk Die Wagtoring, 15 April 1988, bladsye 26-31.) Lojaliteit teenoor God en sy organisasie behoort ons beslis te beweeg om die regterlike beslissings van die opsieners te respekteer.

19. Wat moet ons doen as die ouere manne vir ons wys dat ons geestelik die verkeerde weg ingeslaan het?

19 Dit is nie maklik om op die smal pad te bly wat na die lewe lei nie. Om dit te doen, moet ons die leiding volg wat God se Woord en diegene gee aan wie herdersverantwoordelikhede in sy organisasie toevertrou is (Mattheüs 7:13, 14). As ons per motor van een stad na ’n ander ry en ’n verkeerde afdraaipad neem, sal optrede nodig wees om weer op die regte pad te kom. Anders sal ons nooit ons bestemming bereik nie. As die ouere manne vir ons wys dat ons geestelik die verkeerde weg ingeslaan het, moontlik deur ’n ongelowige die hof te maak, moet ons eweneens gou wees om hulle skriftuurlike raad toe te pas. Dit sal een manier wees waarop ons toon dat ons werklik “vertrou op die HERE”.—Spreuke 3:5, 6.

Respekteer hulle selfs in klein dingetjies

20. Watter selfondersoekende vrae kan ons help om selfs in klein dingetjies respek te toon vir die leiding van die ouere manne?

20 Ons moet selfs in klein dingetjies respek toon vir die leiding van die ouere manne. Ons kan ons dus afvra: ‘Gee ek die ouere manne my samewerking as hulle ons vra om die siekes te besoek of nuwelinge in die veldbediening op te lei? Aanvaar ek vergaderingtoewysings geredelik en berei ek dit goed voor? Is ek ontvanklik wanneer ouere manne riglyne gee oor sitplekhouery by byeenkomste, ons kleredrag, ensovoorts? Gee ek my samewerking wanneer hulle ons vra om die Koninkryksaal te help skoonmaak, ons velddiensrapporte betyds in te gee of betyds vir die vergaderinge te kom?’

21. Aan watter woorde van Jesus laat ons respek vir die ouere manne ons waarskynlik dink?

21 Gemeentelike opsieners waardeer ons samewerking, en dit werp goeie vrugte af. Trouens, die feit dat ons selfs in klein dingetjies respek toon en ons samewerking gee, laat ons heel waarskynlik dink aan Jesus se woorde: “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou” (Lukas 16:10). Ons wil tog seker getrou geag word.

Hou aan om op liefdevolle toesig te reageer

22. Wat is party van die voordele wat uit die liefdevolle toesig van die getroue dienskneg en gemeentelike ouere manne spruit?

22 Die voordele wat spruit uit die liefdevolle toesig van die getroue dienskneg en gemeentelike ouere manne bewys dat Jehovah sy aardse organisasie ryklik seën. Daarbenewens kombineer bekwame leiding deur die ouere manne hulle vermoëns en bevorder dit eenheid onder ons. Dit lei ook tot gesamentlike en suksesvolle inspanning om Koninkryksbelange te bevorder. Trouens, een positiewe gevolg van ons waarderende reaksie op die toesig van diegene wat die leiding neem, is dat God ons predikings- en dissipelmaakwerk seën (Mattheüs 28:19, 20). Ons samewerking met die ouere manne berei ons ook voor vir die ewige lewe in die nuwe stelsel van dinge.

23. Wat moet ons, met die oog op 1 Johannes 5:3, beweeg word om te doen?

23 Aangesien ons Jehovah liefhet, is gehoorsaamheid aan hom nie vir ons ’n onaangename verpligting nie. Die apostel Johannes het geskryf: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Lojale Christene gehoorsaam Jehovah se gebooie met genoeë en word beweeg om met diegene saam te werk aan wie hy gemeentelike toesig toevertrou het. Hoe dankbaar is ons tog om in God se organisasie te wees en om sulke “gawes in mense” te hê! (Efesiërs 4:8, NW). Laat ons dus, met die volle vertroue dat God sy volk lei, altyd gehoorsaam wees aan diegene wat die voorreg het om die leiding onder Jehovah se Getuies te neem.

Wat is jou kommentaar?

◻ Waarom moet ons gehoorsaam wees aan diegene wat onder ons die leiding neem?

◻ Wat moet ons gesindheid in verband met hardwerkende ouere manne se diens wees?

◻ Waarom moet ons gou wees om raad wat deur die ouere manne gegee is toe te pas?

◻ Watter voordele spruit uit ons waarderende reaksie op liefdevolle toesig?

[Lokteks op bladsy 24]

Gee jy die ouere manne jou samewerking deur vergaderingtoewysings te aanvaar, te help om die Koninkryksaal skoon te maak, jou velddiensbedrywighede betyds te rapporteer en op ander maniere?

[Prent op bladsy 23]

Dit het Paulus genot verskaf om die goeie nuus te verkondig en om medegelowiges te dien. Is jy as ouere man dankbaar vir jou godgegewe diensvoorregte?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel