Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 5/1 bl. 28-31
  • Sien Jehovah wat jy doen?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sien Jehovah wat jy doen?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Herder bring ’n offerande
  • ’n Profeet preek vir onontvanklike mense
  • ’n Weduwee berei ’n maaltyd voor
  • Sien jy wat ander doen?
  • Die weduwee van Sarfat is beloon vir haar geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Wandel met God in hierdie onstuimige tye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • ‘Hy was vir God welbehaaglik’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Henog onbevrees ten spyte van ’n oormag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 5/1 bl. 28-31

Sien Jehovah wat jy doen?

HOE sou jy daardie vraag beantwoord? Baie sou sê: ‘Ek glo dat God gesien het wat manne soos Moses, Gideon en Dawid gedoen het, maar ek twyfel of hy belangstel in enigiets wat ek kan doen. Ek is beslis nie ’n Moses, Gideon of Dawid nie.’

Dit is waar dat sommige getroue manne in Bybeltye bekend is vir uitsonderlike dade van geloof. Hulle ‘het koninkryke verslaan, die bekke van leeus toegestop, die krag van vuur gestuit en aan die skerpte van die swaard ontkom’ (Hebreërs 11:33, 34). Ander weer het hulle geloof op minder uitsonderlike maniere geopenbaar, en die Bybel verseker ons dat God ook hulle dade van geloof gesien het. Ter toeligting kan ons kyk na die skriftuurlike voorbeelde van ’n herder, ’n profeet en ’n weduwee.

’n Herder bring ’n offerande

Wat onthou jy omtrent Abel, die tweede seun van Adam en Eva? Jy onthou dalk dat hy ’n marteldood gesterf het, iets wat min van ons waarskynlik sal ondergaan. Maar dit was om ’n ander rede dat God aanvanklik sy aandag op Abel gevestig het.

Op ’n dag het Abel van die beste diere onder sy kleinvee geneem en dit aan God geoffer. Sy gawe kan vandag as redelik beskeie beskou word, maar Jehovah het dit gesien en sy goedkeuring getoon. Maar dit is nie al nie. Byna vierduisend jaar later het Jehovah die apostel Paulus geïnspireer om in die boek Hebreërs daaroor te skryf. Ná soveel jare het God nie daardie eenvoudige offerande vergeet nie!—Hebreërs 6:10; 11:4.

Wat het Abel laat besluit watter soort offerande hy sou bring? Die Bybel sê nie, maar hy moes goed daaroor nagedink het. Hy was ’n herder, en daarom is dit nie vreemd dat hy van sy kleinvee geoffer het nie. Maar let daarop dat hy die beste—die “vet”—gegee het (Genesis 4:4). Hy het moontlik ook nagedink oor Jehovah se woorde aan die slang in die tuin van Eden: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond” (Genesis 3:15; Openbaring 12:9). Hoewel Abel nie geweet het wie “die vrou” en haar “saad” sou wees nie, het hy dalk besef dat bloed vergiet sou word wanneer die saad van die vrou ‘in die hakskeen gewond’ word. Hy het ongetwyfeld besef dat niks meer waarde kan hê as ’n lewende skepsel nie. Hoe dit ook al sy, die offerande wat hy gebring het, was waarlik gepas.

Soos Abel bring Christene ook vandag offerandes aan God. Hulle bring nie eerstelinge van die kleinvee nie, maar “’n lofoffer, . . . dit wil sê die vrug van die lippe wat [God se] naam in die openbaar bekend maak” (Hebreërs 13:15). Ons doen openbare bekendmaking met ons lippe wanneer ons ander van ons geloof vertel.

Sal jy graag die gehalte van jou offerande wil verbeter? Dink dan goed na oor die behoeftes van die mense in julle gebied. Waaroor is hulle besorg? Waarin stel hulle belang? Watter aspekte van die Bybelboodskap sal by hulle byval vind? Elke keer as jy in die bediening is, kan jy die besoeke ontleed wat jy gedoen het om te sien waar jy kan verbeter. En wanneer jy oor Jehovah praat, moet jy dit met oortuiging en uit die hart doen. Maak jou offerande ’n ware “lofoffer”.

’n Profeet preek vir onontvanklike mense

Kom ons kyk nou na die profeet Henog. Hy was moontlik die enigste getuie van Jehovah God. Is jy, soos Henog, die enigste lid van jou gesin wat Jehovah getrou dien? Is jy die enigste kind in jou klas of die enigste persoon by jou werk wat Bybelbeginsels toepas? Indien wel, kom jy dalk voor uitdagings te staan. Vriende, familielede, klas- of werksmaats probeer jou moontlik beïnvloed om God se wette te verbreek. “Niemand sal ooit weet wat jy gedoen het nie”, sê hulle dalk. “Ons sal niks sê nie.” Hulle hou moontlik vol dat dit dwaas is om jou te steur aan die Bybel se sedelike standaarde, want God gee nie om wat jy doen nie. Omdat dit hulle irriteer dat jy nie soos hulle dink en optree nie, doen hulle miskien alles in hulle vermoë om jou weerstand af te breek.

Dit is weliswaar nie maklik om sulke druk die hoof te bied nie, maar dit is nie onmoontlik nie. Dink aan Henog, die sewende man in die lyn van Adam (Judas 14). Teen die tyd dat Henog gebore is, het die meeste mense alle sedelikheidsgevoel verloor. Hulle spraak was walglik; hulle gedrag ‘skokkend’ (Judas 15). Hulle het soos baie mense van vandag opgetree.

Hoe het Henog volhard? Die antwoord op hierdie vraag is vandag vir ons van belang. Al was Henog dalk op daardie tydstip die enigste man op aarde wat Jehovah aanbid het, was hy nie werklik alleen nie. Henog het met God gewandel.—Genesis 5:22.

Om God te behaag, was die belangrikste ding in Henog se lewe. Hy het geweet dat iemand wat met God wil wandel, meer moet doen as om net ’n sedelike, rein lewe te lei. Jehovah het van hom verwag om te preek (Judas 14, 15). Die mense moes gewaarsku word dat hulle goddelose dade nie onopgemerk gebly het nie. Henog het meer as 300 jaar met God bly wandel—baie langer as wat enigeen van ons al volhard het. Hy het tot sy dood getrou met God gewandel.—Genesis 5:23, 24.

Net soos Henog het ons ook ’n opdrag ontvang om te preek (Matteus 24:14). Ons getuig nie net van huis tot huis nie, maar probeer ook ons familielede, sakekennisse en klasmaats van die goeie nuus vertel. Soms voel ons dalk huiwerig om te praat. Is dit met jou die geval? Moenie moedeloos raak nie. Volg die vroeë Christene na en bid tot God om jou vrymoedigheid te gee (Handelinge 4:29). Moet nooit vergeet dat jy, solank jy met God wandel, nooit werklik alleen is nie.

’n Weduwee berei ’n maaltyd voor

Dink net, ’n onbekende weduwee is twee keer geseën omdat sy ’n eenvoudige maaltyd voorberei het! Sy was ’n nie-Israelitiese vrou wat in die tiende eeu v.G.J. in die dorp Sarfat gewoon het. Teen die einde van ’n lang droogte en hongersnood het die weduwee se kosvoorraad begin opraak. Al wat sy oorgehad het, was ’n hand vol meel en genoeg olie om net nog een maaltyd vir haar en haar seun te maak.

Op hierdie tydstip het daar ’n besoeker opgedaag. Dit was God se profeet Elia wat die weduwee gevra het om die bietjie kos wat sy gehad het, met hom te deel. Daar was skaars genoeg vir haar en haar seun, en sy het beslis nie genoeg gehad om nog vir die besoeker ook iets te gee nie. Maar Elia het haar verseker, en haar Jehovah se woord gegee, dat sy en haar seun nie honger sou ly as sy haar kos met hom deel nie. Sy sou geloof moes hê dat die God van Israel haar, ’n nie-Israelitiese weduwee, sou raaksien. Sy hét Elia geglo, en Jehovah het haar beloon. “Die groot kruik meel het nie opgeraak nie, en die klein kruik olie het nie leeggeraak nie, volgens Jehovah se woord wat hy deur middel van Elia gespreek het.” Die vrou en haar seun het ’n gereelde kosvoorraad gehad totdat die hongersnood verby was.—1 Konings 17:8-16.

Nog ’n seën het egter op die weduwee gewag. ’n Ruk ná daardie wonderwerk het haar geliefde seun siek geword en gesterf. Elia het innig jammer vir haar gevoel en Jehovah gesmeek om die seun weer lewend te maak (1 Konings 17:17-24). Dit sou ’n ongekende wonderwerk verg. Daar is geen verslag van enigiemand wat voor daardie tyd opgewek is nie! Sou Jehovah weer barmhartigheid aan hierdie uitlandse weduwee betoon? Hy het. Jehovah het Elia die krag gegee om die seun op te wek. Jesus het later aangaande hierdie bevoorregte vrou gesê: “Daar was baie weduwees in Israel . . . Tog is Elia . . . na ’n weduwee in Sarfat in die land Sidon [gestuur].”—Lukas 4:25, 26.

Die ekonomiese klimaat van vandag is alles behalwe bestendig, selfs in nywerheidslande. Groot maatskappye dank mense af wat dekades lank lojale werkers was. Omdat ’n Christen dalk bang is dat hy sy werk sal verloor, kan hy in die versoeking kom om ’n buitensporige hoeveelheid tyd by die werk deur te bring in die hoop dat die maatskappy hom nie sal afdank nie. As hy dit doen, sal hy dalk min tyd hê om Christelike vergaderinge by te woon, aan die veldbediening deel te neem of na die emosionele en geestelike behoeftes van sy gesin om te sien. Hy voel egter dat hy sy werk feitlik ten alle koste moet probeer behou.

’n Christen in so ’n moeilike ekonomiese situasie het rede om besorg te wees. Werk is vandag skaars. Die meeste van ons probeer nie ryk word nie, maar soos die weduwee van Sarfat wil ons darem kos op die tafel sit. Die apostel Paulus herinner ons egter aan God se woorde: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.” Ons kan vol vertroue sê: “Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan die mens aan my doen?” (Hebreërs 13:5, 6). Paulus was so seker van daardie belofte dat hy sy lewe op die spel sou plaas, en Jehovah het altyd vir hom gesorg. God sal dieselfde vir ons doen as ons hom nie verlaat nie.

Ons voel dalk dat ons nooit dieselfde uitsonderlike dade as geestelike manne soos Moses, Gideon en Dawid sal kan verrig nie, maar ons kan wel hulle geloof navolg. En ons kan die eenvoudige dade van geloof van Abel, Henog en die weduwee van Sarfat in gedagte hou. Jehovah stel belang in alle dade van geloof—al is dit klein. Wanneer ’n godvresende jong persoon weier om dwelms by ’n skoolmaat te neem, wanneer ’n Christenwerker onsedelike toenadering by die werk weerstaan of wanneer ’n bejaarde Getuie gemeentelike vergaderinge getrou bywoon ten spyte van moegheid en swak gesondheid, sien Jehovah dit. En dit maak sy hart bly!—Spreuke 27:11.

Sien jy wat ander doen?

Jehovah sien beslis wat ons doen. Daarom moet ons as navolgers van God wakker wees om ander se pogings raak te sien (Efesiërs 5:1). Probeer om ’n bietjie meer ingestel te wees op die uitdagings waarvoor jou mede-Christene te staan kom om gemeentelike vergaderinge by te woon, velddiens te doen en selfs net hulle daaglikse bedrywighede te verrig.

Sê dan vir jou medeaanbidders van Jehovah dat jy hulle pogings waardeer. Hulle sal bly wees dat jy dit raakgesien het, en jou besorgdheid kan hulle weer verseker dat Jehovah ook sien wat hulle doen.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel