Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 12/15 bl. 20-25
  • Bring offers wat Jehovah behaag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bring offers wat Jehovah behaag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Volg hulle geloof na”
  • Vermy valse leringe
  • Offers wat God behaag
  • Wees onderdanig
  • Hou aan bid
  • Slotwoorde en laaste vermaning
  • ’n Brief van blywende waarde
  • Bybelboek nommer 58—Hebreërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Lofofferandes wat Jehovah behaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Jehovah is my helper
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Bring offerandes wat God behaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 12/15 bl. 20-25

Bring offers wat Jehovah behaag

“Laat ons dan gedurig deur [Jesus Christus] aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam [in die openbaar] bely.”—HEBREËRS 13:15, vgl. “NW”.

1. Wat het Jehovah sondige Israeliete aangespoor om te doen?

JEHOVAH is die Helper van diegene wat aanvaarbare offers aan hom bring. Daarom het sy guns eens gerus op Israeliete wat diereoffers gebring het. Maar wat het gebeur nadat hulle herhaaldelik gesondig het? Deur die profeet Hosea is hulle aangespoor: “Bekeer jou, Israel, tot die HERE jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid. Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe [of, “die jong bulle van ons lippe”, NW] aanbied.”—Hosea 14:2, 3.

2. Wat was ‘die jong bulle van die lippe’, en hoe het die apostel Paulus op Hosea se profesie gesinspeel?

2 God se eertydse volk is dus aangemoedig om ‘die jong bulle van hulle lippe’ aan Jehovah God te offer. Wat was dit? Ja, offers van opregte lof! Die apostel Paulus het op hierdie profesie gesinspeel en Hebreeuse Christene aangespoor om “aan God ’n lofoffer [te] bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam [in die openbaar] bely” (Hebreërs 13:15, vgl. NW). Wat kan Jehovah se Getuies help om vandag sulke offers te bring?

“Volg hulle geloof na”

3. Wat is die kern van die apostel Paulus se woorde in Hebreërs 13:7, en watter vraag laat dit ontstaan?

3 As ons die raad toepas wat Paulus aan die Hebreërs gegee het, sal dit ons in staat stel om aanvaarbare offers aan ons Groot Helper, Jehovah God, te bring. Die apostel het byvoorbeeld geskryf: “Gedenk julle voorgangers [of, “diegene . . . wat onder julle die leiding neem”, NW] wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na” (Hebreërs 13:7). Van wie het Paulus gepraat toe hy gesê het: ‘Gedenk diegene wat onder julle die leiding neem’, of “bestuurders van julle is”?—NW-naslaanuitgawe, voetnoot.

4. (a) Wat doen diegene wat “die leiding neem” volgens die Griekse teks? (b) Wie is diegene wat “die leiding neem” onder Jehovah se Getuies?

4 Paulus het gepraat van diegene wat ‘die leiding neem’, of ander bestuur (Verse 7, 17, 24, NW). Die woord “bestuur” word dikwels gebruik om die Griekse woord ky·ber·naʹo te vertaal, wat beteken “’n skip stuur, leiding gee, bestuur”. Christen- ouere manne bestuur ander deurdat hulle hul “bekwaamhede om leiding te gee” (Grieks, ky·ber·neʹseis) gebruik om plaaslike gemeentes van leiding te voorsien (1 Korinthiërs 12:28, NW). Maar die apostels en ander ouere manne in Jerusalem het as ’n liggaam gedien wat leiding en raad aan al die gemeentes gegee het (Handelinge 15:1, 2, 27-29). Vandag voorsien ’n bestuursliggaam van ouere manne dus geestelike toesig oor Jehovah se Getuies in alle wêrelddele.

5. Waarom en hoe moet ons vir gemeentelike ouere manne en lede van die Bestuursliggaam bid?

5 Plaaslike ouere manne en lede van die Bestuursliggaam neem die leiding onder ons; daarom moet ons hulle respekteer en bid dat God hulle die nodige wysheid gee om die gemeente te bestuur. (Vergelyk Efesiërs 1:15-17.) Hoe gepas is dit tog dat ons enigiemand wat ‘die woord van God aan ons verkondig het’ in gedagte hou, of gedenk! Timotheüs is nie net deur sy ma en ouma geleer nie, maar later ook deur Paulus en ander (2 Timotheüs 1:5, 6; 3:14). Daarom kon Timotheüs die uiteinde van die lewenswandel van diegene wat die leiding geneem het, aanskou en kon hy hulle geloof navolg.

6. Wie se geloof moet ons navolg, maar van wie is ons volgelinge?

6 Individue soos Abel, Noag, Abraham, Sara, Ragab en Moses het geloof beoefen (Hebreërs 11:1-40). Daarom kan ons sonder om te huiwer hulle geloof navolg, want hulle het lojaal teenoor God gesterf. Maar ons kan ook ‘die geloof navolg’ van lojale manne wat tans die leiding onder ons neem. Ons volg natuurlik nie onvolmaakte mense nie, want ons hou ons oë op Christus gevestig. Soos Bybelvertaler Edgar J. Goodspeed gesê het: “Die helde van die ou tyd is nie die gelowige se modelle nie, want hy het ’n beter voorbeeld in Christus . . . Die Christenhardloper moet sy oë op Jesus vestig.” Ja, ‘Christus het vir ons gely en vir ons ’n voorbeeld nagelaat, sodat ons sy voetstappe noukeurig kan navolg’.—1 Petrus 2:21; Hebreërs 12:1-3.

7. Watter uitwerking moet Hebreërs 13:8 op ons gesindheid ten opsigte van lyding ter wille van Christus hê?

7 Paulus het die aandag op God se Seun gevestig en bygevoeg: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Getroue getuies soos Stefanus en Jakobus het, ter navolging van Jesus se standvastige voorbeeld, onwrikbare onkreukbaarheid geopenbaar (Handelinge 7:1-60; 12:1, 2). Aangesien hulle bereid was om as volgelinge van Christus te sterf, is hulle geloof navolgenswaardig vir ons. Godvrugtige persone het nie in die verlede daarvoor teruggedeins om as dissipels van Jesus ’n marteldood te sterf nie, en hulle sal dit ook nie nou of in die toekoms doen nie.

Vermy valse leringe

8. Hoe sal jy Paulus se woorde in Hebreërs 13:9 parafraseer?

8 Die onveranderlikheid van Jesus se persoonlikheid en leringe moet ons laat vashou aan wat hy en sy apostels geleer het. Daar is vir die Hebreërs gesê: “Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word [of, “vastheid kry”, NW] deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie.”—Hebreërs 13:9.

9. Op watter voortrefliker dinge het Paulus die aandag gevestig in die brief aan die Hebreeuse Christene?

9 Jode het hulle beroem op dinge soos die skouspelagtige wyse waarop die Wet by die berg Sinai gegee is en die blywende koningskap van Dawid. Maar Paulus het aan Hebreeuse Christene getoon dat hoewel die instelling van die Wetsverbond ontsagwekkend was Jehovah kragtiger getuienis gegee het deur tekens, wonders, kragtige dade en die uitgieting van heilige gees toe die nuwe verbond ingestel is (Handelinge 2:1-4; Hebreërs 2:2-4). In teenstelling met Dawidiese heersers se aardse koningskap wat in 607 v.G.J. gewankel het, is Christus se hemelse Koninkryk onwankelbaar (Hebreërs 1:8, 9, vgl. NW; 12:28). Daarbenewens versamel Jehovah gesalfdes voor iets baie ontsagwekkenders as die wonderdadige vertoning by die berg Sinai, want hulle nader die hemelse berg Sion.—Hebreërs 12:18-27.

10. Waardeur word die hart volgens Hebreërs 13:9 vastheid gegee?

10 Die Hebreërs moes dus waak om nie ‘rondgeslinger te word deur allerhande en vreemde leringe’ van Judaïseerders nie (Galasiërs 5:1-6). Dit is nie deur sulke leringe nie maar deur ‘God se genade wat die hart vastheid gegee kan word’ om standvastig in die waarheid te bly. Party het blykbaar oor kosse en offers geargumenteer, want Paulus het gesê dat die hart geen vastheid gekry het “deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie”. Geestelike voordele spruit uit godvrugtige toegewydheid en waardering vir die losprys, nie uit oordrewe besorgdheid oor die eet van sekere kosse en die viering van spesifieke dae nie (Romeine 14:5-9). Boonop het Christus se offer Levitiese offers kragteloos gemaak.—Hebreërs 9:9-14; 10:5-10.

Offers wat God behaag

11. (a) Wat is die kern van Paulus se woorde in Hebreërs 13:10, 11? (b) Watter figuurlike altaar het Christene?

11 Levitiese priesters het die vleis van offerdiere geëet, maar Paulus het geskryf: “Ons het ’n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie; want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word—hulle liggame word buitekant die laer verbrand” op Versoendag (Hebreërs 13:10, 11; Levitikus 16:27; 1 Korinthiërs 9:13). Christene het ’n figuurlike altaar wat simbolies is van toegang tot God op grond van Jesus se offer, wat versoening doen vir sondes en Jehovah se vergifnis meebring en tot redding tot die ewige lewe lei.

12. Wat is gesalfde Christene in Hebreërs 13:12-14 aangespoor om te doen?

12 Paulus wei nie uit oor die ooreenkoms met die Versoendag nie, maar hy voeg nogtans by: “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort [van Jerusalem] gely.” Daar het Christus gesterf en die heeltemal doeltreffende soenoffer voorsien (Hebreërs 13:12; Johannes 19:17; 1 Johannes 2:1, 2). Die apostel Paulus het mede- gesalfde Christene aangespoor: “Laat ons dan uitgaan na Hom [Christus] toe buitekant die laer en sy smaad dra. Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek [ernstig] die toekomstige” (Hebreërs 13:13, 14, vgl. NW; Levitikus 16:10). Hoewel ons net soos Jesus gesmaad word, volhard ons as Jehovah se Getuies. Ons ‘verwerp goddeloosheid en wêreldse begeertes en leef met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge’ terwyl ons na die nuwe wêreld uitsien (Titus 2:11-14, NW; 2 Petrus 3:13; 1 Johannes 2:15-17). En gesalfdes in ons midde soek ernstig die “stad”, die hemelse Koninkryk.—Hebreërs 12:22.

13. Wat is nie noodwendig offers wat God behaag nie?

13 Paulus het vervolgens offers gemeld wat God behaag en geskryf: “Laat ons dan gedurig deur Hom [Jesus] aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam [in die openbaar] bely. Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers” (Hebreërs 13:15, 16, vgl. NW). Christelike offers bestaan nie net uit humanitêre dade nie. Die meeste mense doen sulke dinge. Dit was byvoorbeeld die geval toe mense van baie nasies aan die einde van 1988 hulp verleen het aan aardbewingslagoffers in Sowjet-Armenië.

14. Op watter werk plaas offers wat God behaag die klem?

14 Die heilige diens wat ons “met godvrugtige vrees en ontsag” aan Jehovah verrig, is gegrond op die selfopofferende soort liefde wat Jesus geopenbaar het (Hebreërs 12:28, NW; Johannes 13:34; 15:13). Hierdie diens plaas die klem op ons predikingswerk, want deur Christus as Hoëpriester ‘bring ons aan God ’n lofoffer, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam in die openbaar bely’ (Hosea 14:3, vgl. NW, vers 2; Romeine 10:10-15; Hebreërs 7:26). Ons ‘vergeet natuurlik nie die weldadigheid en mededeelsaamheid nie’ en toon dit selfs teenoor ander wat nie “huisgenote van die geloof” is nie (Galasiërs 6:10). Veral wanneer mede-Christene deur ’n ramp getref word of behoeftig is of in nood verkeer, verleen ons liefdevolle materiële en geestelike hulp. Waarom? Omdat ons mekaar liefhet. Ons wil ook hê dat hulle in staat moet wees om die openbare belydenis van hulle hoop onwankelbaar vas te hou, “want God het ’n welbehae aan sulke offers”.—Hebreërs 10:23-25, vgl. NW; Jakobus 1:27.

Wees onderdanig

15. (a) Hoe sal jy die raad in Hebreërs 13:17 parafraseer? (b) Waarom moet ons respek toon vir diegene wat die leiding neem?

15 As ons aanvaarbare offers wil bring, moet ons ten volle met God se organisasie saamwerk. Paulus het nie die onderwerp van gesag oorbeklemtoon toe hy geskryf het nie: “Wees gehoorsaam aan [diegene wat onder julle die leiding neem] en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie” (Hebreërs 13:17, vgl. NW). Ons moet respek toon vir die aangestelde ouere manne wat in die gemeente die leiding neem, sodat hulle nie weens ons gebrek aan samewerking met kommer hoef te sug nie. As ons nie onderdanig is nie, sal dit ’n las vir die opsieners wees en sal dit ons geestelik benadeel. ’n Gees van samewerking maak dit makliker vir ouere manne om bystand te verleen en bevorder eenheid en die vooruitgang van die Koninkrykspredikingswerk.—Psalm 133:1-3, NAV.

16. Waarom is dit gepas dat ons onderdanig is aan diegene wat onder ons die leiding neem?

16 Hoe gepas is dit tog dat ons onderdanig is aan diegene wat die leiding neem! Hulle onderrig by ons vergaderinge en help ons in die bediening. As herders beywer hulle hul vir ons welsyn (1 Petrus 5:2, 3). Hulle help ons om ’n goeie verhouding met God en die gemeente te behou (Handelinge 20:28-30). As ons ons aan wyse en liefdevolle toesig onderwerp, toon ons respek vir die Opperopsiener, Jehovah God, en sy Onderopsiener, Jesus Christus.—1 Petrus 2:25; Openbaring 1:1; 2:1–3:22.

Hou aan bid

17. Om watter gebede het Paulus gevra, en waarom kon hy dit met reg doen?

17 Aangesien Paulus en sy metgeselle, moontlik weens vervolging, van die Hebreërs geskei was, het hy gesê: “[Hou aan] bid vir ons, want ons is oortuig dat ons ’n goeie gewete het, omdat ons in alles [eerlik] wil wandel. Des te meer vermaan ek julle om dit te doen, sodat ek gouer aan julle teruggegee kan word” (Hebreërs 13:18, 19, vgl. NW). As Paulus ’n slinkse persoon met ’n toegeskroeide gewete was, watter reg sou hy gehad het om die Hebreërs te vra om te bid dat hy by hulle kan aansluit? (Spreuke 3:32, NW; 1 Timotheüs 4:1, 2). Hy was natuurlik ’n eerlike bedienaar wat Judaïseerders gewetensgetrou teengestaan het (Handelinge 20:17-27). Paulus was ook vol vertroue dat hy gouer by die Hebreërs sou kon aansluit as hulle daarvoor gebid het.

18. Watter vrae kan ons ons afvra indien ons verwag dat ander vir ons moet bid?

18 Paulus se versoek dat die Hebreërs vir hulle bid, toon dat dit gepas is dat Christene vir mekaar bid, selfs by name. (Vergelyk Efesiërs 6:17-20.) Maar as ons verwag dat ander vir ons moet bid, moet ons dan nie soos die apostel wees en seker maak dat ons ‘’n goeie gewete het en in alles eerlik wandel’ nie? Is jy eerlik in alles wat jy doen? En het jy dieselfde vertroue in gebed as Paulus?—1 Johannes 5:14, 15.

Slotwoorde en laaste vermaning

19. (a) Wat was Paulus se biddende wens vir die Hebreërs? (b) Waarom is die nuwe verbond ’n ewige verbond?

19 Nadat Paulus die Hebreërs gevra het om vir hulle te bid, het hy ’n biddende wens uitgespreek en gesê: “God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen” (Hebreërs 13:20, 21, NAV). Met die oog op ’n vreedsame aarde het ‘die God van vrede’ Christus tot onsterflike lewe in die hemel opgewek, waar Jesus die waarde van sy vergote bloed wat die nuwe verbond bekragtig het, aangebied het (Jesaja 9:5, 6; Lukas 22:20, NAV). Dit is ’n ewige verbond omdat diegene op aarde permanente voordele put uit die dienste van die 144 000 geestelike seuns van God wat saam met Jesus in die hemel regeer en wat in die nuwe verbond is (Openbaring 14:1-4; 20:4-6). Dit is deur Christus wat God, aan wie ons heerlikheid toeskryf, ‘ons toerus met al die goeie dinge wat nodig is om sy wil te doen en aanneemlik vir Hom te wees’.

20. Hoe sal jy Paulus se laaste vermaning aan die Hebreeuse Christene parafraseer en verduidelik?

20 Paulus was nie seker hoe die Hebreërs op sy brief sou reageer nie en het dus gesê: “Ek vermaan julle, broeders, verdra die woord van vermaning [deur na God se Seun, nie Judaïseerders nie, te luister], want ek het ook maar kort aan julle geskrywe [as die gewigtige boodskap in aanmerking geneem word]. Julle moet weet dat die broeder Timotheüs vrygelaat is [uit die tronk], saam met wie ek julle sal sien as hy spoedig kom.” Die apostel, wat waarskynlik uit Rome geskryf het, het gehoop dat hy saam met Timotheüs die Hebreërs in Jerusalem sou besoek. Toe het Paulus gesê: “Groet al julle voorgangers [die hardwerkende ouere manne] en al die heiliges [diegene met die hemelse hoop]. Die wat van Italië is, groet julle. Die genade [van God] sy met julle almal!”—Hebreërs 13:22-25.

’n Brief van blywende waarde

21. Watter belangrike gedagtes help die brief aan die Hebreërs ons om te verstaan?

21 Die brief aan die Hebreërs help ons moontlik meer as enige ander boek van die Heilige Skrif om die belangrikheid van die offers wat onder die Wet gebring is te verstaan. Die sendbrief toon duidelik dat Jesus Christus se offer die enigste is wat die nodige losprys vir die sondige mensdom voorsien. En ’n belangrike boodskap in die brief is dat ons na God se Seun moet luister.

22. Wat is party van die redes waarom ons dankbaar moet wees oor die brief aan die Hebreërs?

22 Ons het ook, soos ons in die vorige twee artikels gesien het, ander redes om dankbaar te wees vir die goddelik geïnspireerde brief aan die Hebreërs. Dit help ons om nie vermoeid te word in ons bediening nie, en dit vul ons met moed, want ons weet dat Jehovah ons Helper is. Daarbenewens spoor dit ons aan om ons lippe en al ons vermoëns op onselfsugtige wyse te gebruik om dag en nag heilige diens te verrig en hartgrondige offers te bring wat ons lofwaardige en liefdevolle God, Jehovah, behaag.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Hoe het die brief aan die Hebreërs hulle gehelp om valse leringe te vermy?

◻ Watter belangrike werk is die kern van offers wat God behaag?

◻ Wie is ‘diegene wat die leiding neem’, en waarom moet ons onderdanig aan hulle wees?

◻ Hoe beklemtoon die brief aan die Hebreërs gebed?

◻ Waarom kan ons sê dat die brief aan Hebreeuse Christene van blywende waarde is?

[Prente op bladsy 23]

Offers wat God behaag, behels herdersboesoeke en dat mede-Christene met liefdevolle raad opgebou word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel