Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w11 6/15 bl. 24-28
  • ‘Julle moet respek hê vir dié wat hard onder julle werk’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Julle moet respek hê vir dié wat hard onder julle werk’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dié wat ‘hard werk’
  • Dié wat “onder julle die leiding neem”
  • Dié wat “julle ernstig vermaan”
  • Waardeer Jehovah se voorsiening van die ouer manne
  • “Hou sulke manne in eer”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Hoe die Christengemeente georganiseer word
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Wees gehoorsaam aan diegene wat die leiding neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
w11 6/15 bl. 24-28

‘Julle moet respek hê vir dié wat hard onder julle werk’

“Julle [moet] respek . . . hê vir dié wat hard onder julle werk en onder julle die leiding neem in die Here en julle ernstig vermaan.”—1 TESS. 5:12.

1, 2. (a) Wat was die situasie van die gemeente in Tessalonika toe Paulus sy eerste brief aan hulle geskryf het? (b) Wat het Paulus die Tessalonisense aangespoor om te doen?

STEL jou voor dat jy ’n lid is van die eerste-eeuse gemeente in Tessalonika, een van die eerste gemeentes wat in Europa gestig is. Die apostel Paulus het heelwat tyd daaraan bestee om die broers daar op te bou. Hy het moontlik ouer manne aangestel om die leiding te neem, soos in ander gemeentes (Hand. 14:23). Maar nadat die gemeente gestig is, het die Jode gereël dat ’n skare oproeriges Paulus en Silas uit die stad verdryf. Die Christene wat agtergebly het, het moontlik verlate gevoel, miskien selfs bang.

2 Dit is te verstane dat Paulus besorg was oor die nuwe gemeente nadat hy Tessalonika verlaat het. Hy het probeer teruggaan, maar “Satan het [sy] weg versper”. Hy het Timoteus dus gestuur om die gemeente aan te moedig (1 Tess. 2:18; 3:2). Toe Timoteus met ’n goeie berig teruggekeer het, is Paulus beweeg om ’n brief aan die Tessalonisense te skryf. Paulus het hulle onder andere aangespoor om ‘respek te hê vir dié wat onder hulle die leiding neem’.—Lees 1 Tessalonisense 5:12, 13.

3. Watter redes het die Christene in Tessalonika gehad om buitengewone agting aan die ouer manne te betoon?

3 Die broers wat die leiding onder die Christene in Tessalonika geneem het, was nie so ervare soos Paulus en sy reisgenote nie; hulle het ook nie die ryk geestelike erfenis van die ouer manne in Jerusalem gehad nie. Die gemeente het immers nog nie eens ’n jaar bestaan nie! Dié in die gemeente het nietemin rede gehad om dankbaar te wees vir hulle ouer manne, wat ‘hard gewerk het’ en ‘die leiding geneem het’ in die gemeente en die broers “ernstig vermaan” het. Hulle het beslis goeie rede gehad om “meer as buitengewone agting aan [die ouer manne] te betoon in liefde”. Hierdie versoek is gevolg deur Paulus se raad om ‘vreedsaam teenoor mekaar te wees’. Sou jy, as jy daar in Tessalonika was, diepe waardering vir die ouer manne se werk getoon het? Hoe beskou jy die “gawes in die vorm van mense” wat God deur Christus in julle gemeente voorsien het?—Ef. 4:8.

Dié wat ‘hard werk’

4, 5. Waarom was dit harde werk vir die ouer manne in Paulus se dag om die gemeente te onderrig, en waarom is dit vandag die geval?

4 Hoe het die ouer manne in Tessalonika ‘hard gewerk’ nadat hulle Paulus en Silas na Berea gestuur het? In navolging van Paulus het hulle ongetwyfeld die gemeente onderrig deur die Skrif te gebruik. ‘Het die Christene in Tessalonika waardering vir God se Woord gehad?’ wonder jy dalk. Die Bybel sê immers dat die Bereane “edelmoediger [was] as dié in Tessalonika, want hulle het . . . die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek” (Hand. 17:11). Die vergelyking was egter met die Tessalonisense Jode in die algemeen, nie met die Christene nie. Dié wat gelowiges geword het, ‘het God se woord aangeneem, nie as die woord van mense nie, maar as die woord van God’ (1 Tess. 2:13). Die ouer manne het sekerlik hard gewerk om hierdie mense geestelik te voed.

5 Vandag voorsien die “getroue en verstandige slaaf”-klas God se kudde van “voedsel op die regte tyd” (Matt. 24:45). Onder die slaaf se leiding werk die plaaslike ouer manne hard om hulle broers geestelik te voed. Dié in die gemeente het dalk ’n oorvloed van Bybellektuur, en in party tale is hulpmiddele soos die Watch Tower Publications Index en Watchtower Library op CD-ROM beskikbaar. Om die gemeente se geestelike behoeftes te bevredig, bestee die ouer manne ure daaraan om vergaderingdele voor te berei sodat hulle die toegewese inligting op ’n sinvolle wyse kan aanbied. Het jy al gedink aan hoeveel tyd die ouer manne daaraan bestee om hulle dele vir vergaderinge en byeenkomste voor te berei?

6, 7. (a) Watter voorbeeld het die ouer manne in Tessalonika in Paulus gehad? (b) Waarom is dit dalk vir hedendaagse ouer manne ’n uitdaging om Paulus na te volg?

6 Die ouer manne in Tessalonika het die goeie voorbeeld onthou wat Paulus daarin gestel het om as herder toesig te hou oor die kudde. Hy het besoeke nie op ’n werktuiglike of traak-my-nie-agtige wyse gedoen nie. Soos in die vorige artikel bespreek is, het Paulus “teergevoelig geword . . . soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester”. (Lees 1 Tessalonisense 2:7, 8.) Hy was selfs bereid om ‘sy eie siel mee te deel’! In hulle werk as herders moes die ouer manne soos hy wees.

7 Hedendaagse Christenherders volg Paulus na deur die kudde te koester. Party skape is nie van nature hartlik en vriendelik nie. Die ouer manne probeer nietemin om insig te toon en “die goeie” in hulle te vind (Spr. 16:20). Dit is so dat ’n ouer man dalk weens sy onvolmaaktheid sukkel om ’n positiewe beskouing van elkeen te hê. Maar moet hy nie, terwyl hy sy bes doen om teergevoelig teenoor almal te wees, geprys word vir sy poging om ’n goeie herder onder Christus te wees nie?

8, 9. Wat is party maniere waarop hedendaagse ouer manne ‘oor ons siel waak’?

8 Ons het almal rede om aan die ouer manne ‘onderdanig te wees’. Soos Paulus geskryf het, ‘waak hulle oor ons siel’ (Heb. 13:17). Hierdie uitdrukking herinner ons aan die letterlike herder wat slaap prysgee om sy kudde te beskerm. So ook gee hedendaagse ouer manne moontlik slaap prys terwyl hulle omsien na die behoeftes van dié wat swak gesondheid of emosionele of geestelike probleme het. Broers op Hospitaalskakelkomitees is byvoorbeeld al wakker gemaak om op ’n mediese krisis te reageer. Maar hoe waardeer ons tog hulle diens wanneer ons ons in so ’n situasie bevind!

9 Ouer manne op Streekboukomitees en noodlenigingskomitees werk hard om die broers te help. Hulle verdien ons heelhartige ondersteuning! Beskou die noodlenigingswerk nadat die sikloon Nargis Mianmar in 2008 getref het. Om die Bothingone-gemeente in die Irawadi-delta, wat swaar getref is, te bereik, het die noodlenigingspan deur ’n verwoeste gebied gereis wat met lyke besaai was. Toe die plaaslike broers sien dat die noodlenigingspan wat Bothingone eerste bereik het, hulle voormalige kringopsiener insluit, het hulle uitgeroep: “Kyk! Dis ons kringopsiener! Jehovah het ons gered!” Waardeer jy die harde werk wat die ouer manne dag en nag verrig? Party ouer manne word aangestel om op spesiale komitees te dien om moeilike regterlike probleme te hanteer. Hierdie ouer manne spog nie oor wat hulle gedoen het nie; maar dié wat by hulle diens baat vind, is werklik dankbaar.—Matt. 6:2-4.

10. Watter minder opvallende werk doen ouer manne?

10 Baie hedendaagse ouer manne het ook papierwerk wat hulle moet doen. Byvoorbeeld, die koördineerder van die liggaam van ouer manne berei die roosters vir weeklikse vergaderinge voor. Die gemeentelike sekretaris stel die maandelikse en jaarlikse velddiensrapport op. Die skoolopsiener skenk noukeurige aandag aan die skoolrooster. Gemeentelike rekeningverslae word elke drie maande geouditeer. Die ouer manne lees briewe van die takkantoor en pas die riglyne toe, wat help om “die eenheid in die geloof” te bewaar (Ef. 4:3, 13). Danksy die pogings van hierdie hardwerkende ouer manne ‘geskied alles welvoeglik en volgens reëling’.—1 Kor. 14:40.

Dié wat “onder julle die leiding neem”

11, 12. Wie neem die leiding in die gemeente, en wat behels dit?

11 Paulus het gesê dat die hardwerkende ouer manne van Tessalonika “die leiding neem” in die gemeente. Die woord in die oorspronklike taal beteken “staan voor” en kan weergegee word met “rig; die leiding neem onder” (1 Tess. 5:12; vtn. in NW). Paulus het gesê dat hierdie ouer manne ook ‘hard werk’. Hy het nie gepraat van een opsiener wat die leiding neem, of ’n “presiderende opsiener”, nie, maar van al die ouer manne in die gemeente. Vandag staan die meeste ouer manne voor die gemeente en lei vergaderinge. Die onlangse aanpassing om die benaming “koördineerder van die liggaam van ouer manne” te gebruik, help ons om al die ouer manne as lede van ’n verenigde liggaam te beskou.

12 Om ‘die leiding te neem’ in die gemeente, behels meer as om net te onderrig. Dieselfde uitdrukking word in 1 Timoteus 3:4 gebruik. Paulus het gesê dat ’n opsiener ’n man moet wees “wat aan sy eie huisgesin goeie leiding gee, wat kinders met alle erns in onderworpenheid het”. Hier sluit die uitdrukking “leiding gee” klaarblyklik nie net in dat hy sy kinders onderrig nie, maar dat hy ook die leiding in die gesin neem en ‘kinders in onderworpenheid het’. Ja, ouer manne neem die leiding in die gemeente en help almal om in onderworpenheid aan Jehovah te wees.—1 Tim. 3:5.

13. Waarom neem dit dalk tyd om by ’n ouermanvergadering tot ’n besluit te kom?

13 Om goeie leiding onder die kudde te neem, bespreek die ouer manne onder mekaar hoe om in die behoeftes van die gemeente te voorsien. Dit sal dalk doeltreffender wees as een ouer man al die besluite neem. Maar in navolging van die eerste-eeuse bestuursliggaam bespreek hedendaagse liggame van ouer manne sake vryelik en soek hulle leiding in die Skrif. Hulle doelwit is om skriftuurlike beginsels op die behoeftes van die plaaslike gemeente toe te pas. Dit werk die beste wanneer elke ouer man vir die ouermanvergaderinge voorberei en let op die Skrif en die riglyne van die “getroue en verstandige slaaf”-klas. Dit neem natuurlik tyd. Wanneer daar verskillende sienswyses is, soos toe die eerste-eeuse bestuursliggaam die besnydeniskwessie bespreek het, is dit dalk nodig om meer tyd en navorsing daaraan te wy om eenstemmigheid op grond van die Skrif te bereik.—Hand. 15:2, 6, 7, 12-14, 28.

14. Waardeer jy dit dat die liggaam van ouer manne in eenheid saamwerk? Waarom voel jy so?

14 Wat kan gebeur as een ouer man daarop aandring dat dinge op sy manier gedoen word of sy eie idees probeer bevorder? Of sê nou iemand—soos Diotrefes in die eerste eeu—saai tweedrag? (3 Joh. 9, 10). Dit sal sekerlik die hele gemeente benadeel. As Satan die eerste-eeuse gemeente probeer ontwrig het, kan ons seker wees dat hy die vrede van die hedendaagse gemeente wil versteur. Hy doen dalk ’n beroep op selfsugtige menslike neigings, soos die begeerte na vernaamheid. Ouer manne moet dus nederigheid aankweek en as ’n verenigde liggaam saamwerk. Hoe waardeer ons tog die nederigheid van die ouer manne wat inderdaad as ’n liggaam saamwerk!

Dié wat “julle ernstig vermaan”

15. Wat is ouer manne se beweegrede wanneer hulle ’n broer of ’n suster vermaan?

15 Paulus het vervolgens die aandag gevestig op ’n moeilike tog belangrike taak van die ouer manne: om die kudde ernstig te vermaan. In die Christelike Griekse Geskrifte het net Paulus die Griekse woord gebruik wat met “ernstig vermaan” vertaal word. Dit kan na streng raad verwys, maar dui nie op vyandigheid nie (Hand. 20:31; 2 Tess. 3:15). Paulus het byvoorbeeld aan die Korintiërs geskryf: “Ek skryf hierdie dinge nie om julle te beskaam nie, maar om julle ernstig te vermaan as my geliefde kinders” (1 Kor. 4:14). Sy beweegrede vir die vermaning was liefdevolle besorgdheid oor ander.

16. Wat moet ouer manne in gedagte hou wanneer hulle ander vermaan?

16 Die ouer manne hou in gedagte hoe belangrik die manier is waarop hulle ander ernstig vermaan. Hulle probeer Paulus navolg deur vriendelik, liefdevol en behulpsaam te wees. (Lees 1 Tessalonisense 2:11, 12.) Die ouer manne hou natuurlik ‘stewig vas aan die betroubare woord sodat hulle in staat kan wees om deur die gesonde leer te vermaan’.—Tit. 1:5-9.

17, 18. Wat moet jy in gedagte hou wanneer ’n ouer man jou ernstig vermaan?

17 Ouer manne is natuurlik onvolmaak en sê dalk dinge waaroor hulle later spyt is (1 Kon. 8:46; Jak. 3:8). Ouer manne weet ook dat dit geestelike broers en susters gewoonlik nie “vreugdevol” maak om raad te ontvang nie, maar dat dit eerder “bedroewend” is (Heb. 12:11). Wanneer ’n ouer man dus na iemand toe gaan om hom of haar ernstig te vermaan, doen hy dit waarskynlik nadat hy baie oor die saak nagedink en gebid het. As jy al ernstig vermaan is, het jy daardie ouer man se liefdevolle besorgdheid waardeer?

18 Gestel jy het ’n gesondheidsprobleem waarvoor daar skynbaar nie ’n mediese verklaring is nie. Dan diagnoseer ’n dokter die probleem akkuraat, maar die diagnose is nogal moeilik om te aanvaar. Sal jy daardie dokter kwalik neem? Nee! Al beveel hy ’n operasie aan, sal jy waarskynlik die behandeling aanvaar omdat jy glo dat dit vir jou beswil is. Die manier waarop die dokter die inligting oordra, het moontlik ’n uitwerking op jou gevoelens, maar sal jy toelaat dat dit jou besluit beïnvloed? Heel moontlik nie. Moet dan ook nie toelaat dat die manier waarop jy ernstig vermaan word, verhinder dat jy luister na dié wat Jehovah en Jesus moontlik gebruik om vir jou te toon hoe jy jouself geestelik kan help of beskerm nie.

Waardeer Jehovah se voorsiening van die ouer manne

19, 20. Hoe kan jy waardering vir die “gawes in die vorm van mense” toon?

19 Wat sal jy doen as jy ’n geskenk ontvang wat spesiaal vir jou gemaak is? Sal jy jou waardering toon deur dit te gebruik? Jehovah het aan jou die “gawes in die vorm van mense” deur Jesus Christus voorsien. Een manier waarop jy jou dankbaarheid vir hierdie gawes kan toon, is deur aandagtig te luister na die toesprake wat die ouer manne hou en deur die gedagtes wat hulle meld, te probeer toepas. Jy kan ook jou waardering toon deur by vergaderinge sinvolle kommentaar te lewer. Ondersteun die werk waarin die ouer manne die leiding neem, soos die veldbediening. As jy baat gevind het by raad wat jy by ’n sekere ouer man gekry het, kan jy dit gerus vir hom sê. Kan jy dalk ook jou waardering vir die ouer manne se gesinne toon? Onthou, ’n ouer man se gesin offer tyd op wat hulle saam met hom kon bestee het, sodat hy hard kan werk in die gemeente.

20 Ja, ons het oorgenoeg rede om dankbaarheid te toon vir die ouer manne, wat hard onder ons werk, onder ons die leiding neem en ons ernstig vermaan. Hierdie “gawes in die vorm van mense” is werklik ’n liefdevolle voorsiening van Jehovah!

Onthou jy?

• Watter redes het die Christene in Tessalonika gehad om dié te waardeer wat die leiding onder hulle geneem het?

• Hoe werk die ouer manne in julle gemeente hard vir jou?

• Hoe vind jy daarby baat dat die ouer manne die leiding onder julle neem?

• Wat moet jy in gedagte hou as ’n ouer man jou ernstig vermaan?

[Prent op bladsy 27]

Waardeer jy die baie maniere waarop die ouer manne as herders toesig hou oor die gemeente?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel