Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • tp hfst. 12 bl. 129-141
  • Eerbied vir gesag is noodsaaklik vir ’n vreedsame lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Eerbied vir gesag is noodsaaklik vir ’n vreedsame lewe
  • Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die regte beskouing van sekulêre gesag
  • Gesag in die huis
  • In die Christengemeente
  • Waarom moet ons gesag respekteer?
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Wie se gesag moet jy erken?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Die Christelike beskouing van gesag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Respek vir gesag—Waarom is dit noodsaaklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
tp hfst. 12 bl. 129-141

Hoofstuk 12

Eerbied vir gesag is noodsaaklik vir ’n vreedsame lewe

1-3. (a) Wat het bygedra tot die algemene verwerping van gesag in ons dag? (b) Op watter verskillende maniere word hierdie gesindheid geopenbaar? (c) Waar word die gevolge waargeneem?

DIE wêreld is vandag deurtrek van ’n gees van onafhanklikheid. ’n Algemene wantroue jeens gesag het ontwikkel, veral onder diegene wat sedert die Tweede Wêreldoorlog gebore is. Waarom? Een rede is dat hulle ouers ongeëwenaarde verdrukking aanskou het, asook die eiemagtige en korrupte taktiek van maghebbers. Hulle het ’n lae dunk van gesag gekry. Gevolglik het baie van hulle, toe hulle ouers geword het, nie eerbied vir gesag by hulle kinders ingeskerp nie. En die onregverdigheid van owerheidsweë wat die kinders aanskou het, het sake ook nie verbeter nie. Minagting vir gesag het gevolglik iets algemeens geword.

2 Daardie minagting word op verskeie maniere getoon. Soms is dit deur die aanvaarding van ’n soort kleredrag of ’n bepaalde voorkoms wat aandui dat aanvaarde norme verwerp word. Dit kan die vorm van openbare uittarting van die polisie of selfs van geweld en bloedvergieting aanneem. Maar dit is nie tot hierdie dinge beperk nie. Selfs onder diegene wat hulle gevoelens nie op hierdie openlike maniere lug nie, is daar baie wat wette ignoreer of omseil as hulle nie met sulke wette saamstem nie of dit ongerieflik vind.

3 Hierdie situasie het ’n groot invloed gehad op die atmosfeer in huise, in skole, by werkplekke en in kontak met staatsamptenare. Mense wil al hoe minder hê dat iemand anders vir hulle moet voorskryf. Hulle strewe na wat hulle meen groter vryheid is. Wat gaan jy te midde van hierdie situasie doen?

4. Ons gesindheid teenoor watter geskil word deur ons optrede in hierdie saak geopenbaar?

4 Jou handelwyse sal toon aan watter kant jy jou in die geskil oor Jehovah se universele soewereiniteit geskaar het. Respekteer jy Jehovah werklik as die Bron van ware vrede en veiligheid? Gaan jy vasstel wat sy Woord sê en dit dan in jou lewe toepas? Of gaan jy jou skaar by diegene wat onafhanklik hul eie besluite neem oor wat goed en wat kwaad is?—Genesis 3:​1-5; Openbaring 12:9.

5. (a) Wat is dikwels die gevolg as jy mense volg wat jou “vryheid” beloof? (b) Hoe vry is die persoon wat God se wil doen?

5 Juiste kennis van die Bybel kan voorkom dat jy mislei word deur diegene wat ‘vryheid belowe, maar self slawe van die verdorwenheid is’ (2 Petrus 2:​18, 19). ’n Mens kan alleen ware vryheid verkry as jy leer wat God se wil is en dit dan doen. Sy goddelike gebod is “die volmaakte wet van die vryheid” (Jakobus 1:​25). Dit is die geval omdat Jehovah ons nie onnodig aan bande lê en inperk met reëls wat van geen nut is nie. Maar sy wet bied wel die soort leiding wat die vryheid, vrede en veiligheid meebring wat op ’n regte verhouding met God en met ons medemens gebaseer is.

6, 7. (a) Wie is in die beste posisie om iets omtrent die misbruik van gesag te doen? (b) Hoe het Jesus getoon wat met mense gebeur wat eiemagtig optree?

6 God weet beter as enigeen hoe verdorwe die mens is en in watter mate gesag misbruik word. En hy het ons verseker dat hy rekenskap van verdrukkers sal eis, ongeag hoe hooggeplaas hulle is (Romeine 14:​12). Op God se bestemde tyd sal “die goddelose . . . uit die land uitgeroei, en die ontroues . . . daaruit weggeruk word” (Spreuke 2:​22). Maar dit sal geen blywende nut vir onsself stig as ons ongeduldig raak en eiemagtig optree nie.—Romeine 12:​17-19.

7 Die nag toe Jesus verraai en in hegtenis geneem is, het hy sy apostels dít op die hart gedruk. Vanweë die toestande in die land, en omdat daar wilde diere was, het mense dikwels wapens gedra. By daardie geleentheid het Jesus se apostels dus twee swaarde by hulle gehad (Lukas 22:​38). Wat het gebeur? Wel, hulle het ’n gruwelike verdraaiing van die reg gesien toe Jesus sonder oorsaak in hegtenis geneem is. Die apostel Petrus het gevolglik impulsief sy swaard uitgepluk en die oor van een van die manne afgekap. Maar Jesus het die afgekapte oor weer aangesit en Petrus vermaan: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan” (Mattheüs 26:​52). Selfs in ons dag sou baie mense nie ’n ontydige dood gesterf het as hulle hierdie raad gevolg het nie.—Spreuke 24:​21, 22.

Die regte beskouing van sekulêre gesag

8. (a) Hoe moet Christene sekulêre heersers volgens Romeine 13:​1, 2 beskou? (b) Wat word bedoel met die verklaring dat God hulle “in hulle relatiewe posisies geplaas” het?

8 Toe die apostel Paulus aan Christene in Rome geskryf het, is hy deur God geïnspireer om te bespreek hoe hulle hulle teenoor sekulêre owerhede moet gedra. Hy het geskryf: “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is [“hoëre owerhede”, NW]. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God [“is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas”, NW]. Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry” (Romeine 13:​1, 2, NAV). Beteken dit dat God hierdie sekulêre heersers aan die bewind gestel het? Die Bybel antwoord beslis nee! (Lukas 4:​5, 6; Openbaring 13:​1, 2). Maar hulle bestaan wel met sy toestemming. En die ‘relatiewe posisie’ wat hulle in die loop van die geskiedenis beklee het, is deur God bepaal. Wat is daardie posisie?

9. Waarom kan ons eerbied aan amptenare betoon selfs al bedryf hulle verkeerde dinge?

9 Die teks wat so pas aangehaal is, sê dat dit ’n “hoëre” is. Staatsamptenare moet derhalwe nie met minagting behandel word nie. Die wette wat hulle maak, moet nie veronagsaam word nie. Dit beteken nie noodwendig dat jy die individue bewonder of dat jy enige verdorwenheid waaraan hulle hulle moontlik skuldig maak, goedkeur nie. Maar jy toon tereg eerbied vanweë die amp wat hulle beklee.—Titus 3:​1, 2.

10. Hoe moet die betaling van belasting beskou word, en waarom?

10 Sekulêre wette strek die mens grotendeels tot voordeel. Hulle help om die orde te bewaar en waarborg ’n mate van beskerming vir mense en hulle eiendom (Romeine 13:​3, 4). Regerings voorsien daarbenewens gewoonlik paaie, sanitêre dienste, brandweerdienste, onderwys en ander dienste wat die mense bevoordeel. Moet hulle vir hierdie dienste betaal word? Moet ons belasting betaal? Hierdie vraag lok dikwels sterk gevoelens uit vanweë hoë belastings en omdat staatsgeld dikwels misbruik word. In Jesus se dag het die vraag ook ’n politieke kleur gehad. Maar Jesus het nie die standpunt ingeneem dat die situasie wat destyds bestaan het mense die reg gegee het om te weier om belasting te betaal nie. Hy het na die geld wat deur die Romeinse keiser gemunt is, verwys en gesê: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Mattheüs 22:​17-21; Romeine 13:​6, 7). Nee, Jesus het nie die gedagte onderskryf dat elkeen maar kan maak soos hy wil nie.

11, 12. (a) Hoe toon die Skrif dat daar nog ’n owerheid is wat in aanmerking geneem moet word? (b) Wat sal jy doen as sekulêre heersers bevele uitreik wat met God se vereistes bots, en waarom?

11 Jesus het egter getoon dat “die keiser”, die sekulêre staat, nie die enigste gesag is wat in aanmerking geneem moet word nie. “Die hoëre owerhede” is nie hoër as God of selfs gelyk aan hom nie. Inteendeel, hulle is baie laer as hy. Hulle gesag is dus beperk, nie absoluut nie. Christene moes gevolglik al dikwels ’n kritieke besluit neem. Dit is ’n besluit wat jy ook moet neem. Wat gaan jy doen wanneer die manne wat aan die bewind is, eis dat jy aan hulle iets moet gee wat God toekom? Wie gaan jy gehoorsaam as hulle jou verbied om iets te doen wat God beveel gedoen moet word?

12 Jesus se apostels het hulle posisie eerbiedig maar ferm aan die lede van die Hoë Raad in Jerusalem gestel: “Vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie. . . . Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 4:​19, 20; 5:​29). Regerings het soms in noodsituasies beperkings ingestel, en dit is verstaanbaar. Maar soms is die doel van regeringsbeperkings om ons aanbidding van God te bemoeilik en dit onmoontlik te maak om Godgegewe verpligtinge na te kom. Wat dan? God se geïnspireerde Woord antwoord: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”

13, 14. (a) Hoekom is dit so belangrik dat ons sekulêre wette nie net om persoonlike redes verbreek nie? (b) Toon redes hiervoor uit die Skrif aan.

13 Hoewel die nakoming van hierdie verpligting teenoor God kan bots met wat “die keiser” vereis, is dit heeltemal iets anders as om onafhanklik wette waarmee ons nie saamstem nie te verbreek. Uit ’n persoonlike standpunt lyk sekere wette weliswaar onnodig of gans te beperkend. Maar dit gee ons nie die reg om wette te ignoreer wat nie met God se wette bots nie. Wat sou die gevolg wees as almal slegs die wette gehoorsaam het wat hulle gemeen het hulself bevoordeel? Dit sou net tot anargie lei.

14 Soms kan ’n persoon dink dat hy gesag kan ignoreer en doen wat hom behaag omdat dit onwaarskynlik is dat hy gevang en gestraf sal word. Maar dit hou groot gevaar in. Hoewel minagting vir die wet aanvanklik in minder belangrike sake getoon word, kan dit ’n persoon tot groter wetteloosheid aanspoor as hy nie gestraf word nie. Prediker 8:​11 sê: “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen.” Maar is die eintlike rede vir wetsgehoorsaamheid bloot vrees vir straf weens ongehoorsaamheid? In die geval van ’n Christen behoort daar ’n baie sterker beweegrede te wees. Die apostel Paulus het dit ’n “dwingende rede” genoem—die begeerte om ’n rein gewete te hê (Romeine 13:5, NW). ’n Persoon wie se gewete deur Skriftuurlike beginsels opgelei is, weet dat hy teen “die ordening van God” in opstand sou kom as hy ’n wettelose weg sou bewandel. Dit maak nie saak of ander mense weet wat ons doen nie, God weet, en ons vooruitsigte op toekomstige lewe hang van hom af.—1 Petrus 2:​12-17.

15. (a) Waardeur moet ’n mens jou laat lei in jou gesindheid teenoor ’n onderwyser of werkgewer? (b) Deur wie se gees sal ons gevolglik nie beïnvloed word nie?

15 Dieselfde geld vir ’n jong persoon se gesindheid teenoor sy onderwyser en vir ’n volwassene se gesindheid teenoor sy sekulêre werkgewer. Die feit dat baie mense om ons verkeerde dinge doen, moet nie die beslissende faktor wees nie. Dit behoort geen verskil te maak of die onderwyser of die werkgewer nou weet wat ons doen of nie. Die vraag is: Wat is reg? Wat behaag God? As daar andersyds van ons verwag word om iets te doen wat nie met God se wet of regverdige beginsels bots nie, gee ons ons samewerking. Onderwysers is gewoonlik verteenwoordigers van die sekulêre regering en gevolglik agente van “die hoëre owerhede”. Hulle verdien derhalwe eerbied. En hoewel Paulus in Titus 2:​9, 10 oor ’n ander verhouding geskryf het, naamlik dié van slawe tot hulle eienaars, kan die Bybelbeginsel aldaar op sekulêre werkgewers toegepas word. Paulus het gesê: “[Stel] hulle tevrede . . . bewys dat [julle] in alles betroubaar is. So sal [julle] in alles wat [julle] doen, die aansien van die leer van God ons Verlosser verhoog” (Titus 2:​9, 10, NAV). So vermy ons die invloed van Satan, wie se gees “in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” en bou ons vreedsame verhoudinge met ons medemens.—Efesiërs 2:​2, 3.

Gesag in die huis

16. Watter vereiste vir harmoniese gesinslewe word in 1 Korinthiërs 11:3 gestel?

16 Die gesinskring is nog ’n gebied waarop eerbied vir gesag vrede bevorder. Sulke heilsame eerbied ontbreek alte dikwels, en dit lei tot die verbrokkeling van gesinsverhoudinge en dikwels die verbrokkeling van die gesin self. Wat kan gedoen word om die situasie te verbeter? Die hoofskapbeginsel, wat in 1 Korinthiërs 11:3 uiteengesit word, bevat die oplossing: “Julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.”

17. (a) Wat is die man se posisie wat hoofskap betref? (b) Watter goeie voorbeeld van hoofskap het Christus vir die man gestel?

17 Let daarop dat hierdie verklaring van Jehovah se reëling nie in die eerste plek op die man se hoofskap wys nie. Dit vestig eerder die aandag op die feit dat daar iemand is op wie die man vir leiding moet staatmaak, iemand wie se voorbeeld hy moet volg. Daardie iemand is Jesus Christus. Hy is die hoof van die man. En in sy handelinge met sy gemeente, wat met ’n bruid vergelyk word, het Christus getoon hoe ’n man ’n sukses van sy hoofskap kan maak. Sy goeie voorbeeld het sy volgelinge aangespoor om hulle gewillig te onderwerp. Wanneer Jesus die leiding gegee het, het hy nie soos ’n hardvogtige en veeleisende baas teenoor sy volgelinge opgetree nie, maar was hy “sagmoedig en nederig van hart” sodat hulle rus vir hulle siele gevind het (Mattheüs 11:​28-30). Het hy hulle gekleineer vanweë hulle tekortkominge? Inteendeel, hy het hulle liefdevol vermaan en selfs sy lewe afgelê om hulle van hulle sondes te reinig (Efesiërs 5:​25-30). Watter seën sal dit tog vir enige gesin wees om ’n man te hê wat opreg probeer om daardie voorbeeld te volg!

18. (a) Hoe kan ’n vrou toon dat sy die gesag van haar man respekteer? (b) Hoe moet kinders eerbied vir hulle ouers toon, en waarom?

18 Wanneer daar sulke hoofskap in die huis is, is dit nie vir ’n vrou moeilik om haar man te eerbiedig nie. En dan is die kinders ook meer geneë om gehoorsaam te wees. Maar die vrou en kinders kan ook ’n groot bydrae tot gesinsgeluk lewer. Deur vlytig na die gesin om te sien en deur haar gees van samewerking toon ’n vrou dat sy haar man “eerbiedig”. Is dit die geval in julle gesin? (Efesiërs 5:​33; Spreuke 31:​10-15, 27, 28). En deur gewillige gehoorsaamheid aan vader sowel as moeder toon die kinders dat hulle hulle ouers eer, soos God vereis (Efesiërs 6:​1-3). Sal daar nie baie meer vrede en ’n veel groter gevoel van persoonlike veiligheid in so ’n huisgesin wees as in een waar daar nie eerbied vir gesag is nie?

19. Wat moet jy doen as jy die enigste een in die gesin is wat probeer om die leiding van God se Woord te volg?

19 Jy kan help om julle huis so ’n plek te maak. Of ander gesinslede nou verkies om Jehovah se weë te handhaaf of nie, jy kan dit doen. Die ander sal dalk jou goeie voorbeeld volg (1 Korinthiërs 7:​16; Titus 2:​6-8). Selfs al doen hulle dit nie, sal jou gedrag van die korrektheid van God se weë getuig, en dit het groot waarde.—1 Petrus 3:​16, 17.

20, 21. (a) Hoe toon die Bybel dat die gesag van ’n man en van ouers nie absoluut is nie? (b) Voor watter besluit kan ’n Christenvrou of gelowige kinders dus te staan kom, en wat moet hulle beweegrede wees?

20 Hou in gedagte dat die hele raamwerk van gesinsgesag by God ontstaan het. Mans moet gevolglik onderdanig wees aan Christus, vrouens aan hulle mans “soos dit betaamlik is in die Here”, en kinders aan hulle ouers, “want dit is die Here welbehaaglik” (Kolossense 3:​18, 20; 1 Korinthiërs 11:3). God kan dus nie buite rekening gelaat word nie, nie waar nie? Dit beteken dat die gesag van ’n man oor sy vrou, of van ouers oor hulle kinders, relatief is. Dit wil sê, die Christeneggenoot en -kinders is eerstens onderworpe aan God en Christus, en gehoorsaam húlle raad. Daardie gedagte sal sommige ongelowige huweliksmaats of ouers aanvanklik nie aanstaan nie. Maar dit strek hulle in werklikheid tot voordeel, want dit sal help om die gelowige huweliksmaat en kinders betroubaarder en eerbiediger te maak.

21 Gestel egter dat ’n man iets van sy vrou sou vereis wat nie “betaamlik is in die Here” nie. Wat sy doen, sal toon of sy God werklik “vrees” of nie (Prediker 12:​13). Dieselfde is waar wanneer kinders oud genoeg is om God se Woord te verstaan en te gehoorsaam. As hulle ouers nie hulle begeerte deel om Jehovah te dien nie, moet die kinders besluit of hulle lojaal aan God gaan wees of die lot van hulle ouers wat nie lojaal is nie, wil deel (Mattheüs 10:​37-39). Maar afgesien van hulle eerste verpligting teenoor God, moet kinders in “alles” onderdanig wees, selfs al sou dit beteken dat hulle dinge moet doen waarvan hulle nie hou nie (Kolossense 3:​20). Hierdie gedrag kan Jehovah se voorsienings vir redding dalk selfs vir hulle ouers aantreklik maak. Dit is waarlik “die Here welbehaaglik” wanneer ’n mens se beweegrede lojaliteit aan Jehovah en sy regverdige weë is, in plaas van ongehoorsaamheid wat uit ’n onafhanklike gees voortspruit.

In die Christengemeente

22, 23. (a) Hoe dien Christenopsieners die lede van die gemeente? (b) Watter gesindheid moet ons dus volgens Hebreërs 13:​17 teenoor hulle hê?

22 Dieselfde lojaliteit teenoor Jehovah moet weerspieël word deur ons gesindheid teenoor sy Christengemeente en diegene wat daarna omsien. Jehovah het opsieners voorsien om “die kudde” as herders te versorg. Hulle ontvang geen salaris nie, maar dien gewillig uit opregte besorgdheid oor hulle Christenbroers en -susters (1 Petrus 5:2; 1 Thessalonicense 2:​7-9). Hulle help die gemeente om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Uit besorgdheid oor elke lid van die gemeente help hulle hulle ook om te leer hoe om Bybelbeginsels in hulle lewe toe te pas. En as enige lid van die gemeente ’n misstap begaan sonder dat hy ten volle daarvan bewus is, word ’n poging aangewend om hom te herstel (Galasiërs 6:1). As ’n lid Skriftuurlike raad veronagsaam en ernstige sonde bedryf, sorg die opsieners dat hy uitgesit word. So word die gemeente teen sy verderflike invloed beskerm.—1 Korinthiërs 5:​12, 13.

23 Uit waardering vir hierdie liefdevolle voorsiening van Jehovah om vrede onder sy volk te verseker, moet ons ag slaan op die vermaning in Hebreërs 13:​17: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”

24, 25. (a) Hoe moet ons beskouing van die ouere manne beïnvloed word deur wat hulle aan ons leer? (b) Wanneer en waar moet ons die dinge wat ons uit die Bybel geleer word, toepas? Waarom?

24 Die Bybel beklemtoon dat ’n vername rede waarom hierdie opsieners of ouere manne eerbied verdien die feit is dat hulle “die woord van God” aan ander leer (Hebreërs 13:7; 1 Timotheüs 5:​17). En aangaande die krag van daardie “woord” sê Hebreërs 4:​12, 13: “Die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.”

25 Die waarhede in Jehovah se Woord lê gevolglik die verskil bloot tussen wat ’n persoon op die oog af is en wat hy werklik is. As hy ware geloof in God het sowel as ’n opregte begeerte om sy Skepper te behaag, sal sy beweegrede “die heerlikheid van God” behoorlik weerspieël, selfs wanneer die gemeentelike ouere manne hom nie kan sien nie (Romeine 3:​23). Hy sal hom nie skuldig maak aan onskriftuurlike gedrag bloot omdat dit nie onder die ernstige oortredinge tel waarvoor iemand uit die gemeente gesit kan word nie. As iemand dus geneig is om enige van die raad in God se Woord lig op te neem, moet hy noukeurig ondersoek wat sy gesindheid teenoor God werklik is. Is hy besig om soos die persoon te word waarvan Psalm 14:1 sê: “Die dwaas sê”—nee, nie in die openbaar nie⁠—​maar “in sy hart: Daar is geen God nie”?

26, 27. (a) Waarom is dit belangrik om “elke woord” van Jehovah ernstig op te neem? (b) Hoe word ons lewe beïnvloed as ons aldus eerbied vir gesag toon?

26 Toe Jesus deur die Duiwel versoek is, het hy gesê: “Die mens sal . . . lewe . . . van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4). Glo jy dat “elke woord” van Jehovah belangrik is, dat nie een geïgnoreer moet word nie? Gehoorsaamheid aan sommige van Jehovah se vereistes, terwyl ander as onbelangrik bejeën word, is eenvoudig nie genoeg nie. Òf ons verdedig die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit òf ons kies die Duiwel se kant van die geskil deur ons eie maatstaf van wat goed en wat kwaad is te stel. Gelukkig is diegene wat toon dat hulle Jehovah se wet waarlik liefhet.—Psalm 119:​165.

27 Sulke mense word nie verstrik deur die verdelende gees van die wêreld nie. Hulle gee hulle ook nie oor aan die skandelike gedrag van diegene wat morele beperkinge oorboord gooi nie. Innige eerbied vir Jehovah en sy regverdige weë verleen bestendigheid aan hulle lewe. Sulke eerbied vir Jehovah en sy weë stel hulle in staat om behoorlike eerbied vir aardse owerhede te hê, iets wat noodsaaklik is vir ’n vreedsame lewe.

[Prent op bladsy 134]

Jesus se apostels het vir die Hoë Raad gesê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel