Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ws hfst. 12 bl. 98-105
  • God se nuwe verbond nader volvoering

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se nuwe verbond nader volvoering
  • Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Beter verbond met ’n beter middelaar
  • ‘Verouderde’ ou verbond vervang
  • ’n “Ewige verbond”
  • Julle sal “’n koninkryk van priesters” word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Die “Vredevors” vestig sy aandag op diegene buite die nuwe verbond
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Jy kan baat vind by die nuwe verbond
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
ws hfst. 12 bl. 98-105

Hoofstuk 12

God se nuwe verbond nader volvoering

1. (a) Wat sou met ons aarde gebeur indien God nie getrou gebly het aan sy verbond met die dag en dié met die nag nie? (b) Waarvan kan ons seker wees aangesien God sy verbonde getrou hou?

WAT sou ons doen as God nie getrou gebly het aan sy verbond met die dag en dié met die nag nie? In plaas van om die beurt dag en nag te hê, sou ons aarde òf voortdurend in lig gebaai gewees het òf in voortdurende duisternis gehul gewees het (Genesis 1:1, 2, 14-19). Maar God hou getrou sy verbonde. Ons kan dus absoluut seker wees dat die maan, die son en die sterrestelsels van die hemele nooit vernietig sal word nie; ook nie ons planeet Aarde nie.

2. Wat het Jehovah vir die Jode gesê in verband met sy verbond met die dag en dié met die nag?

2 Waar God van sy verbond met die dag en dié met die nag gepraat het, het hy vir die Jode onder die koninkryk van die dinastie van Dawid gesê: “As julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, dat daar geen dag of nag op hulle tyd is nie, dan sal ook my verbond met Dawid, my kneg, verbreek kan word, dat daar vir hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie.”—Jeremia 33:20, 21.

3. Wat toon hierdie woorde aangaande sy verbond met Dawid vir ’n ewige Koninkryk?

3 In daardie woorde het ons indirekte bewys dat ons aarde, tesame met die son en die maan, vir ewig sal bestaan (Prediker 1:4). Ons aarde sal vir ewig deur mense bewoon word, sodat hulle die prag van die dag en van die nag kan geniet onder die God wat aan sy verbonde getrou bly, die mens se Skepper. En net soos Jehovah getrou gebly het aan sy verbond met die dag en dié met die nag, so het hy getrou gebly aan sy verbond met eertydse koning Dawid vir ’n ewige Koninkryk in Dawid se geslag. Dit is waar selfs al moes die setel van die Koninkryk van die aarde na die onsigbare hemele oorgeplaas word.—Psalm 110:1-3.

4. (a) Met watter ander verbond word God se verbond met Dawid vir ’n ewige Koninkryk geassosieer? (b) Wat het Jesus Christus daaroor gesê, en onder watter omstandighede?

4 God se verbond vir ’n ewige Koninkryk in die geslag van Dawid word geassosieer met ’n ander verbond, “die nuwe verbond”. Hierdie verbond wat ’n ou verbond sou vervang, is deur Jesus gemeld. Dit was nadat hy die Joodse Pasga saam met sy getroue dissipels op die nag van 14 Nisan 33 G.J. gevier het. Hy het iets ingestel wat later “die nagmaal van die Here” genoem is. Hy het geweet dat hy op daardie selfde Pasgadag sy bloed as offer sou uitstort. In die lig daarvan het hy ’n beker rooi wyn geneem, maar voordat hy dit aan sy getroue apostels gegee het, het hy gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed.”—Lukas 22:20, NAV; 1 Korinthiërs 11:20, 23-26.

5. Aan wie het God sy belofte van ’n nuwe verbond gedoen, en beweer die Republiek van Israel dat hy in hierdie verbond is?

5 Net soos die ou verbond is die nuwe verbond met ’n nasie gesluit, maar nie met enige van die nasies van die Christendom nie. Hoewel die belofte van die nuwe verbond meer as 2 500 jare gelede deur middel van die profeet Jeremia aan die nasie Israel gedoen is, beweer die hedendaagse Republiek van Israel nie dat dit in die nuwe verbond is nie. Die Republiek van Israel het eerder ’n lid van die VV geword.

6. Waarom het God, volgens Jeremia hoofstuk 31, dit nodig gevind om ’n nuwe verbond te sluit, en wat sou dit tot gevolg hê?

6 Waarom wou God ’n nuwe verbond hê? Jeremia 31:31-34 verduidelik: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat hulle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE [“Jehovah”, NW]; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.”

’n Beter verbond met ’n beter middelaar

7. Is die nuwe verbond ’n hernuwing van die verbond wat die Israeliete verbreek het, en waarom is dit beter as die Wetsverbond?

7 Die nuwe verbond is nie bloot ’n hernuwing van die vroeëre verbond wat die Israeliete verbreek het nie. Hoegenaamd nie! Want die apostel Paulus het aan die Christene in Rome geskryf en gesê: “Julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Romeine 6:14). Dit is werklik ’n nuwe verbond, en ’n mens kon verwag dat dit ’n beter een sou wees, want die almagtige God Jehovah kan sake verbeter vir diegene wat hy toelaat om tot die nuwe verbond toe te tree. Hy het byvoorbeeld ’n beter middelaar of tussenpersoon verwek by die totstandbrenging van die nuwe verbond. Hierdie Middelaar was nie ’n onvolmaakte, sondige man soos die profeet Moses nie.

8. (a) Wat het die nuwe verbond wat dit beter as die Wetsverbond maak? (b) Wie is die Middelaar van die beter nuwe verbond? (c) Wat sê Hebreërs 8:6, 13 oor die nuwe verbond en die voortreflikheid van sy Middelaar, en watter uitwerking sou dit op die vorige verbond hê?

8 Die Wetsverbond waarvan die profeet Moses die middelaar was, was op sigself goed. Daardie verbond het egter voorsiening gemaak vir die opoffering van diere waarvan die bloed nooit mensesondes kon wegneem nie. As Jehovah God dus ’n beter verbond tot stand wou bring, moes daar ’n beter middelaar met ’n beter offer wees. Hierdie broodnodige Middelaar was Jesus Christus. Waar die Bybel op die voortreflikheid van hierdie Middelaar vergeleke met die profeet Moses wys, verstrek dit die volgende verduideliking: “Maar nou het Hy ’n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is. . . . As Hy sê ’n nuwe verbond, het Hy die eerste oud [“verouderd”, NW] gemaak.”—Hebreërs 8:6, 13.

‘Verouderde’ ou verbond vervang

9. (a) Op watter dag het die ou verbond verbygegaan? (b) Wat het daardie oggend plaasgevind, en waarvan was dit bevestiging?

9 Daardie ‘verouderde’ of uitgediende verbond het 50 dae na die opstanding van die Middelaar van die nuwe verbond verbygegaan. Dit het plaasgevind op Pinksterdag. Op die oggend van daardie dag het die teenbeeld van die Joodse Fees van die Insameling begin. Hoe? Wel, 120 getroue dissipels van die Middelaar van die nuwe verbond het in ’n bovertrek in Jerusalem vergader en die beloofde heilige gees ontvang ter vervulling van die profesie in Joël 2:28-32. Dit het bevestig dat die nuwe verbond in werking getree het deur sigbare en hoorbare bewys aan alle waarnemers te lewer.

10. Hoe is daar op daardie Pinksterdag getoon dat Jesus se dissipels met die heilige gees gesalf is?

10 Toe Jesus uit die doopwaters opgekom en die heilige gees op hom uitgegiet is, is die gees wonderdadig versinnebeeld deur ’n duif wat bo sy kop gefladder het. Maar hoe is daar in die geval van die 120 Hebreeuse dissipels op Pinksterdag getoon dat hulle met die heilige gees gesalf is? Deur die verskyning van tonge soos van vuur bokant hulle kop en deur die feit dat hulle begaaf is met die vermoë om God se Woord te verkondig in vreemde tale wat hulle nooit geleer het nie.—Mattheüs 3:16; Handelinge 2:1-36.

11. (a) Wat behoort vir die Jode duidelik te wees, en waarom? (b) Hoe weet ons dat Jode nie vir mekaar sê: “Ken Jehovah!” nie, en watter geluk smaak hulle nie?

11 Dit behoort vir die Jode en hulle rabbi’s duidelik te wees dat die Mosaïese Wetsverbond nie langer van krag is nie. Sedert die vernietiging van Jerusalem deur die Romeinse legioene in 70 G.J. het hulle nie meer ’n tempel nie. Hulle geslagsregisters het destyds verlore geraak of is vernietig. Hulle weet dus vandag nie wie tot die stam van Levi behoort en wie ’n afstammeling van Aäron is om in die hoedanigheid van hoëpriester vir die Joodse nasie te dien nie. In plaas van vir mekaar te sê: “Ken Jehovah!” meen hulle dat dit heiligskennis is om die goddelike naam uit te spreek. Hulle deel gevolglik nie Jehovah se Getuies se geluk oor die feit dat die ‘verouderde’ ou verbond deur die nuwe verbond vervang is nie.

’n “Ewige verbond”

12. (a) Op watter gebed kan Jehovah se Getuies uit die hart amen sê? (b) Waarmee is Jesus uit die dood opgewek?

12 In skerp teenstelling met die Joodse situasie vandag, het Jehovah se Getuies ’n bedrywige, dienende Hoëpriester aan God se regterhand in die hemele. Hy is die Middelaar van die nuwe verbond, ’n middelaar veel groter as Moses. Hierdie getuies van Jehovah kan uit die hart amen sê op die skrywer se gebed in Hebreërs 13:20, 21 (NAV): “God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen.” Aangesien daardie “groot Herder” sy menselewe vir “sy kudde” afgelê het, kon hy uit die dood opgewek word in ’n onsterflike, bloedlose geesliggaam, maar met die waarde van die bloed van die nuwe verbond wat getrou gehou word en waarvan die goeie uitwerking vir ewig duur.

13. (a) Hoe herdenk Jehovah se Getuies elke jaar die dood van die Middelaar van die nuwe verbond? (b) Waarvan is die embleme sinnebeelde?

13 Die offerdood van die Middelaar van die nuwe verbond, Jesus Christus, word elke jaar op die datum van “die nagmaal van die Here” herdenk. Die ongesuurde brood wat gedurende daardie “nagmaal” geëet word deur diegene wat ’n party in die nuwe verbond is, is ’n sinnebeeld van die volmaakte vlees van die Middelaar, en die wyn is ’n sinnebeeld van die rein, onbesoedelde bloed wat volgens die Skrif die lewenswaarde van die Middelaar bevat het.—1 Korinthiërs 11:20-26; Levitikus 17:11.

14. Wat doen diegene in die nuwe verbond simbolies gesproke wanneer hulle die Gedenkmaalembleme gebruik?

14 Wanneer diegene in die nuwe verbond by “die nagmaal van die Here” uit die Gedenkmaalwynbeker drink, is dit slegs op figuurlike wyse dat hulle bloed drink, naamlik dié van die Middelaar van die nuwe verbond. Wanneer hulle die ongesuurde Gedenkmaalbrood eet, eet hulle sy vlees ook op ’n simboliese wyse. Deur dit te doen, toon hulle, simbolies gesproke, hulle geloof in die losprysoffer van die Seun van God, die Vrykoper van die hele mensdom.

15. (a) Hoe lank is die nuwe verbond reeds van krag, en hoe het dit inderdaad ’n beter verbond geblyk te wees? (b) Waarom kan die nuwe verbond ’n “ewige verbond” genoem word?

15 Die nuwe verbond, wat nou meer as 1950 jaar oud is, sal binnekort volkome aan sy doel beantwoord het. Dit is reeds eeue langer van krag as wat die Mosaïese Wetsverbond was. Daar dit op beter beloftes en ’n beter offerande gebaseer is en ’n beter Middelaar het, is dit inderdaad ’n beter verbond. Daar dit nie deur ’n nuwe en beter verbond vervang hoef te word nie, word die suksesvolle nuwe verbond ’n “ewige verbond” genoem.—Hebreërs 13:20, NAV.

16. Waarvoor moet ons Jehovah God dankbaar wees?

16 Alle dank aan die almagtige God, Jehovah, dat hy ’n Middelaar beter as Moses verwek het, ’n Middelaar waardeur Hy die Mosaïese Wetsverbond wetlik kon wegruim deur dit aan die folterpaal te nael en die bloed van die ewige nuwe verbond kon voorsien!

[Prent op bladsy 105]

Die nuwe verbond waarvan Jesus die Middelaar is, is baie voortrefliker as die ou verbond waarvan Moses die middelaar was

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel