Het jy God se rus ingegaan?
“Die mens wat in God se rus ingegaan het, het ook self van sy eie werke gerus.”—HEBREËRS 4:10.
1. Waarom is rus so begeerlik?
RUS. Wat ’n aangename en lieflike woord tog! Die meeste van ons wat in vandag se gejaagde en dol wêreld lewe, sal saamstem dat ’n bietjie rus baie welkom is. Of ons nou jonk of oud, getroud of ongetroud is, ons voel dalk moeg en mat bloot van ons daaglikse roetine. Vir diegene met liggaamlike beperkinge of gebreke is elke dag ’n uitdaging. Die Skrif sê tereg dat “die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). Iemand wat rus, is nie noodwendig lui nie. Om te rus, is ’n menslike behoefte waarin voorsien moet word.
2. Van wanneer af rus Jehovah?
2 Jehovah God rus self ook. In die boek Genesis lees ons: “Die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag [is voltooi]. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.” Jehovah het spesiale betekenis aan “die sewende dag” geheg, want die geïnspireerde verslag sê voorts: “God het die sewende dag geseën en dit geheilig.”—Genesis 2:1-3.
God het van sy werk gerus
3. Wat kan nie die redes wees waarom God gerus het nie?
3 Waarom het God op “die sewende dag” gerus? Hy het natuurlik nie gerus omdat hy moeg was nie. Jehovah het ’n “oorvloed van dinamiese energie” en “word nie moeg of mat nie”. (Jesaja 40:26, 28, vgl. NW.) God het ook nie gerus omdat hy ’n blaaskans of ’n verandering nodig gehad het nie, want Jesus het vir ons gesê: “My Vader het tot nou toe aangehou werk, en ek hou aan werk” (Johannes 5:17). Hoe dit ook al sy, “God is ’n Gees” en word nie deur die liggaamlike siklusse en behoeftes van fisiese skepsele beperk nie.—Johannes 4:24.
4. Hoe het “die sewende dag” verskil van die voorafgaande ses ‘dae’?
4 Wat kan ons help om te verstaan waarom God op “die sewende dag” gerus het? Deur daarop te let dat God spesifiek “die sewende dag” geseën en “geheilig” het hoewel hy baie tevrede was met wat hy gedurende die lang tydperk van die ses voorafgaande ‘skeppingsdae’ bereik het. Die Concise Oxford Dictionary definieer “heilig” as “uitsluitlik gewy aan of afgesonder vir (’n god of ’n godsdienstige doel)”. Die feit dat Jehovah dus “die sewende dag” geseën en geheilig het, toon dat dit en sy “rus” eerder op die een of ander manier verband moet hou met sy heilige wil en voorneme as met enige behoefte van sy kant. Wat is daardie verband?
5. Wat het God gedurende die eerste ses ‘skeppingsdae’ in werking gestel?
5 Gedurende die voorafgaande ses ‘skeppingsdae’ het God al die siklusse en wette wat die werking van die aarde en alles om die aarde beheer, gemaak en in werking gestel. Wetenskaplikes leer nou hoe wonderlik dit alles ontwerp is. Teen die einde van die “sesde dag” het God die eerste mensepaar geskep en hulle in “’n tuin . . . in Eden, in die Ooste” geplaas. Laastens het God sy voorneme met die mensegesin en die aarde in hierdie profetiese woorde uitgespreek: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”—Genesis 1:28, 31; 2:8.
6. (a) Hoe het God teen die einde van die “sesde dag” gevoel oor alles wat hy geskep het? (b) In watter sin is “die sewende dag” heilig?
6 Aan die einde van die “sesde dag” van die skepping sê die verslag vir ons: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed” (Genesis 1:31). God was tevrede met alles wat hy gemaak het. Hy het derhalwe gerus van, oftewel opgehou met, verdere skeppingswerke met betrekking tot die aarde. Maar hoewel die paradystuin volmaak en pragtig was, het dit slegs ’n klein gebied beslaan, en daar was slegs twee menseskepsele op die aarde. Dit sou tyd neem voordat die aarde en die mensegesin die toestand sou bereik wat God in gedagte gehad het. Om dié rede het hy ’n “sewende dag” bepaal wat dit moontlik sou maak dat alles wat hy in die voorafgaande ses ‘dae’ geskep het in ooreenstemming met sy heilige wil sou ontwikkel. (Vergelyk Efesiërs 1:11.) Wanneer “die sewende dag” ten einde loop, sal die aarde ’n wêreldwye paradys geword het wat vir ewig deur ’n gesin van volmaakte mense bewoon sal word (Jesaja 45:18). “Die sewende dag” word opsy gesit vir, oftewel gewy aan, die uitvoering en verwesenliking van God se wil vir die aarde en die mensdom. In daardie sin is dit ‘heilig’.
7. (a) In watter opsig het God op “die sewende dag” gerus? (b) Hoe sal alles afloop wanneer “die sewende dag” eindig?
7 God het dus op “die sewende dag” van sy skeppingswerke gerus. Dit is asof hy teruggestaan en toegelaat het dat dit wat hy in werking gestel het hulle gang gaan. Hy is vol vertroue dat alles teen die einde van “die sewende dag” presies sal afgeloop het soos hy hom voorgeneem het. Selfs al was daar struikelblokke, hulle sou oorkom word. Alle gehoorsame mense sal daarby baat vind wanneer God se wil ten volle verwesenlik word. Niks sal dit verhinder nie, want God het “die sewende dag” geseën, en hy het dit “geheilig”. Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog vir gehoorsame mense!
Israel het God se rus nie ingegaan nie
8. Wanneer en hoe het die Israeliete die Sabbat begin hou?
8 Die nasie Israel het baat gevind by Jehovah se reëling vir werk en rus. Selfs voordat God die Israeliete die Wet by die berg Sinai gegee het, het hy deur middel van Moses vir hulle gesê: “Kyk, omdat die HERE julle die sabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die sesde dag brood vir twee dae. Laat elkeen bly waar hy is; laat niemand op die sewende dag van sy woonplek af weggaan nie.” Gevolglik het “die volk dan op die sewende dag gerus”.—Exodus 16:22-30.
9. Waarom was die Sabbatswet ongetwyfeld ’n welkome verandering vir die Israeliete?
9 Dit was ’n nuwe reëling vir die Israeliete, wat kort tevore uit slawerny in Egipte verlos is. Hoewel die Egiptenaars en ander nasies tyd in periodes van vyf tot tien dae gemeet het, is dit onwaarskynlik dat die Israeliete wat in slawerny was ’n rusdag toegelaat is. (Vergelyk Exodus 5:1-9.) Daarom is dit redelik om tot die slotsom te kom dat die volk Israel hierdie verandering verwelkom het. Hulle moes nie die Sabbatsvereiste as ’n las of ’n beperking beskou het nie, maar hulle moes bly gewees het om dit na te kom. Trouens, God het later vir hulle gesê dat die Sabbat as ’n herinnering moes dien van hulle slawerny in Egipte en van hoe hy hulle verlos het.—Deuteronomium 5:15.
10, 11. (a) Waarna kon die Israeliete uitsien deur gehoorsaam te wees? (b) Waarom het die Israeliete nie in God se rus ingegaan nie?
10 As die Israeliete wat saam met Moses uit Egipte gekom het, gehoorsaam was, sou hulle die voorreg gehad het om die beloofde ‘land wat van melk en heuning oorgeloop het’ binne te gaan (Exodus 3:8). Daar sou hulle ware rus geniet het, nie net op die Sabbat nie, maar hulle hele lewe lank (Deuteronomium 12:9, 10). Maar dit is nie wat gebeur het nie. Die apostel Paulus het oor hulle geskryf: “Wie was dit wat gehoor en tog aanleiding tot bitter toorn gegee het? Was dit nie in werklikheid almal wat onder Moses uit Egipte uitgegaan het nie? En van wie het God veertig jaar lank ’n afkeer gekry? Was dit nie van dié wat gesondig het, wie se lyke in die wildernis geval het nie? Maar aan wie het hy gesweer dat hulle in sy rus nie sou ingaan nie, behalwe aan dié wat ongehoorsaam gehandel het? Ons sien dus dat hulle weens ongeloof nie kon ingaan nie.”—Hebreërs 3:16-19.
11 Wat ’n kragtige les is dit tog nie vir ons nie! Weens hulle gebrek aan geloof in Jehovah het daardie geslag nie die rus gekry wat hy hulle belowe het nie. Hulle het eerder in die wildernis omgekom. Hulle het nie begryp dat hulle, as Abraham se nakomelinge, ’n belangrike rol gespeel het in God se wil om seëninge vir al die nasies van die aarde te voorsien nie (Genesis 17:7, 8; 22:18). Pleks van in ooreenstemming met God se wil op te tree, is hulle aandag heeltemal afgelei deur hulle alledaagse en selfsugtige begeertes. Mag ons nooit in so ’n weg verval nie!—1 Korintiërs 10:6, 10.
’n Rus bly oor
12. Watter vooruitsig het nog steeds vir eerste-eeuse Christene bestaan, en hoe kon dit vir hulle ’n werklikheid word?
12 Nadat Paulus getoon het dat Israel weens ’n gebrek aan geloof nie in God se rus ingegaan het nie, het hy sy aandag op sy medegelowiges gevestig. Soos daar in Hebreërs 4:1-5 getoon word, het hy hulle verseker dat “’n belofte om in [God se] rus in te gaan van krag bly”. Paulus het hulle aangespoor om geloof in die “goeie nuus” te beoefen, want “ons wat geloof beoefen het, gaan wel in die rus in”. Aangesien die Wet toe reeds deur Jesus se losprysofferande uit die weg geruim is, het Paulus nie hier na die fisiese rus verwys wat deur die Sabbat moontlik gemaak is nie (Kolossense 2:13, 14). Paulus het Genesis 2:2 en Psalm 95:11 aangehaal om die Hebreeuse Christene aan te spoor om God se rus in te gaan.
13. Waarom het Paulus die aandag gevestig op die woord “vandag” toe hy uit Psalm 95 aangehaal het?
13 Die moontlikheid om in God se rus in te gaan, moes “goeie nuus” vir die Hebreeuse Christene gewees het, net soos die Sabbatsrus “goeie nuus” vir die Israeliete voor hulle moes gewees het. Paulus het sy medegelowiges derhalwe aangespoor om nie dieselfde fout te maak wat Israel in die wildernis gemaak het nie. Hy het aangehaal wat nou Psalm 95:7, 8 genoem word en die aandag gevestig op die woord “vandag”, hoewel soveel tyd al verloop het sedert God van sy skeppingswerke gerus het (Hebreërs 4:6, 7). Wat was Paulus se punt? Dit was dat “die sewende dag”, wat God opsy gesit het om toe te laat dat sy voorneme met die aarde en die mens ten volle verwesenlik word, nog steeds voortduur. Dit was gevolglik dringend vir sy mede-Christene om eerder in ooreenstemming met daardie voorneme op te tree as om hulle met selfsugtige strewes besig te hou. Hy het hulle weer eens gewaarsku: ‘Moet julle harte nie verhard nie.’
14. Hoe het Paulus getoon dat God se “rus” nog nie geëindig het nie?
14 Daarbenewens het Paulus getoon dat die beloofde “rus” nie bloot beteken het dat die Israeliete hulle in die Beloofde Land onder Josua se leierskap sou vestig nie (Josua 21:44). “Want as Josua hulle in ’n plek van rus ingelei het,” het Paulus geredeneer, “sou God nie agterna van ’n ander dag gepraat het nie.” In die lig hiervan het Paulus bygevoeg: “Daar bly . . . ’n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:8, 9). Wat is daardie “sabbatsrus”?
Gaan God se rus in
15, 16. (a) Wat is die betekenis van die woord “sabbatsrus”? (b) Wat beteken dit om ‘van jou eie werke te rus’?
15 Die woord “sabbatsrus” is ’n vertaling van ’n Griekse woord wat “om die sabbat te vier” beteken (Kingdom Interlinear). Professor William Lane sê: “Die woord het sy besonderse nuanse gekry van die Sabbatsinstruksie wat in Judaïsme ontwikkel het op grond van Ex 20:8-10, waar dit beklemtoon is dat rus en lof saam hoort . . . [Dit] benadruk die spesiale aspek van feestelikheid en vreugde, wat tot uiting gekom het in die verering en verheerliking van God.” Die beloofde rus is dus nie net ’n vrystelling van werk nie. Dit is ’n verandering van moeisame, doellose werk na vreugdevolle diens wat God eer.
16 Dit word deur Paulus se volgende woorde bevestig: “Want die mens wat in God se rus ingegaan het, het ook self van sy eie werke gerus, net soos God van syne” (Hebreërs 4:10). God het nie op die sewende skeppingsdag gerus omdat hy moeg was nie. Hy het eerder opgehou met aardse skeppingswerke sodat sy handewerk ten volle kon ontwikkel, tot sy lof en eer. As deel van God se skepping moet ons ook by daardie reëling inskakel. Ons moet ‘rus van ons eie werke’, dit wil sê ons moet ophou om onsself voor God te probeer regverdig in ’n poging om redding te verkry. Ons moet eerder geloof hê dat ons redding afhang van die losprysofferande van Jesus Christus deur wie alle dinge weer in ooreenstemming met God se voorneme gebring sal word.—Efesiërs 1:8-14; Kolossense 1:19, 20.
God se woord oefen krag uit
17. Watter weg wat vleeslike Israel ingeslaan het, moet ons vermy?
17 Weens die Israeliete se ongehoorsaamheid en gebrek aan geloof het hulle nie God se beloofde rus ingegaan nie. Gevolglik het Paulus die Hebreeuse Christene aangespoor: “Laat ons dus ons uiterste bes doen om in daardie rus in te gaan, uit vrees dat iemand in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid sal verval” (Hebreërs 4:11). Die meeste eerste-eeuse Jode het nie geloof in Jesus beoefen nie, en baie van hulle het erg gely toe die Joodse stelsel van dinge in 70 G.J. geëindig het. Hoe lewensbelangrik is dit tog vandag dat ons geloof in God se woord van belofte het!
18. (a) Watter redes het Paulus gegee om geloof in God se woord te beoefen? (b) Hoe is God se woord “skerper as enige tweesnydende swaard”?
18 Ons het goeie redes om geloof in Jehovah se woord te beoefen. Paulus het geskryf: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelinge van die hart onderskei” (Hebreërs 4:12). Ja, God se woord, of boodskap, is “skerper as enige tweesnydende swaard”. Die Hebreeuse Christene moes onthou wat met hulle voorvaders gebeur het. Hulle het Jehovah se oordeel dat hulle in die wildernis sou vergaan, geïgnoreer en die Beloofde Land probeer binnegaan. Maar Moses het hulle gewaarsku: “Die Amalekiete en die Kanaäniete is daar voor julle, en julle sal deur die swaard val.” Toe die Israeliete hardnekkig voortgegaan het, het “die Amalekiete en die Kanaäniete wat in dié gebergte woonagtig was, afgekom en hulle verslaan en hulle verstrooi tot by Horma” (Numeri 14:39-45). Jehovah se woord is skerper as enige tweesnydende swaard, en enigeen wat dit opsetlik ignoreer, sal beslis die gevolge dra.—Galasiërs 6:7-9.
19. Hoe kragtig ‘dring God se woord deur,’ en waarom moet ons ons aanspreeklikheid teenoor God erken?
19 Hoe kragtig dring God se woord “selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg”! Dit dring die gedagtes en beweegredes van mense binne en dring figuurlik gesproke deur tot reg in die murg in die binneste deel van die bene! Hoewel die Israeliete wat uit Egiptiese slawerny bevry is, ingestem het om die Wet te gehoorsaam, het Jehovah geweet dat hulle in hulle diepste wese nie sy voorsienings en vereistes waardeer het nie (Psalm 95:7-11). Pleks van sy wil te doen, was hulle besorg oor die bevrediging van hulle vleeslike begeertes. Hulle het gevolglik nie in God se beloofde rus ingegaan nie, maar in die wildernis omgekom. Ons moet dit ter harte neem, want “daar is nie ’n skepping wat nie vir [God se] oë sigbaar is nie, maar alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee” (Hebreërs 4:13). Mag ons dus ons toewyding aan Jehovah uitleef en nie “terugdeins tot vernietiging nie”.—Hebreërs 10:39.
20. Wat lê vir ons voor, en wat moet ons nou doen om in God se rus in te gaan?
20 Hoewel “die sewende dag”—God se rusdag—nog steeds voortduur, skenk hy aandag aan die verwesenliking van sy voorneme met die aarde en die mensdom. Die Messiaanse Koning, Jesus Christus, sal binnekort optree om die aarde te bevry van alle teenstanders van God se wil, met inbegrip van Satan die Duiwel. Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal Jesus en sy 144 000 medeheersers die aarde en die mensdom tot die toestand verhef wat God hom voorgeneem het (Openbaring 14:1; 20:1-6). Dit is nou die tyd vir ons om te bewys dat ons lewe om die doen van Jehovah God se wil draai. Pleks van te probeer om onsself voor God te regverdig en ons eie belange te bevorder, is dit nou eerder die tyd vir ons om ‘van ons eie werke te rus’ en Koninkryksbelange heelhartig te bevorder. As ons dit doen en getrou bly aan ons hemelse Vader, Jehovah, sal ons die voorreg hê om die voordele van God se rus nou en tot in ewigheid te geniet.
Kan jy verduidelik?
◻ Waarom het God op “die sewende dag” gerus?
◻ Watter rus kon die Israeliete geniet het, maar waarom het hulle nie in hierdie rus ingegaan nie?
◻ Wat moet ons doen om in God se rus in te gaan?
◻ Hoe is God se woord lewend, kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard?
[Prent op bladsy 16, 17]
Die Israeliete het die Sabbat gehou, maar hulle het nie in God se rus ingegaan nie. Weet jy waarom nie?